Ons almal kan die beroemde Groot 5 in ons slaap opnoem, maar weet jy watter diere vorm deel van die Marine Groot 5? Ja, ons wonderskone Suid-Afrika het nie nét die Groot 5 op land nie, maar onder die water ook! LekkeSlaap het gaan loer waar langs die kuslyn jy dié seediere kan vind.

1. Suidelike Noordkaper

Raak jy elke jaar van September tot November opgewonde om langs die Suid-Afrikaanse kuslyn te gaan walviskyk? Dis dan juis dié majestueuse dier wat jy daar teëkom! Met ’n gewig van sowat veertig ton en ’n lengte van vyftien meter, is suidelike noordkapers stadige swemmers — hulle swem teen ’n spoed van ongeveer tien kilometer per uur. Dié reuse swem gewoonlik alleen of in klein groepe naby die kus. Hulle kan tot twintig minute op ’n slag onder die water bly, maar ten spyte van dié visse se merkwaardige karaktereienskappe is hulle ’n bedreigde spesie.

Bespreek betyds jou verblyf met ’n onbelemmerde see-uitsig vir die besige walviskyk-seisoen hier:

House 12 Beach ClubHarbour House HotelHermanus Boutique Guest HouseCatchy WavesWindsor Self-catering Apartments

2. Afrika-pikkewyn

Afrika-pikkewyne kom net langs Suid-Afrika en Namibië se kuslyn voor. Hulle is wankelrig op land maar swem goed en kan tot twintig kilometer per uur swem en tot 130 meter diep duik. Manlike en vroulike pikkewyne lyk byna identies en is moeilik om van mekaar te onderskei sonder ’n genetiese toets. Ongelukkig word hulle as kwesbaar vir uitwissing geag. Ons het twee pikkewynkolonies in Suid-Afrika waar besoekers hulle kan gewaar, naamlik Boulders-strand naby Simonstad en Stony Point in Bettysbaai.

Wil jy naby ’n pikkewynkolonie bly? Loer hiér na verblyf:

Boulders Beach HouseThe Flying Penguin | The Lookout | Mariner GuesthousePorcupine Walk

3. Kaapse Pelsrob

Die Kaapse Pelsrob word slegs in Suider-Afrika aangetref tot so ver noord soos Angola. Kolonies is oral langs die kus van Namibië en Suid-Afrika tot Angolabaai te sien. Alhoewel ons hulle gereeld luilekker op land sien rondlê, sal ’n begeleide skubaduiktoer saam met dié gediertes ’n heeltemal unieke ervaring wees. Dit neem omtrent drie maande voor die pelsrobkalfies met die water kennis maak en met selfvertroue leer swem. Dié oulike geskuifel is ’n móét-sien! Die beste tyd is vroeg in Maart al langs die kus.

Kom bly hier in Houtbaai en neem ’n bootrit na Seal-eiland:

Hout Bay Beach Cottage |  No. 2 Beach Club | Bay Views Hout Bay

4. Stompneusdolfyn

Met hul halfmaanvormige bekkies lyk dié pragtige dolfyne asof hulle permanent glimlag! Die stompneusdolfyn is ’n sosiale dier en swem in groepe van tot vyftien. Hulle kan tot 230 meter diep duik, vir sewe minute lank hul asem ophou en tot vyf meter in die lug bo die water spring! Die kommunikasievaardighede van die stompneusdolfyne is definitief iets om te aanskou ─ hulle gesels met mekaar deur ’n piepgeluid te maak of verskeie vorme van lyftaal te gebruik. Hulle maak ook van eggo-oriëntasie gebruik deur middel van kliekgeluide om die bestemming, grootte en vorm van ’n voorwerp te bepaal en sodoende kos op te spoor.

Die jaarlikse Sardienloop is ’n baie opwindende tydperk waartydens besoekers aan die Suidkus dié dolfyne kan sien. Saam met verskeie ander roofdiere, swem hulle jaarliks vanaf Port Edward al langs Durban se kus om sardiens te jag.

Gaan lees gerus ons blog oor die Sardienloop om meer te leer oor dié natuurverskynsel, uitkykpunte en verblyf in Southbroom, Port Shepstone, Scottburgh en Warner Beach.

5. Grootwithaai

Tensy jy braaf genoeg is, bly die meeste mense gewoonlik weg van die grootwithaai (ook bekend as die witdoodhaai) of enige ander haai. Dis ook maar goed so, want met behulp van hul sterk sterte kan hulle tot sestig kilometer per uur swem! Hulle het ook driehonderd skerp, driehoekige tande wat oor sewe rye versprei is! Gelukkig is ons nie op hul spyskaart nie — ’n grootwithaai verkies eerder seeleeus, robbe en klein walvisse. Net soos dolfyne, gebruik hulle elektromagnetiese velde om prooi te jag. Hulle reuksintuie is só goed dat hulle bloed van ongeveer vyf kilometer ver kan ruik. Die grootwithaaie word oral ter wêreld aangetref, maar is gereeld langs Suid-Afrika se kuslyn te sien. Dyer-eiland naby Gansbaai staan as “Shark Alley” bekend en is die tuiste van die grootste grootwithaai-bevolking ter wêreld. As gevolg van menslike toedoen word dié haai ongelukkig ook as ’n bedreigde spesie beskou.

Loer hier na wegbreekopsies in Gansbaai naby die grootwithaaie:

Ocean View Apartments18 on Kloof Guest HouseChocolate Box Guest House | 18 Suikerbossie

Kon jy die Marine Groot 5 opnoem nog voor jy begin lees het? Watter van hierdie diere het jy reeds van nader beskou? Laat ons weet hieronder!

Hooffoto: Windsor Self-catering Apartments (LekkeSlaap)