As jy al in die Karoo gekuier het, weet jy as hy eers vatplek aan jou kry, laat hy nie sommer gaan nie. Dié geweste het diep in Jan en Marietjie, die eienaars van Matjiesvlei Cottages, se harte gekruip en daarom het hulle ’n lekker vakansieplek vir familie en vriende hiér begin soek. Hulle kom toe uiteindelik op die beeldskone Matjiesvlei-vallei af waar hulle kort daarna die drie kothuise begin opknap het. En laat ek nou vir jou ’n geheim vertel, dié plek is die toonbeeld van rus, vrede, knus winters voor die kaggel en salige somersdae langs die Gamkarivier.

Die koppies en vlaktes langs Roete 62 is dié tyd van die jaar bespikkel met bloedrooi aalwyne wat lyk asof hulle jou na jou bestemming begelei. Die grondpad waar jy moet afdraai skuil 6 km van Calitzdorp af, net na die Gamkarivier as jy van die Kaap se kant af kom. Ná ’n draai of twee is jy bo-op die kruin van die berg en met só ’n uitsig is dit onmiddellik duidelik waarom Jan en Marietjie juis op hierdie einste vallei besluit het. Prentjiemooi uitsigte wag om elke hoek en draai en nadat ons vir die soveelste keer stilhou om nóg ’n foto te neem, hou Marietjie langs ons stil. Sy groet vriendelik en ry toe vooruit om ons die pad na ons tuiste vir die naweek te wys.Ná 7 km op die netjiese stofpad draai jy regs na Die Stalle en Bokwagtershuis of links en volg die pad al langs die rivier vir nog 3 km tot by Middelplaas.

BLYPLEK

Daar is 3 selfsorghuisies om van te kies ─ Bokwagtershuis en Die Stalle kyk oor die olyfboorde uit en Middelplaas is ’n entjie verder naby die rivier geleë. Elke huisie spog met sy eie karakter wat maak dat jy jou hart op een verloor, of jou die ideale verskoning gee om keer op keer terug te keer om die ander huisies en liggings ook te beleef.

Die Stalle

Die Stalle langs die plaasdam was die oorspronklike eienaars se tuiste en hulle het dit later in stalle vir die diere omskep ─ vandaar die naam. Jan en Marietjie het die vervalle gebou in ’n gerieflike kothuis omskep met die lekkerste oopplan-leefarea wat oor die olyfbome op die berge uitkyk. Daar is drie slaapkamers (slaapplek vir ses gaste), waarvan twee met Queen Anne-stofies spog wat beslis die winterkoue sal afweer. Daar is ook ’n Doverstoof in die leefarea wat sommer die hele huis lekker gesellig maak. In die somer kan jy die groot glasdeure oopmaak en ’n lekker vleisie oor die kole in die binnebraai gooi. Die kinders sal lekker onder die groot boom op die grasperk voor die huisie speel, terwyl die grootmense op die stoep of om die vuurput kuier.

Bokwagtershuis

Bokwagtershuis is hoër op en skuins agter Die Stalle geleë en staan al vanaf die 19de eeu toe dit oorspronklik vir Matjiesvlei se bokwagter gebou is. Die huisie is pragtig versier met oudhede en so knus dit voel asof jy by jou boesemvriend kuier. Dié plekkie was ons toevlugsoord vir die naweek. Jan het sommer vinnig-vinnig vir ons ’n vuurtjie in die stofie in die sitkamer aangesteek en ons het tog te lekker in die sitkamer gesit en gekyk hoe die son anderkant die berge sak en die eerste sterre in die naglug begin glinster. Die huisie het, nes Die Stalle, drie slaapkamers (slaapplek vir ses), ’n binnebraai in die eetkamer en konsertinadeure wat, as die weer dit toelaat, oopvou sodat die stoep en leefvertrek een word. Die vuurput op die grasperk voor die huisie is ideaal as jy onder die sterrehemel en om die vuur wil kuier.

Middelplaas

Middelplaas skuil aan die anderkant van die plaas naby die rivier. Dié snoesige tweeslaapkamerkothuis (slaapplek vir vier) het ’n braaiplek op die beskutte stoep en vuurput op die grasperk wat oor die rivier en op die berge uitkyk. As die weer nie lekker saamspeel nie, kan jy ook in die kaggel in die sitkamer braai. Langs die huisie is daar ook ’n groentetuintjie en die groter olyfboord waarmee Jan ’n beperkte hoeveelheid olyfolie en gebottelde olywe maak wat ook op die plaas te koop is.

Die buurplaas se diere wei reg langs Middelplaas.

OLYWE

Omdat topgehalte-portwynvariante so goed doen in die omliggende omgewing, het Jan besluit om met olywe te eksperimenteer. Hulle het bietjie rondgevra, navorsing gedoen en besluit op die tipe olyfolie wat hulle wil maak. Dis dié dat daar nou verskeie olyfboomkultivars in die olyfboorde staan. Die styl en karakter van die olyfolie verskil van jaar tot jaar omdat hulle besluit het om eerder die resep te volg wat Moedernatuur elke jaar optower as om by ’n spesifieke resep te probeer hou. Alles word met die hand gedoen, die olywe word met vurke van die bome af op nette “gehark” en dan in kratte na Die Skuur (net voor Middelplaas) vervoer. Daar is ook ’n klompie “Mission”-olyfbome op die plaas wat vir die gebottelde olywe gebruik word.

DOENDINGE

Jong, as jy hou van besig bly is dit nét die plek vir jou! Daar is fietsry- en staproetes vir almal, van stoelpatats tot kriewelkouse. Ons beveel die asemrowende roete wat by die privaat piekniekplek begin en al langs die rivier kronkel aan. Diegene met ’n bietjie meer uithouvermoë kan die langer roetes soos Huiskrans Steering se Kloof Sirkelroete en Steering se Kloof verken wat jou tot in die Swartberge vat. Kom baljaar op, in en langs die Gamkarivier (by Middelplaas en die piekniekplek) en bring gerus ’n dryfding saam, dit mag net nie ’n motor hê nie. Of kom swem in die regte plaasdam van ouds (by Die Stalle en Bokwagtershuis) saam met ’n padda of twee.
As jy jouself eerder op een plek wil neerplak vir die hele naweek, is dit ook in die haak ─ jy kan sommer vanuit die sitkamer of vanaf die stoep die sterre en voëls bekyk. Dié vallei is nog so ongerep dat die liggies van die omliggende dorpe nie jou uitsig belemmer nie en die voëltjies kom pik-pik sommer nét hier voor jou op die stoep. Pak ’n piekniekmandjie en geniet ’n salige dag langs die rivier by Matjiesvlei Cottages se privaat piekniekplek net voor Middelplaas (duidelik gemerk).

Daar is beslis nie ’n tekort aan foto-geleenthede in dié vallei nie – ’n hele handvol beeldskone bergpasse wag om verken te word. Dit sluit die Huisrivier-, Seweweekspoort-, Rooiberg-, Meiringspoort-, Potgieterspoort- en die Swartbergpas in.
Dit is nie nodig om iewers heen te ry as jy hiér by Matjiesvlei kom kuier nie. As jy genoeg hout, ietsie om op die kole te gooi en ’n bekroonde bottel port uit die omgewing het, is jy gereed om vir ’n paar dae heeltemal van jou sorge te vergeet. Daar is niks wat jou hiér op Matjiesvlei jaag nie, so bespreek sommer vandag nog ’n wegbreek by Matjiesvlei Cottages.

Foto’s: Willemien Engelbrecht en Matjiesvlei Cottages