Die wag is verby en jy kan ná ’n deurmekaar paar maande weer jou vakansieplannetjies, met ’n paar beperkings*, in ’n ry kry! So, wat is jou vakansievooruitsigte vir 2020? Kyk na ons wegbreekwenke vir hierdie malle jaar en na ons lekke-kalender wat die nuutste skoolkwartale en langnaweke aandui en bespreek nóú daai wegbreek waarvoor jy al so lank wag!

2020 se skoolkwartale

Die Departement van Basiese Onderwys het die nuwe skoolkwartale vir 2020 bekendgemaak en buiten ’n aanduiding van wanneer Boet en Saartjie se skoolskoene gepolitoer moet word, gee dit ’n idee van wanneer julle as gesin die lockdown-lamheid kan afskud en ’n bietjie kan vakansie hou. 

Die nuwe datums is as volg:

Kwartaal 1: 15 Januarie tot 18 Maart
Kwartaal 2: 1 of 8 Junie tot 7 Augustus
Kwartaal 3: 12 Augustus tot 23 September
Kwartaal 4: 5 Oktober tot 15 Desember

Die skool begin voorlopig in 2021 op 11 Januarie. 

Beplan jou volgende wegbreek met ons lekke-kalender

Omdat Julie nie openbare vakansiedae het nie, is dit die ideale maand vir naweekwegbreke! Dis lekker koud, so ’n huisie in die berge of ’n blyplek met ’n houtvuurwarmbad is aan te beveel. Gebruik die nuttige “Ontsnap uit die stad”-filter op LekkeSlaap se tuisblad en soek verblyf naby Johannesburg, Kaapstad en Durban sodat julle nie ver hoef te ry nie of tik bloot ’n dorpie in jou geweste in die soekgleuf in en daarsy ─ talle naweekwegbreekopsies naby jou huis!

Agtergrondfoto: Kuname River Lodge

__________________________

In Augustus vier ons Vrouedag met ’n langnaweek, so maak seker jy spring gou en bespreek jou verblyf vir 7 tot 11 Augustus. Wat van ’n kuier rondom die bosveldvuur of ’n afgeleë Karoohuisie?

Agtergrondfoto: The Stables and The Loft @ Glenogle Farm

__________________________

September bring ’n tien dae lange skoolvakansie. Ons voorsien groot reise en besige paaie vir hierdie tydperk, so bespreek vroegtydig! Teen dié tyd is dit al ’n bietjie warmer, so hoe klink ’n glanskamp-ervaring, ’n troeteldiervriendelike kampeerplek, ’n Roete 62-roadtrip of ’n draai in Namakwaland vir jou? 

Agtergrondfoto: Cederkloof Botanical Retreat

__________________________

Behalwe vir die twee dae van die Septembervakansie wat na Oktober oorspoel, bied Oktober en November weer geleenthede vir ’n naweekwegbreek. Miskien kan jy en jou geliefde teen hierdie tyd as paartjie wegbreek en iets romanties bespreek. 

Agtergrondfoto: The Place, Klein-Karoo
Agtergrondfoto: SANParks Elandsberg Wilderness Camp

__________________________

Desember beteken natuurlik die somervakansie is hiér! Van die sestiende af is dit lag-lag al die pad Kersseisoen en Nuwejaar toe, en die nuwe skooljaar begin eers die elfde Januarie, so dit laat byna ’n maand vir avontuur en vakansieplesier.

Agtergrondfoto: Blouhuisie

__________________________

Wegbreekwenke vir 2020

  1. Omdat daar soveel minder vakansiedae is, gaan langnaweke en skoolvakansietye propvol wees. Dit beteken dat jy vinnig moet spring om die lekke’ste verblyf te bespreek. 
  2. As jou gunstelingvakansiedorp volbespreek is, moenie bekommer nie! Sien dit as ’n geleentheid om die kleiner, stiller juwele van ons pragtige land te verken. Minder bekende dorpies is ook dikwels goedkoper wat verblyf betref. 
  3. Die toerismebedryf het ook baie skade gely weens Covid-19-maatreëls, so doen moeite om plaaslik te ondersteun wanneer jy reis en neem die jongspan om plaaslike reservate, diereparke en doendinge te ervaar.
  4. As jy die stormloop rondom langnaweke en skoolvakansies wil vermy, gebruik die “Ontsnap uit die stad”-funksie op ons tuisblad om ’n wegbreek op ’n gewone naweek te bespreek en kry só jou rus in sarsies in. 
  5. Hierdie jaar is gesondheid eerste prioriteit, so onthou om die nodige maatreëls te tref, ’n gesigmasker te dra, jou afstand van ander te behou en jou hande gereeld te was. 

Uiteindelik is #lekkevirlater iets van die verlede en kan ons weer begin om ons mooie land te verken. Kliek en bespreek of stuur vir ons ’n inbox-boodskap op Facebook sodat ons kan help. 

* Let op dat die volgende reisbeperkings in die staatskoerant van 25 Junie 2020 bepaal is.

  • Ontspanningsreis word onder Vlak 3 toegelaat.
  • As jy vir ontspanning reis, mag jy dit net binne die grense van jou provinsie doen.
  • Jy mag net by geakkrediteerde en gelisensieerde instansies bespreek. Om uit te vind of ’n instansie geakkrediteer is, is dit raadsaam om dit van die instansie te vra wanneer jy ’n verpligtingvrye kwotasie versoek.
  • Indien jy vir sakedoeleindes reis, kan jy dit binne én buite die grense van jou provinsie doen, mits jy die nodige dokumentasie en permitte kan toon.
  • Alle bepalings is onderhewig aan verandering soos wat regeringsriglyne aangepas word. Hou gerus die regering se amptelike webtuiste vir meer inligting dop.

Steeds onseker waarheen jy wil reis? Kliek dan hier!

Hooffoto: Sossusvlei Lodge