Dié is ’n storie sonder presiese datums wat op hoor-sê-feite en ware ervarings gebaseer is. Daar waar feite in die geskiedenisboeke ontbreek, kan jy dikwels op die fluisteringe in die omgewing staatmaak, want in skinderstories steek dikwels ’n groot skoot waarheid. Dis ’n yskoue handskut en ’n briesie wat raas. Dis alles wat ek verwag het en baie meer.

Die Hotel Glencairn is nie sommer net enige hotel nie, maar die plek aan die Suidelike Skiereiland wat, naas die Kasteel in Kaapstad, die meeste spook. Ek het besluit om ’n nag in hierdie hotel deur te bring en die bestuurder was genadig genoeg om my toe te laat om ’n strydgenoot saam te neem. So, hou vas jou matras…

Van waar gehasie?

Dayle, die vriendelike bestuurderes, het my op ’n toer deur die hotel geneem en verduidelik dat die hotel in 1904 deur John Parker (ook die argitek van die St Andrews-kerk in Groenpunt) ontwerp en gebou is. Einste Parker was ook deel van die sogenaamde Glencairn-sindikaat wat toentertyd Elsjesbaai-plaas gekoop, verdeel en verkoop het, en die grond na Glencairn hernoem het.

In 1914 sink die SS Clan Stuart naby Glencairn se strand en haar kajuite word uitgehaal om as ekstra kamers agter die hotel ingespan te word ─ ’n resep vir bonatuurlike-kaskenades! Teen daardie tyd het die hotel nuwe eienaars gekry, ene Mnr. en Mev. Scott. Fluisteringe in die dorp het gelui dat John Parker en Mev. Scott die kat in die donker geknyp het en dat hy die hotel vir haar as ’n afskeidsgeskenk gegee het toe hulle eindelik besluit om weer op die smalle weg te begin wandel.

Wie loop nou deesdae hier rond?

Een van die permanente inwoners: ©Hesté Nortier & Christian FrankenMnr. en Mev. Scott het ’n stormagtige huwelik gehad (moontlik as gevolg van haar ‘vriendskap’ met John) en het baie baklei. Tydens een van dié argumente is René Scott en haar seuntjie, David, dood toe hulle oor die trap se reling val.

Hotel Glencairn se sterstatus as ’n spookhotel, of eerder spookstatus, is te danke aan hoe gereeld die spoke gesien word en nie noodwendig aan die hoeveelheid spoke wat in die hotel se gange ronddwaal nie. In vergelyking met die kasteel het dié hotel maar ’n skamele vyf permanente gaste ─ maar hulle is baie aktief …

Ons is in vir ’n ding!

Een van vele donker gangetjies! ©Hesté Nortier & Christian FrankenDayle besluit om nie enige van die vorige gaste se ervarings vir my te vertel nie, sodat ons die nag oopkop kan aanpak. Sy belowe egter om die volgende oggend vroeg ’n draai te maak om verder te gesels. My strydgenoot, Christian, daag op en ons eet heerlik in die hotel se restaurant en drink ’n drankie by die hotel se kroeg, die oudste kroeg in die area.

Dis warm en die swaar houtraamvensters in die kamer maak met groot moeite oop ─ dit verg 2 pare hande om dit uiteindelik oop te druk. Ek lê rustig deur my tydskrif en blaai toe ek eweskielik ’n yskoue briesie wat my hare laat regopstaan oor my voel sweef ─ hoe stereotipies. Verbeel jou ons gesigte en die tandem-snak-na-asem-beweging wat volg toe die venster in die badkamer homself sonder moeite toeklap!

Ek probeer om my treë met my oë af te meet ─ is sewe treë van die bed af ver genoeg? Sal ek van hier af op die bed kan spring, sodat wat ook al miskien onder my bed wegkruip, nie my voet sal kan vang nie? Ek neem ’n aanloop, plons op die bedjie neer en doen die gebruiklike bangbroek-boogy. Of jy dit nou wil erken of nie, almal het al een of ander tyd die duvet netjies onder hulle voete ingevou ─ net vir ingeval iets sou wou inklim …

Die stilte sak so net voor 02:00 op die hotel neer en gee nuwe betekenis aan die uitdrukking doodstil. Ek is egter konstant bewus van iets in die kamer ─ en dis nie my kamermaat nie. Die Engelse woord “noise” beskryf dit die beste. Daar is iets. Net iets.

Presies hoe laat dit gebeur het, weet ek nie, want ek was te bang om my oë oop te maak. Ek het twee keer deur die nag wakker geword van iemand, of iets, wat my bed aan die pote beetgekry het en geskud het, soos iemand wat ’n kokosneut uit ’n boom probeer dwing.

Dié volgende môre vind ons toe uit dat ons die nag in David, die seuntjie, se kamer deurgebring het én dat dit een van die kamers in die hotel is wat die heel meeste spook!

Kopskuiwe

Die kamers het asemrowende uitsigte oor die seeAlmal het verskillende idees van wat is en wat was. Ek glo dat daar wel iets is wat ons nie noodwendig kan sien nie. My kamermaat, anders as ek, het nie. Nodeloos om te sê, ons is nou op dieselfde bladsy.

Hotel Glencairn straal gasvryheid en eg Suid-Afrikaanse kultuur uit met die oudhede in die sitkamer en die nostalgiese Chappie-kougom as verwelkomingsgeskenkie op die beddens. Dit is die perfekte oase waar die verlede soos ’n portret aan die hede se muur hang en op ’n unieke  manier tot die atmosfeer in dié hotel bydra.

***

Baie dankie aan Dayle van Vuuren wat ons genooi het om by die hotel te kom oorslaap.
Dankie aan my strydgenoot, kameraad en vriend wat hierdie ding saam met my aangepak het!

Hooffoto en alle ander foto’s tensy anders vermeld: LekkeSlaap
Swart- en wit-foto: Hotel Glencairn Facebook-profiel