Lus vir die loslit-luukse atmosfeer van ’n kushotel? Dink net, binne word jy op die hande gedra deur personeel wat wéét hoe, daar is sjokoladetjies op jou kussing en ’n hotelkroeg met ’n knetterende kaggelvuur, en buite lei ’n houthekkie jou tot op die strand en is daar ’n plekkie om die seesand van jou voete af te spoel. Teen die tyd dat ons vanjaar behoorlik in die vakansiepad kan val, begin die weer dalk al draai. Dan roep die strand jou. Wel, LekkeSlaap het ’n lysie met kushotelle reg rondom ons mooie kus waar die geluide van die branders jou aan die slaap sal sus.

The Farmhouse Hotel

Langebaan, Weskus

Dié karaktervolle hotel bied ’n uitsig oor Langebaan se strandmeer en spog met vriendelike personeel, ’n museum en vlieërbranderryskool op die perseel, asook pragtige antiekeware wat ’n rustieke gevoel verleen. Geniet ware Weskus-seekos, tradisionele maaltye, varsgebak en uitgesoekte wyne op die Panorama Restaurant se stoep. 

Geriewe: Restaurant en kroeg op die perseel, een kamer wat geskik is vir gaste met troeteldiere, swembad, lughawependeldiens, concierge, spelejieskamer, gastesitkamer, DStv, gimnasium, gratis WiFi, konferensiegeriewe, daaglikse skoonmaakdiens.

Kliek hier vir die tariewe.

__________________________________

Harbour House Hotel

Hermanus, Suidkus Walvisroete

Kom kuier in Suid-Afrika se walvishoofstad by dié historiese hotel. Harbour House is in 1920 gebou en is stapafstand vanaf Hermanus se besienswaardighede. Koel in die randvloeiswembad op die stoep af vanwaar jy in seisoentyd selfs ’n walvis kan gewaar en sit daarna by die restaurant op die perseel aan. 

Geriewe: Kroeg en restaurant op die perseel, troeteldiere word toegelaat indien gereël, toeganklik vir gaste in rolstoele, swembad, concierge, wasgoeddiens, DStv, gratis WiFi, konferensiegeriewe, daaglikse skoonmaakdiens. 

Kliek hier vir die tariewe.

__________________________________

Morgan Bay Hotel

Morganbaai, Wildekus

Hierdie gesinsvriendelike hotel is al vir generasies in dieselfde familie en ’n mens kan dit sien aan die gehalte-ervaring wat jy by Morgan Bay Hotel kry. Die hotel het ’n uitmuntende ligging en bied direkte toegang tot die strand. Daar is ’n binne- en buitespeelarea vir kinders, ’n hotelrestaurant wat ’n vyfgangete bedien, ’n alternatiewe restaurant en kroeg wat ook gewild onder plaaslike inwoners is en ’n swembad met ’n uitsig oor die see. 

Geriewe: Restaurant en kroeg op die perseel, troeteldiere word toegelaat indien gereël, swembad, binne- en buite-speelareas vir kinders, gratis WiFi in gemeenskaplike areas, lughawependeldiens op versoek, kinderoppasdiens op versoek, spa-behandelings, Jacuzzi, braai-area, gastesitarea, wasgoeddiens, DStv, konferensiegeriewe, daaglikse skoonmaakdiens.

Kliek hier vir die tariewe.

__________________________________

Ocean View Hotel

Koffiebaai, Wildekus

Kom kuier by dié gesinsvriendelike kaalvoet-hotel in Koffiebaai. ’n Hekkie lei jou tot op die strand waar koeie en perde gereeld vir die dag kom uitspan en verskeie avontuurdoendinge soos kajakvaar op die Umtatarivier, ’n begeleide voetslaanroete tot by die Hole in the Wall, perderitte en diepseehengel kan by ontvangs gereël word. Saans kan jy op jou stoep sit en die soel Wildekus-lug inasem of op die restaurant se dek sit en ’n skemerkelkie geniet.

Geriewe: Restaurant en kroeg op die perseel, troeteldiere word toegelaat indien gereël, spa-behandelings, swembad, trampolien en klimraam, gratis WiFi, DStv, konferensiegeriewe, lughawependeldiense op versoek, kinderoppasser op versoek, braai-area, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens.

Kliek hier vir die tariewe.

__________________________________

Abalone House & Spa  

Paternoster, Weskus

Elke hoekie van dié pragtige boetiekhotel is deurdag, met die allermooiste dekor, lanterns langs die swembad en houtraamvensters in die eetarea wat oopskuif om die klank van die branders in te nooi. Abalone House & Spa is naby Paternoster se strandfront geleë en is ’n fantastiese keuse vir ’n romantiese wegbreek of wittebrood. 

Geriewe: DStv, lugversorging, iPod-koppelstasies in die kamers, ’n swembad, Jacuzzi, gratis WiFi, spa, restaurant, kroeg, gemeenskaplike sitarea, konferensiegeriewe, concierge, wasgoeddiens.

Kliek hier vir die tariewe.

__________________________________

Paternoster Hotel

Paternoster, Weskus

As jy op soek is na ’n loslit-atmosfeer moet jy na die geskiedkundige Paternoster Hotel keer. Dié hotel in Paternoster se hoofstraat is net ’n kort wandeling van die strand af. Gaste kan ’n drankie by die bekende Panty Bar geniet en sewe dae per week by die ontspanne restaurant op die perseel aansit. Daar is ook ’n skulpieswinkel op die perseel en die hotel bied Weskus-gasvryheid op sy beste. 

Geriewe: Restaurant en kroeg op die perseel, braai-area, gastesitkamer, wasgoeddiens, DStv, konferensiegeriewe, ’n venue vir tot vyftig gaste, WiFi, daaglikse skoonmaakdiens. 

Kliek hier vir die tariewe.

__________________________________

Aha Simon’s Town Quayside Hotel

Simonstad, Kaapse Skiereiland

In Simonstad se hawe, bo dié vlootdorp se gewilde restaurante en reg langs die historiese Jubilee Square waar die geliefde matrooshond, Just Nuisance, se standbeeld gereed staan vir ’n kopvryfie, is die Quayside Hotel. Ry jy net ’n entjie verder sal Bouldersstrand se ougat Afrikapikkewyne jou tegemoet waggel! As jy dié prentjiemooi dorpie wil verken of vir sakedoeleindes in die omtrek is, hoort hierdie hotel op jou verblyflysie. 

Geriewe: 24 uur-ontvangs, lughawependeldiens op versoek, gastesitkamer, kinderoppasser op versoek, DStv, gratis WiFi, daaglikse skoonmaakdiens. 

Kliek hier vir die tariewe.

__________________________________

Laaiplek Hotel

Port Owen, Weskus

Laaiplek Hotel is al vir jare ’n gewilde stopplek vir besoekers aan die Weskus en groepe wat ’n gerieflike, gesellige kuierplek by die see soek. Dié hotel skuil in ’n hawegebied aan die Bergrivier se oewer en bied asemrowende uitsigte van die stoep af. Die Eigebraai Restaurant op die perseel bedien ook ontbyt, middagete en aandete. 

Geriewe: Restaurant en kroeg op die perseel, konferensiegeriewe, geriewe vir troues en privaat funksies, braai-area, speletjieskamer, gastesitkamer, DStv, toeganklik vir gaste in rolstoele, gratis WiFi, daaglikse skoonmaakdiens.

Kliek hier vir die tariewe.

__________________________________

Selborne Golf Estate, Hotel and Spa

Pennington, Suidkus

Hierdie spoghotel in Pennington is ideaal vir sakereisigers of oordeelkundige gaste wat na ’n ontspannende, luukse wegbreek op soek is. Ontbyt word in die restaurant op die perseel bedien en ander maaltye kan ook hier bestel word of na gaste se kamers geneem word. Die hotel se gastesitkamer en kroeg is gesellige ruimtes om te kuier en daar is ’n swembad, 18 putjie-gholfbaan en ’n spa vir behoorlike ontspanning. 

Geriewe: Restaurant en kroeg op die perseel, 18 putjie-gholfbaan, lughawependeldiens op versoek, swembad, spa-behandelings, gastesitarea, konferensiegeriewe, troukapel en geriewe vir funksies, DStv, toeganklik vir gaste in rolstoele, gratis WiFi, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens.  

Kliek hier vir die tariewe.

__________________________________

Belvidere Manor

Knysna, Tuinroete

In Knysna, die hartjie van die Tuinroete, skuil Belvidere Manor se oulike kothuis-eenhede en luukse kamers rondom ’n grasplein wat tot by die Knysna-strandmeer strek. Hier kan gaste in die swembad afkoel, ’n drankie by die kroeg geniet, by een van die twee restaurante op die perseel aansit of ’n bootvaart onderneem, om nie te praat van al die doendinge wat die Knysna-omgewing bied nie. 

Geriewe: Twee restaurante en ’n kroeg op die perseel, gratis WiFi, swembad, bootvaarte, rolbalbaan, konferensiegeriewe, veilige parkeerplek, lughawependeldiens op versoek, gastesitkamer, kombuisgeriewe, masserings en skoonheidsterapie, DStv, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens.

Kliek hier vir die tariewe.

__________________________________

La Rochelle Inn

Richardsbaai, Noordkus

Die elegante La Rocelle Inn is net een en ’n halwe kilometer van die see af en spog met ’n enorme tropiese tuin met verskeie voëlspesies wat jy tussen die takke kan uitken. Gaste kan ook langs die braaivleisvuur ontspan of in die swembad afkoel. Die Jorge Bar bedien heerlike skemerkelkies en daar is ’n groot TV waar gaste saam sport kan kyk. Visvang-entoesiaste sal bly wees om van die yskasspasie vir hul aas en vangste en parkeerplek vir hul bote te verneem. 

Geriewe: Kroeg op die perseek, parkeerplek vir bote, yskasplek vir aas en vangste, swembad, lughawependeldiens op versoek, gastesitkamer, wasgoeddiens, DStv, selfsorggeriewe, daaglikese skoonmaakdiens.

Kliek hier vir die tariewe.

__________________________________

Miskien is dit hoogtyd dat jou volgende kusvakansie so ’n bietjie ekstra flair kry. Bespreek dan by een van hierdie kushotelle of besoek LekkeSlaap.co.za vir nog opsies!

Hooffoto: Aha Simon’s Town Quayside Hotel
Alle ander foto’s vanaf LekkeSlaap.co.za