Val du Charron is ’n weelderige wyn- en olyfplaas net buite Wellington in die Bovlei-vallei. In 2015 het Drinks International Magazine dié boetiekwynplaas se Theatre of Wine aangewys as die mees innoverende toerisme-ervaring, en sedertdien behaal hierdié spoggeleentheid jaarliks groot sukses. LekkeSlaap het ’n draai by Val du Charron gaan maak en vertel jou graag wat alles op jou wag!

Die Theatre of Wine-ervaring

A blend is much like a symphony orchestra where you have all the various sections … the crisp woodwinds, the solid brass instruments, the rhythmic percussion and the elegant strings … on their own they are instruments, but together under the hand of the conductor, a symphony.”
─ Fabrice Langlois

Dié wynkenner se woorde word dikwels by Val du Charron aangehaal en hulle spog ook met 15 variëteite!

Wanneer jy by Val du Charron aankom, word jy met ’n glasie Cabernet Sauvignon verwelkom wat jou beslis in die regte luim sal laat. Die pragtige Hawekwaberge en heerlike wyn sal jou bekoor en, wie weet, jy is dalk net gelukkig genoeg om die ervaring met ’n buitelandse toergroep te deel.

Die Theatre of Wine-ervaring begin by die kelder se ingang waar hulle jou vertel hoe wyn in Suid-Afrika en spesifiek op Val du Charron gemaak word. Dan stap jy die koel kelder binne wat in ’n teater omskep is. Hiér wag die swart gravin op jou met haar pragtige Victoriaanse gewaad. Die ervaring bestaan uit drie tonele, en dit is ook die drie wyne wat jy op jou tafel sal sien ─ Four White Legs, Pieter Erasmus en The Black Countess. Die gravin dra dan die storie agter elke wynnaam op ’n dramatiese manier voor ─ jy sal egter self die stories moet kom uitvind! Dié aanbieding het reeds baie sukses behaal en word nou vir toergroepe uit Frankryk, Duitsland, België en Italië vertaal.

Daarna word jy na die Local Grill House geneem, waar ’n heerlike Griekse slaai, broodjies, olyfpatee en ’n asemrowende uitsig van die wingerde en berge jou inwag ─ en dit is maar net die begin. Ná die voorgereg word die hoofgereg bedien ─ ’n smullekker tradisionele bobotie met ’n Indiese poppadom en sambal. Dié maaltyd word dan afgesluit met vlapasteitjies en bessie-compote.

* Verskillende opsies is beskikbaar.

Bespreek: sales@vdcwines.com

Ná die wonderlike wynproe- en eet-ervaring, moet jy beslis die plaas verder verken. Maak gerus ’n draai by die plaas se eie Piza e Vino ─ ’n lieflike restaurant waar jy ’n unieke pizza saam met ’n glasie wyn kan geniet! Jy kan ook tussen die wingerde en olyfbome rondwandel en die imposante berge in die verte bewonder.  

Besigheidsure (The Local Grill): Maandae tot Sondae vir oggend, middag- en aandete

Laai The Local Grill se spyskaart hier af!

Besigheidsure (Piza e Vino):
Dinsdae tot Vrydae: 12:00 – 09:00
Saterdae: 10:00 – 21:00
Sondae: 10:00 – 16:00

Laai Piza e Vino se spyskaart hier af!

 

Die Spa

As jy ’n bietjie pamperlang benodig, is die spa nét vir jou. Behandelings sluit verskeie gesig-, nael-, was- en lyfbehandelings, asook masserings in. Daar is ook ’n paar spa-pakkette om van te kies. Loer gerus hier na die spa-spyskaart.

Stuur gerus ’n e-pos na spa@vdcwines.com om ’n afspraak te maak.

Besigheidsure: Dinsdae tot Saterdae vanaf 09:00 – 18:00

Die Verblyf

Dié plaas spog ook met luukse en gerieflike verblyf. Hiér kan jy oornag in ’n vierster-gastehuis of vyfster-waenhuis, wat elkeen ’n pragtige uitsig oor die wingerde, tuine en berge bied.

Val du Charron is perfek vir fynproewers en smulpape. As jy dus op soek is na ’n heerlike bederf omring deur Bolandse berge en wingerde, maak seker dat dié pragplaas boaan jou emmerskoplysie is!

Vol bespreek? Kliek hier vir alternatiewe verblyf in Wellington.

Hooffoto: Val du Charron (foto verskaf)