Vrede en Lust is veel meer as ’n filmstel vir die gewilde Afrikaanse film Semi-Soet of maar net nog een van die Franschhoekvallei se mooiste wynplase nie. Dié plaas is ʼn ware lushof, ʼn droombestemming vir families, paartjies, bruide, smulpape en  wynliefhebbers wat besoekers keer op keer teruglok.

Die landgoed is meer as drie eeue oud en rotsvas op familiewaardes gebou in só ʼn mate dat jy sommer met die intrapslag al soos ’n familielid van die Buys-familie, die eienaars, voel. Hulle het die plaas in 1996 gekoop en sedertdien het dit van krag tot krag gegaan ‒ deesdae spog hulle met ʼn restaurant genaamd Lust Bistro & Bakery, indrukwekkende verblyf-opsies, drie kenmerkende wynreekse en ʼn gesogte trou-venue waar daar jaarliks sowat 50 troues gehou word.

Om Vrede en Lust in ʼn paar paragrawe te beskryf, is ʼn onbegonne taak! Daar is so baie om te sien en te beleef wat ons alles op ons toer saam met algemene bestuurder, Etienne Buys (hierbo), ontdek het. Om dit alles te kroon het die Vrede en Lust Oesfees ook nog gedurende ons naweek daar plaasgevind. Gelukkig kon ons fotograaf, Pieter Wolhüter, die naweek se goue oomblikke vasvang om jou ʼn idee te gee van wat op jou wag as jy ʼn kuiertjie by Vrede en Lust beplan. Ons wys jou waar jy kan slaap, eet, kuier en wynproe op die perseel, en wat die Oesfees nou eintlik als behels.

2

Gaste kan deesdae kies en keur tussen moderne suites, bekoorlike kothuise en die elegante herehuis wat altesaam verblyf vir 42 gaste bied. Die landgoed se blyplekke is loopafstand van mekaar af, wat dit veral gerieflik maak vir ʼn familiesaamtrek, trougeselskap of reünie. Paartjies wat smag na ʼn romantiese wegbreek, gesinne en vriende wat saam wegbreek sal dit nét so baie geniet te danke aan die drie verblyf-opsies wat die plaas bied. Kyk gerus op ons webtuiste en bespreek sommer al lekker vroeg!

Ons het in die splinternuwe Vineyard Suites hierbo gebly waar ons van kop tot tone bederf is! Daar is selfs bergfietse in die gemeenskaplike binnehof vir besoekers wat die plaas wil verken.

Buiten die bederfies en lieflike kamers is daar ook  ʼn gesellige kuierkroeg, swembad en boma net langs die suites waar jy saans ure lank langs die vuurtjie kan sit en kuier, en later net ’n paar treë na jou suite toe hoef te stap.

Die herehuis en Jonkmanshuis-kothuise is net oorkant die suites en albei bied gesellige verblyf vir gesinne, vriende of groot groepe. Kliek gerus hier vir meer inligting.

1

Deesdae het elke tweede wynplaas ʼn fênsie fynproewersrestaurant, maar Lust Bistro & Bakery is werklik iets besonders. Ek het lanklaas so lank geneem om ontbyt te bestel ‒ daar is eenvoudig te veel lekker opsies!

Untitled design

As jy lief is vir behoorlike boeretroos is ʼn americano of reuse cappuccino nét wat jy nodig het om ʼn gesellige dag op die plaas met ekstra skop aan te pak. Die vars vrugtesap en rock shandy is weer veral verfrissend op ʼn warm dag in die Wynlande!

Kies ’n gereg op die à la carte-spyskaart vir middagete of stel jou eie pizza saam. Die hoofgeregte, Sondag-buffet, croissante en tuisgemaakte roomys is maar enkele redes waarom gaste keer op keer terugkeer … om nie eers te praat van die geurige, varsgebakte brood wat sjef Jean Pierre Smith met sy eie gis bak nie. Die bakkery se croissante is so gewild dat hulle soggens voor ontbyt al uitverkoop is!

In die somer kan jy op die bistro se stoep onder sonsambrele sit en die uitsig oor die landgoed bewonder en in die winter skep die kaggelvuurtjie ʼn gesellige en snoesige atmosfeer.

Kliek hier vir meer oor Lust Bistro & Bakery.

Copy of SPRINGTIME

Vrede en Lust se ikoniese wynproelokaal met sy prentjiemooi uitsig is nie net ʼn lus vir die oog nie, maar bied jou ook die geleentheid om die landgoed se lekkerste wyne te proe terwyl jy aan ʼn peuselbord van Lust Bistro & Bakery (enkel: R72 en dubbel: R130) smul. Selfs al is jou beursie dolleeg kan jy ʼn paar van die gewilde wyne proe ─ die gratis wynproesessie sluit vier van die wyne in! Daar is ook ʼn wynproesessie teen R25 wat sewe wyne insluit en groepbesprekings is ook welkom.

Susan Erasmus, Vrede en Lust se hoofwynmaker, is in 2007 bekroon as die beste vroulike wynmaker in die land. Besoekers is nie net verseker van ʼn uitstekende glas wyn nie, maar ook leersame proesessies! Die kundige dames in rooi wat dié proesessies behartig sal al jou vrae beantwoord en ken al die staaltjies wat met elke wyn gepaard gaan.

4

ʼn Gesellige terras tussen die wingerde, skouspelagtige uitsigte op die omliggende berge, ʼn ontwerperstuin, ʼn geskiedkundige kelder met badkamers en ʼn kombuis, slaapplek vir 22 gaste in 11 luukse dubbelkamers en ʼn komplimentêre ontbyt is maar net ’n paar van die items wat by die troupakket se tarief ingesluit is. Kliek gerus hier vir meer inligting en navrae.

5

Is dít nou vir jou ʼn feestelike affêre! Dit was ons eerste fees en ons gaan beslis nie die volgende een misloop nie. Alhoewel dié tyd van die jaar in die wynbedryf druk besig is weens die oesseisoen, is dit juis ook ʼn goeie tyd vir die landgoed om saam met feesgangers ʼn suksesvolle oes te vier. Feesgangers kan ʼn handjie bysit en eerstehands ervaar wat daaglikse gedurende oestyd op ʼn wynplaas plaasvind.

Vanjaar se program het prettige doendinge, kosstalletjies, speletjies en insiggewende proegeleenthede ingesluit. Hier is ʼn paar lusmakertjies as jy oorweeg om volgende jaar se fees by te woon:

  • Jy kan begin deur jou eie druiwe te pluk en pars! Die fees skop af met dié twee aktiwiteite en gee jou die geleentheid om jou hande (en voete!) vuil te maak terwyl jy meer te wete kom oor wat die oesseisoen behels.

  • Proe die tradisionele Federweisser (alkoholiese, gegiste druiwesap), Zwiebelkuchen (uietert) en mosbolletjies wat Duitse en Suid-Afrikaanse kookkuns kombineer en al ʼn tradisie by die Oesfees is.

  • Die vrugte-en-wynparing kombineer twee van my gunstelinge: vars vrugte en ʼn verskeidenheid wyne! Onder leiding van Karlin Nel, assistent-wynmaker, het ons 6 vrugte saam met 6 verskillende wyne geproe. Die Riesling- en bloubessiekombinasie was veral ’n treffer!

  • Kosstalletjies, wynproetoonbanke en tuinspeletjies is ook op die feesgrond beskikbaar en as jy wil kan jy, soos ons, sommer jouself op ʼn piekniekkombers tuismaak en heeldag onder ʼn koel skaduboom sit en kuier met ʼn paar bottels wyn.

Meer oor die Vrede en Lust Oesfees:

  • Kaartjies kos R150 en is op www.itickets.co.za beskikbaar.
  • Die kaartjie sluit toegang tot die fees, ʼn Vrede en Lust-wynglas en ʼn verwelkomingsdrankie in.
  • Kinders onder 12 kry gratis toegang.
  • Doendinge vir kinders sluit lewensgrootte skaak, Jenga, kroukie, ʼn springkasteel, swembad en gesigverf in.
  • Die volgende fees vind Saterdag 11 Maart 2017 plaas, so bespreek betyds jou kaartjie! Kaartjies het vanjaar soos soetkoek verkoop tot groot konsternasie van ’n hele paar laatslapers.

Pretfeit: Vrede en Lust is getrou aan hul omgewingsvriendelike en volhoubare etos en maak slegs van sonkragpanele gebruik vir die restaurant, al die verblyf en venues op die plaas en plaasbedrywighede. Dit is die eerste wynplaas wat só vlak van doeltreffendheid haal! Is dít nou nie indrukwekkend nie?