Let asb. dat hierdie “Ocean Experience” nie meer gebied word nie, maar jy kan wel by die Two Oceans Akwarium skubaduik of ’n pikkewyn-ervaring hê.

Hierdie jaar het die LekkeSlaap-span besluit om vir onsself uitdagings te stel. Iets wat jou uit jou gemaksone sal haal en druk om nuwe dinge te doen en te leer. Ek is nou nie juis een vir diepsee-avonture nie ─ selfs kniehoogte in die branders is vir my te veel. En as iets uit die donker dieptes eers aan my been raak – kan jy maar vergeet van verder die water ingaan.

Ek het toe besluit om eerder in die I&J Ocean Exhibit by die Two Oceans-akwarium te spring ─ al is dit hoe moeilik om te glo ─  en meer oor die seeskilpaaie en die rehabilitasieprogramme te leer.

Ocean Experience

Ons maak toe ’n Ocean Experience-afspraak vir ’n winderige Vrydagoggend, glip in my swembroek in (my uitrusting vir die dag) en vat die pad Kaap toe. Tamlyn het ons met ’n groot glimlag ontvang en gehelp om ’n duikpak te kies wat sal pas. Ek druk myself toe wragtig in die duikpak en spring in die mediese poel aan die agterkant van die reuse tenk saam met die skilpaaie, pylsterte, poenskoppe en sandkruipers.

Ayrton, die akwaris, het ons onder sy vlerk geneem en gewys hoe ons moet maak. Bob en Alvi, twee groenseeskilpaaie wat tans met rehabilitasie by die akwarium besig is, het geweet ons kom kuier. Hulle was al in die poel voor ons behoorlik ons duikpakke kon toezip. Ayrton stel ons toe voor en vra dat ons vir eers ons hande teen ons sye hou, sodat die skilpaaie self kan besluit of hulle lus het vir die storie. Toe hy kon sien hulle is gemaklik met ons kon ons hulle op hulle doppe vryf. Skilpaaie se doppe is eintlike baie sensitief, so Bob en Alvi is mal daaroor as jy hulle krap. Ayrton wys vir ons hoe om hulle op hulle maag te krap en Alvi wikkel sommer sy boude van die lekker. Bob gaan rus gereeld onder die stroompie wat heeltyd vars water in die tenk pomp. Ayrton vertel toe hoe die seeskilpaaie daar aangekom het en hoe ver hulle rehabilitasieproses al gevorder het.

Leer meer oor die seeskilpaadjies wat hulle red.

Na ’n rukkie van stilsit, stories luister en skilpad-krap, kon ons in die poel begin rondbeweeg en ons koppe oor die veiligheidsreling druk om die I&J Ocean Exhibit van ’n ander kant af te bekyk. ’n Pylstert of 2, poenskop en reuse-sandkruiper het nogal naby verby geswem, maar hulle was nie daai dag lus vir pret in die poel saam met die LekkeSlapers nie.

Hoekom ’n Ocean Experience?

Ek het so baie geleer oor hierdie merkwaardige seediere en die alewige stryd wat hulle met plastiek in die oseane het. Mens kom nie sommer elke dag ’n seeskilpad teë nie, en dit was wonderlik om hulle in ’n veilige omgewing te sien en op ’n etiese manier met hulle te kan omgaan. ’n Gedeelte van jou kaartjiegeld gaan direk aan die akwarium se bewaringsfonds, wat met die wonderlike werk wat hierdie ongelooflike groep mense doen sal help.

Ander ervarings by die akwarium:

Bederf jouself of jou geliefde gerus met een van of al hierdie ervarings. Jy leer nie net oor die diere en die bewaring van Moeder Natuur nie, jy leer ook sommer meer oor jouself en waar jy in die groter prentjie inpas.

Baie dankie aan Two Oceans-akwarium vir die ongelooflike ervaring!

Gaan slaap in die Kaap naby die Two Oceans-akwarium:

***

Hooffoto: Steve Benjamin (voorsien)