Soos menige ander Karoo-dorpie is Victoria-Wes ook een van dié waar jy skaars ’n oog kan knip voor jy eenkant in en weer anderkant uit is. Volg die N12 of die R63 deur die Karoo en daar waar dié twee paaie kruis, bevind jy jou in die hartjie van dié plattelandse oase. Die feit dat die befaamde Mannetjies Roux daar grootgeword het, dien al jare lank as ’n groot trekpleister, maar die dorpie het soveel meer om aan reisigers te bied. LekkeSlaap het gaan uitvind waarom dit die moeite werd is om meer as net ’n paar uur hier deur te bring.

Neem ’n kiekie

Dit is beslis die moeite werd om tyd opsy te sit om die dorp op die R63 vanaf Loxton binne te ry. Jy word begroet deur ’n reeks Kaapse kothuisies, Karoo-huisies en Victoriaanse huisies en die unieke argitektuur-style maak dié prentjiemooi straat ’n moet-sien vir alle besoekers.

Verder af in die straat staan die ou Apollo Teater. Dié Art Deco-teater het jaarliks besoekers na die Apollo Filmfees gelok, maar was tot onlangs baie vervalle totdat die nuwe bestuur besluit het om dit nuwe lewe te gee. Alhoewel die restourasie-proses reeds in Februarie begin het en die bekendstelling van Deon Meyer se nuwe film Jagveld ’n groot sukses was daar, is die opknappings nie heeltemal klaar nie. Besoekers kan gerus hul Facebook-blad besoek om die teater se vordering dop te hou en eerste uit te vind wanneer daar weer vertonings en films in die teater gewys word nie.

Soos in die meeste van ons klein dorpies sal jy ’n juweel in Kerkstraat raakloop ─ die pragtige St. John-Anglikaanse Kerk. Dié kerkie is deur Sophia Grey, vrou van die eerste aartsbiskop van Kaapstad, ontwerp en in 1874 voltooi. ’n Treffende kenmerk van hierdie kerkie is die gebrandskilderde vensters wat hulde bring aan die slagoffers van die 1971-vloed wat soveel mense se lewens geëis het.

Skop jou skoene uit

Moonlight Manor lê aan die voet van die Moonlight Hill-heuwel en dis duidelik waarom dié pragplek een van die Karoo se top-boetiekgastehuise is. Die hoë plafonne, oorspronklike Oregon-houtvloere, hortjiesdeure, skuifraamvensters en lieflike stoep dra by tot die bekoring van hierdie ou Victoriaanse huis uit die laat 1800’s. Al die kamers het en suite-badkamers, luukse geriewe en toegang tot die stoep wat oor die dorpie uitkyk.

Die bekoorlike Kingwill’s Guest House se kothuise is onlangs opgeknap om gerieflike verblyf in 8 smaakvolle en suite-kamers aan te bied. Elke kamer beskik oor antieke Kaapse meubels, ’n en suite-badkamer en luukse geriewe. Gaste kan ook gerus van die braaigeriewe en swembad gebruik maak.

Die Victoria-Wes Hotel is onlangs gerestoureer en staan nou as Merino Junction bekend. Gaste kan kies tussen die gesinskamers of dubbelkamers wat albei oor en suite-badkamers en basiese geriewe beskik. Daar is ook ’n a la carte-restaurant, koffiekroeg en ’n gelisensieerde kroeg op die perseel.

Kliek hier vir nog verblyfopsies!

Verf die dorp rooi

Die Victoria-Wes Museum, wat ook as die Noord-Kaapse Streeksmuseum dien, het in 1969 sy deure oopgemaak. Die museum het 2 afdelings: Die eerste afdeling bevat uitstallings van die oergeskiedenis en natuurlike geskiedenis van die Karoo, terwyl die tweede afdeling uitstallings van die geskiedenis van Victoria-Wes, die mense en die omgewing bevat.

Pretfeit: Daar is ’n visfossiel in die Karoo-afdeling wat sowat 250 miljoen jaar oud is ─ dit is die mees volledige fossiel van sy soort in die wêreld!

Die Victoria-Wes Natuurreservaat aan die buitewyke van die dorp is ’n tuiste vir verskeie wildspesies wat eie is aan die Karoo. Die natuurreservaat is ’n baie belangrike teelgebied van die oewerkonyn ─ een van die mees bedreigde soogdiere in die wêreld. Voëlkyk-entoesiaste sal aangenaam verras wees deur die voëlkyk-geleenthede by die dam, en so ook met die uitstekende uitkykpunt bokant die damwal aan die einde van Kerkstraat.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Riverine Rabbit (@riverine_rabbit101) on

Die Moonlight Hill-heuwel dien nie net as ’n pragtige agtergrond vir Moonlight Manor nie, maar ook as die beginpunt van verskeie voetslaanroetes. Die Moonlight Hill– en Ribbok Plateau-roetes het asemrowende, panoramiese uitsigte oor dié Karoo-dorpie met sy Victoriaanse huisies, sowel as die Victoria-Wesdam.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by christopher (@christopher_terblanche7) on

As jy op soek is na ’n meer opwindende gholf-ervaring, moet Victoria-Wes Gholfbaan boaan jou lysie wees. Vergeet van ’n grasgroen gholfbaan en ’n seepgladde setperk ─ dié gholfbaan is ’n egte Karoo-gholfbaan. Dit is ’n gunsteling onder die plaaslike inwoners en besoekers, én die Karoo Golf Classic word elke Mei hier gehou.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Rudolph Saville (@rudolphsaville) on

Stop en smul

Die einste gebou waar Mannetjies Roux se Victorian Trading Post en rugbymuseum was, is nou die Karoo Jaart. Kom klop gerus hiér aan vir ’n lekker koppie boeretroos of twee, en snuffel tussen die antiekmeubels en versamelstukke rond terwyl jy vir jou heerlike fynproewersburger wag. Hou ook jou oog op hul Facebook-blad sodat jy nie hulle volgende maandelikse Karoo Jaart-boeremark misloop nie!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by bianca olivier (@biancakelseyolivier) on

Die gewilde Karoo Deli-koffiewinkel is op dieselfde perseel as Kingwill’s Guest House geleë. Die deli se tuisgemaakte produkte en Karoo-fynkosse is ideaal as jy op soek is na ’n ligte ete om die hongerpyne te stil. Die Karoo-deli verkoop ook blomme, konfyte, geskenkies, droë vrugte en neute.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Anneli Grimbeek South-Africa (@anneligrim) on

Ná ’n lang dag van hierdie bekoorlike dorpie verken kan jy by Moonlight Manor se restaurant in die dorp, Ka’roux, gaan aansit vir ete en aan een van hul heerlike lamsdisse kom smul ─ die skaaptjoppies is ’n móét en die romerige knoffelsous saam met die lamsvleis is ook ’n wenner!

 

Nou ja toe, wat wil jy dan nou nóg weet? Kies koers na die Karoo en bespreek ’n welverdiende wegbreek by een ons lekker blyplekke in Victoria-Wes!

Hooffoto: South African Tourism (Flickr)