Die somer is in volle swang en daar is nie ’n beter plek om dit te vier as langs die water nie. Suid-Afrika se wonderskone landskap spog met talle riviere wat van die mooiste vakansiebestemmings bied waar jy vir ure lank kan tjoepry, visvang, roei, swem en die rustigheid langs die water geniet! LekkeSlaap het 9 lekker blyplekke uitgesoek langs riviere wat deur die berge kronkel of in die see mond sodat jy ’n luilekker vakansie in die son en water kan geniet.

Marshall Farm

By Marshall Farm ervaar jy nie net ’n rustige riviervakansie nie, maar die salige plaaslewe óók. Dié grasdakhuis is op ’n plaas aan die oewer van die Duiwenhoksrivier in die Overberg geleë en dis die ideale plek vir ’n groot groep wat lekker op die dek langs die water wil kuier. Daar is 2 braaiplekke, oorgenoeg ruimte vir ’n luilekker wegbreek en toegang tot die rivier.

Waar: Duiwenhoksrivier, Vermaaklikheid
Slaapplek: 11 gaste
Geriewe: Braaigeriewe en troeteldiervriendelik


Bleshoener

Bleshoener skuil tussen ou dennebome in die hartjie van die Tuinroete Nasionale Park en spog met die mooiste uitsig van die Swartvlei-meer. Jy kan lekker van die jetty af visvang, vir ure langs die swembad ontspan en in die aande die pragtige sonsondergange aanskou. Die huis is pragtig en modern ingerig en dis die ideale plek as jy behoorlik wil afskakel en die natuurskoon geniet!

Waar: Swartvlei-meer, Sedgefield
Slaapplek: 8 gaste
Geriewe: Swembad, kaggel, jetty en braaiplek


Malgas Breede Rivier Akkommodasie

Malgas Breede Rivier Akkommodasie is die perfekte plek vir ’n naweek vol pret saam met ’n groot groep vriende. Dis aan die oewer van die bekende Breederivier geleë en bied direkte toegang tot die rivier. Jy kan boonop ’n boot by die eienaar huur en lekker op dié rivier vaar (’n geldige skipperslisensie word vereis).

Waar: Breederivier, Malgas
Slaapplek: 8 gaste
Geriewe: Kaggel, braaigeriewe, jetty en ’n boot teen R1000 per dag


River Edge Akkommodasie

Dié leiklip-rivierhuise is teenaan die Breederivier geleë en bied ontspanne verblyf in die natuur vir stadsjapies wat van die besige stad wil ontsnap. Gaste kan uitsien na ’n rustige plattelandse atmosfeer tussen die berge waar jy behoorlik kan rus. Hier kan jy jouself gate uit geniet met al die doendinge in die natuur en die rivier op jou drumpel!

Waar: Breederivier, Breederiviervallei
Slaapplek: 60 gaste in 5 huise en kampplek
Geriewe: Jacuzzi, braaigeriewe, rolstoelvriendelik en troeteldiervriendelik


Mount Ceder

Die Sederberge is die ideale plek vir ’n rustige blaaskans en wat is nou beter as ’n naweek langs die kabbelende water om jou siel te verkwik? Mount Ceder het kothuise wat lekker ingerig is vir selfsorg en kampplekke naby die rivier. Daar is pragtige staptogte op die perseel en jy kan ná een van die staproetes lekker in die rivier afkoel.

Waar: Grootrivier, Sederberg
Slaapplek: 68 gaste in 7 kothuise en kampplek
Geriewe: Kaggel, braaigeriewe, restaurant en rolstoelvriendelik


GlenDonald Cottage and Swallow’s Croft

Dié eenhede word saam verhuur en is ideaal vir ’n lekker familiekuier in die berge. Die natuurskoon op hierdie plaas is ’n paradys vir enige natuurliefhebber! Die GlenDonald-kothuis kyk uit oor Visgat — ’n rivierpoel waar jy lekker kan swem, visvang of ontspan. As dít nie genoeg is nie, is daar ’n lieflike swembad en patio met braaigeriewe tussen die twee eenhede waar jy lekker kan kuier.

Waar: Olifantsrivier, Ceres
Slaapplek: 13 gaste
Geriewe: Swembad en braaigeriewe


Umngazi River Bungalows

Umngazi River Bungalows se eenhede skuil aan die hange wat oor die Umngazi-riviermond uitkyk en dis perfek vir ’n gesinsvakansie aan die Wildekus. Die pragtige ligging en rustigheid van die oord laat jou toe om opwindende doendinge in die natuur te geniet én ook te ontspan. Jy kan kies of jy in die see of die rivier wil baljaar en daar is talle roetes en doendinge vir natuurliefhebbers — hiér sal jy nooit verveeld wees nie.

Waar: Umngazi-rivier, Wildekus
Slaapplek: 126 gaste in 13 bungalows
Geriewe: Swembad, spa-behandelings, restaurant, gimnasium, tennisbaan en kroeg


The Oyster Box Beach House

As jy op soek is na ononderbroke uitsigte oor die Boesmansriviermond en see, is The Oyster Box Beach House nét die plek vir jou. Dié pragtige, moderne huis is aan die rivieroewer geleë en is lekker ingerig vir sorgvrye verblyf. Jy kan heeldag langs die swembad op die dek ontspan en van al jou bekommernisse vergeet. Jy hoef nie nét die rivier te geniet nie — jy kan ook langs die see gaan stap en jou aan die pragtige kuslyn verkyk.

Waar: Boesmansrivier, Kenton-on-Sea
Slaapplek: 2 gaste
Geriewe: Braaiplek en swembad


Makarios on the River

Makarios on the River skuil teen Nature’s Landing Eco Estate se koppe aan die oewer van die Boesmansrivier en bied luukse verblyf met uitsigte wat jou asem sal wegslaan. Die boomryke ligging laat jou werklik afgesonder voel en skep ’n rustige atmosfeer. Dis ideaal vir ’n paartjie wat wil wegbreek en jy kan lekker op die stoep sit en oor die tuin en rivier uitkyk.

Waar: Boesmansrivier, Boesmansriviermond
Slaapplek: 6 gaste in 3 eenhede
Geriewe: Swembaddens, kroeg en toegang tot die rivier

Daar het jy dit! ’n Riviervakansie is nét die manier om jou te verlustig in die natuur en terselfdertyd ure se pret naby die water te hê. Bespreek vandag nog jou volgende wegbreek na een van hierdie bobaas-bestemmings langs ’n rivier om die meeste van die sonnige somerweer te maak.

Hooffoto: Umngazi River Bungalows & Spa (LekkeSlaap.co.za