Olifante is nie net die grootste lede van die Groot 5-klub nie, hulle staan ook hul plek vol in Suid-Afrika se kulturele bewussyn. Rotskunstenaars dokumenteer al vir duisende jare die aanwesigheid van olifante in Suid-Afrika, en danksy Dalene Matthee is ’n olifant, letterlik en figuurlik, een van die grootste figure in ons literatuurgeskiedenis. Wie sal ooit die soektog na Oupoot in Kringe in ’n Bos kan vergeet? In hierdie blog deel ons ’n paar fassinerende feite oor grootvoete en vertel jou ook sommer waar jy kennis kan maak met dié slim diere.

12 Vinnige Olifantfeite:

  • Afrika-olifante kom in Oos-, Suid-, Sentraal- en Wes-Afrika voor.
  • Hierdie diere het die oorlewingskuns so goed bemeester dat hulle in ’n groot verskeidenheid biome gedy: van digte woude tot droë woestyne.
  • Wetenskaplikes het nog nie eenstemmigheid bereik oor die afsonderlike spesiestatus van die bosolifant nie, maar ons weet wel dat bitter min van hierdie, effens kleiner, olifante die aanslag van die jagters oorleef het.

  • ’n Volwasse olifant kan tot 450 kg-plantmateriaal per dag verorber.
  • ’n Olifant se brein weeg sowat 20 kg en stem ooreen met menslike breine wat struktuur en kompleksiteit aanbetref.
  • ’n Olifant se slurp is ’n toonbeeld van die effek wat miljoene jare se ewolusie op ’n orgaan kan hê: ’n Olifant gebruik sy slurp om delikate take te verrig soos om sy oog te vryf, om in die grond te grawe vir water, om vrugte te pluk, om water te drink, om asem te haal as hy onder die water is, en nog baie meer.
  • Olifante se gevorderde gedrag en emosies (samewerking, medelye, selfbewussyn, nabootsing, leer, altruïsme, verdriet, humor, ens.) wys jou net hoe intelligent hulle is.

  • In die 1870’s het die bosse rondom Knysna as ’n tuiste vir sowat 500 olifante gedien.
  • Gewetenlose jagters was egter so skietlustig dat daar teen 1913 net 13 grootvoete oor was.
  • Teen 1979 was daar net 3 olifante oor, maar in 1988 is die spore van ’n pasgebore kalf in die bosse ontdek.
  • In die jaar 2000 is ’n jong bul in Gounabos gewaar (miskien die kalf van 1988?).
  • Niemand weet presies hoeveel van dié reuse op die oomblik in die bos skuil nie – hou jou oë oop as jy jouself tussen die varings in hierdie geheimsinnige woud bevind!

Gaan soek ’n grootvoet!

Suid-Afrika bied legio geleenthede vir almal wat olifante van naderby wil aanskou. Gaan maak ’n draai by die Nasionale Krugerwildtuin, Addo-olifantpark en Hluhluwe-iMfolozi en bewonder dié reuse-soogdiere in lewende lywe.

Buffelshoek Tented Camp, Nasionale Krugerwildtuin

Die Nasionale Krugerwildtuin spog met 53 visspesies, 505 voëspesies, 118 reptielspesies, en 148 verskillende soorte soogdiere wat natuurlik olifante insluit. Sit saans en ontspan by Buffelshoek se boma en kyk bedags uit vir dié wêreldbekende reservaat se 13050 olifante.

Hitgeheim Country Lodge & Eko-Reservaat, Addo

Benewens buffels, renosters en leeus, spog die Addo Olifantpark met meer as 600 olifante. Dit is onmoontlik om meer as ’n halfuur in dié park rond te rits sonder om Oupoot se kind raak te loop. Hitgeheim bied ’n lieflike rusplek na jou opwindende wildrit in die park.

Bonamanzi Game Reserve, Hluhluwe

Hluhluwe-iMfolozi Wildreservaat in KwaZulu-Natal se noorde het ook sowat 600 olifante en dit is baie naby Sodwanabaai se skilderagtige koraalriwwe. Bonamanzi bied swierige verblyf binne dié park vir besoekers wat ’n wildkyk- en skubaduikvakansie wil kombineer.

Oorweeg ook die volgende lekke lêplekke ─ te oordeel aan die name is dit nie ver vanaf watergate waar olifante daagliks hul dors gaan les nie!

Sit dié jaar ’n grootvoet op jou emmerskoplysie en kom maak kennis met Afrika se slim reuse!

Weens onwettige ivoorhandel is olifantgetalle ongelukkig besig om drasties te val ─ kliek hier en raak betrokke by die bewaring van hierdie besonderse diere: https://yearoftheelephant.org/

Al die foto’s is op LekkeSlaap-instansieprofiele gekry tensy anders vermeld.

Hooffoto: Elephants Family deur Benh LIEU SONG (flickr)