’n Mediterreense tuin in die hartjie van Stellenbosch was onlangs vir een heerlike somersdag my tuiste. Één dag is egter gans te min as jy by Paul en Wietske Kruger, die eienaars van 10 Alexander B&B kuier, want raak julle aan die gesels, is die stories oor hul wedervaringe, die mooi paadjie wat hulle met dié gastehuis geloop het en die invloed van hul oorsese reise wat in die B&B se detail vasgevang is te veel om in so ’n kort tydjie ten volle in te neem.  

Vandag bestaan 10 Alexander B&B uit ’n gastevleuel met agt slaapkamers wat semi-selfsorgkombuisies deel aan die een kant, die Krugers se woonhuis aan die anderkant en ’n luisterryke tuin met ’n groot swembad wat die twee verbind. 

Die kamers het alles was jy sou benodig vir gerieflike verblyf en daar is gemeenskaplike kombuisies, of ’n eenheid met ’n privaat kombuis, as jy nie lus is vir uiteet nie.

Paul wys vir my hoe die eiendom gelyk het toe hy en Wietske dit 21 jaar gelede met hul trek Kaap toe gekoop het. Die eenvoudige, wit huis en onversorgde tuin in die foto is geensins herkenbaar wanneer ek daarvan opkyk en die lieflike, geel dubbelverdiepinggebou en keurige, kleurvolle tuin voor my sien nie — ’n bewys van die liefde en sorg wat dié paartjie oor die jare in die eiendom ingeploeg het. Dit was egter alles ’n wonderlike, organiese proses tot op hierdie punt, want wat eers ’n woonhuis was en toe privaat studenteverblyf geraak het, het op sy tyd as gastehuis tot stand gekom en vandag kan ons almal die Krugers se gul gasvryheid en sin vir styl geniet. 

10 Alexander was ’n vaal, eenvoudige huis en onversorgde tuin voordat die Krugers hier ingetrek het. Vandag is dit ’n Mediterreense villa met ’n luisterryke tuin.

Omdat hulle saam met hul dierbare drie hondekinders op die perseel woon, bied Wietske en Paul die persoonlike inslag wat soveel gastehuise skort. Soggens bedien Wietske en haar span ’n uithaler-ontbyt, wat by die verblyf ingesluit is, op die hoofhuis se stoep in die koelte van die druiweprieël. 

Wietske se spog-ontbyt word hier op die Krugers se stoep bedien.

Hierdie ontbyt is op sigself genoeg rede om by 10 Alexander te bespreek, want dit is sowaar Wietske se kreatiewe uitlaatklep. Die fynste porselein uit verre lande, glas- en ysterkelkies vol pragtige krulreliëf en lepeltjies wat jy te sleg voel om in die koffie te dompel komplementeer die eklektiese, Mediterreense ontbyt van tuisgemaakte lekkernye en die gekookte hoofontbyt. 

Ek luister nog hoe Wietske die kasies volgens ’n Turkse resep maak, toe die vars Franse roosterbrood vol spek en druppend met stroop op die tafel geplaas word en ek die draad van haar storie totaal verloor. ’n Vegetariër aan tafel laat vaar tydelik haar voorkeure om ’n ontbyt met ’n paar stukkies spek te kan geniet, en Wietske glimlag van oor tot oor soos haar gaste weglê. 

Elke item op die ontbyttafel word met sorg gekies.

Wanneer sy in die kombuis in verdwyn, vertel Paul ons dat 10 Alexander B&B se gasvrou op ’n plaas in Barrydale grootgeword het waar dit die gewoonte was om altyd ’n ekstra plek aan tafel te dek sodat ’n onbeplande gas nie onwelkom sou voel indien hy tydens ’n ete aanklop nie. “Dis maar hoe sy is. Sy kan dit nie help nie,” sê hy en glimlag oor sy vrou se inherente gasvryheid. ’n Mens voel dit elke keer as Wietske nog iets op die tafel kom neersit en met ’n ingestelde oog meet of alles op sy plek is. Sy het ook al skouhuise gestileer en ek kan dit aan die netheid en keurigheid van die gastehuis sien — nêrens hang ’n duvet of ’n portret skeef nie, dog is die kamers verwelkomend en nie koud of klinies nie.

Die gasvrou se sin vir styl is in elke hoekie van die gastehuis, in die tuin en op die gastebalkonne te bespeur.

Ná ontbyt verander die Krugers se pragtige stoep weer in hul persoonlike spasie, terwyl gaste in hul eie area kan kuier of in Stellenbosch rondrits. 10 Alexander B&B is ideaal geleë, ’n kort entjie vanaf die Universiteit van Stellenbosch, die middedorp se winkels, wynkroeë, museums en restaurante, maar ook baie naby die hoofweë wat Stellenbosch met die Kaap, die Paarl, Strand en wynlandgoedere in die omtrek verbind. 

10 Alexander B&B is uiters sentraal geleë, of jy na die Stellenbosch Universiteitskoor wil gaan luister, die naburige dorpe wil verken of bloot in die dorp wil rondloop.

Stellenbosch, wat eens op ’n tyd sonder veel moeite as toersitebestemming uitgeblink het weens die konstante toeloop van toeriste, studente-ouers en liefhebbers van die kunste en wyn, moes sedert Covid-19 sy opwagting gemaak het, meeding vir die aandag van ’n baie kleiner mark reisigers. Saam met duisende ander in die gastebedryf, het die Krugers 2020 met ’n dilemma afgeskop toe maklike besprekings skielik opgedroog het.

Gelukkig het Stellenbosch nie op sy louere gaan rus nie. Hierdie dorp was die eerste dorp in die Suidelike Halfrond om die World Travel and Tourism Council se Safe Travels Stamp te kry en diegene in die gasvryheidsbedryf, ook 10 Alexander B&B, het gesorg dat hulle opleiding kry om in lyn met Covid-19-maatreëls op te tree.

Tog het die goedheid en omgee van mense in hierdie moeilike tyd op sy helderste deurgeskyn, soos Paul en Wietske met verskeie anekdotes oor die afgelope, uitdagende jaar bewys. Wanneer ek na my kamer op die boonste verdieping keer om vir ’n wyle met werk op te vang in die stilte en gemak van my eie werkshoekie, is hierdie omgee te sien in die blommerangskikking uit die tuin wat op my bedkassie staan, die bottel wyn en twee glase wat gereed staan op die kombuisie se rak, die kraakvars linne en die bevestiging dat ek met die WiFi kon konnekteer.

As jy ’n sakereisiger is, is 10 Alexander ’n fantastiese opsie met netjiese werkruimtes en goeie WiFi.

Die Krugers se omgee-benadering is ook in hul deurdagte voorstelle van wat jy alles in die dorp kan doen te sien. Restaurant-aanbevelings word aan die hand van vorige gaste se ervarings gedoen, en kuns- en bergfietsroetes in samewerking met die plaaslike toerismeburo.

Nog omgee-oomblikke is die tuinmaakwenke wat ek in oorvloed kry wanneer ek in verwondering oor hierdie oase uitvra, die kaggel wat oor Desembermaand ’n kleurvolle kerstoneel bevat, en Loice, die Krugers se regterhand, wat my met aankoms by die voorhek inwag met ’n pragtige glimlag (selfs deur die masker!) en saniteermiddel om my welkom en veilig te laat voel. Paul se enorme boekrak en die oorgawe waarmee hy dit met my gedeel het, is nóg ’n omgee-oomblik wat wys dat die Krugers gashere is wat op hul gaste se belangstellings ingestel is. Hier is alles van hoë literatuur en krimi tot kinderboeke wat vir jou sing en waarvan die prentjies na jou toe uitspring.

Die Krugers se tuin is ’n Mediterreense oase.

10 Alexander is ’n gastehuis vir mense wat lief is vir fyn detail, geselsies maak, lag en honde (Leo het ons met groot fanfare by die hek kom groet). Tog is Wietske en Paul, met hul duidelike aanslag vir die gastebedryf, altyd bereid om vir hul gaste die diens te bied wat hulle verlang. Of dit bloot gerieflike, private verblyf met ’n fyn oog vir detail is, ’n gholfwegbreek saam met ’n groep vriende, ’n sporttoer, ’n troue, ’n gesinswegbreek of ’n sakereis, 10 Alexander is immer-aanpasbaar en gereed met hul kenmerkende warm aanslag.

Stellenbosch lodging guest house 10 Alexander B&B
Wietske en Paul Kruger, en hulle hondekinders, wéét hoe om ’n mens welkom te laat voel.

Saans, wanneer die soet geur van katjiepierings oor Paul en Wietske se pragtuin hang en fuchsias hulle klokkie-rokkies liggies in die aandbresie skud, sal jy by 10 Alexander B&B ’n salige nagrus kan geniet in die wete dat jy in goeie hande is, dít kan ek jou verseker! 

So kom my kuier in die Krugers se pragtige gastehuis en tuin tot ’n einde.

Met spesiale dank aan Paul en Wietske Kruger van 10 Alexander B&B vir hul gasvryheid. 

Alles foto’s deur Adriëtte le Roux tensy anders vermeld.