Jy staar droomverlore na die kaggelvuur terwyl die reën buite giet ─ ’n berghut en ski-vakansie in die Alpe sal glad nie te versmaai wees nie … Dis egter nie nodig om Suid-Afrika te verlaat om dié droom te bewaarheid nie omdat ons immers ’n besonderse bergreeks op eie bodem het ─ die Drakensberge! Dié Wêrelderfenisgebied sluit die Suidelike, Noordelike en Sentraal-Drakensberg in en dis ook hiér by die poort tot die Sentraal-Drakensberg waar die plattelandse dorpie Winterton skuil. LekkeSlaap het in Winterton gaan woeker en deel graag details oor die dorpie en omgewing sodat jy jou droomsneeuvakansie ’n werklikheid kan maak!

Winterton

Van Toeka tot Nou

Dié sneeudorpie lê teen die Tugelarivier en het slegs een verkeerslig in Springfieldweg ─ die hoofstraat wat na Winterton se oorspronklike naam vernoem is. Winterton is ’n hegte gemeenskap met Afrikaanse, Engelse, Duitse en Zoeloe-inwoners en die dorp is voorwaar die rustigheid self. Die mense is hulpvaardig, vriendelik, vol deernis en natuurlik lief vir skinder soos dit die platteland betaam!

In 2013 het Winterton Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie vir KwaZulu-Natal gewen en die dorpie steun hoofsaaklik op toerisme en landbou. Omdat dit ’n somerreënvalstreek is, word daar meestal met mielies, sojaboontjies en vee geboer. In die laat 1980’s is Bellparkdam in die Sentraal-Drakensberg se opgaargebied gebou en sedertdien kan boere wie se plase aan riviere in die omgewing grens, ook koring produseer.

Onder Winterton se moderne baadjie en sneeukombersie skuil daar ook ’n ryk erfenis. As ’n mens “Drakensberg” hoor kan jy trouens nie anders as om aan die Voortrekkers te dink wat kaalvoet met hulle ossewaens oor die Drakensberge getrek het nie. In 1837 het Piet Retief en die Voortrekkers die Tugelarivier oorgesteek, hiér laer getrek en ’n gemeenskap begin.

Die historiese Slag van Spioenkop het tydens die Anglo-Boereoorlog net buite Winterton plaasgevind en word as een van dié oorlog se bloedigste gevegte beskou. Al is nie alle historici dit eens nie, word daar beweer dat Winston Churchill, Mahatma Gandhi en eertydse president Malan teen die einde van dié geveg saam bo-op Spioenkop was en as ’n dwaalkoeël enigeen van hulle sou tref, sou die twintigste eeu waarskynlik heelwat anders verloop het.

Ná die oorlog is Winterton amptelik in 1905 op die Voortrekkerplase Nooitgedacht, Kerkplaats en Deeldrift uitgelê en in 2005 het die dorpie eeufees gevier.

Winterton is ook baie trots op die handjievol sportsterre wat hulle deur die jare opgelewer het: Bobbie Heine Miller was die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat in die buiteland gaan tennis speel het en in 1929 was sy vyfde gekeur in die wêreld. Die voormalige Springboklosskakel, Henry Honiball, boer naby Winterton en het ’n besigheid op die dorp. Hy is ook ’n lid van die Winterton Buiteklub. Winterton se nuutste sportheld is die Springbok-sewesspeler, Marco Labuschagne.

Daar is net ’n tweetalige laerskool op die dorp, maar dit word as een van die beste skole in die distrik bestempel. Winterton spog ook met sewe kerke wat die Anglikaanse, Lutherse en NG Kerk insluit. Die Lutherse Kerk is al meer as ’n honderd jaar oud.


Die Museum

Die Winterton Museum is in 1993 deur die gemeenskap gebou en kwyt hom uitstekend van sy taak. Buiten die Slag van Spioenkop-uitstalling is die merkwaardige Weston-karavaan ook te siene ─ ’n karavaan waarmee John Weston en sy hele gesin in 1927 dwarsoor Afrika getrek het.


Die Eetplekke

As die hongerpyne begin knaag, kan jy in Winterton se hoofstraat gaan rondsnuffel. Hiér kan jy by Canaan Cellars Koffie- en Geskenkwinkel aan ’n romerige cappuccino teug en tuisgebak, biltong of droëwors by die winkeltjie aanskaf. As die jongspan woelig raak kan julle pizza by The Pig and Plough net voor die Tugelarivierbrug gaan nuttig waar daar ’n speelarea is. The Bridge Lodge is ook ’n lekker eetplek en spesialiseer in seekos-mandjies.


Die Toekoms

Winterton is klein maar beslis getryn en daar lê vanjaar nog hope pret voor:

Vendusie (middel en einde van elke maand) ─ Die omgewing se boere kom bymekaar om te koop, verkoop en lekker nonsens te praat.

Duitse basaar (23 Junie) ─ Dié basaar spesialiseer in Duitse gebak en Duitse wors.

NG Kerk-basaar (laaste naweek in Augustus) ─ Dit begin al die Vrydagaand met ’n musiekvertoning, bied ’n kindertafel, en verkoop heerlike gebak, vars plaasvleis (pofadders en skilpadjies), groente en pannekoek.

Bergskou (31 Augustus, 2 en 3 September) ─ Dit word op die Winterton Buiteklub-grond gehou en is ’n behoorlike plaasskou-jol.

Berg & Bush-bergfietswedren (drie naweke in Oktober) ─ Dis wêreldbekend en plaaslike skole, kerke en organisasies beman stalletjies.

Jaarlikse Winterton Straatfees (eerste Saterdag in November) ─ Dis die enigste straatfees waar die hoofstraat vir die dag gesluit word en bied stalletjies, musiek, kultuur, veteraanmotors, kos en boetiekbier.


Verblyf

LekkeSlaap het ’n paar verblyfopsies uitgesoek as jy ’n rukkie in Winterton wil kom kuier:

Swallow’s Nest

Swallow’s Nest bied B&B in dubbel- en gesinskamers en is omring deur ’n lieflike tuin.

Ander Blyplekke

Drakensview Self Catering | Kingfisher Self Catering | Lenest Gastehuis | Winterton Gastehuis | Lilac Lodge – Purple House | Winterton Country Lodge @ Rose Cottage


Sentraal-Drakensberg

KwaZulu-Natal se Drakensberge is in 2000 tot ’n Wêrelderfenisgebied verklaar weens die ongerepte plantegroei en ’n oorvloed rotskuns wat meer as 600 grotte versier. Die skouspelagtige Sentraal-Drakensberg bestaan uit verskeie valleie en bergpieke wat jy beslis onder oë moet kry wanneer jy in Winterton ’n draai kom maak.

Om die Sentraal-Drakensberg se skatte te ontdek kan jy by die Noordelike Drakensberg-grens in die Royal Natal Natuurreservaat-amfiteater begin waar die tweede hoogste waterval op aarde, die Tugelawaterval, oor die afgrond stort. Suidwaarts sal jy die Mweni-vallei vind waar die Draak se mees veeleisende klim-uitdaging, die Mweni-pieke, jou inwag.

Hierna kry jy die prentjiemooi Cathedral Peak-vallei ─ ’n vallei waar een van Suid-Afrika se oudste hotelle, Cathedral Peak Hotel, versteek is. Dié hotel is steeds in die oorspronklike Van der Riet-familie se besit en het ook die berg se hoogste gholfbaan.

Die Champagne-vallei is immergewild en sluit Cathkin-piek in. Hiér wag ’n rits doendinge, soos boomtoptoere, perdry en wynproe. Daarenteen is die Injasuthi-vallei nog nie baie ontwikkel nie en daarom is dit die ideale plek as jy net wil ontspan sonder ’n warboel mense om jou.

Die Injasuthi-vallei lei na die Giant’s Castle-vallei wat die Sentraal-Drakensberg se suide vorm. ’n Groot trop elande woon in dié omgewing en Giant’s Castle is ook ’n voëlkykparadys ─ maak seker jy gewaar die baardaasvoël.

Loer gerus na dié video wat in 2016 die toerismeprys by die Poolse Kunstefees verower het om ’n verdere voorsmakie te kry:

Die Drakensberge is KwaZulu-Natal se avontuurhoofstad en bied alles behalwe reksprong en ’n see om in te swem!


Natuurpret

Natuurliefhebbers sal definitief in die sewende hemel wees in dié stukkie paradys! Die Sentraal-Drakensberg is ’n lushof vir voëlkykers en die blouvalk, visarend en rooikeelvink word gereeld hier gewaar. As jy die Afrika-bergswaeltjie in jou voëlkykboek wil afmerk, kan jy in die rivieroewer rondom Winterton gaan soek.

Ander Natuurdoendinge

Sneeukyk | voetslaan | perdry | fietsry | hengel | gholf | wildkyk


Kultuurkaperjolle

Main Cave in Giant’s Castle se grotwande is met uitsonderlike rotskuns getooi en jy kan ’n maklike voetslaanroete tot by dié grot aanpak. Die wêreldbekroonde Drakensberg Seunskoor kom óók uit hierdie geweste en lewer vertonings bo-op die berg wat jou in vervoering sal laat.

Ander Kultuurdoendinge

Zoeloe-dansers | wynproe | trou-venues | spa-behandelings


Avontuurplesier

Drakensberg Ballooning is net buite Winterton en ’n warmlugballonvlug is die perfekte manier om jou dag mee te begin. Sorg dat jy net voor sonop hier is, kry koffie en beskuit, en sweef ’n uur lank oor die skilderagtige omgewing. Wanneer julle land kan jy ’n glasie vonkelwyn geniet en daarna neem ’n pendeldiens almal terug na die basis waar ’n legendariese ontbyt bedien word. Paartjies raak dikwels in die lugballon verloof en daar was selfs ’n paartjie wat in ’n warmlugballon getrou het!

Ander Avontuurdoendinge

4×4-roetes | riviervlotvaart | bootvaart | mikrovliegtuigvlugte | zipline | abseil


 Verblyf

Die Sentraal-Drakensberg bied ’n magdom verblyfopsies ─ van salige selfsorghuise tot luukse lodges. Loer gerus hieronder:

Antbear Drakensberg Lodge

Antbear Drakensberg Lodge bied luukse en sakpasverblyf tussen Estcourt en Mooirivier. Hiér kan jy selfs in ’n luukse grot slaap met ’n privaat dek vanwaar jy Giant’s Castle, die Amfiteater en die Boesmanriviervallei kan bewonder.

Treks, Trips & Trails

Treks, Trips & Trails bied twee selfsorg-chalets ─ Bahati, ’n luukse boom-lodge met ’n kaggel, en Bergvlei, ’n gerieflike chalet naby die rotsswembad en watervalletjies. Die uitsig oor Bellparkdam met Cathkin- en Champagne-piek in die agtergrond sal voorwaar jou asem wegslaan!

Cathkin Haven

Cathkin Haven is ideaal vir ’n gesin wat in die Champagne-vallei wil vakansie hou. Dié moderne selfsorghuis het vier en suite-kamers, en ’n houtdek met ’n Jacuzzi.

Ander Blyplekke

B&B | hotel | gastehuis | lodge | selfsorg


Winterton en sy mense sal diep in jou hart kruip en die Sentraal-Drakensberg sal jou betower soos min. So, waarvoor wag jy? Beplan nóú ’n winterwegbreek na dié pragstreek!

*Dit sneeu gewoonlik in Junie en Julie ─ hou gerus SnowReport dop om seker te maak jy ervaar dié spierwit wonder!

Hooffoto: Treks, Trips & Trails (LekkeSlaap)