Soos gesien op Maroela Media

Daar is niks so skouspelagtig soos ’n vakansie-avontuur in die sneeu nie en in Suid-Afrika sal die blote gedagte van ’n vakansie in die sneeu, kinderlike opwinding bring. Ons almal het al daarvan gedroom om een oggend wakker te word en dadelik met ’n warm koppie boeretroos voor die kaggel uit te span, en ’n sneeubedekte landskap wat voor ons uitgestrek lê, te aanskou. Daarom wys LekkeSlaap jou waar jy dié wintervakansie in Suid-Afrika kan vertoef om moontlik ’n sneeukombers te sien!

KwaZulu-Natal

Sani Valley Lodge

Jy sal dié bekoorlike bestemming net 2 uur se ry vanaf Durban vind. Die lodge bied ’n unieke kombinasie van luuksheid en natuurskoon, met hope doendinge om ieder en elk besig te hou. Dit is ook naby die bekende Sanipas in die Drankensberge en grens aan die Maloti-Drakensbergpark, ’n UNESCO-wêrelderfenisgebied. Die lodge is langs ’n groot meer waar wildsbokke, sebras, bobbejane en ander wild en voëlspesies soms ’n verskyning maak. ’n Lekker bonus is dat dié lodge ook die ideale bestemming gedurende somermaande is!

Wat sê Elmarie T?

“Mooiste ligging, was net stunning! Dit was awesome! Ons het 3 aande bespreek, maar het toe op die laaste dag besluit om nog ’n aand te bly!” (Maart 2019)


Oos-Kaap

Tiffindell Ski Resort

Hoog in die berge bo die historiese dorpie, Rhodes, sal jy Suid-Afrika se enigste ski-oord vind. Dié oord se ligging teen die suidelike helling van die Ben McDhui-berg verseker dat die sneeu regdeur die wintermaande behoue bly. Dit bly die ideale bestemming vir enige avonturier, selfs gedurende die somermaande! Hiér kan jy pragtige uitsigte geniet, blomme sien wat nêrens anders ter wêreld voorkom nie en die helder sterrehemel bewonder. Die oord is ’n gewilde winterbestemming en word vinnig vol bespreek, so jy moet sommer nóú al bespreek as jy dié oord by jou winterwegbreeklysie vir volgende jaar wil voeg! Dagbesoekers kan ook die oord besoek om te ski en ander doendinge te geniet.

Wat sê Liana U?

“Ongelooflik mooi. Iets om te sien en te beleef, al is dit nie in die winter of sneeutyd nie.” (Mei 2019)

Loer hier vir nog plekke naby Tiffindell Ski Resort:

Millerd Mountain Accommodation | Rhodes Cottages- Welgemoed Trout Lodge


Tenahead Mountain Lodge

Is jy op soek na ’n romantiese wegbreekbestemming net vir jou en jou geliefde? Dié versteekte  juweel is ’n paradys vir natuurliefhebbers op Lesotho se grens en word omring deur die Drakensberge, Witteberg en die Malutiberge. Tenahead Mountain Lodge is ook net duskant Tiffindell Ski Resort, en avontuurlustige gaste kan dié oord deur die dag besoek en die lekker doendinge geniet.

Wat sê Constant W?

“Iets spesiaals. Dis ’n eenkeer-in-’n-leeftyd-ondervinding. Die rustigste, mooiste plek.” (Maart 2019)


Woodcliffe

Híér kan jy jouself tussen die ongerepte natuurskoon en berge verloor en rus vir jou siel vind. Dis net 22 km vanaf Maclear en langs die bekende Naude’s Nek-pas. Dié bestemming is hemel op aarde vir enige voetslaner, kunstenaar, fotograaf of voël-entoesias. Die eenheid het ’n kaggel en braai en bied ’n asemrowende uitsig. Wat meer het jy nodig vir ’n snoesige winterwegbreek?

Wat sê Jeneane B?

“Fantastiese gasheer en ongelooflike bestemming. Ons gasheer was behulpsaam en het seker gemaak ons is gemaklik. Die bestemming is ongelooflik en daar is lekker staproetes. Dit is moontlik een van die mooiste plase wat ek ooit gesien het!” (Augustus 2018)


Noord-Kaap

Sterboom Guest House

Sutherland is een van Suid-Afrika se bekendste sneeubestemmings waar ’n jaarlikse sneeuval gedurende die wintermaande vanselfsprekend geword het ─ en dis presies waar jy dié huis sal vind! Die huis het nie elektrisiteit of TV’s nie en maak staat op sonkrag en gas. Jy kan dus werklik wegbreek en sielsrus ervaar. Behalwe dat gaste die Karoo-gasvryheid kan geniet, hoef jy nie net binne voor die kaggel te bly nie. Sutherland is ook een van die beste plekke om van sterre te leer en die pragtige hemelruim te bewonder.

Wat sê Dirk J?

“Mooi en gerieflik. Baie aangename blyplek as jy net wil kom ontspan en geniet van die omgewing en pragtige sterrehemel. Die huis was silwerskoon en alles het gewerk. Sonkrag was voldoende vir ligte en selfoonlaaiers, ens.” (April 2019)


Laat die gedagte van ’n sneeuvakansie jou sommer klaar bibber? Moenie kommer nie, ons het vir jou ook lekker plekke! Klier gerus híér en loer waar jy in ’n heerlike houtvuur-warmbad kan ontspan.

Wenke vir ’n winterwegbreek

  • Hou @SnowReportSA op Twitter dop om te sien waar en wanneer sneeu in Suid-Afrika val.
  • Soms is winter ’n rustiger seisoen vir instansies, so hou winter-aanbiedings dop vir ’n lekker sakpaswegbreek.
  • Vermy die skares deur jou wegbreek buite die skoolvakansietyd te bespreek.
  • Indien jy wel gedurende die skoolvakansie wegbreek, beplan en bespreek doendinge vooraf om daardie lang rye te vermy.
  • Moenie jou waterdigte skoene vergeet wanneer jy sneeu najaag nie! ’n Mussie en handskoene sal ook handig te pas kom.
  • Afhangend van jou winterbestemming, dra ’n paar lae klere wat jy later kan uittrek. Suid-Afrikaanse winters is nie noodwendig so koud nie en dit kan gedurende die dag ’n heerlike matige temperatuur bereik.

So, trek jou kombers nader en kies jou ideale bestemming! Watter bestemming wil jy graag besoek?

Hooffoto: Verlatenkloof Guest Farm (LekkeSlaap)