Die kroos is in die koshuis, waar gaan jy tuis? Die dae van kosblikke pak en skooltake doen is verby ─ jou kind is op pad universiteit toe! Tussendeur die gejaag om beddegoed te koop wat by sussie se koshuisgordyne sal pas en om seker te maak boetie het darem ’n wasgoedsak vir sy nuwe kamer, is dit maklik om te vergeet dat jý ook die aand iewers moet slaap ná jy jou bloedjies by die deur afgelaai het.

Of jou kind na ’n studentedorp soos Potchefstroom of Stellenbosch gaan, of die stad wil aandurf en op Pretoria of Bloemfontein studeer, moet dit nie vir jou as ouer ’n tameletjie wees om ’n slaapplek in die area te kry nie. Moenie bekommer nie, hier is LekkeSlaap se lys van bekostigbare verblyfopsies in studentedorpe en naby van Suid-Afrika se groot universiteite. 

Verblyf naby Stellenbosch Universiteit

Laanhof

Hulle sê daar is niks so soet soos ’n soen in Die Laan nie, so kom beleef ’n deel van die Stellenbosch-studentekultuur deur in dié straat, net ’n hanetreetjie van Coetzenburgstadion en ’n paar honderd meter vanaf Stellenbosch se universiteitskoshuise af te bly. Laanhof bied slaapplek aan tot 16 gaste in verskeie eenhede. Dit is ideaal vir julle as ouerpaar as jou kind nog vir oulaas ’n aandjie by jou wil slaap vóór hulle die grootmenswêreld aandurf, of as die hele gesin saamkom. Die ruim kamers is keurig gemeubileer met moderne geriewe en die vinnige WiFi is handig om daardie laaste-minuut universiteitsadministrasie wat mag opduik uit te sorteer! 

Kliek hier vir die tariewe. 

UniqueStay Oudehoek One Bedroom Apartment

Met ’n uitsig oor die akkerbome en die ikoniese Dorpstraat net om die draai, is dié woonstel op die tweede verdieping die ideale basis vanwaar ouers Stellenbosch kan verken. Die gebou is lekker naby Stellenbosch se naglewe soos die talle restaurante en wynkroeë, museums, die Botaniese Tuine en die universiteit. UniqueStay is ook een van LekkeSlaap se voorkeurvennote, wat beteken jy kan ekstra spaar op jou bespreking mits jy ’n LekkePlus-lid is.

Kliek hier vir die tariewe.

Verblyf naby Noordwes-Universiteit

Grey Manor Guesthouse 

Dié vierster-gastehuis is stapafstand vanaf die Noordwes-Universiteit se hoofhek en bied verskeie verblyfopsies aan gaste wat dié studentedorp te voet wil verken. Die gastehuis is op Die Bult en het lugversorging én braaigeriewe wat beide noodsaaklik is vir ’n somersdag in dié dorp! Hier kan ouers vir oulaas saam met hulle kinders braai of ná die groet-en-ontmoet saam met die Huiskomitee terugsit en ontspan. 

Kliek hier vir die tariewe.

The Oak Potch 

The Oak is in die hartjie van Potchefstroom en bied al die nodige geriewe vir daardie op-die-nippertjie-inkopies voor die koshuis aangedurf word. Dit is die ideale basis vanwaar ouers en nuweling-studente dié dorp kan verken. Die gastehuis is ’n ouwêreldse gebou met bekoorlike detail en ’n glastuinhuisie waarin julle kan ontspan en herlaai ná die gewoel en gewerskaf van ’n studente-intrekdag. 

Kliek hier vir die tariewe.

Verblyf naby die Universiteit van die Vrystaat

Villa Rose Guesthouse & Venue 

Nuwe Kovsie-ouers sal dié gastehuis naby die Universiteit van die Vrystaat en verskeie winkelsentrums in die stad ideaal vind. Villa Rose bied moderne selfsorgverblyf in verskeie kamers en daar is ’n swembad waarin gaste kan afkoel ná ’n warm Vrystaatse somersdag. Terwyl ouers in die Rosestad kuier, kan hulle ook die besienswaardighede in die omgewing, soos die Vrystaat se Nasionale Botaniese Tuin, die Franklin Wildreservaat of Hamilton Park verken. Moet ook nie vergeet van die Vrystaatstadion waar die Cheetahs gereeld uitdraf nie! 

Kliek hier vir die tariewe.

Imani Guest Cottage 

Imani Guest Cottage bied eenvoudige verblyf met verhit-en-eetgeriewe in ’n kothuis op die eienaar se woonerf. Dit is ideaal vir gaste wat net die basiese benodig en wat nie sal skroom om die stad te voet aan te durf nie. Dit is stapafstand van die universiteit en verskeie winkelsentrums en restaurante af, asook gerieflik naby die lughawe vir ouers wat van oor die land vlieg om hulle kinders tot by die koshuisvoordeur te vergesel. 

Kliek hier vir die tariewe.

Verblyf naby die Universiteit van Pretoria

Birdwood Boutique Estate 

In die hartjie van die Jakarandastad lê dié bekoorlike gastehuis en B&B reg om ouers wat hulle kuikens moet kom loslaat te verwelkom. Gaste kan kies om die B&B-verblyf te neem sodat hulle krag kan bou voor hulle ’n besige dag op kampus moet aandurf! Andersins kan die selfsorg-opsie bespreek word en kan ouers ’n smakie van die studentelewe op Pretoria kry en by een van die talle eetplekke in die omgewing aansit. Birdwood Boutique Estate is ook rolstoelvriendelik en daar is wasgoeddienste ─ ’n moederhart wil darem seker wees haar kind het genoeg skoon klere voor hulle die nes verlaat!

Kliek hier vir die tariewe.

Bwelani Guest House & Self Catering 

Dié gastehuis se naam beteken “sluit by ons aan” of “jy is welkom” en dit is presies wat enige ouer wil hê hulle kind moet hoor en voel wanneer hulle by ’n koshuis aankom. So, waarom nié by Bwelani kom vertoef as jou kind op Pretoria studeer nie? Jou viervoetkind is ook welkom om saam te kom, so die hele gesin kan vir Boetie of Sussie kom afsien! Hier is ouers nét 150 meter van die Universiteit van Pretoria se hoofhek af en, met die natuurlewe in die tuin, sal gaste sommer vinnig vergeet hulle is in die stad! 

Kliek hier vir die tariewe.

Verblyf naby die Universiteit van Kaapstad

Carmichael House Boutique Hotel

Dié boetiekhotel teen die hang van Duiwelspiek in die Moederstad is skrams meer as ’n kilometer van die Universiteit van Kaapstad af. Ontbyt is by die tarief ingesluit en ouers kan in een van dié ruim Victoriaanse huis se kamers ontspan terwyl hulle die uitsig oor Kaapstad aanskou. Daar is veilige parkeerplek op die perseel, so julle kan met gemoedsrus die voertuig parkeer en saam met julle kind te voet die grootmenswêreld aanpak! 

Kliek hier vir die tariewe.

Verblyf naby Rhodes-Universiteit

Lanherne Guest House Bed & Breakfast

Lanherne Guest House Bed & Breakfast is ’n klassieke Grahamstadhuis net 1 kilometer vanaf Rhodes-Universiteit en bied B&B-verblyf aan ouers wat hul kinders by dié universiteit kom afsien. Terselfdertyd is Grahamstad ’n klipgooi vanaf talle ander ikoniese besienswaardighede in die omgewing soos die Groot-Visrivierreservaat, Addo-olifantpark, Pumba Privaat Wildreservaat en die Kariega Wildreservaat. Lanherne het WiFi, ’n swembad en veilige parkeerplek.  Boonop is dit die ideale verblyf vir ouers wat ’n vakansie saam met hul reis na die universiteit wil inwerk!

Kliek hier vir die tariewe.

Om jou kind by die universiteit af te sien is maar ’n swaar ding vir enige ouer en daar is talle dinge waaraan gedink moet word vóór die skoolverlater ’n student kan word. Gelukkig is LekkeSlaap se lys van verblyf naby universiteite nou hier om te help. Wanneer jou studentekind veilig in sy of haar koshuisbed is, weet jy nou waar jy ook kan rus!

Hooffoto: The Den Apartments by Cape Summer Villas op LekkeSlaap.co.za