Verlang jy óók na êrens waar tyd stilstaan en goudgeel kanola jou om elke hoek en draai begroet? Dis dan hoogtyd dat jy die pad na Porterville in die hartjie van die Swartland vat! Dié dutjiesdorp skuil aan die voet van die Olifantsrivierberge sowat 150 kilometer vanaf Kaapstad en is voorwaar die rustigheid self. LekkeSlaap het dié pragdorpie verken en vertel jou graag wat jy hiér kan verwag!

Soos menige plattelandse dorpie het Porterville nie ’n fliek of ’n rits gewilde winkels nie, maar hier is steeds hope pret waarvoor jy ten minste ’n naweek benodig!

Die Mosaïek Huis

As jy ’n eiesoortige ervaring wil hê, moet jy beslis ’n draai by die Mosaïek Huis in Du Toitstraat 55 gaan maak. Dié unieke huis behoort aan Christel Griffiths wat al meer as twaalf jaar met mosaïek teen haar huis se mure skilder. Dit sal jou sowat 90 minute neem om deur haar huis te toer en die kans is goed dat die inhoud ’n blywende indruk op jou sal laat.

Die meeste mosaïek aan haar huis se voorkant is uit pottebakkersklei gemaak ─ sy gebruik ook krale, klippe, gebreekte teëls en spieëls en selfs ou munte. Die verhaal begin by haar gesinsboom waar sy haar kinders in porselein uitbeeld om broosheid voor te stel. Dan volg die lewe se stormwind waarin haar gesin staande bly en wat ’n mens sterker maak. Daar is ook ’n man met ’n kruis wat teen die heelal leun omdat ons almal soms met die wêreld worstel. Die voorste verhaal eindig by die lig aan die einde van die tonnel wat hoop gee.

“Ek is bevoorreg om in my kunsgalery te kan woon en my uit te leef.”

Die voorportaal is haar gesinsportret waar elke gesinslid se spesifieke lengte gemeet is en elkeen se identiteit uitgebeeld word ─ van haar man met oop arms tot haar kleindogter in pienk. Die eetkamer is die huis se hart waar hulle die lewe se lief en leed deel en waar sy ook dikwels haar vriendinne in styl onthaal.

Christel se huis neem jou op ’n buitengewone lewensreis en dis nog nét die seekoei se oortjies! Porterville bied ook sy heel eerste kunsfees, Porterville Open Studios, vanaf 6 tot 8 Oktober aan waartydens Christel saam met ses ander ’n kunsuitstalling in haar tuin hou. Buiten die Mosaïek Huis kan jy ook Ebonymoon Studio in Du Toitstraat 19 besoek of ’n draai by die uitstallings in Piet Retiefstraat gaan maak.

☎ 084 200 0103 / 073 287 5940

Indie Ale

Dié onafhanklike mikrobrouery is in die Kruger-gesin se besit en jy vind hulle net buite Porterville op die R44. Die naam, Indie, dui op die reis wat hulle tot dusver met boetiekbier meegemaak het en die lesse wat hulle as onafhanklike produsente geleer het. Hulle fokus ook nie op die nuutste tendense nie omdat dit belangriker is om hulle uniekheid en passie uit te leef.

Indie Ale se proelokaal het ’n gesellige atmosfeer met treffers uit die sewentigs en tagtigs wat jou in die luim vir ’n unieke proe-ervaring laat. Daar is tans drie boetiekbiere in die Indie Ale-reeks: 24-River Blonde Ale, Cochoqua Red Ale en Porter’ville Porter.

Die 24-River Blonde Ale het ’n liggoud kleur, ’n verfrissende smaak en is na die verruklike Vier-en-twintigriviervallei vernoem. Die Cochoqua Red Ale is vernoem na die Cochoqua-jagters wat aan die voet van die Olifantsrivierberge gewoon het en het sy rooierige geelbruin kleur te danke aan rooibostee, fynbos en heuning. Soos die naam duidelik blyk, is die Porter’ville Porter na dié prentjiemooi dorpie vernoem en het dit ’n koffie, sjokolade en rooibessie ondertoon.

Indie Ale se brouery is nog taamlik klein met tussen 280 en 310 liter wat per brou geproduseer word. Hulle bier is baie besonders en word aan plaaslike restaurante, soos Rendezvous en Koppikofi in Porterville, asook aan Piketberg en Ceres gelewer.

As jy klaar biergeproe het hoef jy nog nie huiswaarts te keer nie ─ smul eerder aan ’n tuisgemaakte pizza! Anneli, die pizza-prinses, maak self die pizza-basis en bak dit buite in die pizza-oond. Daar is weekliks drie pizza-opsies op die spyskaart, maar die boonste bestanddele wissel omdat sy net plaaslike produkte gebruik. Sorg dat jy jou pizza teen laatmiddag eet sodat jy die sonsondergang, wat die berge pienk verkleur, kan bewonder!

Dié plaas is ook ideaal vir rampartytjies, verjaarsdae, ’n lekker kuier saam met vriende en selfs troues.

☎ 076 599 5995

NG Kerk en Jan Danckaert Museum

Plattelandse argitektuur hoef definitief nie die knie te buig voor die imposante stadsgeboue nie en in Porterville is dit ook geen uitsondering nie.

Die sierlike NG Kerkgebou is in 1925 deur die eerste Afrikaanse argitek, Wynand Louw, ontwerp en waak vandag steeds trots oor die gemeenskap. Dit word ook as een van die indrukwekkendste kerkgeboue in die Wes-Kaap beskou.

Dié museum is vernoem na Jan Danckaert wat in die 1660’s die eerste verkenningstog deur dié area gelei het. Die gebou dateer uit 1879 en was eers die hof en tronk voordat die museum in 1979 geopen is. Uitstallings van antieke plaasimplemente, tradisionele voortrekkerossewaens en ander kunsvoorwerpe uit vergange dae kan hier besigtig word.

Ander doendinge

Voetslaan ─ daar is verskeie staproetes om Porterville en die Waterval-roete moet boaan jou lysie wees! Hou ook jou oë oop vir die skaars geel disa wat hier teen die berghange groei.

Valskermsweef ─ die lugstrome om Porterville se berge is perfek vir dié avontuursport en internasionale en nasionale kompetisies word jaarliks hier gehou. Daar het selfs al ’n man van 80 jaar deelgeneem!

Blommekyk ─ daar is ’n klompie proteaplase om Porterville waar jy die inheemse koninginprotea kan gewaar en die reuk van fynbos jou neusgate sal kielie.

Porterville het talle verblyfopsies waar jy sommer alles-in-een kan kry ─ ons het by drie van dié gastehuise in die hoofstraat gaan inloer.

Rendezvous

Dié gebou dateer uit die 1880’s en was jare lank die NG Kerk se pastorie voor dit in die vroeë 2000’s in ’n gastehuis omskep is. Johan von Wielligh het in Desember 2016 die nuwe eienaar geword en is besig om die gebou ’n splinternuwe baadjie te gee.

Rendezvous se restaurant het ’n rustige atmosfeer en hulle het al troues, ooievaarstees, mondigwordings en reunies gehou. Die á la carte-spyskaart sluit ontbyt, middag- en aandete in en hulle spesiale aanbieding op ribbetjies is baie gewild.

Die agterstoep is die ideale plek om salig aan ’n koppie koffie te teug en aan ’n sny van hulle bobaas-kaaskoek te knibbel ─ die resep is natuurlik ’n staatsgeheim! Mika, die restaurant-kat, dwaal ook onverstoord hier rond. Sy het op ’n dag haar opwagting gemaak en al verwissel die gastehuis se eienaars, het sy Rendezvous as tuiste gekies.

Daar is agt slaapkamers wat die volgende geriewe insluit:

Badkamer | TV met satelliet-kanale | lugversorging

“Dis ’n wonderlike plek met vriendelike diens. Ek kon nie vanoggend my ontbyt eet nie en hulle was so gaaf om te sê dat ek dit vanmiddag kan kom eet!” ─ gas by Rendezvous.

Ander geriewe op die perseel:

Sitkamer | kroeg | geskenkwinkeltjie | swembad | wasgoeddiens | rolstoelvriendelik | konferensiegeriewe

Villa Cho-Co-Latt Guest House

Al is dié lieflike gastehuis in die hoofstraat, voel dit of jy ’n ander wêreld betree wanneer jy hiér inloer. Die binnehoftuin is ’n lus vir die oog en die voëls se gekwetter laat jou in ’n rustige stemming.

Daar is ses slaapkamers wat ’n wittebroodsuite insluit, asook ’n keldergesinskamer. Kamergeriewe sluit die volgende in:

En suite-badkamer | lugversorging | TV met DStv | gratis WiFi

Ander geriewe op die perseel:

Koppikofi-restaurant | rolstoelvriendelik

Akkediskis

By Akkediskis heet Marietjie van der Westhuizen jou hartlik welkom en die gastehuis se huislike atmosfeer laat jou dadelik tuis voel.

Dié oulike gastehuis het drie slaapkamers met die volgende geriewe:

En suite-badkamer | TV met sekere DStv-kanale | gratis WiFi | tee- en koffiemaakgeriewe

Ander geriewe op die perseel:

Restaurant | kroeg | haarsalon

Ander blyplekke

The Stable Porterville | Lekkerwater Gastehuis | Excelsior Farm | Mooiberge Gastehuis | Mayor

So, as die stadsrumoer jou weer teen die mure begin uitdryf, verruil die wolkekrabbers vir die Swartland se koringlande en kom verkwik jou siel in Porterville!

Hooffoto: Porterville (Mari Dürr)