“Saans as die donker kom daal oor die velde; Saans as die sterre kom loer in die nag; Saans as die sterre soos duisende spelde saggies kom vonkel en glinster na dag: Dan by die kampvuur in eensame drome sit ek en dink aan die dae verby; Dae van liefde en leed, en van drome; Dae van heerlike vreugde vir my” ─ Joffie Janse van Rensburg

Elke 29,5 dae bederf die hemelruim ons met ’n nuwemaan ─ dis wanneer die maan glad nie sigbaar is nie. Nou waarom dan sterrekyk as die maan nie eers skyn nie? Omdat die maan wegkruip, gee dit die sterre en Melkweg ’n kans om op hulle helderste te vertoon! Op sulke dae sak die maan vóór sonsondergang en kom vóór sonsopkoms weer op, sodat ons ’n kansie kan kry om die sterre se skoonheid en die mooie Melkweg te verken. Sterre is ligjare van ons af en soms sien ons selfs sterre wat al verskiet het! LekkeSlaap het gaan loer waar die mooiste sterre skuil en skitterende slaapplek op jou wag. 

Doen jou navorsing

A post shared by Muji (@mujahids_photography) on

─ Weet waarheen:

Moenie dat die stadsliggies die sterre verdof nie ─ breek weg na ’n afgeleë area waar die naglug donker en onbelemmerd sigbaar is. Hoe hoër, hoe beter! ’n Hoër hoogte bo seevlak bring jou nader aan die sterrehemel. Gelukkig spog ons pragtige land met berge wat ver bo geboue en bome uittroon!

─ Weet wanneer:

Die beste tyd vir sterrekyk is gedurende die nuwemaan, of twee dae voor of na dit, want die maan weerspieël op hierdie dae nie sy lig nie. Die winter se koue lug is ook ideaal vir sterrekyk, want wintersaande is donkerder as somersaande en dit bly aansienlik langer donker. Die bome skud gedurende die winter ook hulle blare af, so die digte blare kan nie jou uitsig belemmer nie!

─ Kry ’n kalender:

Dis baie maklik om die maan se fases en datums aanlyn te vind ─ kyk spesifiek wanneer dit nuwemaan is. Die kalender gee die presiese datums en tye, so jy kan jou sterre-wegbreek vir die res van die jaar beplan! Die volgende nuwemaan is op 15 Mei. 

─ Weet wat die weer is:

AccuWeather.com wys die uurlikse weervoorspelling van enige plaaslike area. Vermy eerder jou sterrekyk-uitstappie indien die wolke meer as 30% van die lugruim versteek.

─ Besoek ’n planetarium:

’n Planetarium sal jou ’n verbeeldingryke blik op die ruimte gee. Jy kan hiér leer oor planete, sterre en soveel meer! Besoek: Johannesburg Planetarium  (Braamfontein, Gauteng), Iziko Suid-Afrikaanse Museum en Planetarium (Kaapstad, Wes-Kaap), of Naval Hill Planetarium (Bloemfontein, Vrystaat).

A post shared by Muzeena (@muze365) on

 

Dié sterrekykplekke blink uit:

Sutherland, Noord-Kaap

A post shared by Martin Heck (@martin_heck) on

Sutherland is skitterend vir sterrekyk! Nét buite die dorpie staan die Southern African Large Telescope (SALT) waar daar gereeld praatjies en toere aangebied word. Dié teleskoop is die grootste in die Suidelike Halfrond. Jy kan ook na Sterland gaan waar Jurg Wagener graag sy kennis oor die sterreruim deel! Dié droë Karoo-dorp se koue klimaat bied 80% van die jaar ’n wolkvrye hemelruim. Die landskap is wel plat, maar die dorpie sit lekker hoog bo seevlak ─ uitstekend vir sterrekyk!

Skitterende slaapplek:

The Artist CottagePerlman HouseThe Velvet Olive 1881Die Heks se Huis

Sederberg, Wes-Kaap

A post shared by Urlaubspiraten (@urlaubspiraten) on

Jy hoef nie ure te ry om die stadsliggies agter te laat nie ─ die Sederberge skuil slegs twee uur buite Kaapstad, en niks bring ’n mens so na aan die sterre soos ’n berg nie! Die Cederberg Astronomical Obsevatory staan al vir meer as 20 jaar hoog in die Sederberge. Dis elke Saterdagaand, behalwe gedurende die helder volmaan, vir ’n paar uur oop vir sterrekyk en jy kan ook jou sterrekennis verbreed! Kies dus Saterdae wat op dieselfde dag as ’n nuwemaan val. Die volgende nuwemaan wat op ’n Saterdag val is 11 Augustus.

Skitterende slaapplek:

Cederkloof Botanical RetreatPommegranate KothuisWolfkop Nature Reserve Mountain CottagesBoplaas Guesthouse

Golden Gate Hoëveld Nasionale Park, Vrystaat

A post shared by Tanja Schmitz (@astrotanja) on

Golden Gate Hoëveld Nasionale Park lê in die middel van Bloemfontein, Johannesburg en Durban ─ elke stadsjapie het dus ’n geleentheid om uit die stad weg te breek en sterre te kyk waar die lug oop is! Dié park glinster teen die voorheuwels van die Malutiberge naby die Lesotho-grens. Die hoogste punt in die park is Ribbokkop, so pak jou stapskoene in om van hiér af die sterre te waardeer.

Skitterende slaapplek:

Arundel Studios Roodepoort Farm Self-CateringSaints Rest | The Clarens Country House

Maropeng Visitor Centre, Wieg van die Mensdom, Gauteng

A post shared by Carina (@lookitscarina) on

Dié sentrum is op ’n 47 000 hektaar stuk grond gebou en is in 1999 as ’n UNESCO Wêrelderfenisgebied erken. Maropeng het interaktiewe uitstallings wat ’n mens vir ure kan besig hou. Besoekers leer gedurende die dag van die verlede deur na fossiele en grotte te kyk, en gedurende die nag reis hulle ligjare terug na die verlede terwyl hulle na sterre kyk! Jy kan lekker by die Tumulus Restaurant eet terwyl Vincent Nettmann jou kennis oor sterre verbreed.

Skitterende slaapplek:

The WarehouseMile End Farm CottageSaamrus Guest Farm | Arbour Gardens

Karoo Nasionale Park, Wes-Kaap

A post shared by bronmarycane (@bronmarycane) on

Die Karoo se oop vlaktes bied onbelemmerde sterrekyk-geleenthede. Die park bied toere met gidse of solo-toere. Die park is in een van die droogste areas in Suid-Afrika geleë en daar is baie min plekke in die omgewing wat elektisiteit het ─ perfekte sterrekyk-klimaat! Daarom spog elke seisoen met sy eie sterre wat uitblink, soos Orion in die somer, Hercules in die winter, Hydra in die herfs, Andromeda in die lente, en die Suiderkruis regdeur die jaar!

Skitterende slaapplek:

Pepper Tree Cottage | Birds Nest Guest Cottages | Karoo Heart@ Mango’s

8 Wenke:

1. Bring ’n verkyker. Dis nie nodig om ’n teleskoop te hê nie, ’n verkyker is baie goedkoper, maklik bekombaar, lig om te dra en maklik om te stoor. Dis selfs beter as ’n teleskoop vir ’n amateur sterrekyker, want dit gee ’n wyer beeld van die hemelruim en maak dit makliker om dit te verken.
2. Raak gemaklik. Om heelnag te staan en jou nek te lig om na die sterre te kyk kan baie frustrerend wees. So, bring ’n kombers, kussings,  joga-mat, kampstoel of sonstoel saam.
3. Trek reg aan. Aande kan baie koud raak, veral gedurende die winter wanneer die klimaat juis ideaal vir sterrekyk is. Bring ’n kombers en trek ’n klomp lae klere aan, ongeag die seisoen, sodat jy by die weer kan aanpas. Handskoene is veral belangrik wanneer jy ’n teleskoop of verkyker saambring.
4. Bring die regte flits. Indien jy boeke wil saambring is dit beter om jou flitslens met rooi sellofaan oor te trek, of om ’n rooi filter te kry. Sommige kopflitse het reeds die opsie om rooi te skyn. Die rooi sal genoeg lig bied om veilig rond te stap in die donker, maar sal nie so groot effek hê op jou oë se aanpassingsvermoë in die donker nie.
5. Bring proviant vir ’n piekniek. Om lank buite te sit kan jou dors en honger laat. Water is altyd belangrik, en in die winter sal jy dankbaar wees vir ’n warm termosfles gevul met jou gunsteling-warmdrankie of selfs sop. Vir meer romantiese sterrekykers is ’n bottel rooiwyn nét die ding! Pak ook lekker peuselhappies in.
6. Bring leerstof. Jou flits (met ’n rooi lig) kan ook handig wees indien jy na ’n boek, kompas of sterrekaart wil kyk. Leerstof is baie belangrik as jy jou kennis wil verbreed oor die sterrestelsel. Hoog op die lys is die Suiderkruis en Afrika se Groot 5 van die sterreruim, naamlik die Suidelike Pleiades, Omega Centauri-sterrekluster, Eta Carinae Nebula, Coalsack Nebula, en die Suidelike Melkweg.
7. Laai ’n sterrekyk-app af. Star Walk is ideaal vir ’n iPhone en Sky Map vir Andriod. Dié apps maak dit baie maklik om te sien watse sterre van jou ligging af sigbaar is. Tegnologie op sy beste!
8. Bring jou kamera. Alhoewel dit nie maklik is om sterre af te neem nie kan mens pragtige foto’s neem, maar ’n drievoet is ’n moét!
Bonus! The Southern Star Party (SSP).
Gedurende dié fees kan jy die sterrestelsel op sy beste sien glinster. Die fees vind twee maal ’n jaar plaas, elke keer op ’n nuwe dorpie in die Wes-Kaap. SSP bied insiggewende praatjies, vasvrae-aande, werkswinkels, begeleide toere, sosiale geleenthede en astro-fotografie aan. Moenie die volgende een vanaf 5 tot 10 September misloop nie! Dis ’n fees om ’n sterreliefhebber te wees!

So, al is daar oneindig baie inligting oor die sterrestelsel, is dit die belangrikste om net te ontspan en die mooi Afrikalug te geniet wanneer jy na die sterre staar. Daar is elke maand ’n nuwemaan en die wintermaande is die ideale tyd om te gaan sterrekyk. Onthou ook om vroegtydig oornagverblyf te bespreek sodat jy dié skitterende ervaring terdeë kan geniet!

A post shared by Chris Preyser (@chrispreyser) on

Hooffoto: Blesfontein Guest Farm (LekkeSlaap)