Almal het ’n gunstelingdier en myne is ’n pikkewyn! Daar is iets besonders aan dié koddige verebondels wat nóg vis, nóg voël is en, soos mense, ’n klippie aan hul gekose lewensmaat gee om hul getrouheid te wys. Die Two Oceans Akwarium in Kaapstad het LekkeSlaap genooi om ’n Penguin Experience by te woon en ek was in die wolke. ’n Mens kry nie aldag die geleentheid om in ’n veilige omgewing van aangesig tot aangesig met ’n pikkewyn te kom en meer oor dié merkwaardige diertjies te leer nie!

Geelkuifpikkewyne

Tydens ’n Penguin Experience neem ’n ervare gids twee besoekers om die geelkuifpikkewyne by hul swembad te ontmoet. Geelkuifpikkewyne kom hoofsaaklik op Tristan da Cunha en Gough in die suidelike Atlantiese Oseaan voor en hulle is dus duisende kilometer van hul tuiste af wanneer hulle aan die Suid-Afrikaanse kus strand. Dis presies wat met die akwarium se groot kokkedoor, Grommet, gebeur het toe hy in 2000 in Kleinbaai uitgespoel het. Nadat SANCCOB hom gerehabiliteer het, is hy aan die akwarium oorhandig waar hy drie jaar later die liefde van sy lewe, Roxy, ontmoet het. Roxy is ook deur SANCCOB aan die akwarium oorhandig nadat sy as byvangs op ’n visserskuit beland het. Sy was in vislyn verstrengel wat ’n permanente keep naby haar linkerswemvlerk se punt gelaat het. Ten spyte van dié nare ondervinding is Roxy ’n grasieuse pikkewyn en versot op sonbaai en garnale ─ moet haar net nie steur wanneer sy verveer nie!

Van links na regs: Clax, Miss Harold Custard en Chippy-Goodwill (Foto: Devon Bowen, Two Oceans Akwarium)

Dié pronkpaartjie se eersteling, Clax, is in 2014 gebore en is die eerste geelkuifpikkewynkuiken wat in Suid-Afrika uitgebroei het. Sy is ’n vurige pikkewyntjie wat graag mense dophou, haar vere tydens etenstyd oppof en hard probeer om haar pa na te aap. Haar sussie, Miss Harold Custard, het in 2016 met behulp van die SANCCOB Chick Rearing Unit uitgebroei. Daar is aanvanklik vermoed dat sy ’n mannetjie is omdat sy so vinnig gegroei het en daarom is sy Harold gedoop. Tot groot verbasing is daar later vasgestel dat sy ’n wyfie is en sy is Miss Harold Custard herdoop weens haar snawel se vla-geel punt. Al die pikkewyne hou daarvan om in die groot swembad te baljaar, maar Custard verkies die swembadjie by die pikkewynstrand. Wanneer sy sien mense hou haar dop, maak sy kaperjolle in die water om die toeskouers te vermaak. Sedert Desember 2017 moet sy egter die kollig met haar boetie, Chippy-Goodwill, deel. Dié twee wedywer dikwels om te kyk wie die hardste kan lawaai en Chippy kla gereeld as hy nie eerste kos kry nie. Nes sy ma is hy gaande oor sonbaai en hy staan gewoonlik langs haar en strek sy swemvlerkies uit om die sonstrale te vang.

Van links na regs: Teddy, Hopper en Jasmin (Foto’s: Mandi Zastron)

Buiten dié oulike pikkewyngesin maak ’n mens ook met die akwarium se oudste geelkuifpikkewyn, Teddy, kennis. Teddy is al meer as dertig jaar oud en ten spyte van sy skete en kwale, hou hy daarvan om opgetel te word. Dan strek hy sy swemvlerke uit asof hy vlieg ─ al kan pikkewyne nie vlieg nie! Een van die jonger pikkewyne, Jasmin, steur haar nie aan mense nie en verkies om eerder in die water te rinkink. Omdat geelkuifpikkewyne nie landelike vyande op hul herkomseilande het nie, vrees hulle nie mense nie en Hopper, die pikkewyn met die swart strepie op sy voet, is natuurlik voor in die koor. Hy spring gewoonlik eerste op jou skoot en is mal daaroor as sy vere gestreel word. ’n Pikkewyn se vere is dik, sag en glad en hulle hou ook daarvan om aan ’n mens se vingers te knibbel ─ dis gelukkig glad nie seer nie!

Ná ’n Penguin Experience word die geelkuifpikkewyne onder ’n luide gekwetter deur die akwarium se opgeleide personeel na hul strand vergesel en onderweg skoongespuit. Enige besoeker kan vanaf 14:00 na dié waggelende wonders op hul strand gaan kyk.

Afrikapikkewyne

Dié pikkewyne in hul swart en wit aandpakke word ook by die akwarium aangetref en besoekers kan tussen 11:00 en 12:00 kyk hoe hulle gevoer word. Net soos die geelkuifpikkewyn is die Afrikapikkewyn ’n bedreigde spesie. Hulle kom slegs aan Afrika se suidwestelike kus tussen Namibië en Algoabaai voor. As jy dié diertjies in hul natuurlike habitat wil aanskou, kan jy ’n draai op die beskutte Bouldersstrand in Simonstad gaan maak.

Heel links: Nonu, en voor: Alan (Foto: Mandi Zastron)

Two Oceans Akwarium

Van ’n soektog na Nemo en voersessies, tot ’n haaitenk en opvoedkundige klasse ─ die akwarium kan die jongspan heeldag besighou!

Dut naby die akwarium

Bespreek oornagverblyf wanneer jy die Moederstad besoek sodat jy die Two Oceans Akwarium en ander Kaapse trekpleisters, soos Tafelberg, die Kasteel de Goeie Hoop en die V&A Waterfront behoorlik kan verken.

Baie dankie aan die Two Oceans Akwarium vir die voorreg om ’n pikkewyn te kon ontmoet en vir die wonderlike werk wat julle doen om dié diertjies se voortbestaan te beskerm.

Hooffoto: Grommet (Mandi Zastron)