Vir ’n week of wat in Maart elke jaar is Stellenbosch in rep en roer. Dis wanneer menige bekende doodluiters deur die strate lanterfant, Ryneveldstraat se koffieplekkies nie kan voorbly met bestellings nie en die universiteit se lesinglokale dolleeg is … Dis Woordfees in die Eikestad! Dié fees sorg jaar na jaar vir hope pret en vermaak, en as ’n mens 2018 se program so bekyk, lyk dit asof volgende jaar se fees die kultuurdier in ’n ieder en elk gaan wakker maak!

Stellenbosch se skilderagtige strate | Foto: bonne_esperance (instagram) Só lyk 2018 se feesgids| Foto: michellevds (instagram)

Die negentiende US Woordfees vind van 2 tot 11 Maart 2018 plaas en daar is meer as 1000 geleenthede op die feesprogram wat verskeie toneelstukke, boekgesprekke, musiek- en filmvertonings, kunsuitstallings en skertskomedie insluit. Dis slim om sommer lank voor die tyd jou feesbesoek haarfyn te beplan, vroegtydig kaartjies* te koop en natuurlik betyds verblyf te bespreek. In dié Woordfees-kitsgids wys LekkeSlaap jou watter geleenthede boaan jou feeslysie hoort, waar om jou feesvoos voete te laat rus en waar om ná die feesgesellighede salig te slaap!

’n Feeslysie vir Woordfees 2018:

Die Universiteit Stellenbosch herdenk in 2018 sy Eeufeesjaar en juis daarom is vanjaar se feestema — 100% — só gepas. Dié spesiale gebeurtenis word sommer met die intrapslag gevier deur ’n Eeufeeskonsert op Vrydag 2 Maart. Volgens Frieda Le Roux, ’n woordvoerder van die US Woordfees, is dié konsert ’n hoogtepunt op die program. Kunstenaars soos Gloria Bosman, Timothy Moloi, Laurika Rauch, Coenie de Villiers, Arno Castens en MiCasa pronk op die verhoog en sorg vir ’n feestelike affêre.

Coetzenburg maak gereed vir ’n groot makietie | Foto: bombshelterbeast (instagram) Die alombekende US Museum waar ’n hele rits Woordfees-geleenthede plaasvind | Foto: maiya__kitty (instagram)

Maak ook seker jy koop ’n kaartjie vir Laurika Rauch Digby my Hart. In dié produksie word ou liedjies uit die 70’s opgediep sodat jy jou kan oorgee aan die nostalgie. Jy kan ook weer jou kinderdae herleef deur die kinderteaterproduksie Liewe Heksie in die Sirkus by te woon — jonk én oud sal mal wees oor al die sirkustoertjies. As jy lief is vir die Afrikaanse letterkunde, moet jy beslis nie Willem Landman se bespreking oor sy laaste gesprekke met die oorlede skrywer Karel Schoeman misloop nie. Dít klink mos nou na ’n fees!

’n Blaaskans vir jou voos feesvoete:

Stellenbosch is alombekend vir sy oulike koffiewinkels, koekplekkies en toprestaurante, so ’n mens sukkel nie om ’n rusplekkie so tussendeur die feestelike atmosfeer te vind nie. Les jou dors met ’n glasie Mrs. Beetlemint ─ beetsap met ’n tikkie appel en kruisement ─ by Meraki in Ryneveldstraat in die hartjie van die fees. Dié oulike koffiewinkel se buffet-middagetes is ook uit die boeke!

Dié prentjiemooi plekkie nooi ’n mens dadelik in | Foto: merakiliving (instagram) Kyk net hoe mooi is dit binne! | Foto: kameoclothing (instagram)

As jy net in die verbygaan ’n wegneemkoffie wil gryp, móét jy jou bestelling by Häzz gaan plaas. Dié moderne straatkafee in Ryneveldstraat se vriendelike baristas knoop altyd ’n geselsie aan en die boeretroos sal selfs die mees gesoute koffiekenner beïndruk. Dis die ideale plek vir ’n vinnige blaaskans terwyl jy wag vir die volgende vertoning om te begin.

Kom sit op Häzz se stoep en kyk of jy nie ’n bekende sien verbystap nie! | Foto: amandadovey (instagram) Lloyd, die barista, klets graag terwyl hy koffie maak | Foto: antonischonken (instagram)

Is jy lus vir ’n stewige aandete by ’n luukse restaurant net ’n hanetreetjie vanaf al die Woordfees-opwinding? Bespreek sommer nou al jou plek by The Fat Butcher in Riebeeckstraat. Enige karnivoor kan behoorlik weglê aan dekadente murgbene en smullekker steaks by dié sjiek steak-restaurant. Gelukkig is daar ook ’n paar vegetariese disse vir diegene wat nie só lief is vir vleis nie. Dis die perfekte plek om jou knuppeldik te eet en lekker te ontspan ná ’n dag se feesverrigtinge.

Die immergewilde gebou in Riebeeckstraat waar The Fat Butcher nou is | Foto: fatbutcher_sa (instagram) Die steak-restaurant is keurig en sjiek ingerig | Foto: fatbutcher_sa (instagram)

Klink ’n glasie Simonsig-vonkelwyn en word met oesters getrakteer by De Warenmarkt se vonkelwynkroeg net langs The Fat Butcher. Dis die ideale plek om ’n aand vol kuns en kultuur ewe kunstig af te sluit.

De Warenmarkt se groen deure nooi ’n mens gul in | Foto: dewarenmarkt (instagram) Dekadent! | Foto: nikivanheerden (instagram)

Slaap salig in Stellenbosch:

LekkeSlaap het ’n paar plekkies in die hartjie van die dorp wat nog beskikbaar is in Maart 2018, maar jy moet gou spring — dis só gesog dat dit sommer in ’n japtrap opgeraap word!

The Stellenbosch Hotel:

Dié hotel is ’n baken in die Eikestad | Foto: LekkeSlaap. Die Stellenbosch Hotel se keurige kamers | Foto: LekkeSlaap

Dié historiese gebou is in 1987 as ’n nasionale monument verklaar en spog vandag met ’n klomp boetiek-hotelkamers, woonstelle en die Stellenbosch Kitchen Restaurant. Die Stellenbosch Hotel is boonop net 5 minute se stap vanaf die feeskern, so jy kan tussen vertonings vinnig ’n uiltjie kom knip!

107 Dorpstraat Boutique Hotel:

Die moderne, sjiek wynkroeg onder die hotel | Foto: LekkeSlaap. Kyk net hoe spoggerig is dié kamers | Foto: LekkeSlaap.

As jy ’n weelderige Woordfees-wegbreek wil hê, is die stylvolle 107 Dorpstraat Boutique Hotel nét die plek vir jou! Dis aan die bokant van ’n eksklusiewe wynkroeg geleë en daar is ’n kuierarea met asemrowende uitsigte op die Stellenbosch-berg.

Twice Central Guest House:

’n Tikkie smarag en donkerblou skep ’n weelderige gevoel | Foto: LekkeSlaap. Die slaapkamers is nét so nuwerwets en stylvol | Foto: henkoroukema (instagram)

Die nuwerwetse Twice Central Guest House is effens uit die dorpsgedruis in ’n rustige woonbuurt naby die Eersterivier geleë, maar dis steeds stapafstand vanaf al die feesbedrywighede. Dié gastehuis is keurig getooi in spatsels smaraggroen en donkerblou om ’n weelderige gevoel te skep, en gaste word soggens met ’n smullekker ontbyt bederf.

Bonne Esperance:

Dié Victoriaanse villa sal jou behoorlik bekoor | Foto: LekkeSlaap. Hiér sal ’n mens heerlik kan kuier | Foto: LekkeSlaap.

Een van die mooiste gesigte in Stellenbosch is waarskynlik die Bonne Esperance Guest House — ’n Victoriaanse villa uit 1901 wat pragtig opgeknap is en waar daar vandag steeds ’n ouwêreldse atmosfeer heers. Die bekende Laan met sy oeroue eikebome en stroompies is net om die draai en jy kan sommer deur die US Botaniese Tuine tot by die feeskern wandel.

Lêplekkies ’n entjie buite die Eikestad:

Rest @ Chabivin Vineyard Studio:

Rest @ Chabivin Vineyard Studio | Foto: LekkeSlaap. Rest @ Chabivin Vineyard Studio | Foto: LekkeSlaap.

L’Avenir Country Lodge:

L'Avenir Country Lodge | Foto: LekkeSlaap. L'Avenir Country Lodge | Foto: LekkeSlaap.

Klein Welmoed Guest House:

Klein Welmoed Guest House | Foto: LekkeSlaap. Klein Welmoed Guest House | Foto: LekkeSlaap.

In the Vine Country Manor:

In the Vine Country Manor | Foto: LekkeSlaap. In the Vine Country Manor | Foto: LekkeSlaap.

Webersburg Estate:

Webersburg Estate | Foto: LekkeSlaap. Webersburg Estate | Foto: LekkeSlaap.

Hill House:

Hill House | Foto: LekkeSlaap. Hill House | Foto: LekkeSlaap.

Is jy ook nou lus om ’n draai in die skilderagtige Stellenbosch te maak en fees te vier? Dan moet jy wakker slaap en sommer dadelik jou blyplek vir 2018 se Woordfees bespreek!

*Feeskaartjies is by Computicket beskikbaar.

Onthou: Waterbeperkings geld ook in Stellenbosch, so gebruik asb. water spaarsamig.

Hooffoto: The Stellenbosch Hotel (LekkeSlaap).