Die 16de Januarie is Nasionale Rooibosteedag en om dit te vier, vertel LekkeSlaap jou meer van hierdie trots Suid-Afrikaanse drankie en twee ander tees, heuningbos- en boegoetee, wat ook nét in Suid-Afrika verbou word. As jy ’n regte teeliefhebber is, kan jy ook hier uitvind waar jy kan bly, toer of kuier om meer oor hierdie fassinerende tees te leer!

Rooibos

Die blare van die Aspalathus Linearis-plant word al duisende jare deur die Khoisan gebruik om ’n rits kwale te genees. Sommiges sê rooibos se geskiedenis is ook aan die Chinese teehandel gekoppel, omdat die Kaap ’n verversingspos vir Europese handelaars in die Ooste geword het. Toe teedrinkery in Europa mode geraak het, het die setlaars die neiging probeer naboots en die plaaslike brousel begin gebruik. Toe swarttee gedurende die Tweede Wêreldoorlog skaars word, het die plaaslike bevolking besef dat hulle ’n beter alternatief op eie bodem het, en so het rooibos ’n belangrike rol in kombuise van die verskillende kultuurgroepe van Suid-Afrika begin speel.

Links: Rooibostee by die Rooibos Teehuis (Foto: Rooibos Teehuis) Regs: Gedroogte rooibosblaartjies (Foto: Wikimedia Commons)

Rooibostee het egter ook al internasionaal baie gewild geword en jy sal dit in die meeste groot stede kan vind. Alhoewel Suid-Afrikaners dit as ’n stapeldrankie ken, word dit elders as ’n eksotiese kruiedrankie beskou. Die toenemende vraag na rooibostee het die uitvoer tot meer as sesduisend ton per jaar verhoog en dit word na meer as dertig lande uitgevoer, waarvan Duitsland, Nederland, Japan, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika die grootste invoerders is.

Hoewel Suid-Afrikaners dit meestal rooi drink, is rooibos ook in sy groen vorm gewild. Beide groen en rooi rooibos kom van dieselfde plant af, maar rooi rooibos word aan suurstof blootgestel en groen rooibos word kort na die pluk daarvan uitgedroog, sodat dit nie oksideer en rooi word wanneer dit aan suurstof blootgestel word nie. Die stop van die oksidasieproses beteken dat die natuurlike ensieme in die plante opgesluit bly. Albei soorte het ’n hele rits gesondheidsvoordele.

Links: Die rooibosplantjie (Foto: Wikimedia Commons) Regs: Rooibossaadjies (Foto: Rooibos Teehuis)

Gesondheidsvoordele

Anders as swarttee is rooibostee kafeïenvry en daarom ideaal vir swanger vroue en kinders. Dit bevat ook baie lae vlakke tannien ─ ’n stof wat die opname van sekere voedingstowwe soos yster bemoeilik. Oksaalsuur kan die risiko van nierstene verhoog en rooi rooibos bevat geen oksaalsuur nie, so dit is ’n goeie opsie vir diegene met nierprobleme. 

Daar is ook verskeie antioksidante in rooibostee, maar groen rooibos bevat hoër vlakke as rooi. Antioksidante kan help om selle teen die skade van vrye radikale te beskerm en is belangrik vir ’n gesonde hart. Rooibostee kan diabete help om hul bloedsuikervlakke onder beheer te hou. Dit is ook kalorie-vry en dus ’n goeie opsie as jy probeer gewig verloor. Daar is selfs navorsing wat toon dat as jy gereeld rooibostee op jou vel smeer dit plooie kan verminder!

Verken die Rooibostee-roete

In 2012 het die susters, Sanet en Marietjie, by hulle Rooibos Teehuis in Clanwilliam die idee gekry om ’n rooibos-roete te begin. Hulle het besef besoekers vra baie vrae oor hierdie unieke tee en dat ’n roete baie tot die toeriste se ervaring sal bydra. Elke been van hierdie roete moedig toeriste aan om rooibosondernemings te besoek en daar te bly om meer oor die tee te leer. Die roete spog met verskeie maatskappye en plase wat leersame ervarings bied ─ of dit nou rooibos-verbouingstegnieke, ’n interessante teegeskiedenis, gesinsaktiwiteite, smullekker eetgoed of uitstekende verblyf is.

Rooibosteeplantasies in die Sederberge (Foto: Bigstock)

Clanwilliam vorm die hartjie van die Rooibosroete en spog met verskeie rooibos-ervarings in en óm die dorp. Maak ’n draai by die Velskoendraai-padstal wat rooibosprodukte verkoop en ’n rooibostee-proe-ervaring met meer as eenhonderd geure bied. By Nancy’s Tearoom word heerlike ontbyte, ligte maaltye en die baie gewilde rooibos-kaaskoek bedien. Loer ook by Rooibos Bpk. in vir ’n gratis koppie rooibostee, uitstallings en ’n oudiovisuele aanbieding oor rooibos se geskiedenis en produksieproses. By die Old Gaol Museum kan jy meer oor die rooibos-industrie se geskiedenis en die ou en nuwe verwerkingsmetodes leer ─ van die masjienerie en handgereedskap wat in die vroeë 1900’s gebruik is word hier uitgestal. Dié wat in die bui is vir iets met meer skop, kan by Lucky Horse ’n perdrit deur die rooibosvelde geniet.

Links: ’n Ou stroper op die Rooibosroete (Foto: Bigstock) Regs: Plaasgeboue op die Rooibosroete (Foto: Bigstock)

Slaap na ’n besige teetoer-dag by een van dié lekker plekke oor. Ndedema Lodge is ’n vierster-gastehuis wat jou met rooibos-ystee verwelkom, rooibos-muffins, gestoofde droëvrugte met rooibostroop en ’n verskeidenheid rooibostees tydens ontbyt voorsit, en rooibos-produkte in die badkamer voorsien. Skimmelberg Getaway is ’n selfsorgplaashuis waar jy  begeleide boegoe- en rooibos-toere kan doen en afslag op die toerprys kry as jy in die plaashuis oorbly!

Die selfsorgplaashuis by Skimmelberg.

Bushmans Kloof Wilderness Reserve is ’n vyfster-toevlugsoord in die majestueuse Sederberge wat bekend is vir die stomende potte rooibostee wat saam met hulle legendariese High Tea-ervaring voorgesit word. Doen jouself ’n guns en bespreek ’n behandeling by die spa. Die behandelings is deur antieke Afrika-tradisies geïnspireer en die produkte wat gebruik word bevat inheemse Afrika-ekstrakte, soos kremetartboomolie, mafura-botter, aalwyn en rooibos.

Vyfster-verblyf by Bushmans Kloof Wilderness Reserve met rooisbosystee as verwelkomingsdrankie.

Kies dan koers noord en gaan loer by die Klawer Wynkelder in Klawer in vir ’n proe-ervaring waar heerlike wyne saam met rooibos-eetgoed soos skuinskoek met rooiboskonfyt en rooibos-sojasous en cheddarkaas bedien word. Slaap dan by Letsatsi Lodge in Vanrhynsdorp oor en sit aan vir ete by die Red Ox Steakhouse waar hulle ’n rits geregte en drankies wat met rooibos gegeur is, bedien.

Die pragtige selfsorgeenhede by Letsatsi Lodge.

Vanuit Clanwilliam kan jy ook in ’n oostelike rigting mik vir ’n daguitstappie na Wupperthal wat beslis die moeite werd sal wees. Maak ’n draai by die Wupperthal Original Rooibos Cooperative se winkel en teetuin om eerstehands te ervaar hoe rooibos gekweek en verwerk word. Daarna kan jy by Red Cedar Cosmetics aanklop vir kosmetiese rooibosprodukte.

As jy in ’n suidelike rigting vanuit Clanwilliam reis, kan jy in Citrusdal by die Aan d’Oewer B&B oorbly waar jy met aankoms ’n gratis glasie ystee of ’n warm koppie rooibostee ontvang, en ’n rooibos-geïnspireerde ontbyt kan geniet. Mik dan na Carmién vir ’n videovertoning, ’n besoek aan die rooiboslande, en verskeie teeproe-kombinasies. Vir middagete kan jy by Hebron Restaurant se West Coast Wine and Rooibos Tea Tasting Room aansit. Hulle werk met Carmién se fantastiese verskeidenheid rooibos- en kruietee-versnitte vir hul proesessies en bied ook  rooibos-geïnspireerde piekniekmandjies en ’n vyfgang-tee-ervaringspyskaart indien dit vooraf bespreek word. Jy kan ook jou eie tee meng!

Die Wupperthal Original Rooibos Cooperative op die Rooibosroete (Foto: Bigstock)

Heuningbos

Heuningbostee is volgens kenners vir die eerste keer in 1705 gebruik. Tussen die groot bergreekse wat die Karoo en die suidelike skiereiland skei, is daar ’n smal kusvlakte van ongeveer 250 kilometer tussen George en die Tsitsikammabergreeks waar die heuningbosplant groei. Sy blare en stingels word gesny, gegis en gedroog om ’n effens soet en aromatiese tee met verskeie gesondheidsvoordele te lewer.

Die heuningbosplantjie (Foto: Adriëtte le Roux)

Die Cyclopia-genus het ’n hele rits spesies waarvan net ’n paar kommersieel gebruik word. Die “bergtee” (Cyclopia intermedia) wat in die Langkloofberge gevind word, word die meeste gebruik, maar ’n toenemende aantal boere kweek nou “kustee” (Cyclopia genistoides) wat op die sanderige kusvlakte aangetref word en “vleitee” of “valleitee” (Cyclopia subternata) wat op die kusberge van die Tsitsikamma-, Outeniekwa- en Langebergreekse groei. Gedurende die blomtydperk in die lente sal jy die heuningbosplant maklik aan sy goudgeel blomme met ’n kenmerkende soet heuninggeur kan uitken, en verstaan hoekom dit so ’n lekker tee maak!

Gesondheidsvoordele

Net soos rooibos het heuningbos ook ’n hele rits gesondheidsvoordele. Dit is vol anti-karsinogene wat kanker help voorkom, sowel as antioksidante wat die verouderingsproses vertraag. Daar is ook minerale soos yster, kalium, kalsium, sink en magnesium in die plant. Heuningbos is kafeïenvry en het ’n lae suurgehalte wat help om ’n rustige nagrus te verseker. Dit word daarom ook sterk vir swanger vroue, babas en kinders aanbeveel. Heuningbos het ook, soos rooibos, baie lae tannienvlakke en daar is bewys dat dit allergiese reaksies, hoesbuie en asemhalingsinfeksies help kalmeer.

Besoek ’n heuningbosplaas

Die grootste verskaffers van heuningbostee is Agulhas Honeybush Tea in Bredasdorp, Bitou Honeybush in Plettenbergbaai en Honeybush Natural Products wat in Louterwater gekweek word. Let dat hierdie werkende teeplase is en dat besoeke slegs op afspraak toegelaat word. As jy wel hierdie plase wil besoek, stel ons voor jy bespreek verblyf by Ou Werf, ’n bekoorlike kothuis op die Mierkraalplaas aan die voet van die Heuningberg net tien minute se ry vanaf Bredasdorp wat perfek is vir diegene wat Agulhas Honeybush Tea wil besoek. As jy op pad is Plettenbergbaai toe, stel ons voor jy bespreek verblyf by Bitou Rivier Lodge op die Bitourivieroewer wat net om die draai van Bitou Honeybush af is. 

Links: Die bekoorlike Ou Werf-kothuis. Regs: Die Bitou Rivier Lodge op die Bitourivieroewer.

Boegoe

Boegoe is ’n geurige fynbosstruik wat algemeen in die Kaapse Blommeryk van die Wes-Kaap voorkom en al eeue lank vir sy medisinale eienskappe gebruik word. Wanneer jy dié struik se blaartjies pluk en fyndruk, ruik die olie soos ’n mengsel van swartbessie en roosmaryn. Boegoe kom deesdae in verskeie produkte voor, soos boegoe-kapsules vir gewrigspyn, boegoe-gegeurde water en boegoe-noodhulpjel wat wonde, brande en bytplekke behandel. Nog ’n gewilde manier om boegoe in te neem, is deur boegoe-brandewyn of -gin te drink en jy kan jou eie sommer by die huis maak. Voeg net ’n paar takkies en stingels in ’n goeie bottel brandewyn of gin, laat dit vir ten minste vyf dae lank staan en gee dit elke nou en dan ’n goeie skud ─ en voila! Boegoe in teevorm bly egter een van die gewildste maniere om hierdie geurige plant in te neem.

Die boegoeplantjie (Foto: Daniëlle Terblanche)

Gesondheidsvoordele

Aftreksels en olie van die boegoeplant word, nes rooibos en heuningbos, al jare lank gebruik om allerhande kwale soos verkoue, griep, ontsteking, nier- en urienweginfeksies, en maagkwale te behandel. Vandag weet ons dat dit antisepties, anti-inflammatories, kafeïenvry en ’n natuurlike insekweerder is. Boegoe verlaag ook bloeddruk en bloedsuiker, en help met gewrigspyne, blaasinfeksies en ekseem ─ en dit is maar net ’n paar van die eienskappe van dié wonderplant!

Bespreek ’n boegoe-toer

Skimmelberg buite Clanwilliam is die land se grootste boegoe-produsent en jy kan hiér ’n draai maak en ’n begeleide boegoe- en rooibostoer bespreek om hulle kwekery, boegoe-distilleerdery en teeproe-ervaring te geniet.

Skimmelberg se selfsorgplaashuis omring deur sitrusboorde en rooibos- en boegoeplantasies.

***

Moenie langer op jou laat wag nie, Nasionale Rooibosdag is om die draai en die perfekte verskoning om meer oor al Suid-Afrika se trotse tees te leer. Laat die tee solank trek terwyl jy vinnig-vinnig jou tee-roadtrip se verblyf op LekkeSlaap.co.za bespreek.

Hooffoto: Bigstock
Alle ander foto’s tensy anders vermeld: LekkeSlaap.co.za