Daar word darem maar ’n groot affêre van ’n troue gemaak ─ en met goeie reg! Maar voor die bruid in die gangetjie afgesweef kan kom, lê daar eers ’n lewensbelangrike vraag en die oorhandiging van ’n koeëlronde blink dingetjie vir jou voor.

’n Verlowing is terselfdertyd ’n groot lewensstap én ’n wonderlike geleentheid om te vier wie julle as ’n paartjie is. Of julle plaasjapies, stadsjapies, strandmense of dromers is, LekkeSlaap.co.za het ’n lys van die mees romantiese plekkies saamgestel waar jou geliefde nie sommer nee sal sê nie!

Die romanse van twee mense in ’n tent is onmiskenbaar, maar vir ’n verlowing kan ’n ekstra tikkie glans ’n groot verskil maak! Probeer een van dié glanstente vir ’n verlowingstorie wat tegelyk luuks en rustiek is.

Bundox Safari LodgeLimpopo

Vra die groot vraag op ’n vroeëoggend-wildrit, oor ’n smullekker ete, of in die privaatheid van julle luukse tent by hierdie safari-lodge in die Bosveld.

Bundox Safari Lodge

Ngama Tented Safari Lodge, Limpopo

As ons ’n Rand gehad het vir elke LekkeSlaper wat híér die groot vraag gevra het, het ons al self ’n verloofring gekoop! Volg in talle gelukkige paartjies se voetspore by dié luukse lodge met sy uitkykdekke, plonspoele, wandelpaaie, bomas en romantiese piekniekplekkies.

Ngama Tented Safari Lodge

Letsatsi Game Lodge, Vrystaat

Bekostigbaar én beeldskoon is twee dinge wat ’n mens in beide ’n verloofring én romantiese verblyf soek. Wel, Letsatsi Game Lodge het dít en nog meer! Hiér in julle bostentjie tussen die bome sal julle die skoot darem hóóg deur hê.

Letsatsi Game Lodge

Namaqua Flower Beach Camp, Noord-Kaap

As jy van plan is om jou blom tussen Augustus en Oktober te vra om te trou, sal hierdie Namakwalandse strandkamp op dié beroemde veldblomtapyt haar asem behóórlik wegslaan ─ om nie eers te praat van daardie ring nie!

Namaqua Flower Beach Camp

’n Wildrit is só ’n opwindende, verrykende ervaring en al die olifante sal saam trompetter wanneer jou geliefde die ja-woord gee. Diereliefhebbers sal in die sewende hemel wees by enige van dié safari-lodges!  

Plettenberg Bay Game Reserve, Wes-Kaap

By dié weelderige wildreservaat in Plettenbergbaai lyk selfs die leeus smoorverlief ─  dit moet Plett se seebriesie wees wat die liefde so aanvuur! Boonop sal die naggeluide en die maan wat op die water weerkaats die perfekte atmosfeer vir só ’n groot oomblik skep.

Plettenberg Bay Game Reserve

Cradle Boutique Hotel, Gauteng

Cradle Boutique Hotel bied die perfekte kombinasie van weelde en wildprag! Dit is die ideale bestemming as jy vinnig saam met jou liefie uit die besige stad wil wegbreek om die groot vraag te vra.

Cradle Boutique Hotel

Tutwa Desert Lodge, Noord-Kaap

Asemrowende wildritte oor rooi sandvlaktes, fynproeweretes, ’n oop sterrehemel en salige stilte wag op jou en jou geliefde by Tutwa in die hartjie van die Groen Kalahari ─ hoe kan ’n mens dan nou nee sê na só ’n bederf!

Tutwa Desert Lodge

La Kruger Lifestyle Lodge, Mpumalanga

Dié luukse lodge is net ’n klipgooi van Mosambiek en Swaziland se grens af en bied weelde en wild in oorvloed. In die rotspoel, voor die kaggel of op ’n wildrit ─ watter een van dié sal jou duifie die meeste bekoor?

La Kruger Lifestyle Lodge

As julle nie van groot gebare en besige skares hou nie, is dit miskien wys om saam die stilte in te drink en een van hierdie rustige wegbreke te kies vir die groot vraag.

Snyderskloof Karoo Cottage, Wes-Kaap

Laat die sterre julle snags omvou en die persgroen Karoovlaktes julle bedags bekoor by hierdie afgeleë kothuis in die Karoo. Snyderskloof se ongekunstelde dekor en helder sterreruim is die toonbeeld van romanse!

Snyderskloof Karoo Cottage

Giants Cup Wilderness Reserve, KwaZulu-Natal

Roei ’n bootjie tot in die middel van die spieëlgladde meer en vra dan daardie allerbelangrike vraag met nét die reënboogforel en berglandskap rondom julle om haar antwoord te hoor!

Giants Cup Wilderness Reserve

Plato Lodge, Noord-Kaap

Hierdie lieflike lodge is in die middel van die Namakwalandse blomroete onder ’n helder sterreruim geleë. Die bekende Augrabies-waterval is ook net om die draai en is die perfekte plek om julle nuus aan die groot waters te verkondig!

Plato Lodge

Dit is nou wel nie almal se smaak nie, maar as jy weet dat jóú maat voor geliefdes die groot vraag wil hoor, is hierdie romantiese braaiplekke ’n uitstekende keuse!

Brinksfontein Guest House, Wes-Kaap

Al julle beste vriende kan getuie speel tot die groot oomblik as jy hierdie gerieflike Karoo-huis vir ’n gesellige verlowingsnaweek bespreek.

Brinksfontein Guest House

Klipfontein Bushcamp, Mpumalanga

Kom in ’n stoet 4×4’s om die naweek by hierdie boskamp vir avonturiers deur te bring ─ maak net seker die blink dingetjie is veilig in jou sak versteek sodat jy hom nie gedurende julle avonture langs die pad verloor nie.

Klipfontein Bushcamp

Sea Shack, Wes-Kaap

’n Strandkamp en ’n vreugdesvuur klink vir ons ideaal. Wat nog te sê as dit nét buite die bekoorlike kusdorpie Paternoster geleë is. Onthou om daai vriend met sy kitaar en bekfluitjie te nooi!

Sea Shack

As soutwater deur julle albei se are bruis, sal een van hierdie uiteenlopende strandwegbreke beslis jou oog vang!

On the Beach, Wes-Kaap

Die naam sê áls! Hier kan julle na die branders luister en julle tone in die sand steek om die spesiale oomblik saam te geniet voor die wêreld daarvan hoor.

On the Beach

Thonga Beach Lodge, KwaZulu-Natal

Jy hoef nie Mosambiek toe te piekel om haar onderwater die vraag te vra nie! Hierdie asemrowende strandlodge bied skubaduiklesse en wonderlike seelewe wat julle saam kan verken.

Thonga Beach Lodge

Knysna Houseboats, Wes-Kaap

Vier julle verlowing aanboord julle eie liefdesbootjie op die Knysnameer ─ oesters, vonkelwyn en al!

Knysna Houseboats

Polsend. Lewendig. Opwindend. As julle die stad op sy beste wil ervaar, is hierdie drie pragplekkies die moeite werd om te oorweeg.

The Grand Daddy Boutique Hotel, Wes-Kaap

Meer Hollywood sal jy nie sommer kry as dié bekoorlike boetiekhotel in die hartjie van die Moederstad nie ─ kom verbeel julle julle is filmsterre vir ’n aand of twee!

The Grand Daddy Boutique Hotel

One&Only Cape Town, Wes-Kaap

Buig die knie by hierdie spoghotel in Kaapstad terwyl Tafelberg skouspelagtig in die agtergrond pronk.

One&Only Cape Town

The Oyster Box, KwaZulu-Natal

’n Meer romantiese uitsig as dié een by The Oyster Box sal jy nie sommer kry nie. Kom ervaar net die beste van alles by ’n spoghotel langs Durban se warm waters.

The Oyster Box

Vars lug en staproetes wat die allermooiste landskappe ten toon stel wag op julle by hierdie pragtige wegbreke in die buitelug.

Blouberg Camp, Limpopo

Die pragtigste natuurtonele kan met behulp van ’n vriendelike gids verken word by hierdie lodge. Klouter oor berge en baan jou weg langs kabbelende waterstroompies om die perfekte, romantiese plekkie vir die groot geleentheid te kry.

Blouberg Camp

Dumbe Cottages, KwaZulu-Natal

’n Romantiese bergkothuis is die ideale bestemming as julle wil sien net hóé blou die berge dan nog lê! Terwyl jou geliefde daar dóér fokus kan jy daardie ring uit sy bêreplekkie haal vir die groot verrassing.

Dumbe Cottages

Karkloof Safari Spa, KwaZulu-Natal

’n Kort stappie vanaf dié prag-lodge neem jou tot by die Karkloof-waterval waar julle saam die uitsig kan geniet! Vat ’n piekniekmandjie saam om die oomblik nóg meer spesiaal te maak.

Karkloof Safari Spa

Platbos Log Cabins, Wes-Kaap

Berge, rustige waters en afsondering wag op julle by hierdie houthuisies. Pak een van vele doendinge in die omliggende omgewing aan en asem die vars lug in voor julle moet terugkeer om al julle vriende die goeie nuus te vertel.

Platbos Log Cabins

As julle albei se gunstelingplek droomland is, kan een van hierdie plekkies miskien van daardie drome bewaarheid.

The Stables and Loft @ Glenogle Farm, Limpopo

Ervaar die betowering van Magoebaskloof se woude wanneer jy die solder-suite op Glenogle Farm bespreek. Teen hierdie sprokiesagtergrond is jy verseker van ’n hele paar magiese oomblikke saam met jou wederhelfte!

The Stables and Loft @ Glenogle Farm

Garden Route Game Lodge, Wes-Kaap

Laat jou geliefde salig in ’n sterretjiesbad agteroor lê en eers behoorlik besin oor hoe lief sy jou het voor jy die vraag vra. ’n Slim man werk mos met ’n plan!

Garden Route Game Lodge

Forest Valley Cottages, Wes-Kaap

Boomtoppe so ver as wat die oog kan sien, en nét julle twee om dit te bewonder. Dit klink vir ons soos ’n droom-verlowing!

Forest Valley Cottages

As julle harte met ’n punt plaas toe trek kan jy nie verkeerd gaan met hierdie wonderlike wegbreke tussen blomme, wingerde en boorde nie!

Bethulie Guest Farm, Vrystaat

Is jou geliefde so helder en sprankelend soos ’n sonneblom? Dan is Bethulie Guest Farm se sonneblomvelde miskien nét die plek! Maak net seker jy bespreek ’n wegbreek wanneer die geel oes in sy volle glorie is!

Bethulie Guest Farm

Klein Nektar Farm Cottage, Wes-Kaap

’n Laatmiddagwandeling of ’n piekniek tussen olyfbome klink vir ons soos die perfekte manier om enigiemand se hart op Roete 62 te steel!

Klein Nektar Farm Cottage

Tangleberry Cottage, Wes-Kaap

Wingerde is nie net goed vir wynbou nie ─ dis is ook ’n puik plek om verloof te raak. Wie weet? Miskien raak julle jare soos goeie wyn oud in kanne vol vriendskap en sonskyn á la Koos Kombuis!

Tangleberry Cottage

Waar jy ook al kies om die vraag te vra, ons is seker haar antwoord is ’n klinkende “ja!”. Ons bied maar net ’n helpende hand om die liefdesvure te laat helder brand!

 

Hooffoto: Bigstock