Brand jy vir ’n luukse wegbreek wat ’n eiesoortige ervaring van ons mooie land bied? Moenie verder soek nie! LekkeSlaap het ’n lys gemaak van 10 boetiekblyplekke regoor Suid-Afrika wat op elke oordeelkundige reisiger se droomlysie hoort! Boetiekblyplekke is klein, intiem, eksklusief en bied net ’n handjie vol kamers wat elk individueel versier is, daarom is ’n onvergeetlike bederfwegbreek ’n gegewe!

Dié verblyf beloof nie net bederf van topgehalte nie, maar ook tientalle doendinge wat jy in styl kan geniet ─ van pieknieks op privaat plase in Mpumalanga tot wynproe terwyl jy die pragtige Bolandse landskappe vanaf ’n perd se rug bewonder!

Batavia Boutique Hotel ─ Wes-Kaap

As historiese geboue jou hart vinniger laat klop en jy ’n oog het vir keurige moderne én antieke dekor, is Batavia Boutique Hotel net die plek vir jou. Dié hotel is in die hartjie van die pragtige Bolandse dorp Stellenbosch geleë en dit bied ’n droomkombinasie tussen die bekoring van ’n klassieke negentiende-eeuse gebou en al die moderne geriewe wat jy nodig het ─ of jy nou vir besigheid of plesier reis. Batavia Boutique Hotel is stapafstand vanaf verskeie besienswaardighede in Stellenbosch, soos die indrukwekkende Moederkerk, Stellenbosch Museum, bekroonde restaurante, kroeë en interessante kafees. Verveeldheid is dus nie iets waaroor jy by dié luukse hotel hoef te bekommer nie! Wynliefhebbers sal ook bly wees om te hoor dat die bestuur sommer wyntoere in die skilderagtige Kaapse Wynlande kan reël.

BederfgerieweSwembad op die perseel, 24 uur-ontvangs, kroeg, lughawe-pendeldiens op versoek, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens, gaste-sitarea en ’n kaggel.

Doendinge op/naby die perseel: Kunsvlieghengel, wildritte, perdry, visvang, wynproe, voëlkyk, fietsry/bergfietsroetes en tennis.

Akabeko Boutique Hotel ─ Mpumalanga

Dié ekslusiewe boetiekhotel is in die valleie tussen die Mpumalanga-berge op ’n privaat beesplaas geleë en is die toonbeeld van ’n romantiese wegbreekplek vir ’n moeë paartjie wat wil ontsnap van die veeleisende alledaagse verantwoordelikhede. Die naam “Akabeko” beteken “red cow” in Japannees en verwys na die honderde “rooi koeie” (beeste) wat dié plaas hul tuiste noem. Hierdie sogenaamde Akabeko’s is legendariese koeie in Aizu in Japan wat inwoners van hierdie dorp gehelp het om hul besittings te dra nadat ’n groot aardbewing die streek in 1611 getref het. Die Japannese het toe ’n beeldjie gemaak om eer te bring aan dié behulpsame diere. Dié tradisionele beeldjie verteenwoordig innerlike vreugde en tevredenheid en Akabeko Boutique Hotel streef daarna om juis dít aan hul gaste te bied.

Dié hotel spog met ’n spa genaamd Kalahari Spa wat romantiese behandelings aan paartjies bied en die Jacuzzi beskik oor asemrowende uitsigte oor die Hopperivier. Daar is ook ’n restaurant op die perseel waar gaste heerlike maaltye in styl kan geniet. Alle maaltye word van die vars produkte wat op die plaas geproduseer word, gemaak ─ beslis iets om oor huis toe skryf!

Bederfgeriewe: Kaggel, versonke mosaïek-bad wat ook as ’n privaat swembad kan dien, kamerjas en pantoffels,  spa-behandelings en Jacuzzi, restaurant en kroeg, konferensiegriewe, gaste-sitarea, lughawe-pendeldiens op versoek, kamerbediening en piekniekmandjies en etes op versoek.

Doendinge op/naby die perseelKunsvlieghengel, baarshengel, forelhengel, fietsry/bergfietsroetes, voëlkyk, gholf, wildritte, voetslaan, begeleide toere na die Krugerwildtuin, Bourke’s Luck-kolkgate, God’s Window en die Sudwala-grotte (moet vooraf by ontvangs bespreek word).

Mavuta Boutique Apartments ─ Limpopo

Wat is nou ’n beter blyplek vir ’n luukse wegbreek as ’n boetiekhotel met Franse flair? Mavuta Boutique Apartments bied selfsorgverblyf in die hartjie van Polokwane se sakekern net langs die Peter Mokaba Stadion en dis deel van die gewilde Mavuta-handelsmerk. As Franse dekor jou aandag trek, moet jy nie die geleentheid mis om jou hier te kom tuismaak nie. Mavuta se 9 woonstelle spog met stylvolle kontemporêre dekor wat uniek met ’n Franse styl gekombineer word. Elke woonstel is individueel versier en is afgerond met soliede timmerhoutmeubels, Persiese matte, Travertine-teëls en helder, warm kleure. Daar is ’n sjef in die kompleks wat heerlike etes voorberei en gaste kan dié lekkerte vooraf bespreek. Mavuta Boutique Apartments is ’n plek waar jy so tuis kan voel soos by jou eie woonstel, maar met die uitstekende standaarde en bederfgeriewe van ’n 5-ster-hotel!

Bederfgeriewe: Balkon en patio, swembad, fynproewersgeleenthede, sjef, lughawe-pendeldiens op versoek, wasgoeddiens, daaglikse skoonmaakdiens, kinderoppasser op versoek en ’n wynkelder.

Doendinge op/naby die perseel: Polokwane Wildreservaat, Magoebaskloof Boomtoptoere, Polokwane Kunsmuseum, Jembe Tavern (musiek, komediante en kabaret), Meropa Casino, gholf, Wild Thingz Bird and Reptile Park en kultuurdorpies.

Linhof Boutique Guest House ─ Wes-Kaap

Kom ervaar die prentjiemooi Weskus in styl! Linhof Boutique Guest House verteenwoordig die idilliese prentjie van ’n witgekalkte Weskushuis. Die hotel spog met direkte toegang tot die see en uitsigte wat jou van al jou sorge sal laat vergeet. Nie net kan jy jou geliefdes by dié unieke verblyf bederf nie, jy kan ook ’n egte Weskus-ervaring beleef deur die omliggende juwele soos Jacobsbaai, Saldanha, Langebaan en St. Helenabaai te besoek.

Bederfgeriewe: Gaste-sitarea, persoonlike kluis, kaggel en ’n privaat patio.

Doendinge op/naby die perseel: Perdry, voëlkyk, visvang, swem, bergfietsroetes en tennis.

Kleinkaap Boutique Hotel ─ Gauteng

Dié bekroonde boetiekhotel in ’n Kaaps-Hollandse styl bied nie net luukse verblyf in 34 unieke hotelkamers nie, maar dien ook as die ideale venue vir jou droomtroue of as konferensiesentrum vir sakelui. Dit is in die lowerryke, rustige voorstad Clubview geleë wat die gesogte rustigheid van die platteland bied, maar terselfdertyd net 10 minute se ry vanaf die middestad se moderne geriewe en tientalle besienswaardighede is. Kleinkaap Boutique Hotel spog met ’n uitstekende restaurant, 16th Lintel Restaurant. Dit is ’n splinternuwe toevoeging tot die hotel wat daarop fokus om maaltye van hoogstaande gehalte te produseer wat in elke gas se behoeftes voorsien. Die kombinasie van klassieke dekor en luukse geriewe sal elke gas dadelik tuis laat voel ─ of jy kom vakansie hou, ’n troue vier of op ’n sakereis is.

Bederfgeriewe: 24 uur-ontvangs, kamerbediening, skoonmaakdienste, kinderoppasser op versoek, gaste-sitarea, eetkamer, luukse donsveerduvets, restaurant en kroeg, rolstoelvriendelike geriewe, nagportier, persoonlike kluis en konferensiegeriewe.

Doendinge op/naby die perseel: Wynproe, voëlkyk , swem, perdry, visvang, wildritte, wildkyk, begeleide wandelings, bergfietsry en tennis.

Angala Boutique Hotel ─ Wes-Kaap

Het 2017 sy tol geëis? Smag jy na ’n luilekker naweek om jou batterye te herlaai? Angala Boutique Hotel is die einde van jou soektog! Dit is aan die voet die Simonsberg buite Franschhoek in die Kaapse Wynlande geleë en bied absolute rustigheid tussen die majestueuse berge. Jy kan alte lekker in die eko-swembad met sy ongelooflike uitsigte swem, of jy kan jouself met verskeie spa-behandelings bederf. Elke suite in die hotel is ruim en uniek versier met natuurlike kleure en die fynste detail wat die sorg waarmee die hotel ingerig is, weerspieël. ’n Wegbreek na ’n luukse bederf tussen die Bolandse berge is dalk nét wat jy nodig het om jou siel te verkwik!

Bederfgeriewe: Jacuzzi, konferensiegeriewe, masseer- en skoonheidsterapie, eko-swembad, lughawe-pendeldiens op versoek, kroeg en restaurant, wynkelder, nagportier en piekniekmandjies op versoek.

Doendinge op/naby die perseel: Swem, voëlkyk, bergfietsry, wynproe, piekniek, perdry en visvang.

Palala Boutique Game Lodge & Spa ─ Limpopo 

Dié boetiekverblyf in Limpopo se dekor is ’n kombinasie van klassieke en Afrika-meubelstukke wat grootliks tot die hotel se uniekheid bydra. Palala Boutique Game Lodge & Spa spog al drie jaar in ’n ry (2015-2017) met die World Luxury Hotel Awards wat van uitstekende diens en ’n onvergeetlike ervaring vir gaste getuig. Hiér kan die hele gesin ’n luukse bederf-bosveldwegbreek ervaar aangesien daar talle verblyfopsies is om van te kies. Elke suite is sorgvuldig ontwerp om dit so luuks én gerieflik as moontlik te maak, en die Afrika-dekor en -foto’s teen die mure skep ’n unieke balans tussen tradisionele interieur en moderne eenvoud. Daar is selfs ’n kussing-kieslys vanwaar jy ’n spesifieke kussing kan kies om ’n heerlike nagrus te verseker! Jy kan ook persoonlike toiletware bestel, of jou bad laat tap met verskeie bederftoiletware en kerse vir ’n romantiese atmosfeer. Dit is ook die perfekte venue vir onvergeetlike bosveld-troues vir dié wat eksklusiwiteit, avontuur en noukeurige aandag aan detail waardeer.

Bederfgeriewe: Masseer- en skoonheidsterapie/skoonheidskliniek, fynproewersgeleenthede, wandelpaadjie oor die water, buite-dek, restaurant en kroeg, rolstoelvriendelik, konferensiegeriewe, trou-venue, kinderoppasser op versoek, speletjieskamer, persoonlike kluis en ’n gaste-sitarea.

Doendinge op/naby die perseel: Visvang, voëlkyk, wildritte, begeleide wandelpaaie, swem, baarshengel, fietsry/bergfietsry en wildritte.

Camps Bay Retreat ─ Wes-Kaap

Kampsbaai is een van Kaapstad se gewildste en luuksste voorstede en dit spog met ’n pragtige strand, wêreldklas-verblyf en ’n opwindende naglewe. Dié eksklusiewe hotel is teen die hange van die Twaalf Apostels geleë en bied panoramiese uitsigte oor die Atlantiese Oseaan, ’n meditasie-swembad, watervalle en stroompies op die perseel. Daar is 4 verskillende verblyfopsies om te verseker dat jy presies kry waarna jy soek. Hondeliefhebbers kan gerus saam met die eienaars se honde deur die lowergroen tuine gaan wandel. Daar is ook ’n spa op die perseel wat die prentjie van absolute luuksheid en ontspanning mooi afrond! Bespreek gerus ook die Von Kampz Restaurant op die perseel vir privaat geleenthede saam met jou naastes.

Bederfgeriewe: Tennisbane, swembaddens, masseer- en skoonheidsbehandelings, wynkelder, biblioteek, kroeg en restaurant, nagportier, daaglikse skoonmaakdiens, wasgoeddienste, persoonlike kluis en ’n lughawependeldiens op versoek.

Doendinge op/naby die perseel: Voëlkyk, begeleide wandelpaaie, fietsry, swem, tennis en voetslaan.

Forum Homini Boutique Hotel ─ Gauteng

Dié hotel het ’n interessante ligging in die welbekende Wieg van die Mensdom in Mogale-stad. Aangesien die hotel in ’n grotstyl gebou is, verteenwoordig dit die oorsprong en geskiedenis van die mensdom wat baie gepas is vir die spesifieke ligging. Buiten ’n buitengewone styl bied die hotel ook topgehalte fynproewersgeleenthede by Roots Restaurant op die perseel en ’n intieme trou-venue vir verliefdes wat graag hul onvergeetlike dag teen die pragtige agtergrond van die Wieg van die Mensdom wil vier. Forum Homini se kamers is nie net sjiek en besonders luuks nie, dit het ook eko-vriendelike grasdakke. ’n Verblyfervaring soos dié is werklik iets wat jy nie sommer by enige hotel kan beleef nie!

Bederfgeriewe: Binne- en buitestorte, privaat Jacuzzi, bederfbaddens, kaggels, stalaktietligte, restaurant, spa-behandelinge, konferensiegeriewe, swembad en persoonlike kluis.

Doendinge op/naby die perseel: Perdry, wildritte (Groot 5), forelhengel, fietsry/bergfietsry, voëlkyk, interaktiewe kooksessies, masserings in kamers, klankterapie, maandelikse wynproe by Roots Restaurant, Maropeng en Sterkfonteingrotte, Palaeo-toere, lugballonvlugte, renoster- en leeunatuurreservaat en boomtoptoere.

Franschhoek Boutique Hotel ─ Wes-Kaap

Raadop oor bestemmings vir ’n idilliese wegbreek vir twee? Franschhoek Boutique Hotel in dié betowerende Bolandse dorpie se hoofstraat het ’n romantiese atmosfeer en 6 prentjiemooi kamers. Dit word omring deur luukse boetieks, ’n paar van Suid-Afrika se top-fynproewersrestaurante en kunsgalerye. Spring gerus op ’n wyntrein om die asemrowende wynlandgoedere en uitstekende wyn in die omtrek te verken, en ontspan saans voor die gesellige kaggel in jou hotelkamer.

Bederfgeriewe: Kinderoppasser op versoek, restaurant, skoonmaak- en wasgoeddienste, persoonlike kluis en troeteldiere toegelaat indien gereël.

Doendinge op/naby die perseel: Wynproe (kontak toergidse vir meer inligting), Franschhoek Wyntrein, voetslaan, perdry (ook wynproe tydens perdry), fietsry/bergfietsry by Boschendal, gholf, Babylonstoren TuintoerFranschhoek Motormuseum, Hugenote Gedenksmuseum, kunsgalerye en Mont Rochelle Natuurreservaat.

Nou weet jy ook waarheen om te gaan as jy ’n bietjie wil uithaal en wys en daarna smag om ’n eersteklas-wegbreek te ervaar!

Hooffoto: Angala Boutique Hotel and Guest House (LekkeSlaap)