As die langpad ʼn bietjie té lank raak, is daar mos niks lekkerder as ʼn vinnige avontuur of ʼn opkikkertjie om jou weer nuwe moed vir die res van jou reis te gee nie! Wie sê ʼn langpadrit op die N2 hoef lank en vervelig te wees? Ons het ʼn lekker lysie van ons gunsteling-stopplekke op dié langpad saamgestel ─ van padstalplesier tot avontuur in die natuur!

Untitled design

Ou Meul Bakkery, Riviersonderend

As jy al vroeg uit die vere is om die langpad aan te pak, is ʼn lekker ou koffietjie of ʼn vuurwarm pastei nét wat jy nodig het om wakker te word! Ons stel voor jy stop by Ou Meul Bakkery in Riviersonderend. Dié bakkery is onlangs opgeknap en uitgebrei en hul gewilde pasteie en Bootlegger-koffie is beslis iets om oor huis toe te skryf.

_MG_0527

_MG_0535

_MG_0538

Swellengrebelstraat, Swellendam

Stop gerus vir ʼn laat ontbyt of middagete in Swellengrebelstraat in Swellendam. Daar is ʼn paar oulike eetplekke om uit te kies en interessanthede soos ʼn heuningwinkel en sjokoladewinkel waar jy kan gaan inloer. Boonop hoef jy nie ver by die dorp in te ry om daar uit te kom nie, so dit kan sommer ʼn vinnige uitstappie ook wees. Buiten Swellengrebelstraat is daar ook Tredici net langs die N2 voor die dorp aan die Kaap se kant waar jy ʼn heerlike koppie koffie en vars gebak kan kry.

IMG_20150405_1402291

IMG_20150405_141942

IMG_20150404_105427

IMG_20150405_133740

IMG_20150405_134651

Oude Post Bistro, BP-vulstasie, Buffeljagsrivier

Dít is beslis nie sommer enige vulstasie nie. Daar is ʼn speelterrein, die Oude Post Bistro én dis boonop die halfpadmerk tussen Kaapstad en George! Terwyl die kinders op die klimraam baljaar, kan jy solank ʼn bobaas koppie koffie op die bistro se stoep geniet. Die bistro se ongelooflike roosterkoeke is ideaal vir ʼn laatoggend-bederfie of selfs ʼn vullende middagete voor jy weer in die pad val. Daar is ook ʼn winkeltjie op die perseel wat snoepgoed verkoop as jy nie tyd het om lank te draai nie.

_MG_0348

_MG_0344

20160915_112056

1002231_210880449062169_742282740_n

14457290_707806026036273_2282635751120835821_n

Bali Trading, Riversdal

As jy ʼn sagte plekkie het vir mooigoed en huisgoed, sal jy in die sewende hemel wees as jy besluit om by Bali Trading buite Riversdal te stop. Daar is alles van dekor en meubels tot geskenke en juwele ─ om “gou vinnig” daar ʼn draai te maak is daarom nie regtig ʼn opsie nie! Parkeer die manne in die eetplek langsaan met ʼn vetkoek en koffie en gaan snuffel dan na hartelus in die winkel rond!

   _MG_0393

_MG_0388

_MG_0366

_MG_0358

Kaart van Afrika, Wildernis

Daar is so baie om te verken hier in die hartjie van die Tuinroete, maar die Kaart van Afrika is iets wat jy móét sien. Dis nou wel ʼn entjie se ry van die N2 af, maar jy word beloon met skouspelagtige uitsigte oor inheemse woude en strand wat dit die moeite werd maak. Die Kaart van Afrika word natuurlik gevorm deur die rivier en woud wat toevallig ooreenstem met ons geliefde vasteland se kenmerkende vorm. Net anderkant die Kaart van Afrika is ʼn groot, oop veld waar jy kan valskermsweef tot op Wildernis se strand, of sommer net gaan kyk hoe ander avontuurlustiges dié sport aandurf.

WhatsApp Image 2016-10-03 at 12.39.03  _MG_0403

_MG_0433

Noetzie-strand se kastele, Knysna

Kyk, die Knysna Koppe bly altyd mooi, maar as jy iets nuuts rondom dié gewilde dorp wil verken, is die Noetzie-strand met sy kastele ʼn goeie idee! Kom neem gerus ʼn kiekie of twee van dié kastele, maar moenie verwag om koninklikes hier raak te loop nie ─ die geboue is nou bloot strandhuise! Dis steeds iets om te sien en die strand self is ook pragtig en ongerep.

Gideon Joubert

Gideon Joubert2

_MG_0562

Tuin van Eden, tussen Knysna en Plettenbergbaai

Hoe kan mens dan nou verby die Knysna-woud ry sonder om self in Oupoot se voetspore te gaan trap? In die Tuin van Eden net langs die N2 kan jy heerlik tussen die inheemse bome gaan wandel, piekniek hou en ʼn bietjie vars lug skep terwyl die volop voëllewe in die agtergrond koer. As jy gelukkig is sal jy dalk selfs ʼn Knysna-loerie se rooi vlerke tussen die boomtoppe gewaar!

_MG_0449

_MG_0456

_MG_0473

Bloukrans Bungy, Tsitsikamma

Is jy ʼn waaghals? Wel, dan behoort jy nie te skrik vir die wêreld se hoogste reksprongbrug nie! Kom tiek dié een van jou emmerskoplysie af of kom kyk hoe een van jou avontuurlustige vriende of gesinslede meer as 200 meter val voor hulle net betyds op en af gebons word oor die Bloukransrivier. Daar is ʼn paar uitkykpunte vir nuuskierige toeskouers en Cliffhanger Restaurant met ʼn skerm waar jy die spronge kan dophou.

_MG_0486

_MG_0487

_MG_0490

Michael Mayer - Bungy Jumping Bloukrans Bridge South Africa (Flickr)

Marilyn’s 60’s Diner, Stormsrivier

Dié dorp bied tientalle doendinge, maar ʼn melkskommel by Marilyn’s 60’s Diner is ʼn móét! Gaan loer ook bietjie na die “vintage” motors en ander nostalgiese items in die vertoonkamer as jy terugverlang na die sestigerjare of sommer net ʼn voorsmakie van die era wil beleef. Jy kan ook sommer by Tsitsikamma se mikrobrouery gaan inloer, zipline saam met Tsitsikamma Canopy Tours of Stormsriviermond se hangbrug gaan aandurf.

_MG_0495

marilyns-60s-diner-coffee

marilyns-60s-diner-experience

marilyns-60s-diner-exterior-car

Sonskynkus-strand, net voor Port Elizabeth

ʼn Paar kilometer voor Port Elizabeth sal jy verby ʼn paar bordjies ry wat jou sommer na ʼn somervakansie sal laat smag. Dís basies die begin van die Sonskynkus met sy goue sandstrande en idilliese riviermondings. As jy nie lus is vir die stad se woelige strande nie, is dit dalk ʼn slim plan om eers by een van die kleiner strande op pad ʼn draai te maak. Oorweeg gerus die Gamtoos-riviermonding, St. Francis, Sardiniabaai, Kinibaai, Van Stadens-strand of Seaview.

pixabay

_MG_0532

Daar is so baie om te doen en te sien op dié roete, jy sal dalk ʼn plekkie langs die pad moet bespreek! Kyk gerus na die volgende dorpies vir blyplekke met maklike toegang tot die N2:

Grabouw | Elgin | Caledon | Riviersonderend | Swellendam | Heidelberg | Riversdal | Mosselbaai | George | Wildernis | Sedgefield | Knysna | Plettenbergbaai | Stormsrivier | Jeffreysbaai

Ons hoop dié gids maak die langpad sommer meer pret, of jy nou al die pad Kaap of PE toe piekel of net halfpad tot by George reis! Laat weet ons as jy van nog ʼn lekker stopplek weet, dan voeg ons dit dalk by ʼn volgende blog.