Hier in sonnige Suid-Afrika is sneeu nasionale nuus. As die hemel haar in haar mooiste wit kabaai kom neerstryk is Suid-Afrikaners dus in die versoeking om die hele gesin op die daad in die motor te boender en die pad te vat. Baie mense dink nie juis verder as dit nie, daarom het LekkeSlaap ’n paar sneeuwenke saamgestel om te verseker dat jy na hartelus in die sneeu kan baljaar!

Voor jy ry 

Jou motor

  • Teen die ys. Laat jou motor se hitteverspreider (radiator) en vriesteenmiddelvlak (antifreeze level) nagaan.
  • Bande. Maak seker jou bande se loopvlak is voldoende.
  • Brandstof. Maak jou brandstoftenk vol om ys in die brandstofbuisies en -tenk te verhoed.
  • Ruite. Jou ruitveërs moet onlangs nagegaan wees om te verseker dat hulle dig teen jou motor se voor- en agterruite beweeg om sneeu te verwyder. Maak seker daar is ruitwasmiddel in jou motor se ruitwashouer. Jy kan vriesteenmiddel vir ruite hierin gooi om te keer dat die water vries. 
  • Ligte en reflekteerders. Verseker dat al jou motor se ligte ─ ook jou remligte ─ behoorlik werk en die reflekteerders duidelik sigbaar is. 

Die pad naby Verlatenkloof Guest Farm

Wat om aan te trek

  • Termiese frokkiehemp en -broek.
  • Dra eerder lae wat jy kan uittrek as dit sou nat raak.
  • Waterdigte baadjie.
  • Mussie.
  • Handskoene.
  • Serp.
  • Dik sokkies.
  • Waterdigte skoene.
  • Klapmus (balaclava) ─ om te keer dat jy ysige lug inasem terwyl jy in die sneeu speel.

'n Gesin baljaar in die sneeu by Verlatenkloof Guest Farm

Paklysie: Die basiese

  • Komberse. Teen die koue.
  • Droë klere en skoene. Insluitend ’n ekstra stel sokkies, handskoene en skoon onderklere. As jy dik aangetrek is en in die sneeu speel, kan jy onder al die lae sweet en dit kan baie ongemaklik raak.
  • Sonbril. Son wat op sneeu skyn is baie helder.
  • Sonbrandroom. Die son se refleksie op die sneeu kan jou gesig seer brand.
  • Liproom. Omdat yswind ’n mens se lippe baie vinnig uitdroog ek laat kraak.
  • Drinkwater. Om in die sneeu te speel maak ’n mens dors, al besef jy dit nie.
  • Waterdigte kamera. Of ten minste ’n skermbeskermer vir jou selfoon.
  • Grafie. Om kontak met die sneeu te beperk.
  • Wortel. Vir die sneeuman se neus.
  • Weggooisak (of drie). Vir nat klere en onvoorsiene gebeure.
  • Nog water. Om die ruite skoon te spoel as dit ys.
  • Ysskraper. Vir die ruite.


The Artist Cottage, Sutherland

Paklysie: As jy gaan oorslaap

  • Warmwatersakke.
  • Bordspeletjies.
  • Kerse, kershouers en vuurhoutjies óf lampies met ekstra batterye.
  • Kampstofie en ’n pot of ketel.

Paklysie: In geval van nood

  • Draagbare selfoonlaaier.
  • Nie-bederfbare peuselhappies en drinkgoed.
  • Aansitkabel (jumper cable). 
  • Bandpompie (tyre pump).
  • Sak sand, katsand, gruis of growwesout ─ om op die sneeu te gooi en die trekkrag van jou motor te verbeter moet wegtrek.
  • Kompas.
  • Flits.
  • Noodhulpvoorraad ─ basiese noodhulpkissie, belangrike medikasie en asmapompie.
  • Jou versekeraar se noodnommer.

Onthou!

  • Jou foon moet vol gelaai wees voor jy vertrek.
  • Laat weet iemand betroubaar waarheen julle gaan en wanneer julle beplan om terug te wees.
  • Die weer. Wees bewus van wat die weervoorspelling sê.

Op die pad

  • Skakel jou ligte aan al is dit in die dag ─ veral as jou motor wit is!
  • Behou ’n veilige volgafstrand ─ minstens drie keer die normale volgafstand.
  • Soek motorspore in die sneeu voor jou en bly daarop. 
  • Ry stadig en in ’n 4×4 as jy kan. Ry in ’n laer rat sodat jou motor meer trekkrag het, veral by opdraande.  
  • Hellings. Moet nooit op sneeu op of af teen ’n helling ry nie. 
  • Bly hoog ─ as die sneeu teen jou onderstel stamp, soos by ’n middelmannetjie, moet jy eerder stilhou en dit uitkrap. Sneeu kompakteer maklik en kan jou motor in die lug laat hang. 
  • Brandstofvlak. Maak seker dat die brandstoftenk altyd meer as halfvol is om ys in die tenk te vermy. 
  • Moenie kruisspoedreëling (cruise control)  gebruik as jy op ’n gladde oppervlak ry nie.
  • Rem liggies en vroegtydig. Sit jou motor ook eerder oor na ’n laer rat sodat die motor natuurlik stadiger beweeg. 

Indien jy vasval

  • Moenie aanhou om die motor se versneller te trap nie. Jy sal jou motor bloot dieper in die sneeu vaswikkel.
  • Draai jou motorbande ’n paar keer kante toe om die sneeu weg te druk.
  • Trap liggies op die versneller.
  • Gebruik ’n grafie om sneeu van die bande en die motor se onderkant weg te skraap. 
  • Gooi sand, katsand, gruis of growwesout voor die wiele om met trekkrag te help.

En wat van woef?

  • Neem jou hond se ouderdom in ag. Nes ouer mense se gewrigte meer vatbaar raak vir inflammasie wanneer dit koud is, is ouer honde geneig sensitiewer vir die koue te wees.
  • Neem jou hond se ras (en grootte) in ag. Groter honde met ’n dikker pels kan gemakliker in die sneeu beweeg, maar klein hondjies met dun pelsies moet liefs warm en uit die sneeu gehou word.
  • Truitjie roer my. As jy nog altyd vir jou hond ’n truitjie wou aantrek, is dit nou die tyd!
  • Hou daai poothare kort. Ys is meer geneig om tussen jou hond se toontjies vas te sit en ander vuilgoed te versamel as die hare rondom jou hond se tone nie geknip is nie.

Speeltyd in die sneeu by Rogge Cloof!

Volg hierdie nuttige wenke om jou bibberweer-wegbreek so veilig as moontlik te maak ─ vir jou, die kinders en vir Wagter!

Jou kans op sneeu is groter by hierdie blyplekke.

 

Hooffoto: Verlatenkloof (LekkeSlaap)