Die interessante ding van Welkom, buiten die vriendelike en verwelkomende naam, is dat dit Suid-Afrika se jongste stad is.

Welkom is in 1947 op ’n plaas 11 km suid van Odendaalsrus uitgelê. Dit is oorspronklik deur William Backhouse, die stad- en streeksbeplanningskonsultant vir Anglo American, as ’n tuinstad ontwerp. Hy het stopstrate en verkeersligte uitgeskakel en meer bome aangeplant, en dit is waarom Welkom vandag steeds so min verkeersligte het. Welkom is ook nie nét Suid-Afrika se jongste stad nie, maar ook die tweede grootste stad in die Vrystaat. En met só ’n deftige titel en ’n myn- en goudgeskiedenis wat amper 70 jaar strek, is dit geen wonder dat al hoe meer mense dié stad se ryk erfenis self gaan verken nie.

Welkom het sy ontstaan te danke aan goud en vandag troon die skagtorings steeds oor die stad uit. Harmony Gold is een van die groot name in Welkom se goudmynbedryf en jy kan self hul Bambanani-myn en Phakisa-myn gaan besoek.

Bambanani is 2365 m diep en omdat dit ’n aardbewing-gevaar inhou, word daar op die rehabilitasie van areas met swak grondtoestande gefokus. Die Phakisa-myn het 2 skagte ─ die een word gebruik om klip en rots uit te hys en die tweede dien as ’n nooduitgang. Phakisa gebruik die Basal-rif, dis 2426 m diep en die erts wat hier gemyn word, word by een van Harmony se ander nywerhede verwerk.

Wanneer jy Welkom besoek kan jy gerus ’n bo- of ondergrondse toer by een van dié twee myne meemaak. Só ’n toer sal definitief een van die hoogtepunte van jou besoek aan Welkom wees.

Die stad mag dalk sy oorsprong aan ’n goudvonds op ’n afgeleë plaas toeskryf, maar dit het nie daar gestop nie. Sedertdien het Welkom van krag tot krag gegaan. Daar is voortgebou op die stad se ryk fondasie en vandag is dit ’n bedrywige stad wat ’n hele rits interessante doendinge vir besoekers inhou ─ van goudmyntoere tot waterpanne met ’n indrukwekkende aantal voëlspesies.

Enigiemand wat in die strate van Welkom wandel, moet definitief ook die Ernest Oppenheimer-teater besoek. Oppenheimer, die stigter van Anglo American, het blykbaar destyds só ’n groot rol in die ontwikkeling van die stad gespeel dat die name van die privaat hospitaal en die teater aan hom hulde bring.

Die goudmyne van Welkom loop diep en oorstroming is deurentyd ’n gevaar. Geweldige hoeveelhede water moet gereeld na die oppervlak gepomp word waar dit dan in vlak leegtes versamel en panne vorm. Die panne lok vele voëlspesies en dis iets wat ’n ieder en ’n elk móét beleef! Die pienk flamink, skoorsteenveër, kolgans, makou en vlei-uil is maar net ’n paar van die voëlsoorte wat gereeld hier ’n draai kom maak. Die pan wat toeriste die meeste besoek, is die flamink-pan op pad na die lughawe. Besoekers kan lekker hier seil en selfs hengel terwyl hul die fees van flaminke dophou.

As jy eers jou liefde vir die natuur by die panne gaan uitleef het, kan jy gerus die goudmuseum besoek.  Die goudmuseum is in die openbare biblioteek geleë en dit vertel ons alles van hoe goud in dié streek ontdek en ontgin is.

Elke tweede Saterdag is daar ook ’n markie in Noordpark waar jy allerlei produkte en peuselhappies kan geniet. Boonop is Welkom ook die tuiste van verskeie belangrike gedenktekens, soos die Tweede Wêreldoorlog-gedenkteken, monumente vir die Voortrekkers, die Afrikaanse taal en ─ (kan jy nou meer!) ─ ’n monument vir honde. In die middel van die dorp is daar ook ’n enorme renoster-standbeeld wat ons bewus maak van die voortdurende stryd teen die stroop van hierdie sonderlinge spesie se horings.

Welkom is ’n plek wat nie noodwendig altyd die erkenning kry wat dit verdien nie en dis duidelik dat enigeen by ’n besoek aan dié oulike plek sal baat.

Soos altyd, staan LekkeSlaap.co.za gereed om jou besoek aan Welkom so maklik en moeiteloos as moontlik te maak met verblyf by een van die volgende oulike plekkies:

Little Acorn Guest House bied gerieflike B&B-verblyf naby winkels, restaurante, ’n casino en ander geriewe.

28 on Oribi is ’n B&B met ’n Georgiaanse styl wat na aan die sakedistrik en dorpskern geleë is. Boonop is ’n paar minute agter die stuur al wat tussen jou en die restaurante en winkels staan.

Pamperlang bied verblyf in 3 omheinde houthutte in die veld. Daar is ’n privaat wildreservaat en wildritte is op die perseel beskikbaar. Pamperlang is net 8 km van Welkom se restaurante, rolprentteaters en casino af.

El Shaddai bied luukse verblyf en is uiters sentraal geleë  ─ net ’n minuut van die stadskern af.

Serenity Green Geusthouse bied B&B-verblyf in die middel van Welkom aan. Dit is rustig, luuks en pragtig.

*                                                              *                                                              *

Pak jou tasse en gaan kuier bietjie in Welkom. Dié stad is só ryk aan geskiedenis, natuurskoon en voëllewe dat enigeen wat Suid-Afrika hul tuiste noem, dit ten minste een keer moet besoek.

 

Foto van Oryx-goudmyn deur Babakathy (Wikicommons).

Foto van gouderts deur Paul Heinrich (Wikicommons).