Ons lê vandag besoek af in Wakkerstroom. Dié pragplekkie is die volmaakte voorbeeld van ’n regte plattelandse dorpie in Suid-Afrika: Die naaste verkeersligte is 30 km hiervandaan, die dorp is so klein dat jy dit volledig te voet of per fiets kan verken, en die perde en koeie staan dolgelukkig die vlaktes vol.

’n Ooi met haar baie nuwe lammetjie. Foto: reino_vw (Instagram) Wilde perde tussen die koeie in Wakkerstroom. Foto: heatherbaiocchi (Instagram)
'n Tipiese Wakkerstroom-vista. Foto: vonnieg16 (Instagram) Dié nat koeineusie verwelkom jou in Wakkerstroom. Foto: heatherbaiocchi (Instagram)

Die meeste van julle sal ook dalk Wakkerstroom onthou as die mooie Mpumalanga-dorp waar die film Vrou soek Boer (2014) afgespeel het. Vandag kuier ons, ’n trots Afrikaanse webtuiste, in ’n dorpie met ’n eg Afrikaanse naam waar mede-Afrikaanssprekendes ’n bak-en-brou-liefdesverhaal op die silwerdoek vertel het.

Vrou soek Boer, wat afspeel in Wakkerstroom. Foto: giulia_fig (Instagram) Liefde is om jou popcorn te deel. Foto: michellegraceofficial (Instagram)

Die dorp is ’n plattelandse lushof, maar het tog talle doendinge vir beide avonturiers en diegene wat daarvan hou om so min as moontlik te doen as hulle met vakansie is. Wakkerstroom staan bekend as ’n absolute paradys vir voëlkenners aangesien dit 3 vername voëlhabitatte bevat: vleiland, grasland en woud. Hier sal jy ’n hele aantal inheemse voëltjies gewaar, insluitend die drakensberglewerik, die vaalrivierlewerik, die reusevisvanger, talle roofvoëls en die geelborskoester.

'n Reusevisvanger. Foto: yoospics (Instagram) ’n Vaalrivierlewerik. Foto: antongkruger (Instagram)
’n Swartpiek. Foto: antongkruger (Instagram) ’n Blouvalk. Foto: mark_olivier_photography (Instagram)

Die dorp is ook gewild onder voetslaners en bergfietsryers danksy Voortrekkerkop ─ die berg wat duskant die dorp waak. Plaaslike inwoners verwys na Voortrekkerkop as “Ossewakop” en dis sowat 2148 m bo seevlak. Jy kan dié piek te voet of met ’n bergfiets aandurf, of selfs die vleiland rondom die koppie verken. Daar is ’n paar uitdagende roetes vir die fiksheidsvrate onder ons wat ’n 14 km-roete rondom die vleiland, ’n 22 km-roete oor die heuweltjies rondom Ossewakop, en selfs ’n lekker strawwe 50 km-trek al die pad tot by Zaaihoek Dam insluit.

As jy vreeslik baie moed het, kan jy dit selfs met ’n ligte motorfiets aanpak. Dirt Maniacs in die dorp glo dat Wakkerstroom gemáák is vir motorfietsry en hulle pak graag die bulte, draaie en vlaktes in die omgewing met hul veldmotorfietse aan. ’n Naweekpakket sal jou tussen R1500 en R2000 uit die sak jaag en dit sluit alles in: ritte vir die hele naweek, ’n braai die Saterdagaand en selfs ’n strafdrankie-sessie. Kliek hier vir meer inligting oor Dirt Maniacs en hul pakkette. Onthou net: Die terrein is rof! Moenie sê ons het jou nie gewaarsku nie …

Dirt Maniacs takel Ossewakop. Foto: jason_myburgh (Instagram) ’n Waaghalsige rit met Dirt Maniacs. Foto: jason_myburgh (Instagram)
Die bergfietsroetes bied pragtige uitsigte oor die vlaktes. Foto: jenjenlaw5 (Instagram) Die bergfietsroetes wissel van maklik tot uitdagend. Foto: kgreylin (Instagram)

Enige iemand wat al die Suid-Afrikaanse platteland besoek het, sal jou kan sê dat ’n plattelandse kuiertjie nie dieselfde is sonder ’n goeie visvangsessie nie ─ gelukkig is Wakkerstroom mos ’n kunsvlieghengelaar se droom! Daar is twee lekker groot damme net ’n kort entjie buite die dorp, Zaaihoek Dam en Martin’s Dam, waar reënboog- en bruinforel volop is. ’n Paar van LekkeSlaap se lêplekkies in Wakkerstroom het ook kleiner damme op hul persele, so gaste wat daar tuisgaan kan sommer uit die bed uit rol en ’n grote inkatrol ─ kliek hier om sommer nóú jou idilliese visvangvakansie te bespreek!

Suksesvolle visvangsessie in Wakkerstroom. Foto: claytonrsakrause (Instagram) Visvang in die dam. Foto: ghinigreyling (Instagram)

Aandag skindervrate! Moenie dink ons het vergeet van Vrou soek Boer nie! Dié koekiesbak-liefdesverhaal se slagspreuk lui Mens se baksels proe altyd beter as jy verlief is… en die opwindende, en soms rampspoedige, soeke na ’n lewensmaat is iets wat baie van ons maar al te goed ken. Maar tog het die film mos ’n gelukkige einde, en as dit vir Mareike gewerk het, hoekom kan Wakkerstroom se romantiese towerkrag nie dalk jóú liefdeslewe ook opkikker nie? Die dorp is ’n gunsteling onder verliefdes ─ selfs Nadia Beukes, geliefde Suid-Afrikaanse aktrise, en haar man het in dié bekoorlike dorpie ringe geruil.

Nadia Beukes en haar man, David de Villiers, op hul troudag. Foto: nadiabeukes (Instagram)

So, maak soos Nadia en Mareike en besoek Wakkerstroom om die liefde so dik soos stroop te laat loop. Die dorp het ’n paar oulike plekke waar jy jou I do’s kan opsê of waar jy ’n wittebrood of spesiale wegbreek saam met jou geliefde kan geniet. Boonop is die toonbeeld van die romantiese platteland mos ’n gasteplaas en dáárvan het Wakkerstroom baie! Kom klop by een van dié gasteplase in Wakkerstroom aan, bak ’n plaasbrood vir jou droomman in ’n groot kombuis, gaan stap ’n entjie in die veld, of voer ’n kalfie melk uit ’n bottel. As jy eers ’n bietjie van die stadsgedruis wil vergeet en jou batterye in ’n rustige omgewing nader aan die natuur wil herlaai, sal ’n wegbreek in Wakkerstroom jou beslis goed doen.

Laventaba Gastehuis in die dorp is ’n gunsteling onder troupaartjies en talle mense het al hul lewenspaadjies saam hier begin stap. Dit was ook die hoofhuis vir die stel van Vrou soek Boer en is die perfekte plek om jou eie troue te hou as jou hart in die platteland hoort. Kliek hier as ’n plattelandse troue ook vir jou beskore is.

As jy ook daarvan hou om koekies in ’n plaaskombuis te bak (of te verongeluk), op ’n stoep te sit en oor die platteland te tuur, of om voor ’n kaggelvuur met ’n lekker fliek net op te krul, stel ons voor jy pak nóú jou tas!

Wakkerstroom Country Inn. Foto: karista85 (Instagram) Forellenhof Gasteplaas. Foto: stefschulze (Instagram)
Die pragtige kerk in Wakkerstroom. Foto: wazat (Instagram) ’n Wonderlike Wakkerstroom-sonsondergang. Foto: yoospics (Instagram)

’n Sprokiesmooi ligging vir jou troue, egte ou plaaskombuise waar jy kan bak en brou, uitdagende maar skilderagtige fietsry- en voetslaanroetes, en allerhande plaasdiere om jou geselskap te hou ─ Wakkerstroom het waarlik alles. Kliek op enige van die onderstaande blyplekke sodat jy ook binnekort in Wakkerstroom kan gaan droom.

Forellenhof Guest Farm | Stroom-af | DeKotzenhof | Semi Soet | Die Pophuis | Wetlands Country House & Sheds | The Social Weaver Country Lodge | Goudhoek Farm Stays | Wakkerstroom Country Inn | Grasslands Cottage | Laventaba Guest House | Rustic Rose Guesthouse | Badenhorst Cottage | Wakkerstroom Farm Lodge | Wakkerstroom Groenvlei Chalets

Hooffoto: Wakkerstroom deur schalkconductor (Instagram)