Dis douvoordag op ’n Saterdag en jy staan opgewonde en wag dat die Krugerwildtuinhek moet oopswaai. Die verkykers, kameras en kampstoele is ingepak en ’n pot moerkoffie prut op die gasstofie langs die motor. Jy teug salig aan jou beker boeretroos en luister hoe die veld wakker word: ’n Seekoei snork behaaglik, ’n visarend roep luidkeels van die rivier se kant af en êrens lag-lag ’n hiëna. Die hek maak uiteindelik oop en jy spring in jou motor. Laat die wildtuin-avontuur begin!

Wat is nou lekkerder as ’n bosvakansie in jou eie motor op die wildtuinpaaie van jou keuse? Vergeet van gidse en peperduur safari-voertuie ─ pak eerder jou piekniekgoed en kamera in jou eie motor! Kom kuier in die Kruger en durf dié 6 selfry-roetes as dagbesoeker aan voordat jy ’n uiltjie gaan knip by een van LekkeSlaap se bobaas-blyplekke naby die onderskeie ingangshekke.  

1. Krokodilbrug-hek na Mlondozi-dam via die H4-2 en H10 [sowat 50 km]

Dié teerpad-roete kronkel vanaf die Krokodilbrug-hek op die H4-2 deur die Delogoa-doringveldgebied met sy lappe oop grasveld. Maak seker jy draai links op S27, omtrent 7 km vanaf die hek, en klim by die bekende Hippo Pools uit waar jy hordes seekoeie in die poele sal sien rondplas. Mik hiervandaan weer terug op die H4-2.

Wenk:
Maak met die terugtog ’n draai by Sunset-dam, naby Onder-Sabie op die H4-1. Dalk is jy gelukkig genoeg om te sien hoe ’n maanhaarleeu in ’n koeltekol langs die dam ’n middagslapie neem!

Hou jou oë oop vir:
Kameelperde, koedoes, buffels, basterhartbeeste, jagluiperds, leeus en rooijakkalse.

Slaapplek naby die Krokodilbrug-hek:
Komati River Chalets | Castle Rock | Crocodile Bridge Safari Lodge | Hippo Hills | Ngwenya Lodge

2. Malalane-hek na Afsaal via die H3 [sowat 23 km]

Die Malalane-hek is een van die besigste Kruger-hekke, so ry sommer lekker vroeg. Sodra jy die wildtuin op die H3 binnery, word jy gewoonlik begroet met die son wat moedig oor die granietkoppies beur en die vlaktes in goud baai. Hou by Renosterpan stil en kyk of jy die bekende Renosterpan-leeutrop gewaar.

Wenk:
As uitdagende grondpaaie jou nie die skrik op die lyf jaag nie, moet jy beslis die Steilberg-uitkykpunt op pad terug na die Malalane-hek besoek. Dié roete is ongelukkig onbegaanbaar vir woonwaens en busse. As jy besluit om jou 4×4-vernuf ten toon te stel, sal jy met besonderse uitsigte oor die vallei beloon word.  

Hou jou oë oop vir:
Kameelperde, koedoes, leeus, hiënas, witkwasjakkalse en luiperds.

Slaapplek naby die Malalane-hek:
Boulders Safari Lodge | Inkuba Game Farm | Kambaku River Lodge | Hamiltons Lodge and Restaurant | Kruger View Chalets

3. Numbi-hek na Nkuhlu via die H1-1 en H4-1 [sowat 76 km]

Is wildehonde op jou móét-sien-lysie? Gaan dan by die Numbi-hek in, want die Pretoriuskop-suurveldgebied naby dié hek is ’n gewilde jagveld vir hierdie roofdiere. ’n Mens sien hulle dikwels vroegoggend op die teerpad lê of laatmiddag in ’n trop jag.

Wenk:
As jy ’n paar aandenkings wil aanskaf, maak gerus ’n draai by Skukuza se groot winkel op pad Nkuhlu toe!

Hou jou oë oop vir:
Buffels, koedoes, olifante, bosbokke, wildehonde, leeus en luiperds.

Slaapplek naby die Numbi-hek:
Tented Adventures Pretoriuskop | Buffalo Rock Tented Camp | Nkambeni Safari Camp | Kruger Adventure Lodge

4. Paul Kruger-hek na Tshokwane via die H11 en H1-2 [sowat 51 km]

Die pragtige Paul Kruger-standbeeld by dié hek is beslis iets om te beleef! Ry van hier af met die H11 tot by Lake Panic-voëlskuiling en kry jou voëlgids en verkyker gereed, want hiér wag ’n magdom watervoëls op jou! Omtrent 30 km verder op die H1-2 doem daar nóg ’n imposante baken voor jou op: Die Krugertablette. Jy mag uit jou motor klim, maar wees altyd op jou hoede vir leeus of luiperds wat op die rotse lê.

Wenk:
Op pad terug kan jy gaan loer hoe dit by Leeupan lyk. Dié pan lê sowat 5 km suid van Tshokwane en as jy gelukkig is, sien jy dalk hoe ’n jagluiperd hier kom water drink.

Hou jou oë oop vir:
Troppe rooibokke, sebras, blouwildebeeste, leeus en jagluiperds.

Slaapplek naby die Paul Kruger-hek:
Umkumbe Safari Lodge | Sabie River Bush Lodge | Machate Guesthouse | Mananga Private Bush Retreat

5. Orpen-hek na N’wanetsi via die H7 en H6 [sowat 69 km]

Die landskappe rondom die Orpen-hek is seker van die mooistes in die Krugerwildtuin. Vlam-oranje aalwyne rank teen die koppies uit en groot miershope pronk om elke hoek en draai. Volg die H7 tot by die bekende Nsemani-dam en draai dan regs op die H1-3 voor jy die afrit vir die H6 neem. Die N’wanetsi-piekniekplek lê 19 km verder op die H6 en het ’n grasdak-skuiling met ’n uitsig oor die asemrowende Swenikloof. Hier is ongelukkig nie ’n winkel of restaurant nie, maar koeldrank en water kan by die inwonende veldwagter gekoop word en ’n skottelbraai kan natuurlik gehuur word.

Wenk:
Voor jy by N’wanetsi gaan uitspan, maak seker dat jy ook ’n draai by die Sonopdam maak. Dis sowat 5 km vanaf die piekniekplek op die H6. Hiér het troppe leeus menige buffel al laat les opsê!

Hou jou oë oop vir:
Olifante, koedoes, vlakvarke, leeus, hiënas, jakkalse, wildehonde en luiperds.

Slaapplek naby die Orpen-hek:
Manor House At Safari Tintswalo | Elephant Plains | Hamiltons Tented Safari Camp | Imbali Safari Lodge | Hoyo Hoyo Safari Lodge

6. Phalaborwa-hek na Mooiplaas via die H9 en H14 [sowat 70 km]

Die Krugerwildtuin se Phalaborwa-area is effens droër as die suidelike gebied en daarom is daar min gras, maar volop mopaniestruike en plek-plek boswilge en doringbome. Hou by die Sable-dam op die H9 stil en kyk of jy dalk kameelperde by die water sien kniel. Draai dan links op die H14 en ry lekker stadig op dié pad, want olifante kan dikwels onverwags vanuit die mopaniebosse voor jou opdoem!

Wenk:
Gaan kyk ’n bietjie hoe lyk die argeologiese terrein, Masorini, net 11 km vanaf die Phalaborwa-hek op die H9. Dié dorpie dateer uit die negentiende eeu en spog vandag met ’n museum en begeleide toere.

Hou jou oë oop vir:
Olifante, kameelperde, koedoes, elande, sebras, buffels, leeus en hiënas.

Slaapplek naby die Phalaborwa-hek:
Bushveld Terrace Hotel on Kruger | Hans Merensky Hotel and Spa | Leriba Golf Lodge | Sefapane Lodge | Phalaborwa Luxury Bush Lodge

Waarvoor wag jy nog? Bespreek sommer nóú jou volgende bosvakansie by een van LekkeSlaap se besonderse blyplekke en begin beplan aan jou dagtoer deur die Krugerwildtuin!

Ons het ook sakpas-verblyfopsies naby die Kruger, so loer gerus hier.

Hooffoto: Big Stock.