Namibië se ongerepte vlaktes en woestyn wat myle ver strek, het oor die dekades heen ’n uiters gewilde toerismebestemming geword. Dié gewildheid is deels te danke aan die bekoring waarmee dié land se ongereptheid sy besoekers oorval, deels weens die feit dat jy iets van alles hiér sal kry ─ die son, sand, see en sterre ─ en grootliks weens dié land se ryk kultuur en geskiedenis. Dié kulturele diversiteit is diep in Namibië gewortel en jy hoef net na al die dorpe en stede se name te kyk om sien hoe ryk dié land se kultuur werklik is. Namibië se plekname vind almal hul oorsprong in die verskillende kulture wat al dié land bewoon het se moedertale en sluit inheemse swarttale, Afrikaans, Duits, Portugees en Khoi- en San-tale in. LekkeSlaap het besluit om ’n paar van dié interessante plekname se oorsprong na te spoor.

Windhoek

Die Evangelies-Lutherse Christuskirche in Windhoek. (Foto: Bigstock)

Namibië se hoofstad is meer as ’n eeu oud en sy naam het ’n relatief netelige oorsprong. Die Otjiherero-naam vir Windhoek is eintlik Otjomuise en in Damara staan dié stad as /Ai//gams bekend. Albei name beteken warm stoom of rook ─ nes Reykjavik in Ysland! Die Duitse naam, Windhuk, word in sommige handleidings as ’n korrupte weergawe van Winterhoek beskryf ─ ’n Kaapse plaas waar een van die Namibiese pioniers se voorsate gewoon het. Nog ’n vroeër variant van dié stad se naam is Wendthoek. Dit beteken letterlik “die plek waar ’n mens ’n draai maak” en verwys vermoedelik na reisigers van die suide wat na die kus gedraai het tydens hul besoek aan dié land.

Swakopmund

Die ontmoeting van die woestynsand en see aan Namibië se weskus in Swakopmund (Foto: Bigstock)

Swakopmund is ’n stad aan Namibië se weskus en is een van die gewildste toerismebestemmings in die land. Dié kusoord is in 1892 as die hoofhawe van die destydse Duitse kolonie Suidwes-Afrika gestig en die Duitse gemeenskap is vandag nog prominent in dié geweste. Die Herero’s het die dorp Otjozondjii genoem, maar die dorp se huidige naam is van die Nama-woord tsoa (“agterent”) en xoub (“uitwerpsel”) afgelei. Dit verwys na die modder en opdrifsels wat in vloedtye in die Swakoprivier na die Atlantiese Oseaan dryf. Die Duitse setlaars het die naam na Swachaub verander en in 1896 is dit as Swakopmund (mond van die Swakop in Duits) voorgestel met die amptelike proklamasie van die distrik.

Gobabis

Die droë Nossobrivierloop buite Gobabis. (Foto: Bigstock)

Gobabis is ’n dorpie in die ooste en staan as die hoofstad van die Omaheke-streek bekend. Hiér kraai beesboerdery koning en die dorp dien ook as skakel na Suid-Afrika se Trans-Kalahari-hoofweg. Die inwoners is so trots op hul beesboerdery, dat ’n groot Brahmaan-bulstandbeeld besoekers by die dorp se ingang welkom heet. Die naam Gobabis is van die Khoi-tale afkomstig en kan “plek van olifante” of “plek van stryd” beteken, afhangend van die “gob” se presiese fonetiese oorsprong. Die area rondom Gobabis en al langs die Nossobrivier het in die 1800’s baie olifante gehuisves. Die dorp self het destyds as ’n basis vir ivoorjagters en handelspos vir olifanttande gedien. Met dié dat die olifante bykans nie meer in die area gewaar word nie, blyk “plek van stryd” die meer gepaste betekenis te wees.

Otjiwarongo

Die Waterberg-platorand naby Otjiwarongo. (Foto: Bigstock)

Otjiwarongo is in die sentraal noorde van Namibië op die TransNamib-spoorweg geleë en is die hoofstad van die Otjozondjupa-streek. Dié area is veral bekend as die wêreld se luiperd-hoofstad, aangesien dié spoedige spesie volop in die area voorkom. Die naam Otjiwarongo beteken “mooi plek”, “aangename plek” of “waar vet beeste wei” in Otjiherero. Nes baie ander Namibiese dorpe, het Otjiwarongo rondom ’n Rynse sendingstasie ontwikkel ná ’n verdrag tussen Duitse sendelinge en die Herero-stamhoof Kambazembi in 1891 gesluit is. ’n Duitse militêre-bemanning het in 1904 in Otjiwarongo te lande gekom en met die implementering van die smalspoorlyn tussen Swakopmund en die Otavi- en Tsumeb-myne is die dorp amptelik in 1906 gestig.

Tsumeb

’n Uitsig oor die Otjikoto-meer ─ ’n permanent sinkgat naby Tsumeb. (Foto: Bigstock)

Tsumeb is die grootste dorp in Namibië se noordelike Osjikoto-streek. Dié dorp se ontstaan is aan ’n buitengewone myn te wyte. Die myn se uitsteeksels van kleurryke koper het die Herero’s laat dink dat daar alge oor staande waterpoele groei en so word dié plek toe oTjisume, of te wel “die plek van alge”, gedoop. Die naam is later deur die San na Sumeb verander, waarna die Europese nedersetters dit op hul beurt na Tsumeb verander het.

Sossusvlei

Dooie bome in Sossusvlei. (Foto: Bigstock)

Dié sout- en kleipan is in die suide van die Namibwoestyn in die Namib-Naukluftpark geleë en is met hoë rooi sandduine omring. Die naam Sossusvlei word dikwels gebruik om na die hele omliggende area, insluitend die naburige vleie soos die Dooievlei en ander hoë duine, te verwys en is ’n top-toerismebestemming in Namibië se suide. Sossus is ’n Nama-woord vir “doodloop” of “geen omdraaikans” en dus beteken die area se naam letterlik “doodloopvlei”. Dié naam is weens die Tsauchabrivier se kortstondige stroom en swak dreinering aan die area toegeken.

Aus

’n Elegante wilde perd wat net buite Aus wei. (Foto: Bigstock)

Dié dorpie se naam beteken “groot slang” in die Khoi-taal. Die dorp is in 1915 deur Suid-Afrika as ’n interneringskamp gebruik om Duitse gevangenes van die Eerstewêreldoorlog te huisves. Verder is Aus ook bekend vir die wilde perde wat in die woestyn voorkom. Dit is nie duidelik waar dié perde vandaan kom nie, maar dit blyk dat die perde baie goed by die klimaat aangepas het. Hulle kan vyf dae lank sonder water klaarkom en suip graag by die Garubpan waar toeriste hulle kan waarneem. 

Namibië het beslis nie ’n tekort aan interessante plekke en plekname nie. Met dié land se diverse geskiedenis is daar altyd nog ’n diamant van inligting wat iewers wag om ontdek te word. Watter oulike staaltjies oor Namibië se plekname ken jy? Laat weet ons in die kommentaar!

Hooffoto: Okahirongo Elephant Lodge (LekkeSlaap)