Schoone Oordt Country House is langs ’n welige, skaduryke woudjie aan die oewer van die Kroonlandsrivier in Swellendam versteek. Dié droombestemming is as een van die top romantiese hotelle bestempel en die beeldskone, romantiese wittebrood-suite bevestig net weereens dié status. Die elegante hotel is in 1983 as ’n Nasionale Monument verklaar en spog met pragtuine, ’n skitterende swembad en ’n intieme konservatorium wat ook as restaurant dien. Die hotel is beskeie maar steeds weelderig en elegant en die aandag aan detail is indrukwekkend!

Dorp en doendinge

Swellendam word keer op keer bekroon as fynproewersbestemming en besoekers is gaande oor die bergfietsroetes en die bessieplukgeleenthede. Maar dit is nie waar die wonder van Swellendam eindig nie. Die plekkie is gewoonlik bloot ’n oornagplek, maar een dag is nét nie genoeg om die pragdorpie ten volle te geniet nie. Hoe langer jy bly, hoe meer verras Swellendam  jou met dinge wat jy moeilik elders sal aantref.

Die ikoniese NG Kerk troon in die hartjie van die dorp uit en Victoriaanse huise staan al langs die strate af. Die berge in die agtergrond spog met die mooiste pienk skynsel wanneer die dag tot ’n einde kom en die son begin ondergaan. Paartjies kan terugreis in tyd en saam-saam op ’n fiets die straatjies verken terwyl ’n klavier of plaat in die agtergrond speel ─ dis kompleet soos iets uit ’n fliek uit die vyftiger jare! In Swellendam is daar geen einde aan die doendinge en besienswaardighede wat paartjies kan beleef nie. Jy hoef nie eers romanties te wees nie ─ Swellendam sal jou verlei.

  • Wandel al langs Swellendam se Goue Myl af en besoek die winkeltjies vir kuns, kunsvlyt, onthougoed, heuning en smaaklike kos.

  • Besoek die bekende Drostdy Museum, die Old Gaol (die ou tronk), Ambagswerf en die Mayville Huis.

  • By die Bee & Honey Shop kan jy kyk hoe die bye te werk gaan om heuning te maak en ook allerhande heuningvariëteite proe.

  • The Chocolate Shop verkoop Belgiese sjokolades ─ elke sjokholis moet ’n draai hier maak.

  • Pluk bessies by die Wildebraam Bessielandgoed (in seisoen) en proe die verskeidenheid bessielikeur, -konfyt en -konfiture.

  • Maak ook ’n draai by die Rain vlagskip-winkel vir luukse bad- en lyfprodukte wat met die hand hier in Swellendam gemaak word.

  • Bespreek ’n bederfie vir jou en jou liefie by die Rain Forest Dagspa.

  • Indien julle gholfstokke saamgebring het, is die ouwêreldse gholfbaan ’n goeie idee. Dit spog boonop met 9 putjies en ’n wonderskone uitsig oor die Hermitage-vallei.

  • Paartjies kan ook te perd in die voorheuwels van die Langeberge af galop.

  • Indien julle op soek is na iets wat julle adrenalien-vlakke sal laat styg, kan julle ook kanovaart, Zipline, mikro-vliegtuigvlugte, verfbal of riviervlotvaart al langs die Breederivier af oorweeg.

Dit is maar net ’n handvol van al die dinge wat in en om Swellendam te doen en te siene is. Daar is iets vir almal ─ kom ontdek dit self!

Wittebrood-suite

 Die wittebrood-suite is privaat en afgeleë in sy eie hoekie van die welige woudjie met die Kroonlandsrivier wat net ’n paar meter daarvandaan oor die klippe kabbel. Die dromerige kamer het ’n privaat ingang en stoep en sal die verliefde paartjie bekoor met ’n koningingrootte-hemelbed met 100% perkallinne en ’n luukse mat van wol onder jou voete. Die koffiestasie bied heerlike tuisgemaakte beskuit en koekies, vars melk, komplimentêre gebottelde water en ’n verskeidenheid wyn en bier uit die omgewing. Paartjies kan snoesig voor die kaggel ontspan en die lugversorging bied ook lafenis teen die koue in die wintermaande en die hitte in die somermaande. Boonop het die groot badkamer ondervloerse verhitting, verhitte handdoekrelings en gaste kan gebruik maak van die geborduurde badjaponne en komplimentêre pantoffels. Maak gerus gebruik van die luukse bad- en lyfprodukte in die groot stort en lieflike Victoriaanse bad.

Schoone Oordt bied ’n romantiese wittebrood-pakket wat spesiaal ontwerp is met wittebrood-duifies in gedagte. Paartjies bly vir 3 aande in die bekoorlike suite en geniet ’n heerlike fynproewersontbyt en peuselhappies teen teetyd. Een driegangmaaltyd met ’n wynparing word as ’n aandete by die pakket ingesluit. Die restaurant op die perseel is beskikbaar indien die paartjie nie die liefdesnessie wil verlaat nie. Schoone Oordt se vriendelike personeel sal op die eerste aand ook die kamer romanties voorberei met MCC-sjampanje, sjokolade en roosblare. Die paartjie sal ook ten volle kan ontspan na die groot dag met ’n komplimentêre romantiese behandeling vir twee van 60 minute lank in die Rain Forest Dagspa. Klink dit nie net ongelooflik nie? Die pakket sal jou net R9000 uit die sak jaag.

Kom kuier!

So hoekom maak julle nie ’n draai in wonderskone Swellendam nie? Reis terug in tyd en geniet die eerste tree van julle lewenspaadjie saam in dié bekoorlike dorpie. Stuur asseblief ’n e-pos aan info@lekkeslaap.co.za indien jy ’n wittebrood hier wil bespreek en skryf in jou onderwerpgleuf “Mooi Troues: Schoone Oordt Country House, Swellendam”.