Het jy al ooit op die langpad verby ’n aanwysingsbord gery of ’n Suid-Afrikaanse landkaart bestudeer en twee keer gekyk na ’n obskure dorpsnaam? Kyk nou maar na name soos “Lekkersing” en “Tietiesbaai”, om nie eers te praat van die verstommende “Tweebuffelsmeteensmorsdoodgeskietfontein” of “Klein Mier Nommer Een” nie! Ons land spog met fassinerende dorpsname en ’n ryk geskiedenis wat soms eindelose kampvuurstories en vermaak verskaf.

LekkeSlaap het ’n bietjie gaan ondersoek instel oor waar sommige dorpe in Suid-Afrika hul kopkrap-name vandaan kry en wat die storie agter hierdie dorpe se ontstaan is.

Paternoster 

Dié Weskus-juweel word gekenmerk aan lang, ongerepte strande, witgekalkte huisies en natuurlik smullekker seekos, maar kon jy al ooit die dorpie se naam verklaar? Daar skuil verskeie teorieë agter die naam “Paternoster” waarvan die interessantste een die volgende storie is: Kenners is van mening dat daar eeue gelede ’n Portugese skip aan dié dorpie se kus verongeluk het en dat dié wat oorleef het so dankbaar was dat hulle die Onse Vader (wat “pater noster” in Latyns is) opgesê het. Hulle het toe sommer dié naam aan die area toegeken om hul dankbaarheid te toon.

 

A post shared by Kish (@kisherng) on

Paternoster bied oorgenoeg blyplek vir dié wat graag die dorpie en ongerepte Weskus wil verken.

paternoster accommodation

Phalaborwa

Dié dorp in Limpopo is slegs twee kilometer vanaf die Krugerwildtuin en het ontstaan as gevolg van die Ba-Phalaborwa-stam wat eeue gelede in dié omgewing metale soos yster en koper begin myn het. Phalaborwa is oorspronklik na dié stamnaam vernoem wat “beter as die suide” beteken en verwys na die stam se groot trek van die suide na die Phalaborwa-area in die noorde weens ’n koors wat die suide getref het. Interessant genoeg woon nasate van hierdie einste stam steeds in die Groter Phalaborwa-area en kulturele toere is gewild onder toeriste wat graag die sangomas wil ontmoet en meer oor die unieke tradisies en leefstyl wil leer.

 

A post shared by Carika Oosthuizen (@carika1410) on

Indien Phalaborwa se geskiedenis jou aandag trek, is daar verskeie verblyfopsies waarna jy kan kyk.

accommodation phalaborwa

De Aar

De Aar is ’n tipiese Noord-Kaapse dorpie: klein en byna vergete, maar met ’n unieke karakter en tydlose bekoorlikheid. Dié dorpie is tussen Kaapstad en Kimberley geleë en beskik oor een van die belangrikste spoorweg-aansluitings in die land. De Aar word ook dikwels “Die SES” genoem wat verwys na die ses plase wat die dorpie sedert die 1900’s omring. Maar waar kom die naam De Aar vandaan? Dié naam, wat “die aar” in Nederlands beteken, is ’n verwysing na die ondergrondse pyplyn, of wateraar wat water aan die dorpie en omliggende area voorsien. Al die water in die dorp word dus deur boorgate voorsien. Dit is een van die min dorpe in die Noord-Kaap wat nie om ’n kerk tot stand gekom het nie, en dit spog met een van ons land se eerste sonkragplase net ses kilometer buite die dorp!

 

A post shared by carla (@carlavdraad) on

De Aar is nét die plek waar uitgemergelde stadsjapies van hul sorge kan vergeet, so kliek hier as jy van jou sorge wil vergeet of as jy oornagplek tussen Kaapstad en Kimberley soek.

de aar accommodation

Knysna

Knysna is sonder twyfel een van die gewildste vakansiebestemmings in Suid-Afrika, maar het jy al gewonder waar dié sprokiesdorp se naam vandaan kom? Daar word bespiegel dat die naam “Knysna” ’n Khoi-woord is, maar die presiese betekenis is duister. Dit kan moontlik “varingblaar”, “plek van hout” of ’n verwysing na die asemrowende Knysna-koppe wees. Geskiedkundiges vermoed dat laasgenoemde meer waarskynlik is aangesien die Knysna-koppe ─ wat die vreesaanjaende kanaal vorm waardeur skepe moes vaar om die hawe te bereik ─ só ’n indrukwekkende geologiese baken in hierdie pragtige dorpie is. Maar wie sal ooit vir seker weet?

 

A post shared by Jessi Lynn Rabe (@jessi.lynn.rabe) on

Bespreek dan jou topgehalte-blyplek in dié gewilde dorp.

knysna accommodation

Riemvasmaak

Riemvasmaak is ’n streek in die Noord-Kaap naby die Oranjerivier en die Namibiese grens. Dié naam het glo sy oorsprong in ’n plaaslike Damara-legende wat graag ’n mineraalfonteintjie wou bereik met die hoop dat hy genesing vir sy knaende rumatiek híér sou vind. Hy het toe ’n paar repe leer aanmekaar vasgebind om homself op hierdie manier verby die rotswalle tot in die fonteintjie te laat afsak. Die Khoi naam “Konkaib” is vervang met “Riemvasmaak” omdat die plaaslike inwoners jare gelede geforseer is om Afrikaans te praat. In 2008 is daar selfs ’n TV-reeks “Riemvasmaak” uitgesaai om die interessante stories van dié plaaslike gemeenskap te vertel!

 

A post shared by Pieter Vercampt (@pietervercampt) on

Kliek hier vir verblyfopsies as jy nuuskierig is oor doendinge en besienswaardighede in die Riemvasmaak-streek.

accommodation near riemvasmaak

Baardskeerdersbos

Hoe het mense op só ’n eienaardige naam vir só ’n mooi dorpie besluit? Dié piepklein dorpie is sowat twintig kilometer oos van Gansbaai in die Overberg op die grondpad tussen Gansbaai en Bredasdorp. Blykbaar het vroeë inwoners die dorpie na die sogenaamde “rooi romans/jaagspinnekop”, ook bekend as “baardskeerders”, vernoem omdat daar só baie van hulle in die area voorgekom het. Volgens kenners sny hierdie spinnekoppe hul eie hare en gebruik dit dan vir nesbou, vandaar die naam “baardskeerder” of “haarskeerder”. Maar moenie dat dat dit jou afskrik nie! Dié gediertes is nie meer so volop in die area soos wat dit ’n honderd jaar terug was nie, so jy kan gerus hierdie bekoorlike dorpie gaan verken en die ongeëwenaarde tydloosheid van die platteland ervaar.

Loer ’n bietjie na die verskeie blyplekke in Baardskeerdersbos en die nabye omgewing.

accommodation in baardskeerdersbos

L’Agulhas

Dié kusdorp in die Wes-Kaap het nie net ’n snaakse naam nie, maar ’n besonderse ligging aangesien dit die mees suidelike punt van Afrika is! Volgens kenners is die naam se oorsprong en wie die dorp gestig het al vir jare ’n kopkrapper. Daar word geglo dat L’Agulhas in die vroeë 1400’s deur Bartholomeus Dias ontdek is, en dié Portugese seevaarder het toe die mees suidelike punt van Afrika na St. Agulhas vernoem. Die volle naam was eers “Cabo dos Agulhas” wat “Kaap van Naalde” (Cape of Needles) beteken, maar die Franse het later ook ’n invloed gehad en die naam het geleidelik na L’Agulhas verander. Die verwysing na “Kaap van Naalde” het twee moontlike redes. Die eerste een kan verwys na die dorp se geografiese ligging en sy geskiedenis van ongenadige weerstoestande wat veroorsaak het dat sowat 150 skepe híér verongeluk het. Die grootste rede vir hierdie skeepswrakke was die skerp en verraderlike rif wat dié kus belyn het. Die ander moontlike rede is dat die naalde van die kompas nie die verskil tussen ware noord en magnetiese noord in dié deel van die wêreld kan aandui nie!

 

A post shared by Michael Klaver (@michael18k) on

L’Agulhas bied die perfekte verblyf vir ’n welverdiende wegbreekkans en daar is oorgenoeg doendinge en besienswaardighede in die area!

l'agulhas accommodation

Kakamas

Daar is verskeie teorieë oor die oorsprong wat agter dié tydlose Kalahari-dorpie sowat tagtig kilometer vanaf Upington se naam skuil. Die een teorie is dat die woord “Kakamas” afkomstig is van die Khoi-woord “gagamas”, wat verwys na die rooi klei in die area wat Khoi-vroue op hul gesigte gesit het. Die ander teorie is dat Kakamas verwys na die drif in die area wat eers “Takemas” of “T’Kakamas” genoem is. Dié naam beteken “plek van die woedende koei” wat heel moontlik verwys na ’n geskiedkundige insident waar ’n rasende koei die nomadiese Khoi-stam, Koranas, bestorm het terwyl hulle probeer het om hulle beeste deur die drif te lei. Vir baie beteken “Kakamas” egter “swak weiding” in Korana omdat die area baie droog is, alhoewel dié streek tans met verskeie wynplase, katoen- en lusernlande spog.

 

A post shared by Gregory Gerhardt (@gregorygerhardt) on

Kom verken die rustige Kalahari en vind ’n bietjie meer uit oor Kakamas se geskiedenis deur hier te bly.

kakamas accommodation

Een ding is seker: Suid-Afrika sorg vir ’n oorvloed vermaak as dit by ons dorpies se unieke name kom, en dít is te danke aan ons diverse geskiedenis en sonder twyfel ook Suid-Afrikaners se ryk verbeeldings!