Wie wil nou in ’n gewone hotel of gastehuis gaan bly as jy in ’n huis, paleis, pondok of hok kan bly? Ons het 14 buitengewone, besonderse en eienaardige plekkies op LekkeSlaap gaan soek. Kliek op die foto’s om meer uit te vind.

Die grotte in die Suidelike Cederberge van die Wes-Kaap pas mooi by die omliggende sandsteenformasies. Die Khoi-San het lank gelede hier tuisgegaan en tot vandag toe is baie van hulle rotstekeninge duidelik sigbaar op die rotse.

Dié elegante en gesofistikeerde Indiaanse tipi-tente sluit alles in wat jy sal benodig vir selfsorg. Die Lancewood Tipi Lodge by Assegai is werklik ‘n unieke ervaring vir natuurliefhebbers.

Die Santos Express Train Lodge is langs Santosstrand in Mosselbaai geleë en al die eenhede kyk uit oor die see. Net so paar treetjies, dan is jou voete op die sand!

Geniet jou vakansie by Knysna se beeldskone riviermonding in ’n volledig toegeruste boot.

Is dit nie net perfek vir ’n prins en prinses nie?

Gnome Cottage, ’n ouwêreldse huis met ’n ongewone struktuur, is in ’n pragtige, ruim, omheinde tuin geleë en is boonop troeteldiervriendelik!

Die gastehuis kombineer kleurvolle ontwerp met besondere aandag aan die behoeftes van gaste wat die Wiegie van die Mensdom en al die ander besienswaardighede wil verken.

Oxwagon lodge
Bederf jouself met ’n onvergeetlike aand in ’n oorspronklike, gerestoureerde ossewa met ’n panoramiese uitsig oor die Hartbeespoortdam van die Witwatersberge af.

Otters' Haunt
Dié 3 A-raamhuise het grasdakke, elektrisiteit, waaiers, verwarmers, ligte, ’n ablusieblok en ’n uitsig oor die grasperk tot by die Vaal se oewer.

Jy kan in een van dié unieke selfsorgkothuise in die blikkiesdorp kom rus nadat jy op ’n opwindende wildrit gegaan het.

Manyatta

Dié unieke, koepelvormige slaapkamers lyk soos groot rotse en is só gerangskik om pragtige uitsigte oor die bosveld te bied.

Dit is een van die oorspronklike waens van “The White Train”, die trein waarmee Koningin Elizabeth en die prinsesse in 1947 deur Suid-Afrika getoer het.

Daar was ’n ou vrou, sy woon in ’n skoen … Kom kyk wat skuil in dié groot skoen wat vandag ‘n museum en galery is.

Naries is ’n mooi en romantiese wegkruipplek op die rand van die Spektakelberg tussen Springbok en Kleinzee. Kom kuier gerus vir ons gedurende die veldblomseisoen!

The Shire spog met ’n innoverende ontwerp en uitstekende ligging en dis die perfekte wegbreek vir natuurliefhebbers en avonturiers.

So, is jy lus vir ’n ander tipe wegbreek die naweek? Bespreek sommer vandag nog een van dié bekoorlike blyplekkies.

***

Let asb. daarop dat van hierdie eienaardige geboue slegs op die perseel voorkom en nie slaapplek bied nie. Jy kan wel gaan kyk en baie foto’s neem.

*Hooffoto: Naries Namakwa Retreat, Springbok