Sit jy ook soms met verlangende oë en kyk na foto’s van die luukse en dikwels peperduur lodges wat veral in ons mooiste bosveldprovinsie skuil? LekkeSlaap wil jou vandag wys dat “lodge” en belaglike pryse nie noodwendig hand aan hand gaan nie ─ ons het vir jou sakpas-alternatiewe gaan uitsoek sodat jy nie jou volgende vakansie mismoedig by die huis hoef te sit nie!

Mothopo Game Lodge, Vaalwater 

Gaste raak liries oor hoe lekker hulle saam met familie en vriende hulle gate uit geniet het by dié gesellige en gesinsvriendelike lodge sowat 40 km van Nylstroom af ─ en jy sal gou sien hoekom! Dié lodge is net 2 uur en 30 minute se ry van Johannesburg af, so dis ideaal vir ’n naweekwegbreek waar jy ná ’n opwindende dag van wildritte en buitelugdoendinge al te lekker om die reuse-boma kan kom kuier. Daar is werklik min plekke waar jy só baie kan beleef én so tuis kan voel soos by Mothopo ─ die atmosfeer, gesellige kuiergeriewe, ongelooflike uitsigte en legio doendinge maak dit ’n absolute winskopie teen die prys wat jy betaal!

Pretfeit: Mothopo Game Lodge se trots is die buffels waarmee hulle teël en die verskeidenheid eksotiese wildspesies, soos goue wildebeeste, wat jy nie sommer by enige wildlodge kan gewaar nie. Op die wildrit neem Walter en sy span jou selfs tot net 6 m van die buffelteëlery af!

Tariewe: Vanaf R900 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 14 gaste
Spesiale geriewe: Kroeg op die perseel, teetuin, eetarea, kinderspeelterrein, spabehandelings, masseer- en skoonheidsterapie, konferensiegeriewe, skoonmaakdienste, lughawependeldiens, Jacuzzi-baddens, braaiplek, ’n boma en swembaddens
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik
Doendinge: Jag (1 Mei tot 31 Augustus), wildkyk, begeleide wildritte (teen ’n minimale ekstra koste), swem, voetslaan, voëlkyk, baarshengel en visvang (alles op die perseel)

Wat sê ons gaste? 

Lekker op die plaas, stil en weg van alles. Walter se diens uitstekend. Was lekker om weg te wees van al die gewoel. Plaas se rustigheid is ’n lafenis, veral die kuier om ’n vuurtjie. Het veilig gevoel. Beddens en beddegoed – goeie matrasse en skoon beddegoed. Goeie waarde vir geld.

Grootfontein Private Nature Reserve, Thabazimbi

Die familieplaas waarop dié reservaat geleë is, is reeds sedert die 1930’s in die Grobler-familie en nog altyd ’n ongerepte toevlugsoord – alles werk met sonkrag en jy moet ’n ent stap om selfoonsein te kry! Die lodge se eenhede is almal uniek ingerig. Die meeste van hulle is oop met wonderlike boskombuise langs ’n groot vuurput met sitplek, ’n swembadjie met skouspelagtige uitsigte en badkamers net buite die eenhede. Daar is wel een kothuis met ’n kombuis en badkamer binne vir die minder avontuurlustige gaste. Grootfontein is ideaal vir groepe. Personeel vertel hulle het al selfs in die verlede ’n rampartytjie vir 24 ouens gehou waarvoor hulle ekstra beddens en ’n kragopwekker vir musiek gekry het en die personeel sommer vir hulle gebraai het. Dis ook gewild vir familie-reünies aangesien die eenhede lekker privaat en ver van mekaar af is, maar steeds naby genoeg dat almal gesellig saam kan kuier!

Tariewe: Vanaf R700 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 82 gaste
Spesiale geriewe: Swembadjies en vuurputte by elke eenheid
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik en troeteldiervriendelik ─ ’n kinderoppasdiens is selfs beskikbaar.
Doendinge: Alhoewel die Groot 5 nie op die plaas voorkom nie, is die plaas net ’n uur se ry van Pilanesberg en Marekele Nasionale Parke af waar jy wel die Groot 5 sal kan gewaar. Daar is ’n bergfietsresies waarvan die plaas deel vorm, nou en dan bied plaaslike skoonheidsterapeute behandelings by die lodge aan en fotografietoere word ook soms op die perseel aangebied.

Wat sê ons gaste? 

Mal oor die kampgevoel en geen elektrisiteit of selfsoonsein, heeltemal afgesonder hoog op in die berge! Ongelooflik. Pragtige en unieke plek. Die moeite werd as jy van die buitelug hou.

Bush Lovers Lodge, Modimolle

By Bush Lovers Lodge in die Waterberge is daar ’n kombinasie van sakpas-selfsorgopsies as jy self wil kook, maar as jy smag na ’n bietjie bederf, is daar ook B&B-opsies om van te kies. Dit bied die ideale balans tussen ’n sakpaswegbreek en bederfgeriewe ─ jy sal voel asof jy op ’n 5-ster vakansie is sonder om ’n plaas se prys te betaal. Dié lodge is naby die beskawing as julle as ’n gesin wil gaan uiteet, inkopies doen en rondrits tussen besienswaardighede, maar ook ver genoeg van die dorp af sodat julle behóórlik kan uitrus!

Tariewe: Vanaf R800 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 38 gaste
Spesiale geriewe: Trou-venue, konferensiegeriewe, skoonmaakdienste, braaiplek en swembaddens
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik
Doendinge: Wildkyk, visvang, bergfietsry, swem en voëlkyk (alles op die perseel). Naby Koro Creek Gholflandgoed vir die gholfentoesiaste wat in die bosveld wil braai en kuier, en besienswaardighede soos Serendipity-voetslaanroetes, Thaba Kwena Krokodilplaas en Nylsvley Natuurreservaat geleë.

Wat sê ons gaste? 

Heerlik! Pragtige omgewing. Heerlike kos. Vriendelike en flinke diens.

Luiperdskloof Safaris, Mookgophong

Luiperdskloof Safaris het sedert 1998 sy bestaan te danke Xavier Thienpont wat vanaf België na Suid Afrika gekom het, op soek na avontuur, en toe ’n stuk grond van 3500 ha in die Waterberge gekoop het. Deesdae spog dié stuk grond met ’n lodge wat ’n lekker gesellige en privaat bestemming vir ’n groep sowat 2 ure se ry vanaf Gauteng en 27 km vanaf Modimolle. Die lodge is omring deur pragtige natuurskoon wat uit bosveld, ongerepte klowe en beboste heuwels bestaan met volop wild wat op die perseel wei. Die verblyf self is in die lowerryke tuin versteek en die ideale plek om te ontspan tussen wildritte. As jy op soek is na ’n sakpas-groepsbestemming vir die langnaweek is die lodge se Uilsnes-eenheid ideaal, en as jy ’n wegbreek vir twee beplan, kan jy gerus na die Rhino-lodgekamers loer.

Tariewe: Vanaf R780 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 28 gaste
Spesiale geriewe: Rolstoelgeriewe, lughawependeldienste, wasgoeddienste, skoonmaakdienste, restaurant en kroeg op die perseel, braaiplek en swembaddens
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik
Doendinge: Begeleide wandelpaaie, swem, visvang, baarshengel, voetslaan- en bergfietsroetes, geleenthede vir wildfotografie en begeleide wildritte gedurende die dag en nag

Wat sê ons gaste? 

Beter in werklikheid as op foto’s. Die verblyf was regtig lekker en mens kon enige tyd net laat weet as daar iets kort. Dit was regtig ’n lekker naweek in die natuur saam met familie.

Anro Safaris, Lephalale

Anro Safaris is op die plaas Slangfontein in die Waterberge geleë ─ ’n lowerryke omgewing met ’n groot verskeidenheid voël- en dierspesies. Hiér kan jy sommer ter selfde tyd wildkyk én afkoel in een van die kristalhelder swembaddens in die middel van die ongerepte bosveld. Daar is ook watergate en wildkykskuilings op die perseel en wildritte is teen ’n ekstra koste beskikbaar, so teen die tyd dat jy hier waai behoort jy vir ’n wyle eers genoeg wild te gesien het!

Tariewe: Vanaf R800 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 37 gaste
Spesiale geriewe: Rolstoelgeriewe, konferensiegeriewe, skoonmaakdienste, braaiplek, swembaddens, voëlkykskuilings en watergate
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik en troeteldiervriendelik
Doendinge: Wildkyk, wildritte, swem en voëlkyk (alles op die perseel) en dan perdry, visvang, baarshengel, Groot 5-wildkyk, fietsry en tennisspeel naby die lodge

Wat sê ons gaste?

Dit is die moeite en die afstand se ry werd! Baie mooi plek en mens voel sommer dadelik tuis as jy daar inloop. Gaan vir seker teruggaan en baie langer daar bly.

Matingwe Lodge and Private Game Reserve, Vaalwater

Matingwe Lodge and Private Game Reserve is langs die meer bekende Welgevonden Wildreservaat geleë, maar dié reservaat is in sy eie reg die besoek werd. Dié uitgestrekte, rustige omgewing bied wonderskone natuurtonele, kranse, helder strome en bosveldheuwels wat wemel van die inheemse plante en diere ─ jy kan selfs die Groot 5 hier gewaar! Die Matingwe-personeel verwelkom jou met ’n verfrissende drankie ná jou begeleide wildrit-ervaring en daarna kan jy heerlik saam met vriende of familie saans in die vars bosveldlug om die boma kuier. Die lodge se hartlike, huislike atmosfeer sal jou sommer met die intrapslag tuis laat voel!

Tariewe: Vanaf R200 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 78 gaste
Spesiale geriewe: Swembad, braaiplek, boma en ’n restaurant op die perseel
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik
Doendinge: Wildkyk, Groot 5-wildkyk, voetslaan, visvang, swem, voëlkyk, perdry, rotskunsuitstappies en piekniekhou op die perseel

Wat sê ons gaste? 

’n Fantastiese wegbreek vanaf die stad se gejaag en tegnologie – geen selfoon wat kan lui nie, geen internet wat jou besig kan hou nie – vars buite lug en pragtige natuurskoon!

Chinaka Game Lodge, Vivo

Dié afgesonderde lodge, net 3,5 uur se ry vanaf Pretoria en op pad na die Mapungubwe Wêrelderfenisgebied, is ’n privaat toevlugsoord waar jy jouself behoorlik in die Bosveld kan verlustig. Dink net hoe lekker sal jy ontspan op die dek met ’n uitsig oor die watergat en ’n skemerkelkie in die hand terwyl jy met jou reisgenote gesels oor die kameelperde, sebras, koedoes, elande, luiperds, jagluiperds, gemsbokke en njalas wat julle op julle wildrit gesien het. Buiten informele kuiers op die dek maak Chinaka ook voorsiening vir spesiale geleenthede soos kombuistees, konferensies, vergaderings, werkswinkels, skoolfunksies of spanbousessies. Om dit alles te kroon bied Chinaka ook unieke toere en die geleentheid om bedreigde spesies van nader te aanskou.

Tariewe: Vanaf R800 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 30 gaste
Spesiale geriewe: Swembad, uitkykdek, watergat, braaiplek, portierdienste, speletjieskamer, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens, konferensiegeriewe en ’n kroeg en ’n restaurant op die perseel
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik
Doendinge: Wildkyk, wildritte, begeleide wandelpaaie, swem en voëlkyk op die perseel

Wat sê ons gaste?

Dit was so lekker. Die mense is so behulpsaam en vriendelik. Ons het tuis gevoel en hul het ons met meer as nodig bedien en dit ekstra spesiaal gemaak.

Limpokwena Nature Reserve, Alldays

Limpokwena Nature Reserve is aan die oewer van die Mogalakwena- en Limpopo-riviere geleë wat die grens met Botswana vorm. Die lodge skuil tussen koorsbome, worsbome en mopaniebome en dit is ’n natuurliefhebber se paradys met meer as 350 voëlspesies wat hiér rinkink. Aangesien die reservaat aan Botswana grens, beweeg die wild gereeld heen en weer. Die ervare gids sal jou op ’n wildrit neem en jou klein verwikkelings uitwys wat gereeld misgekyk, soos om die spoor van ’n olifant te volg, of op ’n nagwildrit neem om die naglewe te besigtig wat ystervarke, hiënas en die skugter luiperd insluit. Die selfsorg-pakket is ideaal vir gesinne wat smag na ’n sakpaswegbreek in die bos en sluit selfs ’n begeleide wildrit in.

Tariewe: Vanaf R1000 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 14 gaste
Spesiale geriewe: Swembad, braaiplek, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens en konferensiegeriewe
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik en troeteldiervriendelik (indien jy dit vooraf reël.)
Doendinge: Wildkyk, wildritte, begeleide wandelpaaie, swem, visvang en voëlkyk op die perseel. Verder kan gaste ook perdry en Groot 5-wildkyk in die omtrek.

Wat sê ons gaste?

Baie lekker plek. Baie mooi plek gewees met hulpvaardige bestuur. Wildrit was ook lekker gewees. Sal beslis weer en langer gaan.

Witgatboom Boskamp, Mookgophong

By Witgatboom Boskamp, ’n privaat wildlandgoed 11 km buite Mookgophong, is bewaring die hoofprioriteit. Gaste kan dit eerstehands in ’n absoluut ongerepte omgewing kom beleef en hulle verwonder aan die verskeidenheid wild en voëls wat hier voorkom. Die boskamp is gepas vir klein groepe, paartjies en gesinne en bied ’n intieme ervaring wat jy nie sommer by enige groot lodge sal beleef nie! As jy ’n romantiese wegbreek beplan kan die lodge selfs vir julle ’n spesiale ete iewers in die bos of op die dek voorberei en vir gesinne is daar ’n legio kindervriendelike doendinge om die jongspan besig te hou.

Tariewe: Vanaf R700 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 18 gaste
Spesiale geriewe: Braaiplek, boma, eetarea waar maaltye bedien word, dek, swembad, daaglikse skoonmaakdiens, lughawependeldiens en ’n wasgoeddiens
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik ─ ’n kinderoppasdiens is selfs beskikbaar.
Doendinge: Begeleide wandelpaaie, voëlkyk, wildritte, swem, jag en fietsry op die perseel, en verder perdry, Groot 5-wildkyk, bergfietsry en tennisspeel in die omtrek

Wat sê ons gaste?

Die gasvryheid was uit die boonste rakke. Die wildrit was beslis ’n hoogtepunt, so ook die boma-area met sy groot bosveldvuur. Die eienaar en bestuur doen baie moeite om gaste te bederf. Ons kan die lodge met ’n geruste hart aanbeveel. Gaan beslis weer.

Bolivia Lodge, Polokwane

As jy ’n bietjie nader aan die stad wil bly of ’n spesiale geleentheid beplan, bied Bolivia Lodge die perfekte kompromie. Hiér sal jy steeds die rustige bosveldatmosfeer beleef en ontspan, maar ter selfde tyd kan jy ook troues, konserte, uitstallings, bekendstellings, gala-geleenthede, spanbousessies en vergaderings hier hou waarná jou gaste sommer op die perseel kan oorslaap. As julle net ’n gesin is wat rustig vakansie wil hou, is daar ’n paar gesinseenhede om van te kies en talle natuurreservate net ’n entjie se ry daarvandaan vir ’n prettige daguitstappie.

Tariewe: Vanaf R650 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 144 gaste
Spesiale geriewe: Braaiplek, boma, Jacuzzi, swembad, spabehandelings, rolstoelvriendelike geriewe, konferensiegeriewe, trouvenue, kroeg en restaurant op die perseel, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens en ’n lughawependeldiens
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik
Doendinge: Voëlkyk en swem op die perseel en daguitstappies na Polokwane en Mall of the North

Wat sê ons gaste?

Aangenaam met geen probleme. Ons het lekker oornag. Plek is skoon en netjies. Mense is hulpvaardig.

Platjan Lodge, Alldays

Platjan Lodge skuil aan die oewer van die lieflike Limpoporivier teen die grens van Botswana naby die Platjan-grenspos. As jy ’n rusplek op pad na Botswana of terug soek, is dié lodge ’n oase doer noord in die Bosveld. Die lodge maak voorsiening vir alle tipe reisigers met pragtige kamers om van te kies en keur en gesellige kuierplek buite én binne. Dit is veral gewild onder voëlkykers wat graag die visvangers, visarende, gevlekte koekoeks, bromvoëls, swarteende en die skugter visuile kom bewonder. Kom teug aan ’n verfrissende skemerkelkie langs die swembad terwyl jy in die bosveldsonnetjie bak, of gaan wandel langs die rivier met jou verkyker in die hand waar jy waarskynlik seekoeie, krokodille en selfs olifante sal opspoor. Saans kan julle smul aan ’n heerlike wildsvleisdis en ’n glasie klink op nog ’n opwindende dag in die Bosveld!

Tariewe: Vanaf R550 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 21 gaste
Spesiale geriewe: Swembad, kaggels in van die eenhede, stoepe, trouvenue en ’n kroeg en restaurant op die perseel
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik
Doendinge: Voëlkyk, swem, begeleide wandelings langs die rivier, jag en wildkyk op die perseel

Wat sê ons gaste? 

Netjies, rustig en mooi omgewing. Hoogs aanbeveel, alles het net mooi in plek geval en die lodge is alles wat adverteer word. Pragtige ligging en uitstekende kos in die restaurant.

Iphofolo Lodge, Vivo

Iphofolo Lodge is op ’n 1200 ha-wildplaas met meer as 30 soogdierspesies en sowat 350 voëlspesies geleë en dis ’n droombestemming vir stadsjapies wat smag na ’n wegbreek in die skouspelagtige Soutpansberge. Buiten die snoesige lodge-kamers is daar ook luukse permatente op verhewe houtdekke waar jy kan ontspan ná ’n bedrywige dag van voetslaan en wildkyk. Die lodge se restaurant is sommer reg langs die dam waar die wild soggens en saans hul dors kom les, so jy hoef ook nie eers rond te rits om wild te kyk nie.

Tariewe: Vanaf R750 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 20 gaste
Spesiale geriewe: Braaiplek, watergat, houtdekke, daaglikse skoonmaakdiens en ’n restaurant op die perseel
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik
Doendinge: Voëlkyk, voetslaan op gemerkte staproetes en wildkyk op die perseel

Wat sê ons gaste?

Ons was beïndruk om sulke verblyf op pad van SA deur Botswana na Zimbabwe te vind. Ons bespreking is aanlyn gemaak soos ons gereis het, en ons is vriendelik verwelkom. Ons het ’n stil aand daar deurgebring; die geriewe is puik en hoogs aanbeveel.

Kransberg Country Lodge, Thabazimbi

Kransberg Country Lodge is sowat 30 minute buite Thabazimbi in ’n UNESCO biosfeer-reservaat op die grens van die Marakele Nasionale Park op ’n plato in die Waterberge geleë. Dié reservaat word gekenmerk aan sy hoë kranse waar ’n groot kransaasvoëlkolonie, wat deesdae ’n bedreigde spesie is, nesmaak. Dit is ’n gewilde bestemming vir reisigers wat daguitstappies na reservate in die omtrek wil beplan en ook ’n lekker kuierplek vir reünies. Gedurende die wintermaande kan julle rondom die kaggel sit of op die stoep ontspan en die uitsig bewonder, en avontuurlustige gaste kan die omgewing met ’n bergfiets of motorfiets gaan verken.

Tariewe: Vanaf R800 per nag (vir 2 gaste)
Slaapplek vir: 12 gaste
Spesiale geriewe: Kaggel, braaiplek, kroeg en ’n daaglikse skoonmaakdiens
Kinder- en troeteldiervriendelik: Kindervriendelik, maar die perseel is oop so kinders moet onder ouer toesig wees.
Doendinge: Begeleide wandelpaaie en voëlkyk op die perseel, en verder perdry, wildkyk en bergfietsry in die omtrek.

Sien, dit hoef nie altyd ’n plaas se prys te kos om jou gesin op safari te vat of die luuksheid van ’n gesellige lodge te beleef nie! Ons hoop dié gids het jou gehelp om op ’n sakpaswegbreek te besluit en dat jy nou sommer nuwe moed vir jou vakansiebeplanning gekry het. Weet jy van enige bekostigbare lodges wat ons nie op die lysie gevoeg het nie? Laat weet ons hieronder!

Hooffoto: Limpokwena Nature Reserve (LekkeSlaap)