Het jy al by ’n restaurant geëet en gedink dit proe mos nou soos vakansie? Die kombinasie van ’n heerlike maaltyd en die strand is die perfekte plek om af te skakel en die geselligheid rondom jou te geniet. Daar is niks soos vars seelug, seesand en ’n tradisionele gereg om van al die kantoorkommernisse te vergeet nie. Boonop is dit ’n bonus as die jongspan hulself met hul emmertjies en grafies kan besighou, terwyl jy aan die buffet weglê. LekkeSlaap het Suid-Afrika se uitnemendste strandrestaurante gaan uitsnuffel waar die kroos saam in die sand kan speel en aan watertandlekker disse kan smul.

Die Walskipper Restaurant

Jeffreysbaai

Die Walskipper Restaurant | Verskaf


By die Walskipper word eg Suid-Afrikaanse maaltye in blikborde en -bekers
bedien. Die meeste van dié geregte word op ’n oop vuur voorberei. Buiten die seekos is daar ook outydse skaapafval, beesstert, volstruisvleisgeregte, vegetariese roerbraai en krokodilvleisgeregte. Daar is ook ’n spesiale spyskaart vir kinders onder tien jaar. Geniet ’n glasie wyn saam met vriende terwyl die kinders sandkastele langs die tafel bou.

Bly hier: Marina Martinique 1152 | Hoephoep 11 Houtbosch Bay | The Boat House

Kaai 4

Mosselbaai

Kaai 4 | Verskaf
Kaai 4 is ’n restaurant teen Mosselbaai se hawe waar oud en jonk saam kan kuier. Kies tussen ’n spitbraai, potjiekos, vis op die rooster en varsgebakte brood. Die kinders kan in die sand en op die bootjies speel, terwyl Ma en Pa die sonsondergang oor die see bewonder. Die restaurant is ook die ideale plek vir ’n jaareindfunksie, verjaarsdag of ’n troue met ’n kapasiteit van tweehonderd gaste. Lonely Planet het ook Kaai 4 as ’n finalis vir Mosselbaai se restaurant van die jaar aangewys, so jy sal beslis nie teleurgesteld wees nie.

Bly hier: Aan de Zee @ Pinnacle Villa 7-4 | Kloofsig505 | Villa Riviera 13

Beach Bums Restaurant

Ballito

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Beach Bums (@beachbumsdurban) on


’n Somervakansie is nie volmaak sonder ’n kuier aan die
Noordkus nie. By Beach Bums Restaurant in Ballito kan jy jou skoene uitskop en die branders se gedruis hoor terwyl jy aan ’n gourmet-pizza smul. Dié restaurant bedien ontbyt, middagete en aandete, en bied ook musiekvertonings en weeklikse funksies. Daar is ’n TV wat sport uitsaai sodat manlief nie ’n Springbok- of Protea-wedstryd op ’n Saterdag hoef mis te loop nie. Koue weer hoef jou ook nie af te skrik nie ─ daar is sitplek binne en buite.

Bly hier: Blue Skies | 205 Les Mouettes | Evergreen

PiliPili Beach Front Restaurant

Sedgefield

PiliPili Beach Front Restaurant | Verskaf

Sedgefield is die ideale kusdorpie vir ’n rustige vakansie met luilekker somersdae. PiliPili Beach Front Restaurant is moontlik een van die gewildste restaurante in dié dorp en die kombuis is bekend vir vars en geurige maaltye. Dit help ook dat die kinders hul eie spyskaart het. PiliPili se pizzas is handgemaak en word in ’n tradisionele pizza-oond gebak. Daar is ’n springkasteel wat oor naweke vir die kinders opgeblaas word en die restaurant het elke week spesiale aanbiedinge vir sakpasmaaltye. Musiekvertonings en ander funksies word ook gereeld hier gehou.

Bly hier: Petite Plaisance | Happy Ours | The Little Nest

De Vette Mossel

Groot-Brakrivier, Hermanus, Hartbeespoort en Parys

De Vette Mossel | Louise Crouse

De Vette Mossel het informele restaurante in Groot-Brakrivier, Hermanus, Hartbeespoort en Parys waar jy kuier-kuier ’n maaltyd met die gevoel van sand en see kan geniet. Die eetplek in Groot-Brakrivier en Hermanus is op die strand, terwyl dié in Hartbeespoort en Parys die strandgevoel met seesand en seekos skep. Al vier restaurante bied buffet-maaltye waar kinders onder drie jaar gratis eet. Volgens die eienaars eet gaste sowat drie uur aan die sestien disse wat na mekaar voorgesit word. Die kos sal ook nie vinnig opraak nie en gaste kan selfs nóg aanvra as die borde en bakke leeg is. Indien daar enige kos teen die einde van die dag in die potte oorbly, word dit aan behoeftige gesinne in die omgewing geskenk.

Bly in Groot-Brakrivier: Hersham Cottage | Four Seasons Guest House | Milkwood Cottage
Bly in Hermanus: Earth Cottage | Beaches | Private Loft with a View
Bly in Parys: Otters’ Haunt | FAK Udolpho Rivierplaas | Riparian Retreat
Bly in Hartbeespoort: Huis Lezan | Cottage Della Diga | Magaliespark

Muisbosskerm

Lambertsbaai
Muisbosskerm | Verskaf

Muisbosskerm was aanvanklik net ’n stokperdjie om vriende en familie te vermaak, maar dit het vinnig een van Lambertsbaai se gesogte restaurante geword. Die restaurant word deur die Turner-gesin bestuur en beloof heerlike seekosdisse en ander tradisionele Suid-Afrikaanse geregte. Dié eetplek vier in 2019 hul drie-en-dertigste bestaansjaar en bied gereeld musiekvertonings of boeremusiekfunksies. Maak seker jy kom op ’n leë maag daar aan sodat jy die buffet-ete behoorlik kan geniet.

Bly hier: Desember Huis | Vannewes | Klaas Betjie Holiday Cottage

Die Strandloper

Langebaan

Strandloper | Warren Williams
Jy kan nie in
Langebaan gaan kuier sonder om Die Strandloper te besoek nie. Hiér word die klem op plaaslik geplaas: plaaslike kos, plaaslike personeel en plaaslike smaak. Nes De Vette Mossel, skenk Die Strandloper ook daagliks hul oorskietkos aan behoeftiges in die omliggende omgewing. Kinders onder vyf jaar eet gratis, so pak ’n emmertjie en ’n grafie in sodat Boetie en Sussie saam op die strand kan baljaar. 

Bly hier: Catalina Cottage | Viooltjies Akkommodasie | Charis to Theo

Seekombuis

Paternoster

View this post on Instagram

A post shared by The Tipsy Gypsy (@tipsygypsy_sa) on


Ten spyte van die Atlantiese Oseaan se yskoue water, is Paternoster ’n dorp wat jy minstens een keer in jou lewe moet besoek.
Seekombuis is om die draai van Paternoster, op Tietiesbaai se strand met net die vars seelug tussen jou en die water. Daar is selfs skuitjies op die sand as tafels ingerig sodat dit voel asof jy werklik ’n maaltyd op die see geniet. Die eienaars glo nie in resepte nie en kook daagliks vanuit die hart om oorspronklike disse te verseker. En indien jy ’n telefoon in die restaurant hoor lui, weet jy dat die plaaslike papegaai in die omtrek is. 

Bly hier: Sandpiper | Na Genoeg | Kairos

Strandkombuis

Yzerfontein

Strandkombuis | Verskaf
Strandkombuis
is bekend vir hul kraakvars pizzas op ’n Vrydagaand en het al in 2001 hul deure in Yzerfontein oopgemaak. Ongelukkig het ’n massiewe storm in 2017 die oorspronklike restaurant oorspoel en die eienaars het gedink dat dit die einde van ’n era sou wees. Te danke aan die ondersteuning van familie en Yzerfontein se gemeenskap het die eienaars besluit om die restaurant te herbou. Die restaurant is vandag so gewild dat jy nie maklik ’n plekkie sonder ’n bespreking sal kry nie, so bespreek sommer ver vooruit.

Bly hier: Zeehuijs | EngelZicht Self-catering Villa | Sea-renity

Struisbaai Sea Shack

Struisbaai

Struisbaai Sea Shack | Sonja van Zyl Photography
Het jy al die mees suidelike punt van Afrika naby
Struisbaai besoek? Indien jy binnekort terugkeer of dié uitstappie vir die eerste keer aandurf, moet jy ’n draai by Struisbaai Sea Shack maak. Drink ’n heerlike skemerkelkie met jou voete in die sand en ’n skouspelagtige see-uitsig waarna jy kan staar. Verskeie buffet-opsies is beskikbaar en daar is plek vir meer as vierhonderd gaste. Seekos is aan die orde van die dag, maar daar is ook geregte soos ribbetjies en burgers vir diegene wat vleis verkies.

Bly hier: Voeltjieshang | Kani Traki Beach Cottage | South 2 Sea

At The Beach

Pretoria-Oos

View this post on Instagram

A post shared by Yolandie Maree (@yolandemaree) on


Ongelukkig is daar nie ’n oseaan in die binneland nie, maar ’n mens mis maklik die gevoel van sand tussen jou tone as jy in
Sandton rondrits. Jy kan egter die strandgevoel by At The Beach in Pretoria-Oos ervaar. Die seesand, palmbome en ’n vakansie-atmosfeer maak dat jy nie eers die see mis nie. Sondag word as die restaurant se gesinsdag bestempel en die kinderspyskaart is spotgoedkoop sodat dit elke gas se sak sal pas.

Bly hier: Suikerbos | 2A @ Quiver Tree | LeoZet Selfsorgwoonstel

As jy voel asof jou vakansie nog net té ver is, is ’n bespreking by ’n strandrestaurant oor ’n naweek net die oplossing. Die meeste van die bostaande restaurante maak ook voorsiening vir privaat funksies en troues, so deel gerus dié blog met jou verloofde vriendinne wat ’n strandtroue begeer. Het jy al enige van die restaurante op ons lys besoek? Vertel ons meer van jou ervaring in die kommentaarblokkie hieronder.

Hooffoto: Bigstock