Net duskant die N2, op die randjie van die Tsitsikammawoud, lê ’n ou houtkappersdorpie met ’n hart van goud. As jy jou ore spits, hoor jy dalk die lang verlore grootvoete se spoke ronddwaal, en die loeries kwetter met liedere mooier as ’n nagtegaal. Ja, Stormsrivier het ’n bekoring soos min en daarom wys LekkeSlaap jou hoe om dié area uit vier hoeke te bemin. So, as jy lus is vir ’n regte Tuinroete-avontuur, is ’n Stormsrivier-besoek beslis die kuur. 

’n Tarzan-toer deur die Tsitsikammawoud

Tsitsikamma Canopy Tour

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Tsitsikamma Canopy Tour (@tsitsikammacanopytour) on

Tsitsikamma Canopy Tour is enig in sy soort in Afrika en behels ’n Zipline-avontuur tussen platforms sowat 30 meter bo die grond in die Tsitsikammawoud. Die geelhoutreuse staan dig in dié inheemse reënwoud en hier en daar staan ’n vierkantige platform stewig in een van die 700 jaar oues se mikke vasgebout. Jy beter jou hoogtevrees diep in jou sak steek as jy van hiérbo af besluit om af te kyk, want as jy eers só hoog tussen die bome sit, is die Zipline se staalkabel jou enigste hoop op weer grondwaarts keer. Dit lyk dalk met die eerste oog opslag soos iets waarvan net ’n waaghals kan droom, maar as jy eers so tussen die natuurskoon van die Stormsriviervallei sweef, daal ’n aardse rustigheid oor jou wat jy net in dié geweste sal teëkom. So, kom hou jou lyf Tarzan in die prag van die Tsitsikammawoud. Dié woud-uitstappie is jou emmerskoplysie werd!

Waar: Tsitskammawoud
Koste: R660 per persoon
Besprekings: Tsitsikamma Canopy Tour

Bielie van die Bloukransbrug

Bloukrans Bungy

 

View this post on Instagram

 

A post shared by 𝐓𝐎𝐍𝐘 𝐆 (@imtonyg) on

Die Bloukransbrug is die hoogste kommersiële reksprongbrug ter wêreld en is daarom nie verniet die gewildste reksprongbestemming suid van die ewenaar nie. Dié brug is 216 meter bo die Bloukransrivier en adrenalienvrate kan reg deur die jaar dié sprong kom aandurf. Die uitsig van dié hoogste brug in Afrika af, is iets wat jy net in lewende lywe kan waarneem om dit werklik te waardeer. Selfs die avontuurtiere se senuwees knaag maar as die tou eers om hul enkels vasgegespe word, maar die Bloukransrivier se rustige waters demp darem die ergste hardkloppings vóór jy jou moed kan verloor. Een oomblik beef jy nog behoorlik in jou harnas, maar met een tree is dit afgrond toe. ’n Gil of twee is heeltemal te verwagte, maar as jy eers jou oë oop kry om die ongelooflike landskap rondom jou te aanskou, sal jy sommer dadelik weer wil spring! Die Bloukransbrug se reksprong is beslis nie vir sissies nie. As jou senuwees dit egter kan hou, is dit beslis ’n Stormsrivier-ervaring wat jy nie durf misloop nie.

Waar: Bloukransriviervallei
Koste: R1350 vir die eerste sprong en R1150 vir ’n tweede sprong binne 7 dae.
Besprekings: Face Adrenalin

Té ver om te loop, té naby om te ry

Tsitsikamma Segway Tours

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Segway Tours: Tsitsikamma & Wi (@tsitsikammasegway) on

Jy is beslis in vir ’n interessante ding as jy ’n Tsitsikamma Segway-toer aandurf. ’n Adrenaliensport is dit waaragtig nou nie, maar ’n ekwilibrium-toets is beslis jou voorland as jy voete op dié tweewielkontrepsie plant. Tsitsikamma Segway Tours se hoofkwartiere is by Tsitsikamma Backpackers in Stormsrivier. Dié toere bied ’n buitengewone blik op dié unieke deel van die Tuinroete. Hulle bied een en twee uur lange begeleide Segway-toere deur die dorp en die inheemse Tsitsikammawoud. Daar is ’n hele rits roetes om in die woud aan te durf en van hulle lei tot by die bekende 1000 jaar oue Outeniekwa-geelhoutboom. ’n Toer sluit ook ’n 15 tot 20 minuut lange opleidingssessie in ─ oorgenoeg tyd om dié tweewiel-staanponie baas te raak. So, as jy jou in die Stormsrivier-geweste bevind, is ’n Segway-toer beslis ’n lekker wyse waarop jy dié ou dorpie kan aanskou.

Waar: Tsitsikamma Backpackers
Koste: R450 vir 1 uur en R700 vir 2 uur
Bespreek: Tsitsikamma Segway Tours

Roer jou voete

Otter-roete

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Simon Pocock (@si_pocock) on

Voetslaanroetes is beslis ’n Tuinroete-stapel en daar is min só opwindend soos die bekende Otter-roete. Dié vyfdag-kusroete skop by die Stormsriviermond af en kronkel al langs die Oos-Kaapse kuslyn tot by Nature’s Valley in die Tsitsikamma Nasionale Park. Die roete is 42,5 kilometer lank en neem vyf dae om te voltooi. Die kuslyn is redelik rotsagtig en styg tot 150 meter bo seevlak. Die roete strek meestal oor kranse voor dit weer tot seevlak daal. Hiér en daar sal jy vlak stroompies moet oorsteek, so waterdigte stewels is beslis aan te bevole as jy dié roete wil aanpak. As jy die prentjiemooi landskappe van dié gedeelte van ons mooi land wil aanskou, is te voet op die Otter-roete beslis die ding vir jou!

Waar: Vanaf die Stormsriviermond tot by Nature’s Valley.
Koste: R1302 per persoon
Besprekings: SANParke

’n Nag onder Stormsrivier se sterre

Tsitsikamma Backpackers | SANParks Storms River Mouth Rest Camp | The Fernery Lodge and Chalets

Berge, bome, rotse en strome ─ Stormsrivier se prag is so reg uit jou drome. ’n Besoek aan dié Tuinroete-pragdorp is ’n droom wat deur LekkeSlaap bewaarheid kan word. Bespreek nou en kom beleef die natuur van onder na bo ─ jy sal dié reënwoudhemel eers self moet sien voor jy ons glo!

Hooffoto: Bigstock