Sedert die woord selfie in 2002 vir die eerste keer deur ’n Australiër gebruik is toe hy ’n wond op sy lip afgeneem en op sosiale media geplaas het, het dié neologisme die menswees ingedring en ons alledaagse gedrag drasties verander. Die eerste selfie, of selfportret soos dit voorheen bekend gestaan het, is egter in 1839 deur Robert Cornelius geneem toe hy voor die kamera in gehardloop het nadat die knoppie gedruk is. In beide gevalle is daar beserings of gevaar betrokke en dié tendens het sedertdien talle lewens in gevaar gestel in die poging om die perfekte selfie te neem. Dit is ’n algemene fenomeen dat daar daagliks selfies op bergtoppe, groot geboue, by mere en selfs naby besige paaie geneem en op sosiale media-platforms geplaas word. En, soos die kompeterende aard van die mens hom voordoen, wil elke persoon ’n beter selfie as die vorige een neem. The Independent het in 2018 berig dat navorsers so ver gegaan het as om “no-selfie zones”, oftewel verbode selfie-sones, voor te stel om die mens te beskerm.

Dit is egter nie net die mens se lewe wat in gevaar gestel word nie. Die selfie-proses beskadig ook dikwels die natuur, soos in die geval van die gewilde tulpe in Holland. Jaarliks lok dié blommeryk duisende besoekers en selfie-stokke kom natuurlik saam. Die besoekers raak só meegevoer deur die blomme en die prestasies van ’n selfie op sosiale media dat hulle nie aan die veiligheid en bewaring van die omgewing dink nie. ’n Woordvoerder van die Nederlandse toerismeraad beweer dat die ontstaan van Instagram talle sogenaamde millenniërs na die blommeryk gelok het en in die proses is daar op dié gewilde tulpe getrap en gelê, als in die naam van ’n perfekte selfie. Soos in Holland en talle ander lande wêreldwyd, spog Suid-Afrika met beeldskone natuurverskynsels wat ook jaarliks menige toeris na ons fauna en flora lok. Ek loop gedurig in die Kaap rond en word menigmaal gekonfronteer met kameras en imposante lyfbewegings om ’n foto voor Tafelberg, in die Waterfront of in die parkeerarea te neem.

Augustus- en Septembermaand is gewild vir blommekyk in die Kaap-omgewing en dié kleurryke blommeskou lok jaarliks, soos die Hollandse tulpe, ook duisende besoekers, want dis die ideale geleentheid om lewe in die foto-albums te blaas. Die binneland het ook verskeie toerisme-aantreklikhede wat menige besoeker lok, soos die Bosveld, wildsplase en die Krugerwildtuin. Die Afrikaanse sê-ding, “die lewe begin waar die teerpad eindig” is immers ’n gewilde aanhaling wat by selfies geheg word. Om bewusmaking te skep, het LekkeSlaap basiese riglyne en etiket saamgestel om te voorkom dat ons pragtige natuurverskynsels ook in die proses van selfies en sosiale media beskadig word.

Iewers op ’n plaaspad …

Daar word soms heelwat moeite, tyd en risiko in ’n selfie gesit en grense word letterlik oorskry om ’n foto te neem. In die proses kom die eienaars van die eiendom se privaatheid in gedrang wanneer selfie-skim by blomme, berge, windpompe of damme wil uitkom. Voertuie dwaal af na verlate grondpaaie waar waghonde dikwels nuuskierig van die stoep af loer om te kyk wie kom kuier. Die windpomp gaan soek nie die wind nie, nee, maar die selfie gaan soek die windpomp. Wêreldwyd word selfies op plase geneem en in Ierland het selfies op plase só gewild geword dat daar nou na ‘felfies’ (farm en selfie) verwys word. Daar is sekere goed wat selfie-nemers in ag moet neem voor hulle waaghalsig die voertuig in niemandsland parkeer om ’n foto te neem. Maak seker jy het toestemming van die eienaar, moenie die eiendom of enige voorwerpe op die eiendom breek of steel nie, en maak seker die voertuig is op ’n veilige plek parkeer en gesluit wanneer die selfie geneem word. Verlate plaaspaaie en wankelrige, geroeste plaashekke bly maar deel van ons natuur ─ sorg net dat die hek stewig genoeg vir die selfie is.

Die windpomp gaan soek nie die wind nie, nee, maar die selfie gaan soek die windpomp.

Kallabaskop LodgeCypherkuil Karoo CottageDoornberg Guest Farm

… met ’n blom in die hare …

Daar is iets romanties daaraan om ’n blom langs die pad te pluk en dit vir ’n geliefde te gee. ’n Blom in die hare vir ’n selfie is amper soos ’n natuurlike filter en kikker enige foto op. Daar is egter sekere etiese- en omgewingskwessies waarvan selfie-nemers bewus moet wees voor foto’s geneem en gedeel word. Wintermaande in die Kaap beteken dat die strande leër en die blommevelde van Darling, Springbok en Calvinia voller is. Die gewildste areas vir blommekyk is dikwels in privaat natuurreservate wat hulle eie stel reëls en regulasies het. In die brosjures van die Namakwa Nasionale Park word dit duidelik beklemtoon dat besoekers op die aangewese paadjies moet bly, nie die blomme mag pluk nie, nie tussen die blomme moet rondstap nie, voertuie op die paaie moet bly en dat geen natuurlike items verwyder mag word nie. Hoewel die blomme in Namakwaland taaier as die Hollandse tulpe is, moet die omgewing steeds met respek behandel word. Met dié reëls in gedagte kan selfies en foto’s nog steeds geneem word en die ervaring kan vasgevang word sonder om die blomme te beskadig of die parke te na te kom.

’n Blom in die hare vir ’n selfie is amper soos ’n natuurlike filter en kikker enige foto op.

Elkoweru Gastehuis | Skilpad Farm

… staan sy tussen die diere …

Talle toeriste stroom jaarliks by die Krugerwildtuin se hekke in om Suid-Afrika se wild van nader te bekyk en dié wilde diere sorg vir heelwat vermaak en goeie foto-geleenthede. Daar is egter sekere reëls wat van toepassing is wanneer die Krugerwildtuin besoek word en groot boetes word uitgereik as dit nie nagekom word nie. Dit word duidelik op die Krugerwildtuin se webtuiste genoem dat besoekers nie hulle voertuie mag verlaat nie, nie by die vensters of by sondakke mag uithang nie, en nie op enige verbode of nie-amptelike paaie mag ry nie. Wat selfies saam met die diere aanbetref, is dit nooit ’n goeie idee om die apies met kos te lok om hulle glimlag op die lens vas te vang nie. Daar is groter sensitiwiteit en bewusmaking geskep rondom selfies wat saam met diere geneem word en Instagram probeer om foto’s met diere beter te reguleer. Selfies saam met sekere bedreigde spesies word gemonitor en intekenaars word teen dieremishandeling gewaarsku wanneer sommige diere-hutsmerke gesoek word. Wees daarom versigtig om nie met die natuur en haar gang in te meng nie, nie eers om die Kameelperd se nek of die olifant se slurp vir ’n selfie-stok te gebruik nie.

Daar is groter sensitiwiteit en bewusmaking geskep rondom selfies wat met diere geneem word en Instagram probeer om foto’s met diere beter te reguleer.

Simbavati Hilltop LodgeNdzhaka Tented CampPerry’s Bridge Hollow Hazyview Boutique Hotel

… met effense hoogtevrees. 

Terug op die N1, verby die windpompe en die plaaspaaie lê die Karoo se plat horison in die rigting van die berg wat in heelwat foto’s poseer. Bo-op dié bergtop loop mense met selfie-stokke en GoPro’s om aksiefoto’s en -video’s van die adrenalienbelaaide ervaring op Tafelberg te neem en die angswekkende gevoel van groot hoogtes en uitsigte wat kilometers ver strek is beslis ’n gunsteling. Geen selfies wat iewers hoog in die berge geneem word is heeltemal risiko-vry nie en dis belangrik om bewus te wees van moontlike gevare. Tafelberg het ’n klomp gemerkte paaie wat dit veilig vir besoekers maak. Daar is egter kleiner wandelpaaie vir die meer ervare voetslaners en dis belangrik om nie hierdie paaie op jou eie aan te durf nie. As dit by selfies op hoë of ongelyke terrein soos Tafelberg kom, is dit belangrik om eers seker te maak jou voete is stewig op gelyke grond om te verhoed dat jy nie skeeftrap of gly op ’n los klip in ’n poging om ’n selfie te neem nie. Die weer moet ook in ag geneem word en mistige dae is nooit ’n goeie idee om te soek vir die ideale plek vir ’n selfie nie. 

Bo-op dié bergtop loop mense met selfie-stokke en GoPro’s om aksiefoto’s en -video’s van die adrenalienbelaaide ervaring op Tafelberg te neem

Warren Heights 504 by CTHA | First Group Mount SierraSANParks Cape Point Rest CampHout & About Guest House

Iewers op ’n plaaspad met ’n blom in haar hare staan sy tussen die diere met effense hoogtevrees, terwyl die natuur gedurig in haar habitat glimlag en donderweerflitse is heeltemal normaal, maar wanneer die selfie-skim verskyn en haar onverwags met ’n kliek betrap, is die skrik nie ’n aangename foto wat baie likes op sosiale media gaan lok nie.

Hooffoto: Bigstock