Verlang jy na die dae van aansit vir ete op ’n trein, die oorverdowende fluit van een wat nader kom, of dalk die geluid van die wiele wat kap-kap onder jou sitplek? Goeie nuus: LekkeSlaap het ontdek waar jy dit en nog meer weer kan beleef. Ons wys jou waar jy weer op die perron kan ontspan, jou op die sleepers kan tuismaak en die binnekant van ’n ouwêreldse trein kan bewonder.

So, pak jou koffer, wuif vir jou geliefdes koebaai. “Opklim, opklim! Almal op die trein?” Dié trein is op pad na Brits!

Beestekraal Stasie Restaurant, Noordwes

Beestekraal Stasie in Brits

Nadat die treine ophou loop het deur Brits, is die Beestekraal Stasie Goedere-skuur deur groenteverkopers gebruik. Bennie Hattingh het die plek se potensiaal gesien en Beestekraal Stasie Restaurant in 2005 oopgemaak. Dié lekker plek is meer as net ’n restaurant. Mense wat van hulle oudhede ontslae wil raak, maar dit nie wil weggooi nie, kom laai dit hier af en dis hoe dié plek sy look gekry het. Hul slagspreuk “local is lekker” verseker dat alles in hul restaurant, behalwe natuurlik die vis, met produkte uit die kontrei voorberei word. Sit op die stoep, kyk uit oor die treinspoor of gaan maak ’n draai in die skuur en bewonder al die oudhede. As jy op pad is na die Noorde en by dié interessante stasie wil aanklop vir sy gewilde wildspastei of die bobaas-steak, kliek op een van LekkeSlaap se Brits-blyplekke en vertoef sommer ’n paar dae!

Thaba Khaya Lodge | Mountain Mala Game Lodge | Morubisi Bush Lodge

“Volgende stop: Kloof!”

Stoker’s Arms, KwaZulu-Natal

Stoker's Arms in Kloof

Die ou Kloof Treinstasie is in 1912 gebou en was in gebruik tot 1983. Stoker’s Arms het reeds in 1987 hiér oopgemaak en is vandag nog baie gewild. Gaste kan binne of op die stoep onder die sonsambrele en sonskerm sit en oor die treinspore uitkyk; of in die gesellige kroeg kuier, terwyl die kinders op die speelgrond langsaan speel. Die treinwa wat onlangs bygevoeg is, is duidelik geen roetbesmeerde treinwa nie. Dié wa dien as ’n groot trekpleister en kan vir privaat funksies gehuur word. Gaste sal nie spyt wees as hulle hul magies hiér kom volmaak nie. Stoker’s se vleispasteie en eisbein is besonder gewild, maar die spyskaart het beslis iets vir almal en sal jou behoorlik laat weglê. Bestel gerus ook ’n Franken Street-boetiekbier ─ drie van hulle is uit die vat beskikbaar. Hiér gaan jy lekker kuier, so loer hier onder na ’n paar van ons blyplekke in Kloof sodat jy nie ver hoef te reis nie:

Ammazulu African Palace | Southey House | The duBoirs Boutique Lodge

“Volgende stop: Wildernis!”

Beejuice Café, Wes-Kaap

Beejuice Café in Wildernis

As gevolg van ’n paar vloede moes die Wildernis Treinstasie ongelukkig in 2008 sy spore sluit. Die treinstasie is egter vandag nog ’n gewilde bestemming weens sy historiese en argitektoniese erfenis. Beejuice Café dra natuurlik hiertoe by. Die Wildernis Treinstasie is net ’n hanetreetjie van die strand af, omring deur ’n pragtige tuin en net buite die dorp geleë so dis ideaal vir gaste wat van die dorp se gewoel wil ontsnap. Beejuice Café is ideaal vir almal wat op soek is na goeie geselskap, smullekker kos en ’n rustige atmosfeer. Die jongspan kan in die omheinde speelarea baljaar terwyl die ouers buite op die houtdek of langs die treinspoor ontspan. Hiér sal jy nie anders kan as om jou ore te spits vir die fluit van ’n aankomende trein nie. Die Kerrie-aande is ’n absolute moet! Maar onthou om vooraf te bespreek indien jy ’n gaatjie in die restaurant wil kry. Bespreek ook sommer nou by een van dié plekkies sodat jy nie die volgende Kerrie-aand misloop nie:

Whales Way Ocean Retreat | 7 Passes Tented Camp | Limberlost

“Volgende stop: Hermanus!”

Caffé Blu, Wes-Kaap

Caffé Blu in Hermanus

Alhoewel ’n trein nooit die Hermanus Treinstasie bereik het nie, is dit wel met dié doel in gedagte gebou. Die bestuurder van Suid-Afrikaanse Spoorweë, William Hoy, en sy vrou het in Hermanus kom vakansie hou. Hulle het dit só geniet dat hy daarteen besluit het om die treinspoor vanaf Botrivier na Hermanus te verleng. Hy was bang die klomp van die Kaap sou Hermanus maklik kon bereik en wou keer dat hulle dié spesiale plek bederf. Besoek LekkeSlaap se verblyfopsies hieronder en jy sal verstaan waarom die Hoy’s so mal oor dié dorp was.

Caffé Blu staan nou waar die treine sou wees. By dié espressokafee is daar eet- en drinkgoed te kies en te keur. Van verskillende tipes koffies, tees en koeldrank tot ontbyt, ligte maaltye en ander happies. En die beste van als is: dit word die hele dag lank bedien!

The Vishuis | The Potting Shed Guest House | Mosselberg On Grotto Beach

“Volgende stop: Botrivier!”

The Shuntin Shed, Wes-Kaap

The Shuntin Shed in Botrivier

Nadat die N2 nasionale pad gebou is, het die Botrivier Treinstasie se verkeer heelwat afgeneem. In 2007 het hierdie “shunting shed”, of rangeerskuur, ’n nuwe doel gekry: ’n restaurant en kroeg. The Shuntin Shed kry sy naam by die Engelse “shunt” wat beteken om ’n trein, of deel van ’n trein, van die hoofspoor na die syspoor te skuif. Dié unieke restaurant is ingerig met interessante treintoebehore, selfs die ou sleepers is in sitplekke omskep. Op dié sitplek sal jy dalk net die kelner vir ’n kondukteur aansien!

Kom klok in by een van Botrivier se oulike plekkies hieronder, ontspan in The Shuntin Shed se rustige atmosfeer en laat die musiek van die 60’s toe om jou weg te voer na ’n vervloë era. Sit buite, geniet die pragtige uitsig oor die Botriviervallei en hou jou oë oop vir die treine wat nog van tyd tot tyd hier verby gly, of bewonder die buitengewone dekor aan die binnekant. The Shuntin Shed is beroemd vir sy houtvuur-pizza’s wat natuurlik na beroemde treine of lokomotiewe vernoem is. Die “Orient Express”, “Blue Train” en “Rovos” is almal daar. Burgers, bierbeslag-vis, bier en ’n banting-opsie is ook beskikbaar. Maar as jy The Shuntin Shed in al sy glorie wil beleef moet jy ’n draai op ’n Sondagmiddag maak wanneer Mnr. Al Jeffrey die plek bekoor met sy New Orleans-styl Jazz-musiek. As jy teen die tyd lus is vir ’n heerlike pizza en Jazz op ’n stasie, bespreek nou by een van LekkeSlaap se Botrivier-blyplekke vir ’n wonderlike wegbreek:

Wildekrans Country House | Arolela Guest Farm | Endless Vineyards Boutique Lodge

“Volgende stop: Franschhoek!”

The Franschhoek Station Pub and Craft Bar, Wes-Kaap

Franschhoek Station Pub in Franschhoek

Die Franschhoek Treinstasie lyk nog presies soos wat dit gelyk het toe Herbert Baker dit in 1915 gebou het. Passasierstreine het hiér ophou loop nadat die Helshoogtepas vervoer vergemaklik het. In 2009 het die ou geliefde stasiegebou nuwe lewe gekry toe dit heropen is as ’n restaurant. Vandag staan dié plek bekend as The Franschhoek Station Pub and Craft Bar. Dit is ’n vreedsame familierestaurant met speelplek vir die jongspan en ’n lekker perron waarop die ouers kan ontspan. Privaat funksies word dikwels hier gehou en jy kan ook ’n paar vriende hierheen nooi vir jou eie braai: bring net jou vleis en hulle voorsien die res – dis mos gerieflik! Boetiekbier (daar is 25 verskillende soorte!), die eisbein wat al as die lekkerste in die Kaap beskryf is, en die Station Master-burger is op die moet-proe-lysie hier. Maar wees gewaarsku: dié burger is net vir die braafstes en die hongerstes. Laai sommer nou hul Station Pub-app af vir The Franschhoek Station Pub and Craft Bar se nuutste nuus, beplan ’n wegbreek hierheen en moenie vergeet om verblyf te bespreek nie:

Los Olivos At The Yard | Auberge Daniella | Lily Pond House at Le Lude

“Volgende stop: Darling!”

Evita se Perron, Wes-Kaap

Evita se Perron in Darling

Almal het al van Tannie Evita gehoor, maar almal weet definitief nie dat haar plek in die ou dae Darling se treinstasie was nie. Pieter-Dirk Uys (Tannie Evita) was op pad na McGregor toe hy ’n verkeerde afdraai vat en in Darling beland. Hier het hy summier ’n huis gekoop en van Kaapstad af verhuis. Die munisipaliteit wou die ou stasiegebou sloop, maar Uys het gevra of hy dit as ’n stoorkamer kan gebruik en so het Evita se Perron in 1996 haar deure oopgemaak. Die restaurant bedien Tannie Evita se ikoniese bobotie en haar legendariese koeksisters, sowel as verskeie ander lekkerhede. By Bambi’s Berlin Bar in die restaurant, vernoem na Tannie Evita se suster Bambi Kellerman, kan jy van die beste plaaslike wyn en bier geniet. So, as jy lus is vir lekker lag, bespreek sommer nou verblyf, ’n tafel vir middagete en een van Tannie Evita se vertonings, jy sal nie spyt wees nie!

Maison De L’amour | The Granary Petite Hotel | The Cotton House

Is een van dié interessante plekke in jou provinsie? Beplan ’n trippie en maak seker dis op jou pad. Of dalk wil jy sommer net vir die naweek in een van die dorpies gaan ontspan? Hoe dit ook al sy, as jy eers ’n draai maak gaan jy definitief nie vinnig loop nie. Vertoef ’n rukkie, eet ietsie, drink ietsie, maar onthou: niemand wil die langpad met ’n vol maag aandurf nie, so besoek LekkeSlaap.co.za en bespreek nou by een van ons lekker blyplekke naby een van dié lekker eetplekke.

Hooffoto: “Definite Infinite” deur Nick Ortloff (Flickr)