Is jy ’n Kapenaar of beplan jy ’n uitstappie na die Moederstad, maar jy’s bietjie platsak na ’n besige Paasnaweek? Jan Tuisbly se karretjie klink maar vaal vir die res van April, of hoe? Daar is lig aan die einde van die donker tonnel ─ nie alles wat opwindend en die moeite werd is om te sien, is onbekostigbaar in dié kosmopolitiese stad nie! LekkeSlaap het gaan loer na ’n handvol doendinge in Kaapstad vir niks meer as R200 nie om jou te help om ’n sakpas-stadsuitstappie te beplan!

First Thursdays


Wat jaag dit jou uit die sak? Niks!

Die lewendige strate van Kaapstad verander elke eerste Donderdag van die maand in ’n kunstige roesemoes waar Kapenaars en besoekers die kulturele en kunstige rykdom van dié stad tot 21:00 te voet kan verken ─ kroeë bly natuurlik nog later oop. Daar is iets waarby elke kunsliefhebber, kranige bierdrinker of inkopieslaaf sal aanklank vind!

Vir die kunsliefhebber is daar dosyne kunsgalerye tussen Waal- en Strandstraat om vanaf 18:00 die aand gratis te besoek. Die kuns wat hier uitgestal word fokus op plaaslike kunstenaars en ’n spesifieke tema. Skop jou kuns-avontuur af deur by die naaste kunsgalery in te stap om ’n kaart van uitstallings te kry. Hiér sal jy sien waar presies elke galery is en wat elke galery uitstal. As jy gelukkig is en vroeg genoeg opdaag, kry jy ook ’n gratis glas wyn om aan te teug terwyl jy die kunsstukke bewonder.

As jy op soek is na ’n bietjie afwisseling tussen die galerye, is daar tientalle kroeë en klerewinkeltjies tussen die galerye waar jy kan inloer. Daar is dikwels spesiale aanbiedings in die middestad se kroeë op First Thursdays, so hou gerus jou oë oop daarvoor. Nou het jy glad nie ’n verskoning om verveeld rond te sit op die eerste Donderdag van die maand nie!

Piekniek op Seinheuwel

 

View this post on Instagram

 

A post shared by See Jess Travel (@see.jess.travel) on

Wat jaag dit jou uit die sak? Niks!

Almal is bewus van die Moederstad se ongeëwenaarde natuurlike en mensgemaakte prag: die bloue oseaan, die berg én die moderne stadsargitektuur gekombineer met geskiedkundige geboue. Vanaf Seinheuwel kan jy dit alles op een slag bewonder! As jy een van die klein afdraaipaadjies aan die linkerkant van Seinheuwel-weg neem, voordat jy by die hoofuitkykpunt kom, sal jy ’n afgesonderde uitkykpunt vind waar Leeukop en Tafelberg aan jou linkerkant is en jy ’n panoramiese uitsig oor Seepunt en die see reg voor jou sal hê.

Maak sommer ’n lekker uitstappie hiervan ─ neem ’n piekniekmandjie saam, volg een van die grondpaadjies wat na die groot betonblokke lei, gooi jou piekniekkombers oop saam met familie en vriende, en kyk hoe die son oor Seepunt en op die skouspelagtige horison sak!

Galileo Opelug-bioskoop

Wat jaag dit jou uit die sak? Die pryse verskil afhangend van die opsie wat jy kies.

Standard: R89 (slegs toegang)
Warm: R97 (toegang en kombers)
Comfy: R105 (toegang en rugstut)
Warm & Comfy: R110 (toegang, kombers en rugstut)
VIP: R175 (toegang, kombers, rugstut, aangewese sitplek, springmielies, ’n Coke, en Frey-sjokolade)

Al ooit daarvan gedroom om ’n fliek onder die sterre te kyk? In Kaapstad kan jy dié droom bewaarheid. Die Galileo Opelug-bioskoop is by die V&A Waterfront op die kroukiegrasperk bokant die Ulundi-parkeerarea geleë en dit bied ’n unieke fliek-ervaring elke Donderdag vanaf November tot April. Buiten jou gunstelingfliek op ’n heerlike somersaand onder die sterrehemel, is daar ook allerhande smullekker kosse en drankies, speletjies, musiek en hope pret. Verskeie fliek-genres word gewys, van romantiese komedies en musiekblyspelle, tot dokumentêre en die klassieke gunstelinge. Die deure maak gewoonlik om 18:00 oop en die fliek begin sodra die son sak. Tye verskil dus afhangend van watter tyd van die jaar jy jou fliek wil gaan kyk.

Onthou, dié spesiale bioskoop is slegs tot einde April oop, so moenie die geleentheid misloop om ’n heerlike fliekaand in die opelug te geniet nie! So, as jy in die stad is en op ’n Donderdagaand verveeld rondlê, gaan kyk gerus een van die volgende by The Galileo: The Good, The Bad and The Ugly (5 April), The Best of GoPro (12 April), The Beach (19 April) of Blood Diamond (26 April).

Baz Bus Staptoere


Wat jaag dit uit jou sak? Niks! (’n Footjie vir die toergids word wel aangemoedig.)

Ons is almal soms skuldig daaraan om in ’n stad of dorp te woon en nie veel van die geskiedenis van die inwoners en geboue te weet nie. Baz Bus Staptoere bied egter die geleentheid om meer oor ons pragtige Moederstad uit te vind ─ en dis gratis! Dié toere word deur gebore en getoë Kapenaars gelei en hulle sal jou meer vertel oor die kleurvolle, dog dikwels hartverskeurende geskiedenis van Kaapstad. Dié toergidse verduidelik hoe Suid-Afrika se talle kulture veral deur kolonialisme verenig is in die geskiedenis en hoe dit bygedra het tot die unieke atmosfeer van dié dinamiese stad.

Baz Bus se staptoere word in samewerking met Jungle Walk Tours aangebied en al die toergidse baseer hul roetes op hul persoonlike gunstelingstories en -ondervindings, so hou in gedagte dat die toere nie altyd presies dieselfde sal wees nie. Maak jou gereed vir ’n heerlike, opvoedkundige ervaring waar jy saam met ’n internasionale groep meer oor die Moederstad uit die oogpunt van ’n inwoner sal leer.

Daar is daagliks 3 verskillende toere:

  • 10:00 Historical Mother City-toer ─ sowat 1 uur en 30 minute.
  • 12:00 Slave Quarters (Bo-Kaap-toer) ─ sowat 1 uur en 15 minute.
  • 14:00 Decolonised Tale of Kanala (Distrik Ses-toer) ─ 1 uur en 45 minute (Dit sluit ook ’n toer deur die Distrik Ses Museum in en die toegangsfooi is R55).

As jy brand om ’n trotse kenner van die Moederstad se kleurvolle geskiedenis te wees, kan jy by die Groentemarkplein op die hoek van Langmarkstraat en Burgstraat, net buite die Sentrale Metodiste Sendingkerk, by die toergroep aansluit. Die hoofkantore is by Burgstraat 32 in die middestad.

Joga-klasse op die strand


Wat jaag dit jou uit die sak? R50 vir ’n Vinyasa Joga-klas van 60 minute.

Is jou litte ’n bietjie styf en voel jy effens onfiks, maar jy het nie daai ekstra +/- R500 per maand om by ’n gimnasium aan te sluit nie? Sunday Sunset Clifton Beach Yoga Classes With The Om Revolution is dalk nét wat jy nodig het om daardie stywe litte ’n bietjie los te wikkel saam met ’n gekwalifiseerde joga-instrukteur! Dié joga-klas word elke Sondag met sonsondergang op Clifton se derde of vierde strand aangebied. Dit bied die perfekte geleentheid om jou naweek op ’n gesonde wyse af te sluit, en om die nuwe week met nuwe lewenslus aan te durf.

Jy hoef slegs jou waterbottel en strandhanddoek saam te bring. Kom strek al jou stres weg saam met jou vriende, of gebruik die geleentheid vir ’n bietjie alleentyd op een van Kaapstad se mees skilderagtige strande.  

Sonsondergangklasse vind elke Sondag vanaf November tot April plaas. So, kom vind ’n bietjie innerlike vrede op die strand en raak ontslae van al jou weeklikse stres ─ nie sleg vir slegs R50 nie, nè?

Vir meer inligting kontak 081 329 4543/e-pos: yoga@theomrevolution.co.za

Oranjezicht Plaasmark


Wat jaag dit jou uit die sak? Geen toegangsfooi.

Dié plaasmark word elke Saterdag van 09:00 tot 14:00 ─ of die son skyn en of dit reën ─ op die historiese Grangerbaai-perseel van die V&A Waterfront gehou, en die doel daarvan is om die gemeenskap se onafhanklike plaaslike boere en fynproewers-kosproduseerders se goedere te verkoop en te bemark. Dit is die perfekte Saterdagoggend-uitstappie vir die gesin om in die buitelug kruideniersware van hoë gehalte te koop ─ ’n lekker alternatief vir ’n oorvol kruidenierswinkel in die naaste winkelsentrum! ’n Groot pluspunt van so ’n opelugmark is dat jou hond en fiets ook meer as welkom is.

Verder kan dié met groenvingers lekker kies en keur watter plante hulle deel wil maak van hulle tuin. Daar is eetbare plante, sade en kompos by die mark te koop, asook tuingereedskap.

Die jongspan sal ook nie verveeld ronddrentel nie ─ vermaak vir oud en jonk sluit stories vertel, plante plant, kunsvlyt, joga en nog meer in. Daar is ook gemeenskaplike tafels waar besoekers hulle skoene kan uitskop, hulle gunstelingkoerant kan lees, of van die gratis WiFi gebruik kan maak.

Verruil die stowwerigheid en buisligte van ’n oorvol winkelsentrum vir ’n lekker opelugmark met heerlike vars produkte te kies en te keur, en ondersteun ook só die plaaslike gemeenskap se onafhanklike boere!

Gin-proe by The Gin Bar

A post shared by The Gin Bar (@theginbar) on

Wat jaag dit jou uit die sak? Gin & Tonic-skemerkelkies teen R60.
Gin-proe Donderdae tot Saterdae (3 plaaslike gins): R175 per persoon.

Is jy lus vir ’n lekker opvangsessie saam met jou vriende of familie? Wat van ’n heerlike glasie Gin & Tonic om dié samesyn mee af te rond? The Gin Bar in Waalstraat, ook bekend as The Secret Gin Bar, is in die hartjie van die kleurvolle Moederstad agter die Honest Chocolate Café versteek. Dié bekoorlike kroeg poog om net die beste drankies te bedien, en jy sal beslis nie spyt wees as jy enige aand van die week híér kuier nie ─ platsak of nie!

As jy jou opvangsessie ’n bietjie meer interessant wil maak, hoef jy nie net by G&T-skemerkelkies te hou nie. Jy kan ook vanaf Donderdag tot Saterdag ’n gin-proesessie geniet, terwyl een van die kroegmanne jou meer oor die plaaslike en internasionale gins wat dié kroeg verkoop vertel. Daar is verskillende proe-opsies, maar die proe van 3 gins sal jou R175 uit die sak jaag. Bring 5 vriende saam na die proesessie en maak julle reg vir ’n opwindende aand in dié sjiek deel van die stad vir minder as R200!

The Zeitz Museum of Contemporary Art Africa (Zeitz Mocaa Museum)

A post shared by Zeitz MOCAA (@zeitzmocaa) on

Wat jaag dit jou uit die sak? R180 per volwassene, maar gratis vir Afrika-burgers op Woensdae vanaf 10:00 – 13:00.
Die museum bied gratis toegang vir kinders onder 18 jaar.
Halfprys op die eerste Vrydag van elke maand vanaf 16:00 – 20:30.

Wie sê museums kan nie opwindend wees nie? Dié nuwe museum het in September 2017 geopen en is die wêreld se grootste museum wat kontemporêre kuns van Afrika en sy diaspora uitstal! Zeitz Mocaa word beskou as een van die Moederstad se grootste kulturele toevoegings tot dusver, en met goeie rede. Dié museum is nie net enig in sy soort op ons kontinent nie ─ die gebou was voorheen ’n graansilo wat in die 1920’s gebou is, en dit was die hoogste gebou in Subsahara-Afrika. Dit is heeltemal opgeknap en omskep in ’n argitektoniese wonder, en is daarom ’n kulturele baken ─ nie net in Kaapstad nie, maar ook in die wêreld.

Kom verwonder jou aan die meesterstukke van tientalle topkunstenaars van Afrika, terwyl jy na die begeleide oudio-toere luister. Daar is ook ’n kunsskool vir kinders in die solder met ’n aangewese aflaai-sone! Ouers kan dus gerus hul kinders saambring om hul kreatiwiteit uit te leef, terwyl hulle rustig deur dié nuwe Kaapse wonder wandel. Verder is daar ook ’n moderne restaurant op die sesde verdieping wat ook vir spesiale geleenthede bespreek kan word.

Trek jou kreatiewe skoene aan en verken die indrukwekkende kuns wat ons kontinent en sy inwoners bied vir ’n appel en ’n ei!

 Kyk uit vir Museum Night wat op 27 Junie en 26 September hiér aangebied word. Gratis toegang tussen 17:00 en 22:00.

The Poké Co. in Loopstraat


Wat jaag dit jou uit die sak? Pryse verskil afhangende van jou bestanddele.
Indien jy pokebowls kies wat reeds op die spyskaart is, sal dit sowat R40 tot R115 kos.  

Het jy al gehoor van die nuutste kosbohaai genaamd “Pokébowl” (uitgespreek “POH-keh”)? Indien nie, beter jy vinnig jou weg baan na The Poké Co. by Loopstraat 90!

Dié intieme, bekoorlike restaurantjie bied heerlike pokébowls na enige smulpaap se smaak. Dit is oorspronklik ’n Hawaiïese dis en “poke” beteken “om te sny”. Dit verwys na rou, gemarineerde vis, gewoonlik tuna, wat opgesny word en op rys saam met verskillende soorte groente, vrugte en souse bedien word. Kenners meen dat dit die volgende soesji is, so dit is beslis iets om na uit te sien!

The Poké Co. bied ’n uiteenlopende spyskaart vanwaar jy pokébowls kan bestel wat reeds op die spyskaart is, of jy kan jou eie bestanddele kies en jou eie pokébowl maak. Daar is ook heerlike burrito-rolletjies as jy net wil peusel.

Die restaurant se doel is om vis van hoogstaande gehalte vir die disse te gebruik, en werk ook saam met ’n nie-winsgewende organisasie wat plaaslike inwoners aanmoedig om die beste organiese groente te kweek. Al die produkte is volhoubaar en die restaurant ondersteun ook plaaslike vissermanne en boere ─ nóg meer rede om by The Poké. Co. aan te klop!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Cape Town | South Africa (@cityofcapetown) on


Daar het jy dit ─ stadsuitstappies en spandabelrigheid hoef nie noodwendig hand aan hand te gaan nie. Stop 2 R100’e in jou sak en gaan verf die pragtige stad rooi met ’n spotgoedkoop kwas!

Klier híér vir lekker blyplekke as jy nie genoeg van dié opwindende stad kan kry nie.

Hooffoto: BigStock