Ja, jy het reg gehoor ─ jy kan nou LekkeSlaap in Namibië! Dié buurland met sy rooi duine, wild, yskoue see vol vis, en witwarm vlaktes is nou oop vir Suid-Afrikaners wat hul vlerke met behulp van LekkeSlaap wil sprei. In dié blog vertel ons jou van skilderagtige blyplekke en opwindende doendinge as jy Namibië wil verken.

Doendinge

Sossusvlei is ’n nieblywende pan tussen rooi sandduine wat meer as 325 meter bo die vallei uittroon. Hier is selde water, maar as die Tsauchabrivier afkom ondergaan die vlei ’n metamorfose: Die droë skilfermodder word ’n blougroen meer omring deur groenigheid wat gulsig deur watervoëls verorber word, en gemsbokke en volstruise kom les hul dors.

Cape Cross Robreservaat spog met die grootste kolonie Kaapse pelsrobbe op die planeet. Meer as 10 000 robbe lê luilekker in die son hier waar die Namibwoestyn en die koue Benguelastroom ontmoet. Die robkolonie is so groot omdat die vis in dié seestroom so volop is. Maar wees gewaarsku: Die robmis is net so volop soos die vis ─ onthou dus om ’n sakdoek of ’n bandana te bring waarmee jy jou neus kan bedek!

Deadvlei is minder bekend as Sossusvlei, maar volgens Lonely Planet is dit die mees aanloklike pan in die Namib-Naukluft Nasionale Park én bes moontlik een van Suidelike Afrika se mees indrukwekkende natuurtonele. Die verstarde kameeldoringbome se swart vingers wat lyk of dit deur die pan se wit kors gebreek het, staan uit teen die hemelsblou lug en reuse-hoop sand van Big Daddy, die hoogste duin in die omgewing.

Sandwich Harbour lê op die randjie van Dorob Nasionale Park, sowat 56 kilometer vanaf Walvisbaai. Natuurliefhebbers kom van heinde en verre om dié dramatiese natuurtoneel gade te slaan. Reuse-duine stort neer in die yskoue Atlantiese Oseaan wat ’n skilderagtige meer vorm. Die hawe is nou verlate en oorgelewer aan die wildernis se genade. Voëlkykers is mal oor Sandwich Harbour en dis ’n paradys vir 4×4-entoesiaste!

Diaz Coffee Shop in Lüderitz se sterk cappuccino’s en soetgebak sou nie vreemd gelyk het in München nie. Smulpape sal bly wees om te hoor dat die disse wat hier voorgesit word ook nie te versmaai is nie. Sit gerus aan vir ’n paar oesters en ’n glasie wyn, of bestel ’n heerlike seekosgereg.

Dié 3 kilometer lange canyon is 30 meter diep en 4 kilometer suid van Sesriem. Hier is twee lieflike staproetes: stroomop tot by die brakwaterpoel aan die bokant, of 2,5 kilometer stroomaf tot by die onderkant. Hou jou oë oop vir die plek waar die Tsauchabrivier ’n sfinksagtige rotsformasie uit die sandsteen gekerf het by die mond aan die noordekant.

Blyplekke

Desert Breeze Lodge

  • Slaapplek: 30
  • Trekpleister: Namib-Naukluft Nasionale Park
  • Naaste dorp of stad: Swakopmund,  9,1 km

Okahirongo Elephant Lodge

  • Slaapplek: 7
  • Trekpleister: Skedelkus Park
  • Naaste dorp of stad: Omanye, 17,7 km

Le Mirage Resort and Spa

  • Slaapplek: 44
  • Trekpleister: NamibRand Natuurreservaat
  • Naaste dorp of stad: Sesriem, 22,5 km

Bagatelle Kalahari Game Ranch

  • Slaapplek: 16
  • Trekpleister: Hardap Nasionale Park
  • Naaste dorp of stad: Hardap, 37,1 km

Ndhovu Safari Lodge

  • Slaapplek: 30
  • Trekpleister: Bwabwata Nasionale Park
  • Naaste dorp of stad: Bagani, 27,9 km

Flamingo Villa Boutique Hotel

  • Slaapplek: 34
  • Trekpleister: Strandmeer met pragtige flaminke
  • Naaste dorp of stad: Walvisbaai, 3,3 km

Kivo Lodge

  • Slaapplek: 30
  • Trekpleister: Windhoek
  • Naaste dorp of stad: Seeis, 34,1 km

White House Guest Farm

  • Slaapplek: 49
  • Trekpleister: Gondwana Natuurpark
  • Naaste dorp of stad: Gunau, 14,2 km

Namibië is ’n besonderse land met legio doendinge en natuurskoon soos min. Hou gerus ons blog dop as jy meer oor ons wonderskone buurland te wete wil kom ─ dis nog net die begin!

Tensy anders vermeld kom alle foto’s van LekkeSlaap-instansieprofiele.

Hooffoto: Magical Jeep Safari (Bigstock)