Of jy nou ’n student of ’n sakeman is, die Eikestad is vir jou beskore. Dié dorpie se faam mag dalk in die akademie gewortel wees, maar daar is ’n ander kant aan Stellenbosch wat enige oud-student in ’n toeris sal verander.

Daar is winkeltjies om elke hoek en draai, straatjies wat onderdeur die eikebome kronkel en restaurante op elke sypaadjie. As jy jou nie met boeke moet besig nie, is daar geen einde aan wat jy alles in een aand op Stellenbosch kan doen nie.

The Stellenbosch Hotel


Die Stellebosch Hotel het onlangs vir LekkeSlaap genooi om ’n aand in een van hulle pragtige kamers deur te bring en ontbyt en middagete by die Stellenbosch Kitchen (op die onderste verdieping) te geniet. Vandat ons daar aangekom het is ons op die hande gedra. Hulle het ons kar onderdak parkeer terwyl ons besig was om in te klok en toe ons by ons kamer kom het die vriendelikste portier ons met ons bagasie ingewag.

Die reuk van die hotel se grasdak het my dadelik aan ’n statige herehuis laat dink en toe ons in ons kamer kom, het die pragtige komvenster wat oor die binnehof uitkyk die prentjie in my kop net nóg helderder geskilder. Ek het natuurlik in die venster gaan sit en my verbeel ek is ’n prinses in my eie toring, maar daar was nie tyd vir feëverhale optower nie ─ Stellenbosch Kitchen het op ons gewag.

Links: The Stellenbosch Hotel | Regs: Willemien Engelbrecht
Ons het net betyds ingeklok vir middagete en was dít nou vir jou ’n fees. Koedoe-carpaccio was eerste op die spyskaart. Daarna het ons tog te lekker aan die Mediterreense linguine met gebraaide steurgarnale gesmul, en die feesmaal met ’n sorbet-trio afgesluit. Dit was die perfekte maaltyd om met ’n glasie chenin blanc onder die reuse eikeboom op die restaurant se stoep te geniet, terwyl die res van die dorpsmiere heen en weer in die strate skarrel om hul dagtake af te handel.

Dis altyd ’n goeie idee om jou middagete bietjie af te stap en daar is geen tekort aan besienswaardighede op dié Bolandse dorp nie. Die middedorp het allerlei winkeltjies en galerye om in rond te snuffel en as jy na die buitewyke van die dorp beweeg, sal jy verskeie wandelroetes langs die rivier en staproetes in die Jonkershoek Natuurreservaat teëkom.

Toe ons eers met die dorp se bedrywighede klaar is, het die knus, lugversorgde kamer en ’n lekker warm stort op ons gewag. Van die kamers bied slegs slaapplek en dan is daar groter eenhede wat leefareas en kombuisies insluit, so dis die ideale blyplek vir oornaggaste of diegene wat ’n bietjie langer wil bly.

The Stellenbosch Hotel

Hoe dit ook al sy, ons beveel sterk aan dat jy in die restaurant gaan aansit vir ontbyt. Daar is alles, van kouevleise en kase, vars vrugte en jogurt, tot die heerlikste gebak. As jy nie iets op die buffet-tafel na jou smaak vind nie, is daar nog ’n paar opsies op die ontbytspyskaart om van te kies. As jy eers daar klaar is, moet jy maar weer ’n ent tussen die winkels gaan rondwandel.

So, maak gerus ’n draai by Die Stellenbosch Hotel as jy volgende keer op die dorp is, of as jy ’n vinnige naweekwegbreek na die Kaapse Wynlande beplan.

Foto: Willemien Engelbrecht

Ons het die lekkerste ervaring by Die Stellenbosch Hotel gehad. Baie dankie aan die hele span vir julle gasvryheid.

 

Hooffoto: The Stellenbosch Hotel op LekkeSlaap.co.za