Dis somervakansie en jy baljaar sielsgelukkig in die branders. Maar dan verskyn ’n vreesaanjaende vinnetjie uit die niet … Om dié beklemming te vermy, vertel LekkeSlaap jou van 10 gesinsvriendelike getypoele al langs ons land se kus. Ons gee jou ook gesinsverblyfopsies sodat jy salig kan rus!

Kampsbaai-getypoel

Atlantiese Seekus, Wes-Kaap

Dié getypoel, in een van die Moederstad se mooiste voorstede, is ideaal as jy ’n rukkie uit die stad wil ontsnap. So, pak ’n piekniekmandjie, plons ’n paar uur in die water rond en word beloon met ’n skouspelagtige Kaapse sonsondergang!

Glen Sunsets Villa | Bali Bliss | Panacea

Granny’s Pool

Suidkus, KwaZulu-Natal

As jy heeldag op jou rug wil dobber en lugkastele bou, is Granny’s Pool net vir jou! Die rotsagtige rand keer die wit perdjies af en die louwarm water maak swem ’n plesier. Daar is ook ’n paar duikplekke vir die brawer siele.


Effingham Parade Holiday House | San Lameer Villa 1920 | Dinvorae Southbroom

Glencairn-getypoel

Suidelike Skiereiland, Wes-Kaap

Dié getypoelmuur is al in die 1920’s gebou en dis sigbaar vanaf die trein wat tussen Simonstad en Kaapstad ry. Hiér kan jy swem, snorkel en sonder die skare op die sandstrand sonbaai.

A post shared by Nicky Good (@mrsnickygood) on

Glen Valley View | Maritima | Glencairn Nature Retreat

The Marine-getypoel

Walviskus, Wes-Kaap

As jy wil swem, snorkel én walviskyk, bring jou gesin na dié prentjiemooi poel! ’n Kranspaadjie en steil trap lei na die rotspoel vanwaar jy ook ’n unieke uitsig oor Hermanus het. Onthou jou paddavoete om jou teen die rotsagtige bodem te beskerm.

A post shared by Lana Kenney (@lanaloustyle) on

Sandbaai Woonstel | Voëlklip Holiday Cottage | Mountain Wonder

St James-getypoel

Suidelike Skiereiland, Wes-Kaap

Die St James-getypoel skuil tussen Muizenberg en Kalkbaai oorkant ’n rits reënbooghuisies. Dié vlak swempoel is veral gewild weens Valsbaai se warm water en gedurende spitsseisoen sal jy spook om ’n gaatjie op die strand te kry. Jaag dus die jongspan vroeg uit die vere, pak genoeg peuselhappies en kom geniet ’n paar uur vol swemplesier!

A post shared by Cesar Leos-Toro (@say_tzar) on

The Empire at Surfer’s Corner | Colourful Villa | Ocean Vista Muizenberg

Jongensfontein-getypoel

Tuinroete, Wes-Kaap

As rondploeter in rustige seewater, sonbaai op plat rotse, sandkastele bou en braai jóú idee van gesinspret is, kom kuier dan by dié getypoel. Onthou om aan die veiligheidsreling vas te hou omdat die glibberige bodem jou dalk net holderstebolder in die water kan dompel!

Galeryhuis | Leben Seehuisie | Altelekker Houthuis

Salt Rock-getypoel

Dolfynkus, KwaZulu-Natal

Buiten Ballito se gesogte swemstrande is daar ook ’n aantal getypoele. Die Salt Rock-getypoel se kalm water is ideaal vir snorkel-groentjies en ’n papegaaivis woon ook in die poel. Hou jou oë oop vir die seldsame koraal wat op die bodem groei en onthou om genoeg sonskerm in te pak!

Evergreen | Sand & Sea | Pentire Point

Maiden’s Cove-getypoel

Atlantiese Seekus, Wes-Kaap

Wil jy Tafelberg en die Twaalf Apostels bewonder terwyl jy in koel water dryf? Maak dan ’n draai by dié getypoel tussen Clifton en Glen Beach! Jy kan snorkel tydens laaggety en daar is ook ’n klompie duikplekke as jy waaghalsiger is. Daar is braaiplek by die grasperk, so onthou om eetgoed en swemhanddoeke saam te bring vir ’n onvergeetlike gesinsuitstappie.

A post shared by Zoe Kalbskopf (@zoekalbskopf) on

Hidden Gem in Clifton | Dunmore Blue Clifton | Rhapsody Clifton

Gonubie-getypoel

Wildekus, Oos-Kaap

Die Gonubie-getypoel skuil twintig kilometer buite Oos-Londen en grens aan die Gonubierivier en strandmeer. ’n Jetty lei na dié hemelse strand vanwaar jy ook kan kyk hoe dolfyne, walvisse en branderplankryers kaperjolle in die wit skuim maak.

A post shared by Bronwyn Gavine (@brongavine) on

The Sunflower | Lollee’s Place | Rose and Ale

Millerspunt-getypoel

Suidelike Skiereiland, Wes-Kaap

Die Millerspunt-getypoel is sinoniem met ’n luilekker somermiddag in die Suide. Jy kan op die grasperk ontspan en ’n ogie oor jou kroos hou, braai of selfs snorkel!

A post shared by Ainz (@ainziee) on

Rocklands House | Simonsberg Heights | Boulders Beach House

Verruil vanjaar jou chloor-swembad vir ’n getypoel se soutwater en talle sorgelose ure in die somerson!

Hooffoto: Kampsbaai-getypoel (BigStock)