Is die Gautengse geraas besig om jou onder te kry? Is jy op soek na die perfekte plek vir ’n stil en rustige naweek weg? Hoekom kies jy nie ’n bietjie koers na die KwaZulu-Natalse Middellande nie? Dis ’n lushof vir enige roetereisiger met uitstekende restaurante, bekoorlike koffieplekkies, interessante antiekwarewinkels en poskaartmooi natuurskoon om elke hoek en draai.

Die Middellande se lieflike landskappe sal met jou toor | Foto: justin_render (instagram) Hemelsblou lug en grasgroen velde | Foto: myworldinsidepictures (instagram)

Dié stukkie paradys strek vanaf die Ukhahlamba-Drakensberg Wêrelderfenisgebied tot neffens Pietermaritzburg, en daar is golwende grasgroen heuwels, mistige valleie en donkerblou bergspitse wat jou sal laat voel asof jy die platteland van Noord-Europa verken!

Kom ontdek saam met LekkeSlaap ’n skouspelagtige sirkelroete op die N3 en R103 in die mooie Middellande!

Ons roetereis spring weg net anderkant Mooirivier, sowat 4 uur vanaf Johannesburg, waar ’n mens die N3 verlaat en op die R103 klim. As jy jou op die twee laaste Saterdae van die maand hiér bevind, kan jy gerus inloer by die Rosetta Country Market in Rosetta — die roos van die Middellande. By dié markie kreun die tafels onder plantjies, kruie, hout- en handwerkprodukte, vars plaasprodukte en smullekker snoephappies!

Só lyk die uitsig by Rosetta Country Market | Foto: ben_wessels (instagram) Die stalletjies is gereed vir die skare | Foto: cazzie_rae (instagram)

Ná jou inkopietog by die mark, kan jy by een van dié lekker lêplekkies inklok vir ’n salige nagrus:

The Goose House | Glen Ormond Guest House

The Goose House | Foto: LekkeSlaap Glen Ormond Guest House | Foto: LekkeSlaap

Die poskaartmooi Nottingham Road | Foto: angeliqueca (instagram) Die land van melk en kaas! | Foto: maisy30 (instagram)

Die R103 kronkel tot in die immergewilde Nottingham Road waar jy gerus besoek kan aflê by Café Bloom — ’n ou pakhuis wat in ’n oulike restaurantjie omskep is. Keramiekware, plante en skilderye versier dié restaurant en skep ’n huislike atmosfeer. Elke middag word ’n verskeidenheid slaaie en varsgebakte brode op ’n tafel uitgepak sodat jy jou knuppeldik kan eet!

Die bekoorlike Café Bloom in Nottingham Road | Foto: thelmi (instagram) Dié oestafel lyk mos nou watertandlekker | Foto: cafe_bloom_nottingham_road (instagram)

As jy lus is vir ’n koue biertjie, moet jy by The Nottingham Road Brewing Company aandoen. Hiér word vars fonteinwater en goeie hop en gemoute gars gebruik om ’n verskeidenheid biersoorte te brou wat elkeen ’n gladde, vol smaak het. Die bierproekamer lyk soos ’n tradisionele Engelse kroeg, so bestel vir jou ’n Tiddly Toad-lager of ’n Pye-eyed Possom-pilsner en verbeel jou jy is in Engeland!

Die oulike en gesellige Nottingham Road Brewing Company | Foto: shazedden (instagram) Dís mos nou hoe ’n behoorlike bierproe moet lyk! | Foto: nixy_pie (instagram)

Het jy ’n soettand? Dan moet jy kom sjokolade proe by Chocolate Heaven in Nottingham Road. Daar is 40 verskillende sjokoladesoorte wat geure soos koeksister, fudge, karamel en selfs biltong, kerrie en koeksisters insluit. Jy en jou gesin kan ook ’n hemelse sjokoladedoopsessie geniet waartydens jolige sjokoladegevegte dikwels uitbreek!

Dié prettige sjokoladewinkel nooi jou gulhartig in | Foto: kritzingermichael (instagram) Stroopsoet sjokolade-aarbeie | Foto: minkys.co.za (instagram)

As jy tyd het om ’n effense draai te ry, moet jy Crystal Barn Country Estate besoek. Dié eklektiese juweeltjie lê langs die Rowe-dam en spog met ’n lieflike restaurant waar jy ’n viergang-aandete kan geniet. Gaste kan ook in The Legless-kroeg kuier of buite in die rustige tuin ontspan waar daar bekoorlike kafeestyl-sitplek is. Hiér kan jy ook salig slaap ─ daar is en suite-dubbelkamers, ’n gesinkamer en ’n oulike solderkamer wat elkeen helderkleurige versierings en byderwetse meubels het.

Kyk nou net hierdie besonderse uitsig! | Foto: crystalbarncountryestate (instagram) ’n Bekoorlike klipgebou só reg uit ’n sprokie | Foto: crystalbarncountryestate (instagram)

Nóg lekker lêplekkies naby Nottingham Road:

Gowan Valley Guest Farm | Kwa Jabu Accommodation

Gowan Valley Guest Farm | Foto: LekkeSlaap. Kwa Jabu Accommodation | Foto: LekkeSlaap.

Die volgende stopplek op ons roetereis is Swissland Cheese op die R103 net anderkant Nottingham Road in die rigting van Lidgetton-Wes en Leeurivier. Op dié bekende bokmelkkaasplaas kan ’n mens in die grasgroen veld piekniek hou of bokvoer koop om die dierbare bokke mee te trakteer. Maak seker jy proe die Chèvre-peperkaas as jy van iets met ’n byt hou!

Die bokke wat sorg vir Swissland Cheese se smullekker bokmelkkaas | Foto: gfsandi (instagram) Dís hoe ’n Swissland Cheese-kaasbord moet geniet | Foto: faycve (instagram)

’n Entjie verder kan ’n mens weer aftrek by Piggly Wiggly waar jy ’n padstal, restaurant, koffiewinkel én wynkelder sal aantref. Hiér kan jy die beste cappuccino in die kontrei bestel — sterk koffie wat met ’n skeut ryk sjokolodemousse bedien word. Dít klink mos nou dekadent! Jy kan sommer vir die hele oggend saam met die gesin hier uitspan, want daar is speelplek vir die kleinspan, ’n linne- en dekorwinkel vir ma en ’n wynwinkel vir pa!

Wingerde in die Natalse Middellande by Piggly Wiggly | Foto: sandynic1 (instagram) Hiér kan ’n mens mos nou lekke ontspan! | Foto: ceecestravel (instagram)

Vanaf Piggly Wiggly kan jy reguit aanhou op die R103 tot in die dorpie Leeurivier waar die laaste Middellande-leeu in 1856 geskiet is. In dié dorpie is daar ’n eklektiese koffiewinkel wat sommer dadelik jou hart sal steel. Steam Punk Café is in ’n interessante Steam Punk-styl getooi en versier met koperpype, swart mure, leerrusbanke en hangende gloeilampe. Die barista-eienaar is passievol oor sy winkel en die rooster van gehalte-koffiebone, en hy gesels land en sand terwyl hy koffiemaak.

Die byderwetse Steampunck Café | Foto: houseofhawkes (instagram) Dié koffieplekkie se binnekant is sjiek en eklekties | Foto: lifeofleani (instagram)

Net anderkant Leeurivier op die R103 het daar op 5 Augustus 1962 ’n groot geskiedkundige gebeurtenis afgespeel: Nelson Mandela is net hier langs die spoorlyn in hegtenis geneem. Die Nelson Mandela Capture Site-gedenkteken kan hier besigtig word. Met die eerste oogopslag lyk dié teken nie na veel, maar as jy hom vanuit die regte hoek bekyk, sien ’n mens duidelik Madiba se gesig. Dié kunswerk deur Jeremy Rose en Marco Cianfanelli is beslis iets besonders om te aanskou!

Die Apartheidsmuseum se Nelson Mandela Capture Site-gedenkteken is beslis iets om te besoek | Foto: zine_mbatha_wenqephu (instagram) Die merkwaardige kunswerk deur Jeremy Rose en Marco Cianfanelli | Foto: sametsi_m (instagram)

’n Mens moet natuurlik ook ’n draai by die allermooiste Midmardam gaan maak. Dié dam is langs die R103 in Howick se rigting en is die ideale plek vir swem, visvang en waterski. Dis ook lekker om op die damwal piekniek te hou en die uitsig te bewonder. Die jaarlikse Midmarmyl vind ook hier plaas en duisende swemmers stroom jaar na jaar na dié prentjiemooi bestemming.

Aktief langs die Midmardam | Foto: rideawaymtb (instagram) Die perfekte plek vir ’n piekniek! | Foto: travel_with_goetterbraut (instagram)

Ná hierdie skof van die verkenningstog kan jy by een van dié lekker lêplekkies gaan rus:

St Ives Lodge | Karkloof Safari Spa

St Ives Lodge | Foto: LekkeSlaap Karkloof Safari Spa | Foto: LekkeSlaap

Een van die hoogtepunte op dié roetereis deur die Middellande is natuurlik die Howick-waterval. Net buite Howick tuimel die magtige Umgenirivier 95 m oor ’n dolerietkrans tot in ’n reuse-poel vanwaar dit weer na die Indiese Oseaan vloei. Dis ’n skouspelagtige waterval wat die Zoeloes tereg die “KwaNoggaza”, oftewel “Die Plek van die Lang Een”, noem. Onthou om jou kamera saam te neem sodat julle ’n paar kiekies kan neem!

Die uitsigte rondom die Howick-waterval sal jou asem wegslaan | Foto: bondymos (instagram) Dié tuimelende watermassa is regtig besonders | Foto: mikejblythe (instagram)

Nadat ’n mens die waterval gesien het, is The Farmer’s Daughter in die hartjie van Howick ideaal vir ’n laatoggend-ontbyt. Dié oulike restaurant spog met ’n spyskaart propvol vars, heilsame disse wat jou mond behoorlik sal laat water. Probeer gerus die geposjeerde eiers — dis regtig ’n wenner!

The Farmer's Daughter is propvol outydse skatte | Foto: miss_noo (instagram) ’n Koppie boeretroos word keurig bedien | Foto: bridge_bolton (instagram)

Dis die moeite werd om tydens dié skof van die roetereis ’n effense draai tot by die Karkloof Natuurreservaat te ry — hiér kan jy ’n op ’n onvergeetlike boomtop-avontuur gaan! Terwyl jy oor die immergroen bome en varings gly, wys die gidse knysnaloeries, mooimeisies, woudpapegaaie en ander interessante spesies uit. Dis werklik iets om te beleef!

Kyk net daai uitsig! | Foto: dr_cherise (instagram) Hiér sal jy werklik tussen hemel en aarde hang | Foto: lacastan (instagram)

Ná hierdie avontuur kan jy salig slaap by Rockwood Lodges wat sommer net om die draai van die Karkloof Natuurreservaat is.

Rockwood Lodges lê op die Spitzkopplaas in die Karkloof Natuurreservaat | Foto: rockwoodlodges (instagram) Dié uitsig sal jou behoorlik bekoor | Foto: rockwoodlodges (instagram)

Nóg lekker lêplekkies rondom Howick:

Old Halliwell Country Inn | The Old Hotel

Old Halliwell Country Inn | Foto: LekkeSlaap The Old Hotel | Foto: LekkeSlaap

Vanaf Howick klim ’n mens op die N2 in Curry’s Post se rigting. Die Curry’s Post-grondpad draai links af en dis ’n gawe plan om ’n vinnige draaitjie tot by Lion’s River Trading Post te ry. Dié antiekwarewinkel sal jou hart sommer met die intrapslag steel — dis Victoriaanse meubels, silwerware en porseleinware nét waar jy kyk!

Die lieflike vallei naby Lion's River Trading Post | Foto: douglasmakin (instagram) Een van die historiese juweeltjies by Lion's River Trading Post | Foto: transkeipedigree (instagram)

’n Entjie verder ry ’n mens op Gourmet Greek af waar daar fynproewerskaas en -jogurt gemaak word. Die melkboere in die omgewing voorsien gehalte-volroommelk vir dié heerlike kaas en jogurt wat dan kunstig in die Blue Cow Deli uitgestal en verkoop word. Laai sommer ’n hele mandjie vol Gourmet Greek-produkte en drink ’n koppie boeretroos voor jy weer in die pad val.

Voor die Blue Cow Deli spog ’n stoet bulle | Foto: bluecowdeli (instagram) Gourmet Greek lê in die allermooiste vallei | Foto: thegourmetgreek (instagram)

Terug op die N3 kan jy weer in Mooirivier se rigting mik, maar eers by The Blueberry Café aftrek vir middagete. Dié kafeestyl-restaurant kyk uit oor die prentjiemooi Netherwoodplaas waar ’n klomp Nguni-beeste te siene is. Die hoenderslaai is heerlik en die bloubessie-kaaskoek is natuurlik uit die boonste rakke!

Hier by The Blueberry Café kan ’n mens mos nou ure vertoef | Foto: anebothaa (instagram) Die befaamde bloubessie-kaaskoek | Foto: josieb_sa (instagram)

Die Middellandse sirkelroete is amper voltooi. Net langs die N3 by die Nottingham Road-afdraai is daar ’n besonderse wildsplaas waar julle gerus kan gaan inklok vir die aand. Brahman Hills is in die Blue Crane Wildreservaat geleë en spog met hope doendinge, soos spa-behandelings, baarshengel, fietsry en wildkyk, en onbelemmerde uitsigte wat jou sprakeloos sal laat.

Om Tolkien se Hobbits hier by Brahman Hills te vind sal niemand verbaas nie! | Foto: ceecestravel (instagram) Braham Hills lê op golwende groen heuwels | Foto: ceecestravel (instagram)

Brahman Hills het ’n spoggerige restaurant op die perseel, maar as jy vir oulaas nog die omgewing wil verken, kan jy ’n tafel by The Midlands Kitchen vir aandete bespreek. Hulle bedien iets vir ’n ieder en elk se smaakvoorkeur, soos geurige pizzas, smullekker Indiese geregte, Meksikaanse disse en dekadente pasteie.

By The Midlands Kitchen kry jy iets van als | Foto: themidlandskitchen (instagram) Die pizza is smullekker | Foto: rynefer (instagram)

Nou ja toe, as die mooie Middellande jou ook nader lok en jou hart vinniger laat klop, is dié skouspelagtige sirkelroete nét vir jou! Die Middellande se lieflike landskappe sal jou bekoor en die oulike plattelandse dorpies sal jou laat glimlag van oor tot oor … Volg gerus ons lekker wenke en begin sommer nóú jou eie Middellandse roetereis beplan!

Hooffoto: Bigstock.