Die somer en oestyd is amper hier en ons het besluit om dit behoorlik te vier! Terwyl baie van ons elke Desember lekker op die strand gaan lê, is veral vrugteboere besig om te swoeg en te sweet terwyl hulle vir ’n vale vrugte oes. As jy dié jaar lus is vir ’n ander tipe somerwegbreek, het ons nét die ding vir jou ─ bedrywige vrugteplase waar jy kan kom bly én na hartelus saam kan oes! Wil jy bessies, vye, perskes of pere kom pluk? Dan is dit jou geluk dat dié paar plase iets van als het. Hier is 11 vrugteplase wat die droogte gewys het wie’s baas en nou stroopsoet vrugte beloof!

Hoogwater Cottage, Wolseley

Wat kan jy pluk? Nektariens, perskes, pere en vye
Wanneer kan jy pluk? Oktober tot Maart
Hoe werk dit? Gaste kan gedurende oestyd van die vrugte op die plaas pluk en geniet. Gedurende Januarie en Februarie is dit oop vir die publiek om vye te pluk.

Hoogwater Cottage is ’n selfsorgkothuis vir 4 op Hoogwaterplaas in Wolseley wat omring is deur vrugtebome, plaasdamme en berge. Lekker bederfgeriewe sluit ’n privaat plonspoel en ’n Jacuzzi in, so ná ’n snikhete dag tussen die boorde kan jy behoorlik kom afkoel en ontspan. Daar is ook ’n hele reeks doendinge vir gaste buiten vrugte pluk, soos visvang, gholf, voetslaan, voëlkyk, 4×4 en wynproe by die boetiekwynkelder op die plaas. Sien meer…

Plaas Wegbreek, Barrydale

Wat kan jy pluk? Pruime, appelkose, nektariens, perskes, pere en suurlemoene
Wanneer kan jy pluk? Die laaste week in November tot die laaste week in Maart
Hoe werk dit? Gaste kan die vrugte sommer so van die boom af eet.

Plaas Wegbreek op die Doornrivier-vrugteplaas bied verblyf in 3 eiesoortige kothuise elk met skouspelagtige uitsigte. Appelhuis was voorheen ’n stoorkamer vir appels wat nou pragtig gerestoureer is en slaapplek vir 7 gaste het. Dis omring deur die Doornriviervallei se boorde en berge. Die ongekunstelde Damhuis is ’n houthuis met slaapplek vir 4 aan die oewer van ’n groot dam en Withuis het slaapplek vir 4 gaste en ’n uitsig oor die vrugteboorde. As jy kans sien vir verkenning nadat jy jou dik geëet het aan die reuse-verskeidenheid vrugte op die plaas is daar nóg heelwat om te doen rondom Barrydale. Sien meer…

Berry Cottages @ Wildebraam Berry Estate, Swellendam

Wat kan jy pluk? Swartbessies en youngbessies
Wanneer kan jy pluk? November tot Desember
Hoe werk dit? ’n Toegangsfooi van R10 per persoon word gehef en dan betaal jy per kilogram wat jy pluk (R25 per kg vir wildebraambessies en R30 per kg vir youngbessies). Jy kan jou eie emmertjie saambring, of jy kan een koop. Maak seker jy bespreek gedurende spitsseisoen!

Berry Cottages op die Wildebraam Bessielandgoed in die Heritage-vallei net buite Swellendam het prentjiemooi uitsigte op die Langeberge en ’n rustige plattelandse atmosfeer. Dié selfsorgkothuise het slaapplek vir 2 tot 4 gaste en is gesins- én troeteldiervriendelik. Terwyl die kinders bessies pluk en by die plaasdiere kuier, kan die grootmense likeur en ander deliprodukte proe by die gewilde proelokaal naby die kothuise. Boonop is daar nog ’n rits ander doendinge in die omtrek! Sien meer…

Bonfrutti, Bonnievale

Wat kan jy pluk? Appelkose en perskes
Wanneer kan jy pluk? Vanaf rondom 25 November vir 2 weke en vanaf 20 Desember vir 3 weke
Hoe werk dit? Gaste is welkom om vrugte te pluk – die prys word per kilogram uitgewerk en dit verskil jaarliks afhangende van heersende pryse.

Bonfrutti is ’n vrugte- en wynplaas aan die voet van die Langeberge tussen Ashton en Swellendam en dis ’n absolute lushof vir stadsjapies wat ’n slag vars lug wil inasem. Die pragtige plaashuise en kothuise op die plaas is omring deur boorde, berge en plaasdamme en het slaapplek vir 4 tot 18 gaste, so dis ideaal vir groepe ─ selfs troeteldiervriende is welkom indien jy dit vooraf reël! Buiten vrugte pluk kan gaste ook bergfietsry, baarshengel of swem in die plaasdam. Sien meer…

Grootnek Guest Farm, Joubertina

Wat kan jy pluk? Perskes en pere
Wanneer kan jy pluk? Die laaste week in November en die eerste week in Desember (perskes) en Februarie en Maart (pere)
Hoe werk dit? Gaste betaal R60 vir ’n kartondoos wat sowat 7 kg kan vat. Hulle kan enige tyd en enige dag pluk.

Dié gasteplaas in die Langkloofvallei is op die gewilde Roete 62 tussen Joubertina en Krakeelrivier geleë. Daar is selfsorghuisies sonder elektrisiteit tussen die pruimboorde en kamers met elektrisiteit in die hoofhuis. Van die huisies het selfs ’n warmswembadjie wat ’n lafenis is vir ’n moeë lyf wat in die boorde gaan vrugte pluk het! Verder is daar natuurlik ook ander lekker plaasdoendinge, soos voetslaan, visvang, voëlkyk, sterrekyk, perdevoer, swem en 4×4-roetes. Sien meer…

Turaco Farm Cottage, Magoebaskloof

Wat kan jy pluk? Bloubessies
Wanneer kan jy pluk? Desember, Januarie en Februarie
Hoe werk dit? Gaste kan van Woensdae tot Sondae tussen 09:00 en 17:00 teen R50 per volwassene en R30 per kind bloubessies pluk. Dit sluit ’n bakkie in wat jy huis toe kan neem.

Turaco Farm Cottage skuil tussen dennewoude, bessieboorde en damme in Magoebaskloof en is enige natuurliefhebber se droombestemming. Dié 50 jaaroue selfsorgkothuis het slaapplek vir 4 gaste en ’n lekker groot dek en reuse-klipkaggel waar jy kan sit en kuier. Die bloubessieplaas waarop dit geleë is, is naby tientalle staproetes en ook swemplekke waar jy kan afkoel ná ’n dag in die boorde. Sien meer…

Dew Cottage, Montagu

Wat kan jy pluk? Vye (Ongelukkig het hulle pruim- en appelkoosboorde afgebrand!)
Wanneer kan jy pluk? November en Januarie/Februarie
Hoe werk dit? Gaste kan vrugte pluk wanneer dit ryp is. Die prys wissel afhangend van die tyd van die jaar, so doen gerus navraag as jy daar inklok.

Kom kuier by Dew Cottage en beleef ’n tipiese plaasleefstyl op ’n vrugteplaas in die Klein-Karoo! Dié selfsorg-plaaskothuis is op Vredenshoogte-plaas buite Montagu geleë en het slaapplek vir ’n gesin van 5 ─ selfs Wagter is welkom! In die somer kan jy braai op die houtdek en die uitsigte oor die plaas bewonder, en in die winter kan jy snoesig voor die kaggel sit en kuier. As jy voel jy het eers genoeg vye gepluk, kan jy Roete 62 se wynplase, fietsroetes en swemplekke gaan verken. Sien meer…

Redberry Farm, George

Wanneer kan jy pluk? Oktober tot Januarie
Wat kan jy pluk? Aarbeie
Hoe werk dit? In seisoentyd kan gaste en besoekers van Maandae tot Saterdae tussen 09:00 en 16:00 aarbeie pluk teen R30 vir ’n groot bak en R20 vir ’n klein bakkie.

Redberry Farm in George is ’n paradys vir gesinne! Die kothuis op die plaas het slaapplek vir 4, is goed toegerus vir kosmaak en het ’n groot tuin met braaigeriewe. Buiten aarbeie pluk kan julle by die padstal, koffiewinkel, kroeg én teetuin gaan kuier en die kinders kan in borrelballe op die dam speel, in die stampbootjies en kaskarre ry, diere voer, die doolhof (die tweede grootste een ter wêreld!) verken en op ’n ponie of ’n trein-kar ry! Sien meer…

Kuhestan Farm Cottages, Magoebaskloof

Wat kan jy pluk? Frambose
Wanneer kan jy pluk? Maart tot die eerste 2 weke in April
Hoe werk dit? Gaste kan frambose op die plaas pluk en eet, maar mag nie vragte vol huis toe neem nie aangesien daar nie genoeg is nie. Die eienaars stel voor gaste gaan pluk oor naweke tussen 09:00 en 15:00. Ander produkte is ook in die koffiewinkel op die perseel te koop.

As jy Magoebaskloof op sy beste wil beleef, is dié plaaskothuise vir jou beskore. Kuhestan Farm Cottages is omring deur dennewoude, berge en ’n reuse-tuin met eksotiese voëls ─ jy sal dalk selfs ’n Samango-aap in die bosse gewaar! Elke selfsorgkothuis het slaapplek vir 2 gaste, ’n kaggel en ’n toegeruste kombuis waar jy sommer jou eie frambooskonfyt kan kook. Daar is natuurlik ’n hele rits doendinge in die omgewing, maar Kuhestan-plaas self bied Persiese kookkunsnaweke, ’n eerste in Suid-Afrika, waaraan gaste gerus ook kan deelneem. Sien meer…

Goedereede Guest Farm, Robertson

Wat kan jy pluk? Wyndruiwe, perskes, pruime, lemoene, nartjies, spanspekke, waatlemoene, kool, botterskorsies, soetrissies en klein tamaties.
Wanneer kan jy pluk? Byna regdeur die jaar
Hoe werk dit? Gaste kan gratis vrugte van die boom af pluk as dit ryp is en dan mag hulle teen ’n billike prys (doen navraag by die gasheer) van dit inpak om huis toe te neem.

Dié elegante gasteplaas aan die oewer van die Breederivier is omring deur berge en pragtige heuwels wat met fynbos bedek is. Die verblyf bestaan uit eiesoortige selfsorgkothuise wat elk slaapplek vir 2 tot 6 gaste bied en is lekker ingerig vir die somer én winter. Op die plaas self kan gaste swem in die swembad, visvang, voëlkyk, stap, perdry en fietsry, so daar is iets om elke gesinslid besig te hou. Dis ook een van min plase waar jy byna regdeur die jaar iéts sal kan pluk ─ solank jy dit dadelik eet en nie in jou sak pak om huis toe te neem nie! Sien meer…

Botuin Cottages, Vanrhynsdorp

Wat kan jy pluk? Olywe, druiwe, appelkose, vye, granate, grenadellas en kwepers.
Wanneer kan jy pluk? Januarie (vrugte) en April (olywe)
Hoe werk dit? Alhoewel daar nie boorde vol vrugte is nie, is daar genoeg vir gaste om van die bome af te pluk en te eet.

Het jy geweet jy kan selfs in die Namakwaland gaan vrugte pluk? Botuin Cottages is 3 selfsorgkothuise met slaapplek vir 2 tot 3 gaste op ’n olyfplaas in die buitewyke van Vanrhynsdorp aan die voet van die Maskamberge. Die kothuise is stylvol ingerig met handgemaakte houtmeubels (die gasheer is ’n handige skrynwerker!), braaigeriewe en goeie koffiemaakgeriewe. Botuin is ook troeteldiervriendelik, so bring jou vierpotige vriend ook saam! Die gasheer en gasvrou, Japie en Salome, glo in organiese en volhoubare boerdery en daarom word alles met liefde en met die hand gedoen. Hulle kweek hul eie groente en verskeie vrugte en het ook ’n kruietuin waarvan gaste gerus kan pluk. Sien meer…

Is jy nou gereed om dié somer die boorde in te vaar? Ons waarborg jou jy sal (letterlik en figuurlik) die vrugte pluk van ’n vakansie op een van dié vrugteplase!

Hooffoto:  Breede Photography