Dis ’n splinternuwe jaar propvol hoop en avontuur! Al is jy tans platsak, is dit nooit té vroeg om jou volgende vakansie te beplan of ’n nuwe emmerskoplysie op te stel nie. Maar waar sal jy gaan kerjakker? Om jou weer aan ons land se droombestemmings te herinner, het LekkeSlaap ’n handjievol tydlose treffers opgespoor waarin Suid-Afrika se mees unieke streke in ons mooie Moedertaal besing word. Boonop vertel ons jou meer oor elke streek sodat jy óók die nuwe jaar sing-sing kan begin!

Karoo

Windpompe net waar jy kyk, ’n wolklose hemelruim, snerpende sneeuwinters en snikheet somers ─ waaraan laat dit jou dink? Die Karoo, natuurlik! Die Swart- en Langeberge verdeel dié halfwoestynstreek in die Groot-Karoo en Klein-Karoo. Boonop strek die Karoo oor vier provinsies ─ die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, asook die Vrystaat. Die Groot Karoo is ’n anderste mooi met vetplante, stofpaaie en wolskape. Daarenteen is volstruise sinoniem met die Klein Karoo en die beroemde R62-wynroete kronkel ook hier deur. In die Karoo sal jy stellig die stilte kan hoor, voel en sien!

As die Karoo eers in jou hart gekruip het, sal jy verstaan waarom Coenie de Villiers in Karoonag liries raak oor dié spesiale streek:

As die nag sy baadjie toeknoop oor die veld
en die diereriem sy blink tot teen die skerpioen laat lê;
as die tweeling en die kreef
kotteljons oor Beaufort-Wes
en die maan sy beker skink oor Graaff-Reinet

Ruik jy katbos en kambro
as dit reën in die Klein-Karoo
My hantamwind
My optelkind
vanaand

In die môre as dit blou word
en die amber wolke roer
as die son sy eerste lig
oor die bitterboela stoot;
as die trein by Noupoort fluit
en dit wegraak in die wind
en ’n tolbos iewers vaswaai teen die rant

Ruik jy katbos en kambro
as dit reën in die Klein-Karoo
My hantamwind
My optelkind
Vanaand, by my vanaand

Pret en plesier in die Karoo

Ander dorpe in die Karoo

Oudtshoorn | Richmond | Graaff-Reinet | Gariepdam | Colesberg

As die stilte roep, ontsnap na die Karoo en kliek op die skakels om verblyf op die dorpies hierbo te bespreek.

Tuinroete

’n Towerwoud waarin Oupoot diep spore getrap het, ’n magdom strandmere met louwarm water en fynbos om elke hoek en draai ─ dis mos die Tuinroete daai! Dié pragstreek begin by die Wes-Kaapse Mosselbaai en eindig 300 kilometer verder by Stormsrivier in die Oos-Kaap. Dis waarskynlik die skilderagtigste roete wat jy in ons land kan ry en jy sal beslis in verwondering staar na die Outeniekwa- en Tsitsikammaberge wat hemelhoog rondom jou uittroon.

Carike Keuzenkamp se Dit reën in Tsitsikamma besing dié ongelooflike omgewing só:

In Knysna leef verhale voort uit Tsitsikammawoud
Van mense uit ’n vroeë tyd, legendes eeue oud
Die mense van die Knysnawoude praat hul eie taal
’n Vreemdeling verstaan soms nie die woudreus se verhaal

Dit reën in Tsitsikamma
As stilte sagte reën vra
Tot in die hart van Knysna
Dit reën in Tsitsikamma
Die geur van varingblare
Gemeng met mos deur jare
’n Sprokiesland dis Knysna
Dit reën in Tsitsikamma

Daar’s paadjies wat tot diep-diep in die Knysnabosse lei
’n Woud gehul in skaduwee waar sonlig buite bly
Die Grootvoete van Knysnabos is oral oor bekend
Want Langenhoven en Matthee het hulle goed geken

Dit reën in Tsitsikamma
As stilte sagte reën vra
Tot in die hart van Knysna
Dit reën in Tsitsikamma
Die geur van varingblare
Gemeng met mos deur jare
’n Sprokiesland dis Knysna
Dit reën in Tsitsikamma

Pret en plesier op die Tuinroete

Ander dorpe op die Tuinroete

Reebok | Klein-Brakrivier | George | Nature’s Valley | Victoriabaai

As jy dus die Tuinroete wil verken, kliek op die skakels hierbo om oornagverblyf te bespreek.

Kalahari

Dié woestynstreek se naam is afgelei van die Tswana-woord Kgala “die groot dors” en die San-woord Kgalagadi “plek sonder water”. Droë rivierbeddings en uitgestrekte rooisandvlaktes is kenmerkend aan die Kalahari wat die Noord-Kaap se noordelike deel tot by die Oranjerivier beslaan. Al is dit uiters droog, glinster die horison dikwels belowend en kom jy hier en daar ’n oase teë. Hiér sal jy weer kan asem skep as die stadsmure jou vasdruk en jou siel na stilte smag!

Jim Reeves se Ver in die ou Kalahari is alombekend in die volksmond en beskryf die Kalahari só:

Ver in die ou Kalahari
Tot daar by die Malopo
Gee my die ou Kalahari
Die ou Kalahari bo

Wyd lê die eindlose vlaktes
Kameeldoringboom en sand
Eensame, vreedsame wêreld
Dis die ou Kalahariland

Sonbesies sing in die bosse
Die hittige son te versmaai
Rooi Afrikanerosse
Sien jy om elke draai

Ver in die ou Kalahari
Daar sing die boere so
Gee my die ou Kalahari
Die ou Kalahari bo

Ver in die ou Kalahari
Tot daar by die Malopo
Gee my die ou Kalahari
Die ou Kalahari bo

Pret en plesier in die Kalahari

Ander dorpe in die Kalahari

Danielskuil | Kathu | Upington | Keimoes | Kakamas

As die Kalahari-vlaktes jou roep, bespreek gerus verblyf op die dorpe hierbo.

Namakwaland

Dié dorre deel van die Noord-Kaap kreun onder fel somers en ysige winters, maar in die lente word vaal veld met ’n blomkombers bedek en begroet die soetste geure en helderste kleure jou. Namakwaland sluit ook ’n deel van die Weskus in en lok jaarliks derduisende besoekers. As jy dus wil sien hoe Moeder Aarde op haar mooiste glimlag, moenie vanjaar se blomseisoen misloop nie!

Namakwaland se prag en praal sal jou van vreugde laat sing en dis presies wat Coenie de Villiers met sy Namakwaland doen:

En as die jaargety kom draai
En die reënwind oor my randjies waai
Laat die warrelwind ’n laaste keer
Sy nukke oor my lyf probeer

En roer die reën die droë loop
Dan breek my hart se kleure oop
En knoop ek gou my blommejas
Van Kamieskroon tot Kommagas

Namakwaland se veld hou nuwejaar
Kom kyk hoe hotnotsriel ’n vygie daar
’n Blyplek, vryplek, Nababiep my ghantang
kom proe hoe soet ’n ghoukom hier kan smaak

Ek sprei my kelkiewynkaros
Waar die horison die more los
En iewers staan ’n kokerboom
Kniediep in die geel en droom

En die wind maak soms ’n ruitpatroon
Van botterboom se goue kroon
En êrens oor my wye rug
My marabos, my vleipatrys

Namakwaland se veld hou nuwejaar
Kom kyk hoe hotnotsriel ’n vygie daar
’n Blyplek, vryplek, Nababiep my ghantang
kom proe hoe soet ’n ghoukom hier kan smaak

Pret en plesier in Namakwaland

Ander Namakwalandse dorpe

Springbok | Garies | Vanrhynsdorp | Lutzville | Nieuwoudtville

Bespreek gerus verblyf op die bostaande dorpe sodat jy óók Namakwaland se blommeprag kan aanskou.

Bosveld

Eindelose grasvlaktes, kameelperde wat aan hoë takke knibbel en boeretroos langs die kampvuur ─ dis daar doer in die Bosveld! Dié besonderse streek beslaan die grootste deel van Limpopo en ook ’n gedeelte van Noordwes. Dit word omring deur majestueuse bergreekse ─ die Magaliesberge in die suide, Drakensberge in die ooste, Soutpansberge in die noorde en die Waterberge reg in die middel. Die droë winters laat die veld vaal wat dit makliker maak om wild te gewaar en minder muskiete versteur jou nagrus. Hiér sal jy soggens met vrolike voëlgesang ontwaak en snags die koning van die bosveld hoor brul.

Daar is heelwat lirieke wat na die Bosveld verwys, maar die gedig Bosveldnagte deur Daleen Enslin is absoluut gepas:

As die skemer oor die bosveld daal
hoor mens die laaste klanke van die dag.
Sonbesies raak stil in eerbied
vir die nagstilte wat neerdaal,
die kiewiet roep sy maat,
die tarentaal begin om nes te skop
en voëls kom kwetterend
in die doringbome slaap
wat nou net skimme word
voor die son se laaste gloed verdwyn
soos ’n seepbel.

Om die watergat vergader die diere
en maak hulle laaste buiging vir die roosagtige lig

voordat die nag se donker sluier
oor die aarde lê.
Dan hoor jy die jakkals se tjank vir kilometers
en die hiëna se antwoord lag,
oral om jou antwoord die nag,
iewers hoe ’n uil
en om die lamp hier op die stoep
fladder ‘n mot om die lig.

Glinsterend, sag en silwer hang die maan
oor die hemelruim
en die sterre kom een vir een
om aan die donker te hang,

harte vind mekaar as bewuste bevestiging
dat die wêreld sy eie lewensgang het
waarvan jy nie ’n deel is nie
en net ’n oomblik in bestaan
totdat jy weer huis toe gaan
maar hier bly die lewe in vrede voortbestaan
en dis net ’n foto herinnering
wat sê jy was vir ’n oomblik ingelaat

Pret en plesier in die Bosveld

Ander Bosvelddorpe

Sun City | Phalaborwa | Bela-Bela | Thabazimbi | Vaalwater

Breek weg uit die stad en bespreek verblyf by een van dié dorpe in die Bosveld.

Weskus

Reënboogagtige sonsondergange oor die Atlantiese Oseaan, smullekker seekos en hartsmense ─ dis wat jy aan die Weskus kry! Dié kusstreek strek min of meer vanaf Melkbosstrand tot by Nuwerus al langs die N7. Kom verkwik jou siel met vars seelug, pak ’n staproete aan, verlustig jou in die plattelandse leefstyl en ja, jy kán in die koue water rondplas!

Andries Vermeulen kan jou laat skaterlag en met Die Weskus-manier vertel hy jou presies wat hiér op jou wag:

Kreef uit die Weskus
En ’n vars kabbeljou
Darling se wyn net vir my en vir jou
Snoek en patat
Ja dis my plesier
Dis hoe ons dit doen
Dis die Weskus manier

Kom stap saam met my
Dan wys ek vir jou
Waar my spore lê
In die Weskus se blou

Dis hier waar die mense van lelik niks weet
Want mooi strek so ver soos die hemel so breed

Die Weskus se mense is een van ’n soort
Hul sal jou nooit los nie dit sweer hul vir dood
Met sand op jou voete
En son op jou vel
Dis hier waar jy hoort
Laat ek jou vertel

O ek wens ek was daar
Dan sit ek op die strand en tokkel my kitaar
O ek wens jy was daar
Dan stap ons hand aan hand
O ek sien ons bymekaar

Pret en plesier aan die Weskus

Ander Weskusdorpe

Elandsbaai | Dwarskersbos | Vredenburg | Lambertsbaai | St Helenabaai

As jou hart na die see verlang, kies koers na die Weskus vir ’n welverdiende naweekwegbreek op die kusdorpies hierbo.

***

Van toeka tot nou raak Afrikaanse kunstenaars liries oor Suid-Afrika se skoonheid, en met goeie rede ─ ons woon immers in een van die mooiste lande ter wêreld met legio doeninge. So, besluit waarheen jy wil gaan, wat jy daar wil doen en sing luidkeels saam!

Hooffoto: Desert Dew Guest House (LekkeSlaap-instansie)