Hierdie week is LekkeSlaap op een van die OPTOG!-sterre se spoor: die man met die bekende swart baard! Jo Black en sy orkes toer wyd en syd in sy roomyskleur-kombi en dit lyk nie of dié man gou gaan stilstaan nie! Op 30 Julie skop Jo Black sy Namibië-toer af en daarom doen LekkeSlaap ’n bietjie spoorsnywerk om te sien waar Jo oral sy merk in dié woestynland gaan maak.

Keetmanshoop

Keetmanshoop is in die Karas-streek in die suide van Namibië geleë en is ’n gewilde oorslaapplek vir diegene wat deur dié pragtige land toer. Soos dit enige klein dorpie betaam, het Keetmanshoop ’n poskantoor, ’n sendingkerk en ’n hospitaal. Dit is egter die dorp se hartsmense en egte Namibiese gasvryheid wat ieder en elk nooi om hier af te saal. Jo se eerste optrede in Namibië is op 30 Julie by die Keetmanshoop Privaatskool en Bird’s Mansions Hotel nooi elke dorpsbesoeker uit om by dié bekoorlike plekkie hul koppe te kom neerlê.

Besienswaardighede in die omgewing

Rhenish-sendingkerk | Ou Poskantoorgebou | Brukkaros Krater | Quiver Tree Forest and Giants Playground

Stampriet

Stampriet is ’n klein stofpaddorpie sowat 64 kilometer noordoos van Mariental in die Hardap-streek. Dit is aan die dor bopunt van die Auobrivier en hiér leef mens en dier van boorgatwater. Die dorp is in 1898 as ’n Duitse handelspos gestig en is na die riete wat die inwoners moes aftrap om die boorgat te bereik, vernoem. Jo maak op 31 Julie sy verskyning in dié dorp by Elnatan Privaatskool en die bekende Stampriet Guest House is nét die plek om oor te staan as jy in dié geweste rondrits.

Besienswaardighede in die omgewing

Hardapdam | Gross Nabas

Tsumeb

Tsumeb is die grootste dorp in Namibië se Osjikoto-streek en staan as die poort na die noorde bekend. Dit is ook die naaste dorp aan die gewilde Etosha Nasionale Park. Die dorp is oorspronklik in 1905 as ’n myndorp gestig en ’n groot trekpleister in dié area is die twee reusagtige natuurlike mere naby die dorp, die Otjikotomeer en die Guinasmeer. Die diepte van die mere is onbekend omdat die diepste dele in laterale-grotnetwerke verdwyn en dis ’n bekende skubaduikbestemming. Op 1 Augustus maak Jo Black by Tsumeb se TeaterHuis ’n draai, en ’n nag by Minen Hotel is beslis nie te versmaai as jy in dié area kom afsaal nie.

Besienswaardighede in die omgewing

Etosha Nasionale Park | Cafe Greenhill | Hoba-meteoriet | Ghaub-grotte

Swakopmund

’n Besoek aan Namibië is beslis nie volmaak as jy nie in Swakopmund gaan draai het nie. Dit is hiér waar die woestynsand en seegolwe mekaar omhels en die doendinge en besienswaardighede in dié geweste is sowaar eindeloos. Soos die meeste Namibiese dorpe, spog Swakopmund met pragtige Duitse argitektuur en ’n diverse kultuur ─ as jy jou ore spits, hoor jy sommer Duits, Afrikaans, Engels én Herero op een plek! Swakopmund is uit en uit die prag van die Namibiese kus, en daarom is ’n Jo Black-vertoning op 2 Augustus by die Namib Hoërskool beslis nie iets om mis te loop nie. Bespreek sommer jou verblyf by The Stiltz en geniet ’n nag in dié Namibiese wonderdorp!

Besienswaardighede in die omgewing

Two Beards and a Saint | Desert Explorers | Pelican Point-kajaktoer | Goanikontes Oasis

Windhoek

Windhoek is in Namibië se sentrale hooglande in die Khomas-streek geleë en staan sedert Namibië haar onafhanklikheid in 1990 gekry het as dié land se hoofstad bekend. Die stad is byna presies in die land se geografiese middelpunt geleë en is beslis Namibië se ekonomiese kern. Die Duitse invloed is steeds duidelik sigbaar in die stad se argitektuur, en die strate spog met ’n byna tasbare kulturele dinamiek. Dis g’n wonder dat Jo Black sy Namibiese toer in dié pragstad by Windhoek Hoërskool op 3 Augustus afsluit nie. Klok gerus ’n nag by Merwe’s Inn in en verken dié historiese stad se eindelose besienswaardighede.

Besienswaardighede in die omgewing

Namibia Craft Centre | Nasionale Botaniese Tuin | Daan Viljoen Wildreservaat | Joe’s Beerhouse

Maak solank voorbrand vir die res van Augustus se OPTOG!-program!

Laurika Rauch | 24 Augustus | Polokwane | Bespreek by iTickets

Jo Black | 24 Augustus | Bothaville | Bespreek by iTickets

Elvis Blue | 28 Augustus | Welkom | Bespreek by iTickets

Elvis Blue | 29 Augustus | Bloemfontein | Bespreek by iTickets

Elvis Blue | 30 Augustus | Kimberley | Bespreek by iTickets

Jo Black | 31 Augustus | Hoedspruit| Bespreek by iTickets

Elvis Blue | 31 Augustus | Upington| Bespreek by iTickets

Volgende keer gesels ons met die legendariese tenore van Drie van die Bestes, so hou ons LekkeSlaap-blogblad dop en moenie dit misloop nie!

Hooffoto: Verskaf