Die winter is hier en met die dae wat soveel korter is, is dit maklik om elke dag van punt A tot B te jaag en in die proses tred van jou spesiale persoon te verloor. Hoekom dan nie die koue uit die winter haal met ’n romantiese wegbreek in die berge nie? LekkeSlaap.co.za het ’n handjievol knus kothuise reg oor die land gaan soek waar jy en jou geliefde hoog bo die alledaagse gemaal kan rus en kwaliteittyd saam kan deurbring. 

Klipspringer Berghuisie

McGregor, Wes-Kaap

McGregor stay mountain accommodation

Kom rus ver bo die blou-blou berge in ’n klipkothuis vir twee. Hierdie grasdakkothuis werk met sonkrag en gastoebehore en met die klipperige grondpad wat ’n 4×4-voertuig vra, kan julle verseker wees dat julle alléén bo die wolke sal sweef. 

Maak ’n vuurtjie in die vuurherd en krul op met ’n glasie wyn, of as julle meer avontuurlustig is, het julle ’n duisend hektaar se paadjies wat tussen die bergfynbos kronkel om te verken. Moenie verbaas wees as jy ’n klipspringer, duiker of grysbok gewaar nie!

Kliek hier vir die tariewe.

McGregor stay mountain accommodation

Cedarpeak Mountain Cottages

Groot Winterhoek, Wes-Kaap

Groot winterhoek accommodation mountain cottage

Cedarpeak Mountain Cottages is ’n rusplek in die skouspelagtige Groot Winterhoekberge waar luiperds dan en wan hul kolle kom los, bobbejane baljaar en kleinwild soos duikers, vaalribbokke en die groototter dan en wan gewaar kan word. Kom swem of hengel in die plaasdam, soek antieke rotstekeninge, en kloofklim, stap of ontspan diep in die natuur.

Daar is verskeie kothuise op hierdie 8000 hektaar-wildernisgebied, maar as dit nét jy en jou geliefde is, stel ons die Vleibosch- of Kleinbosch-kothuis, elk met slaapplek vir twee voor. Dié kothuise het albei selfsorggeriewe, en Vleibosch het ’n kaggel en Kleinbosch ’n Dover-stofie om die winter by die deur te hou.

Kliek hier vir die tariewe.

Groot winterhoek accommodation mountain cottage

Kingfisher Cottages, Langhoogte Farm

Boland naby Montagu, Wes-Kaap

 Montagu cottage kingfisher cottages mountain

Kingfisher Cottages bied eko-vriendelike kothuise vir twee tot vier gaste op ’n prentjiemooi plaas tussen die berge sowat 26 kilometer buite Montagu. Elk van die vier huisies het ’n kaggel en is vir selfsorg toegerus, so as julle net in mekaar se geselskap wil wees, kan julle die hele naweek binne bly! 

Indien die natuur rondom die huisies roep, kan julle kunsvlieg- of forelhengel, of stap- en bergfietsroetes aandurf, en as julle in die Malachite-kothuis bly kan julle ook jul troeteldier saambring en saam die lieflike bergomgewing invaar.

Kliek hier vir die tariewe.

 Montagu cottage kingfisher cottages mountain

Mount Ceder

Cederberg, Wes-Kaap

Mount ceder Cederberg accommodation

Die Cederberg is die perfekte naweekwegbreek vir Kapenaars, en Mount Ceder, wat op die hoofroete deur hierdie skouspelagtige streek geleë is, spog met ’n ruwe vallei, dramatiese rotsformasies en pragtige selfsorgkothuise met kaggels en braaigeriewe. 

Daar is ook ’n restaurant op die perseel waar ’n driegangmaaltyd 24 uur vooraf bespreek kan word indien julle kosmaak wil vermy. Omdat die plaas op die hoofroete geleë is, bied dit terselfdertyd afsondering in die berge én maklike toegang tot al die lekker aktiwiteite en besienswaardighede in die streek soos wynplase, teeplase en staproetes.

Kliek hier vir die tariewe.

Mount ceder Cederberg accommodation

Die Beloofde Land

Buite Uniondale, Wes-Kaap

Uniondale cottage accommodation

Geniet ’n uitsig oor die Langkloofvallei wanneer julle by Die Beloofde Land naby Uniondale kom asemskep. Hier is verblyf in drie vrystaande eenhede waarvan die een kothuis, Visserman, perfek vir ’n paartjie is. Dié kothuis se slaapkamer spog met ’n ingeboude kaggel en ’n deur na ’n wye stoep waar gaste die uitsig ten volle kan geniet. 

Gedugte hengelaars kan op die perseel kunsvlieghengel en baarshengel, voëlkykers kan vir ’n hele rits spesies op die uitkyk wees, en stappers kan die wandelpaaie kruis en dwars oor die plaaswerf verken ─ dis ook natuurlik ideaal vir diegene wat net hand-aan-hand die wêreld wil verken.

Kliek hier vir die tariewe.

Uniondale cottage accommodation

Syringa Sands Mountain Cottage

Waterberg, Limpopo

Syringa sands waterberg mountain cottage

Syringa Sands Mountain Cottage bied ’n eindelose uitsig tot waar die horison en die Sewesusterberge ontmoet en dus kan paartjies ’n besonderse sonsondergang en die perfekte stoep vir ’n skemerkelkie te wagte wees. As die uitsigte vir julle wink, is daar ook staproetes op die perseel tussen die bergflora deur.

By Syringa Sands, ver buite die bereik van die daaglikse gemaal, is julle totale privaatheid gewaarborg. Die eenheid funksioneer op beperkte sonkrag, gebruik reënwater, word belig met olielampies en daar is beperkte selfoonsein. Die kothuis kan slegs per 4×4, te voet of per bergfiets bereik word, maar indien nie een van hierdie opsies vir julle werk nie, kan die Syringa Sands-span julle ook op versoek soontoe en terug vervoer.

Kliek hier vir die tariewe.

Syringa sands waterberg mountain cottage

Otters Den Self-catering Cottages

Nottingham Road, KwaZulu-Natal

Otters Den KZN Midlands accommodation mountain cottage

Otters Den Self-catering Cottages is op die ongerepte platteland in die hartjie van KwaZulu-Natal se Middellande geleë en bied verblyf in vier grasdakkothuise met slaapplek vir twee gaste elk. Al die eenhede bied uitsigte oor die Lions-rivier vanaf hulle uitkykdekke en daar is ’n spa-bad vir ’n ekstra bederf in elke eenheid. 

Gaste kan vir hulle ’n spa-behandeling in die gemak van hul eie kothuis bespreek, die 18 hektaar-perseel gaan verken, of die net ’n bietjie wyer gooi en die kunsvlytdorpies, natuurreservate, museums en markies waarvoor dié area bekend is, besoek.

Kliek hier vir die tariewe.

Otters Den KZN Midlands accommodation mountain cottage

Three Tree Hill Lodge

Noordelike Drakensberg, KwaZulu-Natal

Three hill lodge drakensberg cottage

Hierdie intieme lodge bied ’n uitsig oor die Mfazimnyama-vallei en reg rondom word groen heuwels met akasiabome gestippel. Die lodge bied ouwêreldse Afrika-sjarme wat jou en jou geliefde sal bekoor en die eetarea met sy wye, diep stoep en sitarea met sy dubbelkaggel laat ’n mens na vervloë dae van kersligetes en stories by die vuur hunker.

Julle kan natuurlik in jul kothuis bly en net mekaar se geselskap en die uitsig oor die vlaktes geniet, maar daar is ook die Molly Blackburn-biblioteek met oor die drieduisend boeke, ’n beskutte swembad, ’n skemerkelkie-uitkykpunt en ’n wynkelder waar ’n wynproe op versoek gereël kan word.

Kliek hier vir die tariewe.

Three hill lodge drakensberg cottage

Dumbe Cottages

Drakensberg, grens van die Vrystaat en KwaZulu-Natal

Dumbe cottage mountain cottage KZN

Dumbe Cottages is op die Retiefpas geleë en spog met ’n ongeëwenaarde uitsig oor die Drakensberglandskap. Elk van die vyf klipkothuise is ten volle vir selfsorg toegerus en die leefareas lei na dekke waar die uitsig in nog meer glorie geniet kan word. 

Stap saam na die Kaalvoet Vrou-monument, bring julle bergfietse en stapskoene saam, of krul bloot voor die vuurtjie op en kyk totdat die horison en die blou berge saamsmelt.

Kliek hier vir die tariewe.

Dumbe cottage mountain cottage KZN

SANParks Highlands Mountain Retreat

Oos-Vrystaatse Hooglande

SANParks Highlands Mountain Retreat

SANParks Highlands Mountain Retreat is in die Malutiberge in die Golden Gate Highlands Nasionale Park ingebed en bied vistas wat tot doer strek. Hierdie agt luukse houthuisies is 2200 meter bo seespieël en spog elk met selfsorggeriewe en ’n lekker vuurmaakplek om te sorg dat julle knus binne kan kuier terwyl die winter buite woed. 

Die Golden Gate Highlands Nasionale Park is bekend vir sy pragtige uitsigte, kleinwild en skouspelagtige staproetes, maar dit is die son se gloed op die Brandwagkrans wat hierdie park sy naam gee, so maak seker jy tiek hierdie pragtige verskynsel van jou emmerskoplysie af wanneer jy en jou geliefde hier kom draai.

Kliek hier vir die tariewe.

SANParks Highlands Mountain Retreat

Greenfire Drakensberg Lodge

Drakensberg, KwaZulu-Natal

Greenfire Drakensberg Lodge

Hierdie berg-lodge vorm deel van ’n UNESCO Wêrelderfenisterrein, die Royal Natal Nasionale Park, wat vir sy ekologiese belang en die kulturele nalatenskap van die San erken word. In die somermaande is elke stukkie van dié 2000 hektaar-perseel lowergroen en in die winter is die kans op sneeu groot, dus kan gaste reg deur die jaar die beste van albei seisoene te wagte wees. 

Die houthuisies by Greenfire is in ’n Kanadese styl gebou, werk met sonkrag en het elk hul eie kaggel. Vir aandete kan julle die knus kroeg, sitarea en eetarea in die hooflodge besoek. Die kranse bo hierdie lodge is die tuiste van die bedreigde kransaasvoël en in die voorheuwels kan julle elande gewaar en versteekte San-rotskuns soek. Begeleide perderitte is ook op versoek beskikbaar en gaste kan hier voetslaan, rotsklim, bergfietsry, perdry en kunsvlieghengel.

Kliek hier vir die tariewe.

Greenfire Drakensberg Lodge

Grysbokkloof Private Nature Reserve

Buite Montagu, Wes-Kaap

Montagu tented accommodation

Ons eindig ons lys met iets wat ’n klein bietjie anders is. Grysbok, sowat sewe kilometer buite Montagu, bied ’n selfsorgtent wat ideaal is vir ’n paartjie of ’n klein gesin wat saam tyd onder die sterre wil deurbring. 

Die tent werk met sonkrag en is ten volle toegerus vir selfsorg. Daar is ook ’n vuurput in die boma waar gaste saam kan kuier en die kersie op die koek is die houtvuur-warmbad waar julle in die winterweer buite in die louwarm water kan sit ─ hoe salig!

Kliek hier vir die tariewe.

Montagu tented accommodation

Mik saam met jou geliefde na die berge en stook die liefdesvure hoog. Met ons lysie romantiese berghuisies is daar geen rede om die hele winter tuis te bly nie.

Hooffoto: Greenfire Drakensberg Lodge (LekkeSlaap.co.za)