Dié week reis die OPTOG!-kombi’s vanaf Port Elizabeth en die Paarl na Kathu, en sterre soos Nataniël, Coenie de Villiers en Deon Meyer sluit by dié teater-troebadoer-toer aan ─ alles in die naam van vermaak!

Hierdie week tree Joshua na die Reën (JNDR) in die klein dorpie Kathu, in die Noord-Kaap op en LekkeSlaap het ’n vinnige geselsie aangeknoop voor hy in die pad val.

Kathu is die Noord-Kaap se ysterertshoofstad en beteken “dorpie onder die bome”. Dié myndorpie is in die hartjie van die Kalahari en sowat drie uur se ry vanaf Kimberley. Kameeldoringbome, wat sinoniem met goeie braaihout is, is volop in dié streek. Die kameeldoringbome in die Kathu-woud word vandag as ’n bedreigde gebied beskou en is in 2009 tot die eerste beskermde bosveld in Suid-Afrika verklaar. Wie weet, dalk inspireer die kameeldoring JNDR om nóg ’n treffer te skryf.

JNDR is ’n kunstenaar wat met sy droomagtige lirieke bekendheid verwerf het. Lirieke wat spreek van skoonheid, hoop, liefde en verdwaal in die ongerepte natuur. Hy is een van vele kunstenaars wat hierdie jaar in die OPTOG!-kombi spring om Suid-Afrika se landskap te verken en dis iets wat nie aan hom onbekend is nie. LekkeSlaap het by dié dromer gaan uitvind waar hy die graagste verdwaal.

LS: Jy skryf dikwels liedjies oor die natuur en landskappe. Waar in Suid-Afrika vind jy die meeste inspirasie?

JNDR: Die Tuinroete ─ Wildernis- en George-omgewing.

LS: Het jy al op reis of onderweg na ’n vertoning verdwaal? Indien wel, wat het gebeur?

JNDR: Dit gebeur dikwels, veral met ’n GPS op toer na ’n plek soos Prieska en die GPS neem jou op die beste moontlike pad, wat dan ’n 50 kilometer lange grondpad tot by die plek is.

LS: Watter een van jou liedjies dra die meeste herinnering en waarom?

JNDR: Dra die liggies op my eerste album is ’n liedjie wat my altyd terugvat na waar ek dit geskryf het ─ in die Swartwoud in Duitsland. Daar was duisende vuurvliegies in die woud en ek sal nooit daai aand vergeet nie ─ hoe dit simbolies geraak het van die mens se lewe en wanneer jy in ’n donker woud sit en die vuurvliegies wys jou watter kant toe die pad uit is.

LS: Jou verhoognaam beteken hoofsaaklik “groei” en dit blyk duidelik in jou musiek wat as ’t ware ook deur verskillende seisoene beweeg. Is daar ander temas of musikale aspekte waarmee jy in die toekoms meer wil eksperimenteer?

JNDR: My nuwe album, Someraarde, is reguit geskryf en ek het minder beelde gebruik om te sê hoe ek voel. Hoe ouer en gemakliker ’n mens word om dinge te ervaar, hoe makliker word dit om iets reguit te sê. Dis interessant as ek kyk na my eerste album, en nou, na my derde album waarmee ek besig is, hoe dit groei van hoe ’n kind dink na hoe ’n grootmens oor “goeters” dink. My neiging is egter om terug te beweeg na beelde toe. Beelde is immers deur die eeue heen dit waarop stories gebaseer is en wat vir ’n mens sin maak ─ mense vind meer aanklank by ’n beeld eerder as ’n reguit emosie of ’n beskrywing van iets.

LS: Wat kan luisteraars van jou nuutste album verwag?

JNDR: My nuwe album, Someraarde, is opgedra aan my broer, Pierre. Van kleins af is hy iemand wat mense geïnspireer en uitgedaag het om te dink oor die lewe. Baie keer sou ek net in my kamer besig wees met my eie dinge en hy sou my dan uitdaag met een of ander filosofiese stelling wat my vir drie weke laat wonder het wie ek is. Ná drie weke sou ek die waarde van sy stelling besef. Dié album is vol temas en lesse wat ek by my broer geleer het. Ek het die album ook self vervaardig en daar is ’n sterk organiese klank, behalwe vir twee liedjies wat deur die vervaardiger, Ewald Jansen van Rensburg, vervaardig is.

LS: Jou eerste optrede is in Kathu. Was jy al daar en het jy al voorheen daar opgetree?

JNDR: Ek was al in Kathu. Ek het al daar oorgeslaap op pad iewers heen, maar het nog nooit daar opgetree nie.

LS: Waar is jou gunstelingplek om heen te toer?

JNDR: Die Tuinroete af tot by Kaapstad is vir my ’n lekker toer. En dan die Oos-Vrystaat – Ladybrand en daai plekke.

LS: Noem drie dinge wat jy altyd saamvat wanneer jy toer.

JNDR: My filosofieboek, klawerbord en ’n koffiekrat ─ ons is eintlik “koffie-snobs”.

LS: Beskryf jou ideale vakansie.

JNDR: Hogsback in die Amatolaberge ─ ’n plek waar daar berge en woude is en ’n pluspunt as die see ook naby is.

LS: Watter kunstenaar se musiek is tans op jou speellysie?

JNDR: Coldplay.

LS: Voltooi die sin: Dit is die lekke’ste lekke om …

JNDR: … tyd saam met vriende deur te bring.

As die kameeldoringhout eers brand is dit maar moeilik om die braai vaarwel te roep. Dalk oortuig een van dié lekker blyplekke om nóg langer te bly.

Ons topkeuse

Ander lekke opsies

Hierdie week se program

Nataniël | 2 April | Port Elizabeth | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 3 April | Oos-Londen | Bespreek hiér | Bly hiér
Joshua na die Reën | 5 April | Kathu | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 6 April | Malmesbury | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 6 April | Hermanus | Bespreek hiér | Bly hiér

Volgende week se program

Mathys Roets, Danie Niehaus & Kevin Leo | 9 April | Pretoria | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 10 April | Kuruman | Bespreek hiér | Bly hiér
Mathys Roets, Danie Niehaus & Kevin Leo | 10 April | Roodepoort | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 11 April | Upington | Bespreek hiér | Bly hiér
Sandra Prinsloo | 12 April | Bloemfontein | Bespreek hiér | Bly hiér
Mathys Roets, Danie Niehaus & Kevin Leo | 14 April | Rustenburg | Bespreek hiér | Bly hiér

Hou ons LekkeSlaap-blogblad dop om te sien met watter kunstenaars ons in April gesels en wanneer OPTOG! ’n draai op jóú tuisdorp kom maak!

Hooffoto: Deur OPTOG! verskaf