Is jy nog besig om te herstel na die dol feesseisoen? Het jy al vergeet dat jy ooit met vakansie was? Of miskien lê jou welverdiende wegbreek nog voor. Hoe dit ook al sy, 2019 is propvol langnaweke vir wegbreke en jy kan vroegtydig daarvoor beplan met hierdie nuttige gids.

Helder Herfs

Die eerste vakansiedag van die jaar is om die draai en Paasnaweek is kort op sy hakke. Sit jou verlof in en kies koers na die Bosveld met talle herfskleurige natuurtonele of geniet die laaste paar someraande aan die kus.   

Donderdag 21 Maart is ’n vakansiedag en jy kan ’n lekker langnaweek van 3 dae geniet as jy verlof insit vir Vrydag 22 Maart. Dié langnaweek val in die Maart-skoolvakansie.

Vrydag 19 April en Maandag 22 April is vakansiedae en dié Paasnaweek is 4 dae lank sonder om enige verlof af te staan!

Werkersdag val op Woensdag 1 Mei. Jy kan kies om Maandag 29 April en Dinsdag 30 April óf Donderdag 2 Mei en Vrydag 3 Mei af te vat vir ’n lekker langnaweek van 5 dae!


Winter-wegbreek

Min dinge is so lekker soos ’n knetterende kaggelvuur terwyl dit koud en triestig buite is en jy kan dié winter se langnaweke by Suid-Afrika se mooiste sneeubestemmings, soos die Sederberge, Rhodes of Clarens deurbring.

Jeugdag val hierdie jaar op Sondag 16 Junie en Maandag 17 Junie is ’n openbare vakansiedag. Let wel dat hierdie vakansiedae in die Junie-skoolvakansie is.

In Augustus is Vrydag 9 Augustus ’n vakansiedag en jy het ’n langnaweek van 3 dae sonder om van jou verlof gebruik te maak.


Heerlike Lente

Namakwaland se blommeprag is ’n gewilde trekpleister gedurende die lente en jy kan al langs die Weskus ry om dié natuurverskynsel te aanskou.

Erfenisdag op Dinsdag 24 September is die laaste vakansiedag vir ’n tydjie en jy moet verlof vir Maandag 23 September insit om gebruik te maak van hierdie langnaweek. Dit val in die September-skoolvakansie, so jy kan 25 tot 27 September ook afvat vir ’n lekker vakansie van 9 dae saam met die kinders.


Salige Somer

Bespreek sommer nou al jou Desember-vakansieverblyf in Suid-Afrika se immergewilde kusdorpe om teleurstelling te vermy. Sodoende het jy heel jaar iets om na uit te sien!

Desember se eerste vakansiedag is Maandag 16 Desember en as jy dan nog nie met vakansie is nie kan jy ten minste ’n langnaweek van 3 dae geniet sonder om van jou verlof gebruik te maak. Dié vakansiedag is in die skoolvakansie.

Kersdag val op Woensdag 25 Desember en Donderdag 26 Desember is ook ’n vakansiedag. Jy kan 23, 24 en 27 Desember afvat om 9 dae af te hê. Dié vakansiedae is ook deel van die skoolvakansie.


Skoolvakansies in 2019:

15 Maart tot 2 April

14 Junie tot 9 Julie

20 September tot 1 Oktober

4 Desember

So, gryp die kalender en beplan sommer nou al jou langnaweekwegbreke vir 2019!

Hooffoto: Cliff House (LekkeSlaap)