Die lente is byna hier en as jy binnekort op ’n safari-vakansie gaan, wag daar ’n dierbare verrassing op jou! In die reënseisoen, gewoonlik vanaf September tot April, word duisende babadiertjies in wildreservate regoor Suid-Afrika gebore. In dié seisoen is die toestande gunstig en is daar oorgenoeg kos en water sodat die kleintjies hulle trommeldik kan eet en makliker kan oorleef.

LekkeSlaap het gaan uitvind wanneer die beste tyd is om die groot katte en ander roofdiere, blouape en bobbejane, olifante, buffels en blouwildebeeste, sebras en bokke se kostelike kroos in die Krugerwildtuin en Kgalagadi-oorgrenspark te gewaar!

Groot katte

Leeus het nie ’n vaste paartyd nie en daarom word werpsels van gemiddeld 4 leeuwelpies regdeur die jaar gebore. Leeuwyfies sorg soms tog dat hulle welpies op dieselfde tyd gebore word sodat die hele trop se woelige welpies saam versorg en teen ander roofdiere beskerm kan word.

Dié wildewragtig is gereed vir kattekwaad | Foto: intothekruger (instagram) Dié woelige welpie is dierbaar | Foto: safariwithsafwanah (instagram)

Om ’n jagluiperd in die natuur te sien is ’n seldsame gebeurtenis en as jy boonop so gelukkig is om ’n babajagluipertjie te gewaar, moet jy beslis ’n kiekie probeer neem! ’n Jagluiperdwyfie kan regdeur die jaar geboorte skenk aan 1 tot 5 wollerige welpies wat sy alleen grootmaak. Jagluiperdwelpies begin reeds op 3 weke aan vleis knibbel en ná 6 weke begin hulle dophou hoe Mamma jag.

'n Parmantige jagluiperdwelpie in die Kruger | Foto: ilovekrugerpark (instagram) Dié welpies kyk hoe Mamma jag | Foto: rowanhartley4 (instagram)

’n Dragtige luiperd kies gewoonlik ’n hol boomstam of ’n plekkie tussen die ruigtes om 1 tot 3 welpies te hê. Sy steek hulle vir sowat 8 weke hiér weg om hulle teen gevaar te beskerm. ’n Eenjarige welpie kan al self jag, maar verkies om aan sy mamma se sy te bly tot hy omtrent 2 jaar oud is.

Dis net kolle waar jy kyk | Foto: singita_ (instagram) Dié luiperdwelpie lyk asof hy 'n rooibokkie in die oog het | Foto: andbeyondngala (instagram)

Wildehonde, Hiënas en Jakkalse

Babawildehondjies word eers ná die reënseisoen vanaf Maart tot Julie in die Krugerwildtuin gebore. Dis gewoonlik net die dominante wildehondtefie wat 6 tot 16 hondjies op ’n slag kry. Die mamma bly vir die eerste paar weke by die kleintjies terwyl die res van die trop jag. Wanneer die hondjies 10 weke oud is, mag hulle saam met die ouer honde op ’n jagtog gaan.

Dié wildehondjie is regtig kostelik | Foto: Singita_ (instagram) Hierdie meneertjie verken die omgewing rondom sy slaapplek | Foto: rey_loving_life (instagram)

Gevlekte hiënas skenk meestal in Februarie en Maart in die Krugerwildtuin geboorte aan 2 of 3 kleintjies. Dié kleintjies word met oop oë gebore en drink vir die eerste 2 jaar nog aan hul ma’s. Die bruin hiëna of “strandwolf” wat in die Kgalagadi-oorgrenspark voorkom, kan elke 20 maande 1 tot 5 kleintjies hê. Babastrandwolwe word regdeur die jaar gebore en is eers ná 30 maande uitgegroei.

Dié gevlekte hiëna is naby die Satara-ruskamp in die Kruger afgeneem| Foto: readysetsafari (instagram) Hierdie bruin hiëna is té oulik vir woorde | Foto: didi7didi7 (instagram)

In die Kgalagadi-oorgrenspark skenk silwerjakkalse tussen Oktober en Januarie geboorte aan 1 tot 6 klein jakkalsies. Hulle word vir die eerste 4 maande ondergronds in gate grootgemaak en daarna word hulle vinnig selfstandig. In die Krugerwildtuin kry rooijakkalse 1 tot 9 kleintjies vanaf Julie tot Oktober. Wanneer dié kleintjies 6 maande oud is, kan hulle al self jag, maar hulle bly dikwels nog vir ’n rukkie langer by hulle moeders om ander kleintjies te help grootmaak.

Dié silwerjakkalsies is lekker nuuskierig | Foto: derek_dunlop_photography (instagram) Hierdie dierbare rooijakkalsies het uiteindelik besluit om uit hul skuilplek te kruip | Foto: wilson4796 (instagram)

Blouape en Bobbejane

’n Blouaap skenk hoofsaaklik tussen September en Desember aan 1 apie geboorte. ’n Mens sien nogal gereeld hoe apies onder aan hul ma’s se pense vasklou terwyl sy in die bome baljaar. ’n Bobbejaan is vir sowat 6 maande dragtig en gee regdeur die jaar aan 1 bobbejaantjie geboorte. Dié kleintjies is sommer van die eerste oomblik af lekker stout en nuuskierig, en ’n mens sien dikwels hoe hulle bo-op hul ma’s se rûe ry.

Blouapies is glad nie sku vir die kamera nie | Foto: jebos_photography (instagram) Dié klein rakker kerjakker alte lekker | Foto: peet_strydom (instagram)

Olifante

Olifante is vir 22 maande dragtig en ’n mens kan klein olifantjies regdeur die jaar in die Krugerwildtuin gewaar. Hulle kan sommer vinnig ná geboorte self loop, maar hulle sukkel tog vir die eerste paar weke om hulle slurpies behoorlik te gebruik. Teen eenjarige ouderdom is hulle al gespeen, maar hulle is vir minstens ’n jaar daarna nog afhanklik van hul mammas vir beskerming.

Boetie en sussie vind nog hulle voete | Foto: implodingbunny (instagram) Dié olifantjie het lekker in die modder baljaar | Foto: hoodedgrub (instagram)

Buffels en Blouwildebeeste

As jy gelukkig is, sal jy miskien vanaf Augustus tot Februarie ’n bababuffel in die Krugerwildtuin te siene kry. Pasgebore buffeltjies word aanvanklik in die bosse weggesteek en later word hulle na die middel van die trop geskuif vir ekstra beskerming teen roofdiere. ’n Blouwildebees skenk tussen November en Februarie aan 1 kalfie geboorte. Kalfies word gewoonlik in die middel van die dag in die middel van die trop gebore sodat hulle genoeg kans het om eers hulle voete te vind voor die nagroofdiere op hulle toesak.

Dié buffeltjie neem een van die dae die wildtuin op horings | Foto: annemakaske (instagram) Hierdie jong blouwildebees geniet die welige lente-gras | Foto: jcalado_888 (instagram)

Sebras

Sebravulletjies word hoofsaaklik tussen Desember en Februarie gebore en ’n sebramerrie kan 1 keer per jaar ’n vulletjie hê. Dié vulletjies leer, net soos perde, sommer in ’n japtrap hoe om te staan en te loop. Leeus en ander groot katte is veral lief vir jong sebras, so ’n sebramamma moet dikwels bontstaan om haar vulletjie te beskerm.

Dié vulletjie sorg dat hy naby sy mamma bly | Foto: bushman_photography (instagram) Hierdie outjie het vergeet om sy pajamas uit te trek | Foto: leonjacquez (instagram)

Bokke

As jy in Oktober en November ’n draai in die Kgalagadi-oorgrenspark maak, sal jy dalk selfs ’n babaspringbokkie raaksien. ’n Springbokooi en haar kleintjie bly vir die eerste 3 tot 4 weke alleen en keer dan na die res van die trop terug. Vanaf September tot Januarie word rooibokkies in die Krugerwildtuin gebore en ’n mens gewaar dikwels groepies jonger bokke bymekaar.

So mak soos 'n rooiboklammetjie | Foto: christiaan_davel (instagram) Dié springbokkie lyk rasend | Foto: kathleen.vanoppen (instagram)

Daar het julle dit! Dié dierbare diertjies behoort enigiemand lus te maak vir ’n safari-avontuur. Wonder jy nog waar jy moet slaap as jy die Krugerwildtuin of Kgalagadi-oorgrenspark besoek? Ons het nét die antwoord!

Verblyf naby die Krugerwildtuin:

Manor House At Safari Tintswalo | Simbavati Hilltop Lodge | The Antares Experience | Angela’s Safari Camp | Kambaku Lodge | Umlani Bushcamp

Verblyf naby die Kgalagadi-oorgrenspark:

Kgalagadi Lodge | Molopo Lodge | Kalahari Trails Nature Reserve and Meerkat Sanctuary | Murray Gasteplaas

Hooffoto: BigStock