’n Mens kan verstaan waarom daar gereeld na Witzenberg as die “Vallei van Oorvloed” verwys word. Dié vallei strek oor drie streke: Tulbagh en Wolseley val onder die Boland, Ceres en Prince Alfred Hamlet vorm deel van die Warm Bokkeveld, en wanneer jy in Op-die-Berg aankom is jy al weer in die Koue Bokkeveld! Watter deel van die vallei jy ook al besoek, hier is baie te sien en te doen. Én die feit dat dit net negentig minute se ry van die Moederstad af is, maak dit die ideale naweekwegbreek vir Kapenaars. 

Met al die wyn- en vrugteplase om te verken, historiese monumente om te besoek, en doedinge, soos voetslaan, bergfietsry en perdry om aan te durf, is daar so baie om te verken, dat ’n naweek hiér beslis nie genoeg is om eens die helfte van die vallei se skatte te beleef nie. In dié blog vertel ons jou van net ’n paar van ons gunsteling-doendinge in die vallei, sodat jy jou besoek behoorlik kan begin.

Tulbagh

Ons stel voor jy skop jou naweek-wegbreek in die ouwêreldse Tulbagh af. Maak seker jy maak ’n draai in Kerkstraat om al die historiese geboue te sien wat pragtig gerestoureer is ná die groot aardbewing in 1969.

M.I.T – Made in Tulbagh

 

 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 

 

A post shared by 2_country_boys_at_heart (@2_country_boys_at_heart) on

M.I.T. of Made in Tulbagh fokus spesifiek daarop om plaaslike ambagsmanne te ondersteun en verkoop slegs produkte wat in die omgewing gemaak is. Dié pragtige winkel in Tulbagh se hoofstraat verkoop klere, juweliersware, seep en kuns, en jy sal sonder twyfel ’n geskenk vir ’n geliefde hiér vind.

Van der Stel-straat 19, Tulbagh | Kontak via Facebook

Rijk’s Wine Estate

 

 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 

 

A post shared by Rijk’s Wine Estate & Hotel (@rijkswine) on

Rijk’s is ’n bekroonde landgoed in die prentjiemooi Tulbaghvallei wat deur ’n familie bestuur word. Die landgoed se uitsig oor die dam en wingerd is een van die mooistes in die omgewing. Die plaas produseer unieke boetiekwyn en spesialiseer in chenin blanc en pinotage. Rijk’s het ook ’n restaurant op die perseel wat heerlike, outentieke Kaapse maaltye bedien en die plaasbord wat graag saam met ’n wynproe bestel word, is beslis ’n wenner.

Rijks Kelder, Van der Stel-straat, Tulbagh

Diggers Home

 

 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 

 

A post shared by Diggers home (@diggershome_tulbagh) on

Dié gesinsvriendelike restaurant skuil tussen berge en wingerde net buite Tulbagh en is ideaal vir informele, rustige middagetes wat saam met heerlike wyn geniet moet word. Diggers Home is ’n suksesvolle wyn- en vrugteplaas waar die wynmaker, Albert Brink, uitstekende wyn vanuit die harde, vulkaniese grond teen die berghange produseer. Dit sluit ’n ongehoute chardonnay en uitstekende merlot, cabernet sauvignon en shiraz in. Die restaurant bedien ontbyt en ’n tapas-styl middagete wat deur die sjef, Milda Deale, voorberei word en saam met die wyn geniet moet word.

Diggers Home-plaas, Tulbagh | Kontak via Facebook

Essere Lodge Guest House

 

 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 

 

A post shared by Essere Lodge Boutique GH (@esserelodge) on

Dié gaste-lodge skuil in ’n welige, inheemse tuin met ’n asemrowende uitsig van die son wat agter die Witzenberge sak. Verblyf word in agt suites met privaat stoepe, organies-industriële dekor en sagte, natuurlike afwerkings gebied. Die knus gemeenskaplike area is ’n opgeknapte skuur met moderne dekor en vollengte vensters om gaste ’n onbelemmerde uitsig oor die omgewing te gee. Daar is ook ’n swembad, braai-area met ’n pizza-oond, en ’n kroeg met plaaslike wyn en bier. Maak dit jou oornagplek ― jy sal nie spyt wees nie!

Erf 110, Tulbag-weg, Tulbagh | Essere Lodge Guest House

Wolseley

Wolseley lê sowat 15 kilometer buite Tulbagh. Die dorp is aanvanklik as ’n spoorweghoof vir vrugtekwekers ontwikkel en die spoor het die dorp in 1876 bereik, voor dit in 1912 na Ceres verleng is. Die eerste wolwassery in die land, én die eerste aanleg vir die inmaak van vrugte is ook hiér gebou.

Fynbos Guest Farm

 

 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 

 

A post shared by Fynbos Guest Farm (@fynbosguestfarm) on

Dié gasteplaas bestaan uit 67 hektaar plaasgrond, fynbos en hoogsbedreigde renosterveld. Die eienaars is ernstig oor die sensitiewe ekologie van die omgewing en het besluit om fynbos op dele van die plaas te hervestig, deur proteas, ander fynbos en renosterveld-flora te plant. Hulle verwyder ook uitheemse boomspesies, soos gom-, wattel- en dennebome, en vervang hulle met inheemse bome. Mense kom van oraloor om die fynbos en plantspesies op die plaas van nader te bekyk.

Die plaas is ’n veilige hawe vir meer as 150 diere, of hulle nou groot of klein, woelig of wollerig is. Skilpaaie, boerbokke, varke, perde en ’n rits voëlspesies noem Fynbos Guest Farm hulle tuiste. Gaste wat die plaas besoek is welkom om met die diere kennis te maak en hulle appels, wortels, brood of blaarslaai te voer.

Daar is ook drie selfsorgkothuise, ’n klein kampeerterrein met nege staanplekke, en ’n restaurant op die plaas. Die Bully & Koos-restaurant is stapafstand van die verblyf af en alle gaste kry 10%-afslag hier! Fynbos Guest Farm is ideaal vir ’n gesin met kinders wat lief is vir die natuur, so bring die gesin saam plaas toe!

Boontjiesrivierweg 1, 2,5 kilometer vanaf Wolseley | Fynbos Guest Farm

Op-die-Berg

Op-die-Berg, of Die Dorp op die Berg, lê sowat 45 kilometer noord van Ceres op ’n plato wat deur die Skurwebergreeks beskerm word. Die dorpie vorm deel van die Koue Bokkeveld en is bekend vir sy vrugte- en groenteplase.

Perdekar-uitstappies

 

 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 

 

A post shared by Laerskool Koue Bokkeveld (@lakobok) on

Deon en Annatjie is ervare ruiters wat graag hulle passie vir perde met besoekers deel. Kom voel die wind in jou hare en luister na perdehoewe op die grondpad, terwyl jy die natuurskoon van die area bekyk. Deon en Annatjie neem graag besoekers op ’n perdekar-uitstappie deur die boorde, verby die damme en oor die Sederberg-rotsformasies van die Koue Bokkeveld. Die uitstappies is ideaal vir jonk en oud, én hulle maak voorsiening vir gaste met gestremdhede. Dié wat ’n bietjie meer ervare is, kan ook ’n begeleide roete op die rug van een van hulle pragtige perde bespreek.

Kortstraat 71, Op-Die-Berg | 084 758 9861 | www.horseman.org.za 

Dit is maar net een naweek se reisplan dié! Die vallei bied soveel meer om te verken en jy sal weer en weer kan terugkeer om telkens iets nuuts te sien. So, bespreek jou Witzenberg-wegbreek hiér.