Ja daar is drie susters, drie susters op Drie Susters. Dis lekker op Drie Susters! Dié gewilde liedjie van Pieter Koen was nog nooit méér in die kol nie! Hierdie maand reis OPTOG! na Malmesbury, Port Elizabeth, Oos-Londen en Amanzimtoti, en bekoor gehore met Lizz Meiring, Nicole Holm en Margit Meyer-Rödenbeck se nuwe verhoogstuk, 3 Susters. Dié stuk gee gehore die kans om saam met die drie susters deur die slaggate en mynvelde van verhoudings, vrou- en ma-wees te reis.

LekkeSlaap het by dié trio gaan aanklop en ’n paar vrae gestel oor dinge wat ons brand om te weet! Wees gewaarsku, dinge is nie altyd soos dit lyk nie, en met dié drie karakters kan jy nooit regtig voorbereid wees op wat hulle gaan kwytraak nie!

Ons vrae aan Lizz Meiring

LS: 3 Susters toer behoorlik die land plat! Wat is die drie dinge waarsonder jy nie kan reis nie?

O my aarde, daar’s nie net drie nie, daar’s omtrent 300! Maar daar is ’n Sjinese olie met die naam White Flower Oil wat enige iets van sinusitis tot naarheid, seer spiere, wonde, tot alles kan behandel. Ek is ook maar ’n make-up girl, so ek het maar altyd grimering by my, veral rooi lipstiffie, want dit laat my goed voel. Laastens sal dit skoene wees, skoene vir verskillende geleenthede, maar ek het darem al deur die jare geleer om minder in te pak.

LS: Is jy ’n naguil of ’n oggendmens?

Beide, maar in die middag wil ek siesta, dit is wanneer my energie drop. Oggende is ek pyn-in-die-nek vrolik en in die aande werk ek meestal.

LS: Voltooi die sin: Dit is die lekke’ste lekke om…?

Om saam met my honde te cuddle, ek mis hulle verskriklik as ek op reis is. Ek het drie honde, Buster, Babette en Yipee. Daar is niks soos ’n warm hondelyfie hier by mens nie.

Ons vrae aan Margit-Meyer Rödenbeck

LS: Suid-Afrika is baie lief vir Dolla, maar ons wonder nog altyd: Waar kom sy vandaan en hoe is haar karakter geskep ─ miskien iemand wat jy op skool geken het?

Kan jy glo die karakter is seker so 24 jaar terug geskep en tyd vlieg terwyl jy pret het. Nee, sy is nie geskoei op ’n spesifieke persoon nie, hoewel daar baie Dollas om ons rondstap. Ek en Pedro (Kruger) het 24 jaar terug, so 2 dae voor die opening van ’n revue waarin hy ons begelei het, die karakter uitgedink, want daar was ’n komedie-opening. Toe sit ek en dink aan ’n blonde meisietjie wat die switchboard operate by die regeringskantore en die eindelose verwarring en misverstande aan haar kant en die frustrasie aan die ander kant van die lyn. Dowwe Dolla was die eerste 3 jaar net ’n cameo en meeste van haar sketse was op die foon, waar jy net haar kant van die storie hoor. En die stokkielekker was daardie aand in my handsak en ek het dit gesuig terwyl ek die karakter so stuk-stuk aanmekaar gesit het en besluit om die lolliepop te hou vir business. Ek was nuut in komedie. Wat doen jy met jouself as mense (hopelik) lag en nou sit ek met die gebakte pere (lolliepop)!

LS: Jy is mede-eienaar van Die Boer-teater in Durbanville waar honderde kunstenaars al opgetree het. Watter kunstenaar sal jy nog graag op Die Boer se verhoog wil sien?

Cyndi Lauper. Voer my onmiddelik terug na my universiteitsdae, maar op ’n ernstige noot: Elke kunstenaar, nuweling of ikoon bring iets spesiaal na die verhoog by Die Boer. Die genres is so uiteenlopend en partykeer is daar ses verskillende shows per week.

LS: Wie sou jy sê is die grootste grapjas tussen julle drie?

Ek dink nie een van ons is regtig ’n grapjas nie ─ die snaakste vir my af van die verhoog is ons tegniese regisseur, Jeanne Steenkamp ─ super droë humorsin. En Lizz is ’n lopende ensiklopedie, met wonderlike staaltjies en stories.

Ons vrae aan Nicole Holm

LS: Ons was absoluut mal oor Die Boekklub! Sou jy ooit kon aard op ’n klein dorpie soos Merweville, of is jy maar ’n stadsmens?

Nee, helaas ly ek nog steeds hewig aan FOMO. So ’n klein dorpie is my nog nie beskore nie. Maar eendag sal ek genoeg vrede hê om êrens klein te gaan woon. Maar dit sal by die see moet wees.

LS: Watter medium bly maar jou hart se punt: teater of TV?

Ag jong, teater sal jou altyd harder laat vloek, maar ook meer laat glimlag.

LS: Is jy ’n naguil of ’n oggendmens?

Absolute oggendmens ─ van daai wat onmiddellik opspring (effe manies) as die wekker afgaan!

LS: Wie sou jy sê is die grootste grapjas tussen julle drie?

Lizz! Mens sou dink haar grappe moet teen dié tyd nou al afgesaag wees vir my, maar sy is wragtig die weduwee se kruik. Ek sit en lag soms sommer weer in die kar op pad huis toe na ’n show oor ’n ding wat sy kwyt geraak het vier uur gelede voor die show.

Vraag aan die trio

LS: Waar hou jy graag vakansie?

Lizz: Sjoe, ek was vyf jaar laas met vakansie, maar as ek kan, dan gaan ek graag Europa toe, want ek is lief vir ou kulture en ek is lief vir die geskiedenis, die visuele kuns, argitektuur en teater. Ek is die soort wat in museums rondloop. Moet my asseblief net nie vra om soos ’n kafee-hoender op ’n rotisserie op ’n strand te lê nie! Ek kan dit nie doen nie, sand kom oral in waar dit nie moet nie. Ek is ook glad nie ’n kampeer mens nie, ek hou van luxury!

Margit: Ons was pas in Praag, Wene en Budapest. Beeldskoon, so baie om te sien, veilig, vriendelik en eintlik nog bekostigbaar, maar met so vakansie rus jy nie uit nie ─ te veel om te doen, netnou mis ek uit! My lekkerste vakansie is by ons eie strandhuis in Pringlebaai ─ lang dae van lê en boeklees en uitkyk op die see en die berge, die mooie natuur. Verkwikking. En natuurlik kom niks dan by so ’n pajamadag by die see in die winter nie.

Nicole: Enige plek langs die see. Ek is ’n see-kyker, nie ’n see-swemmer nie, so ek hou veral van die Weskus waar die dorpies kleiner en die mense minder is. Maar terselfdertyd laat ’n plek soos Wildernis my telkens weer laat vermoed dat feetjies tog bestaan.

Gehore kry die geleentheid om drie absolute legendes saam op die verhoog te beleef en ons is seker dat hierdie verhoogstuk ’n definitiewe drie onder die kultuurpale sal wees!

Ons topkeuses

Hierdie maand se program

3 Susters | 16 Julie | Malmesbury | Bespreek hiér | Bly hiér
Laurika Rauch | 17 Julie | Welkom | Bespreek hiér | Bly hiér
3 Susters | 18 Julie| Port Elizabeth | Bespreek hiér | Bly hiér
3 Susters | 19 Julie | Oos-Londen | Bespreek hiér | Bly hiér
3 Susters | 20 Julie | Amanzimtoti | Bespreek hiér | Bly hiér
Laurika Rauch | 26 Julie | Sasolburg | Bespreek hiér | Bly hiér
Stef Bos | 27 Julie | Parys | Bespreek hiér | Bly hiér
Jo Black | 29 Julie | Upington | Bespreek hiér | Bly hiér
Jo Black | 30 Julie | Keetmanshoop | Bespreek hiér | Bly hiér
Jo Black | 31 Julie | Stampriet | Bespreek hiér | Bly hiér

Hooffoto: Verskaf